Last update: April 3, 2012 09:33:42 AM E-mail Print

 

AFRIKANERBEESKUDDE TE TARKA BEWARINGSGEBIED

F C Hayward en A Koen

 

Tans word ongeveer 200 Afrikanerbeeste by Tarka bewaringsgebied aangehou. Die doel van hierdie kudde was hoofsaaklik om die natuurlike weiding oordeelkundig te benut en gevolglik is daar aanvanklik nie veel aandag aan die teel- en algemene bestuursaspekte gegee nie.

Sedert die einde van 1973 en begin 1974 word egter daadwerklike pogings aangewend om die kudde te verbeter deur vir vrugbaarheid en speenmassa te selekteer en bulle van beter kwaliteit te gebruik.

Die eerste stap was om ‘n doeltreffende rekordstelsel vir elke dier daar te stel aangesien doeltreffende seleksie nie daarsonder gedoen kan word nie. Dit het byvoorbeeld dikwels gebeur dat koeie wat in ‘n skraal kondisie was, geprul is, sonder om in ag te neem watter massa speenkalf sy geproduseer het.

In die verlede is daar van groepparing gebruik gemaak. Dit wil sê: daar is byvoorbeeld twee tot drie bulle saam in 'n trap van 50-60 koeie gebruik. Verder was daar geen spesifieke paartye nie. Die bulle het dus heeljaar by die koeie geloop en kalwers is dwarsdeur die jaar gebore. Dit het nie net alleen die bestuur bemoeilik nie, maar ook aanleiding gegee tot 'n baie lae kalfpersentasie, naamlik 48 persent.'n Verdere nadeel van hierdie stelsel was dat bulle slegs vir 'n tydperk van drie jaar gebruik kon word voordat hulle by hul eie dogters kom.

Die teelkoeie is toe eers in troppe van 25 tot 30 diere elk opgedeel en slegs een bul per groep is gebruik. Gevolglik kan die moeder,asook die vader van elke kalf, geïdentifiseer word. Nie alleen kan die bulle nou baie langer gebruik word nie, maar, indien ‘n spesifieke bul nou nie sy werk doen nie, kan hy geïdentifiseer word binne drie maande na die einde van die dekseisoen deur dragtigheidsondersoeke op die koeie uit te voer.

Verder word van ‘n beperkte teelseisoen gebruik gemaak, dit wil sê die bul word net vir In bepaalde tydperk by die koeie gehou. Die kalftyd kan dus so gereël word dat die koeie kalf wanneer die voeding van die weiding die hoogste is. Aangesien die weiding gedurende Februarie/Maart onder normale omstandighede gewoonlik die beste is, is besluit om die koeie gedurende einde April, begin Mei te dek sodat hulle einde Januarie begin Februarie die volgende jaar sal kalf.

Hierdie tyd van die jaar is die beeste se kondisie gewoonlik goed en verseker dit ook ‘n hoë herbesettingsyfer binne drie maande nadat die koei gekalf het. Deur van In relatiewe kort dekseisoen van ongeveer 46 dae gebruik te maak, word die kalwers almal binne twee maande gebore terwyl elke koei nogtans twee kanse gegun word om beset te raak aangesien die gemiddelde oestrus 21 dae is.

Hierdie bestuursprogram, tesame met die gunstige klimaatsomstandighede gedurende die afgelope paar jaar, het daartoe gelei dat die kalfpersentasie vanaf 48 tot gemiddeld 76 persent opgestoot kon word.

Vir seleksiedoeleindes word elke kalf se geboortemassa binne 48 uur na geboorte bepaal, sowel as op speen- (7 maande) en tweejaar-ouderdom. AIle verskalwers wat geselekteer word, word op ongeveer 27 maande ouderdom gedek sodat hulle op drie jaar ouderdom kalf. Om verse 'n langer rusperiode tussen die eerste en tweede kalf te gee, word hulle gewoonlik een maand voor die hoof-dekseisoen gepaar.

Die volgende gegewens word op 'n kaart wat vir elke koei gehou word, aangeteken, naamlik, Vader nr., Moeder nr., Geboortedatum, geboortemassa, speenmassa, gekorrigeerde 210 dae speenmassa, indeks vir speenmassa, dekdatum, bul nr.,datum van dragtigheidsondersoek, kalfdatum, kalf nr. en geslag, ouderdom met kalwing sowel as kalf-interval.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Junie 1977