Last update: April 10, 2012 10:33:47 AM E-mail Print

 

lnvloed van Arseenbevattende Sprinkaanlokaas op Skape en op Karooveld

S. J. S. Marais, M. L. Botha, K. P. en H. Klintworth.  

 

GEDURENDE die vyf jaar 1940 tot 1945 is 'n spesiale proef op die Grootfonteinse Landboukollege uitgevoer met die doel om vas te stel of die herhaaldelike gebruik van arseenbevattende sprinkaanlokaas enige nadelige uitwerking sou hê op die veld of die vee in die Karoo waar sprinkane taamlik gereeld bestry moet word. Die gegewens is nou beskikbaar, en hierdie opsommende artikel bevat 'n kort beskrywing van die proef met vermelding van die vernaamste bevindings en gevolgtrekkings. Die skeikundige aspekte van die probleem is alreeds opgesom deur H. Klintworth. van die Afdeling Skeikundige Diens in 'n artikel wat in Boerdery in Suid-Afrika van Junie 1949 verskyn het onder die opskrif “Is arseengifaas vir sprinkane nadelig vir die veld?" Volledigheidshalwe word die belangrikste punte van die skeikundige ondersoek hier herhaal. Die volledige rapporte word nou verwerk en persklaar gemaak om later as 'n gesamentlike wetenskaplike pamflet deur die Departement van Landbou gepubliseer te word.

 

Kort Beskrywing van die Proef

Twee aangrensende kampe. Van ongeveer 62 morge elk is op die Grootfonteinse Landboukollege vir die doel van die proef beskikbaar gestel. Die geaardheid van die grond en die plantegroei in die twee kampe was min of meer dieselfde; daar was in elk geval geen opvallende verskille nie.

Een van hierdie twee kampe is twee keer per jaar met sprinkaanlokaas behandel net asof daar sprinkane oor die hele kamp aanwesig was (hierin genoem lokaaskamp); 'n randjie van ongeveer 12 morge is egter nie behandel nie. Die dosis was 120 lb. Droë sprinkaanlokaas per morg met elke behandeling; dus het elk van die 50 morge wat behandel is, 'n totale dosis van 1.200 lb. droë lokaas oor die vyf jaar ontvang. Aangesien dit waarskynlik nooit of alleen baie selde in die praktyk nodig sal wees om so 'n l groot gedeelte van 'n enkele kamp (80 persent) so herhaaldelik in sy geheel met lokaas te behandel, moet hierdie proef as 'n strenge toets vir die uitwerking van sprinkaanlokaas op die veld en die vee beskou word.

Die ander kamp is nie behandel nie en sou as vergelyking of kontrole dien (die kontrolekamp).

In elke kamp is voortdurend 13 swartkop-Persie-ooie en 13 merino-hamels aangehou. Tydens die toediening van lokaas is die skape nie uit die lokaaskamp verwyder nie, maar hulle is toegelaat om na willekeur in die kamp te wei. Gedurende paartyd is een ram by die ooie in elke kamp geplaas; die ramme is in die middel van die paartyd omgeruil. Skape wat dood is, of uit die kampe weggeraak het, is vervang met ander van dieselfde soort en geslag om die intensiteit van beweiding in die twee kampe so na moontlik op 'n konstante peil te hou.

Drinkwater van dieselfde boorgat is met pype na drinkbakke in die twee kampe aangelê. In die lokaaskamp is egter ook 'n gronddam gemaak wat die grootste gedeelte van enige afloopreënwater van hierdie kamp sou opvang en vir sekere tye was dit die enigste drinkwater vir die proefskape in die lokaaskamp.

Gedurende die somermaande, September tot April, is alle proefskape in die twee kampe met Knoppieswurmmiddel gedoseer; hierdie middel bevat arseen. Die skape is gereeld maandeliks geweeg. Monsters is geneem van alle skape wat dood is en die arseeninhoud is bepaal ten einde vas te stel of die skape aan arseenvergiftiging dood is. Aan die einde van die vyf jaar is alle diere geslag en die arseeninhoud van die lewer, die wol en die regter agterbeen bepaal.

Die wolopbrengs van elke hamel is jaarliks met skeertyd in Augustus of September, aangeteken; die persentasie skoonopbrengs, die totale horingdroë wolopbrengs en die arseeninhoud van die wol van elke dier is bepaal. Die veselfynheid van die wol is vir drie agtereenvolgende seisoene bestudeer en die stapellengte van die wol vir vier agtereenvolgende seisoene vasgestel.

Gedurende die vyf jaar is meer as 2,000 monsters van die grondoppervlakte, die plantegroei en afloopreënwater geneem en die arseeninhoud van elke monster bepaal. Nadat die proef beëindig is, is grondmonsters op verskillende dieptes geneem en die arseeninhoud bepaal ten einde vas te stel hoe diep arseen in die grond ingedring het.

In 'n spesiale proef is 'n aantal plante van een van die belangrikste karoobossies, (Pentzia incana), met verskillende hoeveelhede van 'n oplossing van natriumarseniet besproei. Die sigbare reaksies van die besproeide plante is aangeteken en die arseeninhoud van nuwe groei aan die plante is bepaal.

 

Die Vernaamste Bevindings

(1) Sterftes.- In die lokaaskamp is vyf swartkop- Persie-ooie en sewe merinohamels gedurende die verloop van die proef dood. Hiervan is drie ooie en een hamel aan arseenvergiftiging dood en die res aan ander oorsake. Die sterftes wat aan arseen gewyt word, het almal plaasgevind binne 7 dae nadat lokaas uitgesaai is, behalwe in die geval van een ooi wat eers 21 dae na 'n lokaastoediening dood is.

In die kontrolekamp is vyf ooie en vier hamels dood, terwyl twee ooie weggeraak het en vermoedelik uit die kamp gesteel is. In hierdie kamp is nie 'n enkele dier aan arseenvergiftiging dood nie.

 

(2) Vrugbaarheid.- Oor die vyf jaar het gemiddeld 91 persent van die ooie in die lokaaskamp gelam; die jaarlikse syfers het tussen 85 persent en 92 persent gewissel. In die kontrolekamp het gemiddeld 73 persent van die ooie oor die vyf jaar gelam; in hierdie kamp het die jaarlikse syfers tussen 38 persent en 92 persent gewissel.

 

(3) Lewende gewig.- Die gemiddelde maandelikse gewigte van die ooie wat die volle vyf jaar aan lewe gebly het, was 78 5 lb. vir die lokaasgroep en 82.6 lb. vir die kontrolegroep. As die gewigte van ooie wat net vir 'n gedeelte van die vyf jaar in die proef was, ook bygereken word, was die gemiddelde maandelikse gewigte 77, 8 lb. en 80.0 lb. onderskeidelik vir lokaas- en die kontrolegroep.

Die gemiddelde maandelikse gewigte van die hamels wa( die volle vyf jaar van die proef aan die lewe gebly het, was 82.7 lb. vir die lokaasgroep en 83 .3 lb. vir die kontrolegroep. As die gewigte van hamels wat net 'n gedeelte van die vyf jaar in die proef was, ook bygereken word, was die gemiddelde gewigte 78.0 lb. vir die lokaasgroep en 78 . 2 vir die kontrolegroep.

 

(4) Arseeninhoud van diere aan einde van proef - Die lewers van die twee groepe skape het geen arseen bevat nie. Die gemiddelde arseeninhoud (uitgedruk as mgm. As2O3 per 100 gm. vars monsters) van die bene en wol van aIle skape wat die volle vyf jaar van die proef oorlewe het was as volg:

 

Ras en geslag

Lokaasgroep

Kontrolegroep

Bene

Wol

Bene

Wol

Swartkop Persie-ooie

Merino-hamels

0.005

0.021

-

0.2314

0.012

0.010

-

0.2516

Gemiddeldes

0.0127

0.2314

0.0109

0.2516

 

Die gemiddelde arseeninhoud van die wol van die hamels wat nie die volle vyf jaar van die proef deurgemaak het nie was 0.2742 mgm. As2O3 per 100 gm. wolmonster vir die lokaasgroep en 0.2352 mgm. AS2O3 per 100 gm. woImonster vir die kontrolegroep.

 

(5) Wolopbrengs.- Die gemiddelde ru-wolproduksie per hamel was 9, 28 lb. per jaar vir die lokaasgroep en 9.12 lb. per jaar vir die kontrolegroep. Die gemiddelde persentasie skoonopbrengs was 52.1 persent en 49.9 persent onderskeidelik vir die lokaas- en kontrolegroep. Die gemiddelde horingdroë skoonwolopbrengs per hamel was 4.74 lb. per jaar vir die lokaasgroep en 4.47 lb. per jaar vir die kontrolegroep.

 

(6) Wolveselfynheid.- Die gemiddelde veseldikte van die wol vir drie seisoene (1941-42 tot 1943-44) was .19 . 02 en .18. 03 mikron onderskeidelik vir die lokaas- en die kontrolegroep.

 

(7) Stapellengte van wol.- Vir die seisoene 1941-42 tot 1944-1945 was die gemiddelde stapelIengte, wat die wol na een jaar van groei bereik het, 2. 64 en 2.53 dm. onderskeidelik vir die lokaas- en die kontrolegroep.

 

(8) Arseeninhoud van die grond.- Die gemiddelde arseeninhoud van die grond uit die lokaaskamp, uitgedruk as mgm. As2O3 per 100 gm. grond, het gewissel tussen 0 24 en 3.20 mgm. direk na die 10 toedienings van lokaas. Die maksimum syfers was van 0.78 tot 11.90 mgm. Die gemiddelde arseeninhoud van die grondoppervlakte was die volgende vir die verskillende posisies soos hieronder aangedui:-

 

 

mgm

Grondkors

Algemene grond

Gruis

Grond uit kontoervore

Grondhopies onder bossies

Grond onder digte gras

0.237

0.576

0.716

2.158

2.562

3.076

 

Die gemiddelde arseen (uitgedruk as mgm. As2O3 per 100 gm. monster) van die grond op verskillende dieptes in die twee kampe een jaar nadat die proef beëindig is, was as volg: -

 

Dieptes

Lokaaskamp

 

Kontrolekamp

Kontoervore aanwesig

Kontoervore afwesig

Oppervlakte

0-3 duim

3-6 duim

6-12 duim

12-18 duim

18-24 duim

1.79

0.45

0.17

0.15

0.14

0.14

1.80

0.51

0.24

0.20

0.17

0.15

0.18

0.11

0.14

0.13

0.13

0.14

Gemiddeldes

0.47

0.51

0.14

 

Die afloop reënwater het baie min arseen bevat.

 

(9) Toeganklikheid van arseen in die grond vir plante.- In proewe waar oplossings van 30 mgm. As2O3 in water by 100 gm. grond gevoeg is, is gevind, dat 80 persent van die arseen na twee weke onoplosbaar geword het. Met verdere tydverloop raak meer van die arseen onoplosbaar om na ongeveer 17 weke 'n maksimum van 87 persent te bereik. Die onoplosbare arseen word deur die grond gebind sodat dit nie vir plante toeganklik is nie. Dit is verder bewys dat verdunde sure die arseen in die grond nie beter as suiwer water oplos nie, behalwe in die geval van die oppervlakkige grond waar swak sure meer arseen oplos as water.

 

(10) Arseeninhoud van die plante.- Ten einde die groots moontlike gevaarlikheid van die weiveld na elk van die 10 toedienings van lokaas aan te toon, word alleen die hoogste gemiddelde en die absolute maksimum arseeninhoud (uitgedruk as mgm. As2O3 per 100 gm. monster) van die verskillende planttipes hieronder weergegee:-

 

 

Groeiende gras

Ou dooie gras

Groeiende bossies

Hoogte gemiddelde

Absolute maksimum

0.64

3.36

2.39

4.00

0.49

2.44

 

Ongeveer 'n jaar na die laaste toediening van lokaas is monsters van12 verskillende plantsoorte geneem en die arseeninhoud bepaal. Op hierdie tydstip het die ou dooie gras 0.231 mgm. As2O3 per 100 gm. bevat, terwyl die syfers vir verskillende soorte groeiende bossies van 0.007 tot 0.109 mgm. As2O3 per 100 gm. gewissel het. 'n Reeks van 10 dooie bossies het gemiddeld 0.06 mgm. As2O3 per 100 gm. bevat.

 

(11) Absorpsie van arseen deur plante.- In 'n spesiale proef is gevind dat een van die algemeenste karoobossies (Pentzia incana) baie arseen deur die wortels uit die grond kan opneem, en dat die gif in 'n kort tydjie na die bogrondse gedeelte van die plant vervoer word nadat die grond waarin die bossies groei, met groot hoeveelhede opgeloste arseen besproei is. Na verloop van tyd mag die bossies heeltemal doodgaan; dit hang af van die hoeveelheid arseen wat by die grond gevoeg word. So het die plante, in verhouding met die hoeveelhede arseen wat toegedien is, van 4.94 tot 35.5 mgm. As2O3 per 100 gm. droë materiaal opgeneem. Waar kleiner hoeveelhede van arseen gebruik is om die grond te besproei, het sommige bossies weer later herstel. Monsters is weer 4 jaar later van die oorlewende bossies geneem en die arseeninhoud het tussen 0.0 en 0.17 mgm. As2O3 per 100 gm. Monster gewissel. Hierdie plante het normaal gegroei op dieselfde grond waarby die arseen vroeër gevoeg is.

Dit moet daarop gewys word dat die hoeveelhede arseen wat in hierdie besproeiingsproef gebruik is, baie groter is as die wat normalerwys met sprinkaanlokaas toegedien word.

 

Gevolgtrekkings

Die belangrikste gevolgtrekkings waartoe geraak is nadat bogenoemde bevindings noukeurig ondersoek is, is die volgende:-

(1) Die grootste gevaar vir veeverliese kom voor gedurende die eerste week nadat lokaas uitgestrooi is; daar is aanduidings dat swartkop-Persieskape 'n groter neiging toon om van die lokaas om te kom as merinoskape. Die aanneemlikste verklaring is dat daar gedurende die eerste week nadat die lokaas toegedien is, nog klein klontjies of bolle lokaas in die veld voorkom sodat die skape genoeg daarvan kan optel om 'n dodelike dosis arseen in te kry. Gedurende tye wanneer swak weiveldtoestande heers. bv. In die winter of tydens droogte sal die gevaar ook groter wees, as wanneer goeie weiding voorkom.

(2) Die lokaas het geen nadelige uitwerking op die vrugbaarheid van die ooie. gehad nie. In werklikheid het 'n groter persentasie van die ooie in die lokaas- as in die kontrolegroep gelam, maar die verskil is te gering om van groot betekenis te wees.

(3) Die ooie in die kontrolekamp was gemiddeld van 2 tot. 4 lb. swaarder as die in die lokaasgroep, maar aangesien meer ooie in laasgenoemde groep gelam het en lammers moes voed kan hierdie verskil nie ernstig opgeneem word nie. Die verskil in gewigte tussen die twee groepe hamels is te gering om van enige betekenis te wees. Te oordele na lewende gewigte kan dit met 'n groot mate van sekerheid gesê word dat daar geen aanduiding van kroniese arseenvergiftiging van die diere in die lokaaskamp gevind is nie.

(4) Die arseeninhoud van die bene en wol van die twee groepe skape het, na afloop van die proef nie betekenisvol van mekaar verskil nie. Dus is daar verdere bewys dat daar geen kroniese arseenvergiftiging, wat aan die teenwoordigheid van lokaas gewyt kan word, onder die lokaasgroep voorgekom het nie.

(5) Die gemiddelde ru-wolopbrengs, sowel as die horingdroë skoonopbrengs, van die twee groepe skape het nie betekenisvol van mekaar verskil nie, maar die gemiddelde persentasie skoonopbrengs van die lokaasgroep was betekenisvol hoër as die van die kontrolegroep.

(6) Die gemiddelde wolvesels van die lokaasgroep was beduidend dikker, of growwer as die van die kontrolegroep, maar die gemiddelde stapellengtes van die twee groepe het nie betekenisvol verskil nie.

(7) Daar is geringe aanduidings dat die gereelde toediening van lokaas die wolgroei gestimuleer het, maar die verskille was nie altyd betekenisvol nie.

(8) Uit die skeikundige ontledings van die grond het dit geblyk . dat rekenskap gegee kan word van alleen ongeveer 23 persent van die arseen wat met die 10 toedienings van lokaas oor die kamp versprei is. Dit word aangeneem dat die res deur wind uit die kamp verwyder is. Dit word ook bevestig deur die feit dat die arseen, wat aan bossies vaskleef, in een winderige dag na 'n toediening van lokaas ,verminder het van 0, 48 tot 0.11 mgm. As2O3, per 100 gm. plantemonster. Die geaardheid van die oppervlakte beïnvloed die verspreiding van arseen deur die wind, sodat die grond onder digte gras meer arseen bevat as bv. kaal grond wat meer aan wind blootgestel is. -

Die afloop reënwater het so min arseen bevat dat dit geen bron van arseenvergiftiging kon gewees het nie.

(9) Die arseen dring nie baie dieper as 3 dm. in die grond in nie en verander ook van vorm in die teenwoordigheid van grond. So word die oplosbare arseen binne 'n betreklike kort tyd omskep in 'n onoplosbare vorm, met die gevolg dat dit deur die grond gebind word en dus nie geredelik vir die plant toeganklik is nie. Op hierdie wyse word ook verhinder dat die arseen saam met water diep in die grond indring.

(10) Die groeiende plante in die lokaaskamp het te klein hoeveelhede arseen bevat om gevaarlik te wees vir die diere wat daaraan moes gevreet het. Maar dooie en half verrotte gras het genoeg arseen bevat om gevaarlik te wees vir die diere in die kamp, indien hulle dit sou vreet.

(11) Dit is vasgestel dat die karoobossie Pentzia incana, en moontlik ook ander plantsoorte, groot hoeveelhede arseen deur die wortels kan opneem as dit in groot hoeveelhede in die grond aanwesig is. Sulke plante gaan nie onmiddellik dood nie en is beslis gevaarlik vir vee. Aangesien die arseen egter gou deur die grond gebind word, mag sulke plante herstel en later weer normaal groei. Die hoeveelheid arseen wat met lokaas toegedien word is egter baie minder as die hoeveelhede wat in die proef gebruik is om die plante te besproei,

(12) Oor die algemeen was die uitslag van hierdie strenge toets dus dat die gebruik van arseenbevattende sprinkaanlokaas geen langdurige nadelige uitwerking op die vee of die veld gehad het nie. Die enigste gevaar wat bestaan, is die van akute arseenvergiftiging kort nadat die lokaas toegedien is; dit word gewyt aan die teenwoordigheid van klontjies lokaas wat groot genoeg is om deur die vee gevreet te word. As gevolg van winderosie en die binding van arseen deur die grond, bestaan daar onder toestande soos die wat in die proef geheers het, na 'n week of twee geen noemenswaardige gevaar meer nie en word die moontlikhede van kroniese arseenvergiftiging blykbaar uitgeskakel.

Dit is derhalwe raadsaam om vee vir 'n week of twee weg te hou van plekke waar lokaas toegedien is. Indien versigtig te werk gegaan word, sal daar na hierdie tydsverloop geen gevaar meet bestaan nie.

Ten slotte dien nadruklik gemeld te word dat die uitstrooi van lokaas op plekke wat gereeld deur vee besoek word, bv. naby krale, damme, drinkbakke en werwe, baie sterk afgekeur word.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 25