Mnr Willie vd Merwe

Mnr Willem Jakobus van der Merwe

Mnr Willem Jakobus van der Merwe, ‘n Middelburger sedert 1951 en ‘n bekende in Volkspele-kringe, sowel as lid van die Oudstudente-Unie van die Landboukollege Grootfontein, is op Saterdag, 30 Maart 2002 in die ouderdom van 78 jaar in Bloemfontein oorlede.

Mnr Van der Merwe is in Fraserburg, op die familieplaas van die Van der Merwes, Draairivier gebore. Hy was een van 6 broers en 3 susters, waarvan nog net die jongste broer, Isak leef. Hierna het hy sy skoolloopbaan aan die Fraserburg Hoërskool voltooi. Daarna, gedurende 1946 - 1947 het hy aan die Glen Landboukollege studeer. Hy het sy Landboudiploma as bogemiddelde diplomastudent ontvang. Hy begin in 1948 werk as plaasbestuurder in die Viljoenskroon-distrik vir ene mnr Fransie P R van Wyk, waar hy sy vrou, Helena Maria Coetzee (Ria) ontmoet. Hy doen egter in 1950 aansoek vir ‘n vakature by sy Alma Mater, Landboukollege Glen aangesien mnr F P R van Wyk die plaas waar hy gewerk het, verkoop het.

Op 23 September 1950 tree hy in die huwelik met Helena Maria Coetzee, ‘n onderwyseres van beroep. Daarna aanvaar hy ‘n betrekking aan die Landboukollege Grootfontein op 30 April 1951. Gedurende April 1953 het mnr en mev Van der Merwe deel uitgemaak van die Suid-Afrikaanse Volkspele-groep wat na Europa getoer het. Hy het begin werk as ‘n Tegniese Assistent (Suiwelkunde) en word later bevorder tot ‘n Beheertegnikus. Gedurende 1959 voltooi hy die Skaap en Wol-kursus en slaag met lof sy eksamen. Ook voltooi hy sy Diploma vir Landbou Tegnici in 1961. Gedurende 1983 word hy aangestel as die Hoof Plaasbestuurder van die Landboukollege Grootfontein.

Hy word oorleef deur sy vrou Ria. Geen kinders is uit dié huwelik gebore nie.