Last update: April 5, 2012 07:47:40 AM E-mail Print

 

Aansteeklike onvrugbaarheid by skaapkuddes

 

Dr KM van Heerden

Eerste Staatsveearts, Middelburg KP

 

IN sekere dele van Kaapland kla boere lankal oor die algemene voorkoms van swere aan die teelballe van hul ramme. Sommige boere het gevind dat hierdie verskynsel meermale met lae lammeroeste gepaard gaan. Die swere is gewoonlik geelgroen van kleur. By nadere ondersoek is 'n kiem bekend as Preisz-Nocard of Corynebacterium pseudotuberculosis ovis uit die swere geïsoleer.

Vandag weet ons dat hierdie spesifieke kiem algemeen op skaapplase voorkom en op sy eie net by 'n baie klein persentasie ramme swere aan die teelorgane veroorsaak. Swere aan ander dele van die liggaam kom meermale voor en 'n entstof teen hierdie kiem word tans uitgetoets.

 

BRUCELLA OVIS

Daar is egter 'n ander kiem wat eintlik die sondebok is, omdat dit primêr die teelballe van die ram me aantas en die pad oopmaak vir Corynebacterium om daar 'n vergroting te vorm wat maklik by ondersoek gevoel kan word. Hierdie kiem is die Brucella ovis en dit word aangetref by skaapkuddes van alle rasse in al vier die provinsies van die Republiek en ook in Suidwes-Afrika. Trouens, hierdie kiem word feitlik oral ter wêreld aangetref waar daar met skape geboer word.

 

Voorkoms

By intensiewe ondersoek na die voorkoms van hierdie siekte het die volgende interessante feite aan die lig gekom:

Alle skaaprasse is omtrent ewe vatbaar. Die teenwoordigheid van die siekte op 'n plaas bang gewoonlik van een van die volgende faktore af:

Ramme is veral vatbaar vir die siekte. Dit word oorgedra hoofsaaklik wanneer 'n besmette ram met skoon ramme in aanraking kom. Wanneer 'n ram eers besmet is, kan hy jare lank 'n draer van die siekte wees en ander ramme aansteek. Hoewel sommige ramme nooit by kliniese ondersoek iets abnormaals aan die teelballe sal toon nie, word in die meeste gevalle gevind dat die Corynebacterium-besmetting intree en 'n sweer veroorsaak. Op sommige plase moes al meer as 60 persent van die ramme net by kliniese ondersoek uit 'n kudde verwyder word omdat hulle gewoonlik 'n baie lae vrugbaarheid toon, of onvrugbaar is en ook nag kieme na die ooie kan oordra.

Wat die ooie betref word op sommige plase nog 'n goeie lammeroes gevind, maar op die oorgrote meerderheid van besmette plase verminder die lammeroeste geweldig. Dit is natuurlik te wyte aan die klein persentasie ramme wat gesond bly, asook aan die uitwerking van die siekte op die ooi.

Nadat 'n ooi deur 'n besmette . ram gedek is, ontstaan daar 'n ontsteking in die voorste gedeelte van die geslagskanaal. As sy nie met die eerste dekking bevrug geraak het nie, sal sy nie gedurende daardie dekkingseisoen bevrug raak nie en kan sy ook moontlik skoon ramme besmet. Die ontsteking kan die verskillende dele van die geslagskanaal permanent beskadig en verhoed dat die ooi ooit weer aanteel.

Dit wil egter voorkom asof die ooi vanself genees as sy met agtereenvolgende hitteperiodes nie gedek word nie. Prakties gesproke is die besmetting na 'n jaar so gering dat die ooi nie daarna 'n gesonde ram sal aansteek nie.

Presies hoedat ramlammers besmet raak weet ons nog nie. Ramlammers van die verskillende vleisrastipes is egter reeds op selfs jonger as drie maande besmet gevind.

By 'n kudde waar 'n Brucella ovis-besmetting aanwesig is, word gewoonlik 'n baie hoë persentasie ramme met kliniese abnormaliteite aan die teelballe, en ook lammeroeste van selfs minder as 30 persent gevind.

Indien aborsie 'n algemene probleem in die kudde is, moet die hulp van 'n veearts liefs ingeroep word aangesien 'n ander Brucella kiem, naverwant aan die wat besmetlike misgeboorte by beeste veroorsaak, of 'n hele reeks ander kieme wat aborsie as hul vernaamste kenmerke het, daarvoor verantwoordelik mag wees.

 

Diagnose

Kliniese ondersoek van die geslagsorgane van ramme en die lamgeskiedenis van die kudde is nie 'n metode om die siekte te diagnoseer nie, maar kan bloot as leidraad dien. Die beste metode op die oomblik om die siekte te diagnoseer is om die saad van die ramme deur 'n veearts te laat ondersoek.

Die siekte is op sommige plase onder beheer gebring deur besmette ramme gereeld met jong skoon ramme te vervang, deur die opbou van skoon kuddes, of deur kunsmatige inseminasie toe te pas. Hierdie metodes is egter nie altyd prakties, ekonomies of op 'n groot skaal uitvoerbaar nie.

 

Nuwe entstof

Die intensiewe uittoetsing van 'n entstof met die naam van Rev. 1 op Onderstepoort en in besmette kuddes op die platteland, het aan die lig gebring dat net een inspuiting voldoende is om 'n ramlam minstens vier jaar lank teen die siekte te beskerm. Die entstof is vrylik beskikbaar teen slegs 25 sent per 10 dosisse en ons raai alle boere ten sterkste aan om die entstof te gebruik, ongeag of die Brucella ovis-besmetting in hul kuddes teenwoordig is of nie. Sodoende sal hierdie siekte, wat vir geweldige verliese aan ramme en swak lammeroeste verantwoordelik is, gou onder die knie gebring word.

Gegewens van heelparty kuddes met 'n geskiedenis soortgelyk aan die volgende is reeds aangetref:

In 1959 was die lammeroes 33 persent en moes 78 persent ramme geëlimineer word. Rev. 1-enting is toegepas en nou word uiters 1 of 2 persent ramme geëlimineer, terwyl 1,000 ooie na een paringseisoen in 1964, 1,420 lammers grootgemaak het.

 

Beheer

Om die siekte doeltreffend te beheer en uiteindelik uit te wis, beveel ons die volgende maatreëls

aan:

(a) Elimineer aIle ramme wat deur betasting en saad ondersoek, aangetas gevind is.

(b) lmmuniseer die oorblywende ramme asook al die ramlammers met Rev. 1-entstof. Merinolammers kan met veiligheid op speenouderdom geënt word, maar die vleisrastipes moet nie later as op 2 maande gespuit word nie. Dit wil voorkom asof 'n enting op 'n jong ouderdom, soos selfs op 14 dae, ook effektief sal wees.

(c) Ondersoek die gebruikramme gereeld voor dekking soos hierbo in (a) genoem, om die wat die siekte by immunisasie reeds; onder lede gehad maar nog nie gewys het nie, uit te skakel. Tydens 'n proef op 'n aantal plase moes uiteindelik 40 persent van die ramme geëlimineer word, maar van die ramme wat nie met Rev. 1- entstof geënt was nie, moes 84 persent geëlimineer word.)

(d) Moenie ongeënte ramme op die plaas toelaat nie. Dit duur sowat drie weke voordat die entstof 'n effektiewe immuniteit opbou.

(e) Dit is normaalweg voldoende om net ram-speenlammers te ent, maar waar aborsies voorkom, mag dit wenslik wees om sowel ramme as ooie te ent.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 40 (11)