Last update: April 11, 2012 11:32:47 AM E-mail Print

 

Gronderosie

Afleiwalle vir Vloedwaters

E. A. Oosthuizen

 

EROSIE kan as 'n siekte van die grond beskou word, en net soos daar in die geval van ander siektes 'n oorsaak is sowel as 'n faktor wat dit bevorder, so is droogte, te veel vee en paaie die vernaamste oorsake van erosie, en water die vernaamste faktor wat dit bevorder.

Daar is egter van tyd tot tyd al soveel gesê en, geskrywe oor die euwels van gronderosie en die grond wat elke jaar in die see gestort word, dat dit al ou nuus is, en 'n mens het eerder lus om aktief aan die oplossing van die nasionale vraagstuk deel te neem as om jou oor die toestande te bejammer.

 

 

In die bestryding van erosie sal 'n noukeurige studie van die topografie van die betrokke streek 'n mens gewoonlik die algemene toestand laat besef, en die metode waarvolgens die euwel bestry moet word, sal in die meeste gevalle duidelik word vir die leek wat 'n bietjie ondervinding opgedoen het.

Dit is uiters belangrik dat die walle op die regte manier gemaak moet word, en ook ekonomies, doelmatig en van permanente aard moet wees, want van hierdie faktore sal die sukses en koste van die voorgestelde werke sowel as die uiteindelike sukses van die veld tog teen erosie afhang.

 

Topografie en Hoeveelheid Water

Die topografie van die land en die maksimum hoeveelheid water wat tydens 'n groot oorstroming verwag kan word, gaan hand aan hand en albei moet gelyktydig bestudeer word wanneer die moontlikhede van 'n herwinningskema oorweeg word.

 

 

In die eerste plek moet aandag gegee word aan die grootte en ligging van die opvangstreek, en op grond van die beskikbare gegewens betreffende reënval konfigurasie, wateropneem-vermoë van die grond en plantegroei bepaal word wat die maksimum afloop is wat van so 'n opvangstreek verwag kan word. Dan moet die werke dienooreenkomstig ontwerp word.

Waar die grond taamlik gelyk lê en die hoeveelheid water betreklik min is, kan dit miskien baie maklik wees om die water deur middel van 'n eenvoudige stelsel van lae en betreklik goedkoop contourwalle met sukses te versprei. Dit moet egter onthou word dat hoewel contourwalle nuttig is, hulle tog aan beperkings onderhewig is. Ofskoon hulle besonder geskik is vir grasveld waarop walle wat goed ontwerp is baie gou met gras oorgroei sal word, sodat hulle permanent gevestig word, sal sulke walle van min of geen waarde wees teen steil hange waar die algemene plantegroei skraal is nie.

Daarenteen is dit baie moeiliker om gronderosie te bestry en moet 'n ander beleid gevolg word in die geval van 'n taamlik gelyk streek waar daar tydens 'n oorstroming 'n uitermate groot hoeveelheid afloopwater is. Dit kan miskien moontlik wees om die afloopwater op uitgesoekte plekke deur middel van 'n stelsel van afleiwalle te beheer en die water dan deur middel van 'n stelsel van contourwalle te versprei (Figuur 1).

 

 

Die Aanwesigheid van 'n Sentrale Duik

Die algemene toestande word egter erger as daar een groot sentrale duik in die verspoelde streek is waar die water saamvloei en bly staan en geneig is om 'n sloot te vorm.

As daar nie te veel afloopwater is nie, kan die duik op 'n geskikte plek, gewoonlik by die bopunt van die verspoelde streek, permanent opgevul word en die water deur afleiwalle regs en links van die duik afgekeer en dan beheer word deur middel van contourwalle wat beide nil en van die duik af loop (Figuur 2).

 

 

As daar te veel afloopwater in die geval van 'n sentrale duik is, word dit 'n ernstige vraagstuk en dan moet die water onverwyld behoorlik beheer word.

Vrugbare laagtes is heeltemal opgebreek en deurkruis met aaklige slote en is totaal geruïneer omdat die waters ongehinderd toegelaat was om 'n oënskynlik onskuldige slootjie wat aanvanklik niks groter as 'n tuinvoor was nie, al hoe meer uit te vreet.

As die water eers 'n bepaalde lopie gevorm het, begin dit hier en daar regaf slootjies van die hoër na die laer oppervlaktes uit te vreet, en so word daar gou 'n sloot gevorm wat diep genoeg is om die walle te laat uitkalwe.

Die kwaad is dan nog in sy beginstadium en kan in die meeste gevalle nog teen betreklik geringe koste herstel word. As dit egter nie gekeer word nie, bestaan daar 'n ernstige gevaar dat onherstelbare skade gedoen kan word.

Dit word vertel dat 'n sekere boer sy plaas baie goedkoop verkoop het omdat 'n sloot van omtrent 30 voet diep, wat langsamerhand langs 'n vrugbare laagte uitgespoel het, die veiligheid van die opstal bedreig het.

 

'n Slib-opvangdam met 'n Uitloop

Om sulke waters te beheer, moet 'n mens, as die laagte aan beide kante van die duik wyd genoeg is sodat die water versprei kan word, 'n geskikte slib-opvangdam met 'n uitloop in die middel van die duik maak en aan beide kante daarvan geskikte afleiwalle opgooi. 'n Mens neem dan 'n hoeveelheid water, wat jy kan beheer uit die duik en lei dit deur middel van contourwalle na beide kante oor die veld, terwyl die res van die water wat by die slib-opvangdam uitloop, opgevang en op 'n geskikte plek laer af op dieselfde wyse versprei word (Figuur 3).

 

 

Drie of vier sulke damme mag miskien nodig wees om die water ten volle onder beheer te kry. Die koste van so 'n skema hang natuurlik grotendeels af van die afmetings van die sentrale sloot en die aard en ontwerp van die slib.opvangdam.

In 'n geval waar die water nie aan albei kante van die sentrale duik oor die veld versprei kan word nie, kan dikwels 'n geskikte plek vir 'n uitloop gevind word op 'n rots aan die voet van 'n helling waar die laagte nou word. In hierdie geval kan die sloot met 'n wal opgevul en 'n gedeelte van die water afgelei en aan die een kant oor die veld versprei word deur middel van 'n afleiwal wat eenvoudig 'n verlenging van die hoofwal is, terwyl die surpluswater toegelaat word om deur 'n uitloop wat groot genoeg is en aan die ander punt van die hoofwal gegrawe is, onmiddellik weer in die sloot terug te loop (Figuur 4).

 

 

Dit moet egter onthou word dat dit selde of ooit moontlik is om met behulp van afleivore en -walle 'n sloot heeltemal deur slibgrond te laat opvul, want as die helling enigsins steil is, is die metode wat baie voorkeur geniet en waarvolgens die werke so ontwerp word dat die slibgrond van die laagste wal die bodem van die boonste aanraak, weens die hoë koste onuitvoerbaar.

In die meeste gevalle is dit alleen moontlik om die stroomvloei op taamlike afstande te breek soos in Figuur 3 aangegee en die sloot tot 'n sekere afstand deur slibgrond te laat opvul en op die wyse die uitkalwing van die walle te voorkom.

Ook is die proses om 'n sloot deur slibgrond te laat opvul dikwels baie stadig en, ten einde die koste van die slib-opvangdamme laag te hou, moet die werk met verdrag gedoen word; gras en bome behoort aangeplant te word om die walle te beskerm en die aanslibbingsproses aan te vul.

Dis belangrik om te onthou dat slib-opvangdamme die watertafel laat styg en bome moet dadelik in die slibgrond bokant elke sluis en, waar moontlik, langs die sloot geplant word.

Aangesien elke nuwe geval nuwe vraagstukke meebring en die fondse vir elke afsonderlike geval beperk is, is ekonomiese veiligheid noodsaaklik.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 11