Mnr Terry Ford

Mnr Terry Sampson Ford

Terry Sampson Ford is gebore op 24 Desember 1946. Hy voltooi sy skoolloopbaan aan die Allan Wilson Skool te Salisbury in 1964. Vanaf 1 Januarie 1965 tot 31 Desember 1965 boer hy op die Gowrie Farm-landgoed, Norton, Suid Rhodesie.

Hy doen aansoek as student by die Landboukollege Grootfontein, Middelburg waarna sy naam op ‘n waglys geplaas word, aangesien daar toe reeds, ‘n te groot inname van studente was. Sy vader, ‘n Landboubeampte in Que Que, Rhodesie besluit dat hy eers sy een jaar verpligte diensplig moet doen en so arriveer hy in Middelburg OK in Januarie 1967.

Met sy aankoms by die Landboukollege Grootfontein moes hy vind dat hy ongelukkig vyf (5) dae te vroeg gearriveer het en dat die koshuis nog gesluit was. Mev Andriesa Roux (néé Bean), eienaar van die destydse "Star Supermark" (waar Fairdeal nou is) vind hom toevallig by die ingang van die Kollege en neem hom in haar sorg totdat die Kollege toe wel begin. Hierna het mnr Ford naweke en vakansies, gereeld gaan kuier en werk by mnr en mev Bean.

Mnr Ford slaag sy eerste jaar aan die Kollege. Hierna sluit hy aan as ‘n Grootfontein Oudstudent. Mnr Ford boer daarna op Gowrie Farm, Norton, ongeveer 51km wes van Harare. Hy was getroud en het twee seuns, Mark en Tim. Hy is later egter geskei en sy gewese vrou en sy seun Tim woon in Nieu-Zeeland en sy seun Mark in Australië.

In die vroeë oggendure van Maandag, 18 Maart 2002 het ongeveer twintig van die sogenaamde "oorlogsveterane" sy plaas genader. Mnr Ford was alleen in die huis en het onmiddellik die Norton Polisiestasie geskakel sowel as een van sy naaste bure. Om ongeveer 02:15 het hy weer sy bure gekontak en gesê dat die Polisie nog op sy telefoonoproep gereageer het nie, waarop hy dan ook sy bure gemaan het, om waaksaam en op hul hoede te wees. Dit is laaste wat daar met mnr Ford kontak gemaak was, aangesien hulle sy bebloede liggaam in die vroeë môre-ure gevind het. Squeak, die 14 jaar oue Jack Russell-terriër is langs sy vermoorde baas se liggaam aangetref en hy was ook langs die kis van mnr Ford in die Presbiteriaanse kerk in Highlands in Harare te sien, waar die roudiens vir mnr Ford gehou is.

Mark Ford het die volgende oor sy vader te sê gehad :

" Hy wou net leef. Hy het geleef volgens sy oortuigings, en dis ook hoe hy gesterf het ! "