Mnr Rian Enslin

Een van die stigters van BKB en Oudstudent van die Landboukollege Grootfontein, Middelburg OK op 77 in Port Elizabeth oorlede

Mnr Rian Enslin, eens 'n bekende in die wol- en lewendehawebedryf, is in Mei 2001 in die ouderdom van 77 jaar oorlede. Mnr Enslin was vir baie jare aktief in landboukringe nadat hy 'n B.Sc graad aan die Universiteit van Stellenbosch en 'n Diploma (3 maande skaap- en wolkursus) aan die Grootfontein College verwerf het. Hy het tot 1962 op die familieplaas, Enslinsrust, in die Graaff-Reinet distrik gewoon. Hy was lid van die Nasionale Wolkwekersvereniging en het as Sekretaris van die plaaslike tak opgetree.

Die gesin Enslin het in 1962 na Port Elizabeth verhuis, waar hy die pos as Adjunk-Hoofbestuurder: Administrasie by die destydse Boere Saamwerk Beperk (BSB) aanvaar het. Op 1 Mei 1971 is hy tot Hoofbestuurder van BSB bevorder.

In sy dienstyd was hy aktief betrokke by die totstandkoming op 1 Julie 1975 van die Boeremakelaars (Koöp) Beperk (BKB).

Mnr Enslin het nie net 'n leidende rol gespeel in die samesmelting van die enigste drie oorblywende wolmakelaars - die BSB, FCU en KWB - nie, maar was ook Senior Hoofbestuurder van die nuutgestigte BKB tot sy aftrede aan die einde van 1978. In dié tyd het mnr Enslin ook op die Wolraad en Koöperatiewe Raad van die Suid-Afrikaanse Landbou Unie gedien.

Oudkollegas het mnr Enslin gehuldig vir die menslike wyse waarop hy met die personeel van die BSB/BKB verkeer het, en vir die geesdriftige, deeglike en opregte wyse waarop hy gewerk het. Mnr Enslin word oorleef deur sy vrou, Marie, 'n seun, 'n dogter en vyf kleinkinders.