Mnr Frikkie Aucamp

OOM FRIKKIE AUCAMP

Petrus F Aucamp is op 1916-05-15 gebore te Middelburg, Kaapprovinsie. Nadat hy sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Middelburg voltooi het in 1936, het hy sy diploma in 1937 aan die Landboukollege Grootfontein verwerf. Daarna het hy gaan boer op die familieplaas Van Zylsrus, Middelburg maar weer in 1965 teruggekeer na die Landboukollege Grootfontein waar hy vir bykans 14 jaar gewerk het as Landboutegnikus.

Hy was ‘n geskiedenisnavorser in eie reg en het elke brokkie geskiedenis van Middelburg se 150 jaar nagevors en opgeteken. Oom Frikkie was ‘n gesinsman by uitstek, beginselvas, lief vir sy dorp, land en inwoners. Hy het jare lank as kerkraadslid in die Gereformeerde Kerk gedien, was een van die stigterslede van die Middelburg Museum in Benniestraat en hy het nog gedurende Maart 2002 ‘n krans tydens die 150-jarige fees van Middelburg by die Gedenkmuur gelê. In die laaste tyd kon hy slegs tussen donker en lig onderskei weens die verswakking van sy sig en was hy ook taamlik hard van gehoor. Hy het egter nog elke dag met sy wit kierie gaan stap en geselsies met bekendes en vriende aangeknoop.

Met sy dood op 2002-08-02 het ‘n era ook in Middelburg tot ‘n einde gekom. Hy word oorleef deur sy eggenote (hul was 59 jaar getroud) Hestertjie, drie seuns, Abri van Bethlehem, Amie van Pretoria en Danie van Middelburg, asook nege klein- en een agterkleinkind. Die gemeenskap van Middelburg sowel as sy familie sal hom baie mis.