Last update: March 26, 2012 03:47:38 PM E-mail Print

 

Enkele plant-grondvorm assosiasies in die Karoostreek

 

M Vorster

Landbouhulpbronontwikkeling

Landboukollege Grootfontein

Privaatsak X529

MIDDELBURG KP

5900

 

INLEIDING

Dit is 'n bekende feit dat die plantegroei 'n betroubare aanduiding van gronde in 'n gebied kan weergee (Pentz, 1938). Die bestaan van sulke assosiasies het groot voordele omdat dit ekoloë, beplanners, ensovoorts, in staat kan stel om vinnig grondsoorte of -toestande te bepaal, sonder om noodwendig gate te grawe.

Tydens die verwerking van die landtipe-inligting om Redelik Homogene Boerderygebiede (RHB's) in die Karoostreek af te baken, het dit geblyk dat sekere dominante plantspesies blykbaar sekere gronde van sekere dominante grondvorms (bv. Mispahvorm) (MacVicar, De Villiers, Loxton, Vorster, Lambrechts, Merryweather, Le Roux, Van Rooyen & Harmse, 1977) verkies. Op grond hiervan, is daar besluit om te bepaal of daar wel sulke plantgrondassosiasies in die breë in die Karoostreek bestaan.

 

METODES EN TEGNIEKE

Insameling van data

Die wyse waarvolgens die data ingesamel is word volledig deur Vorster (1985) beskryf.

 

Dataverwerking

Die plant-grondvorm assosiasies was met behulp van die PHYTO 10-rekenaarprogram (Westfall, Dednam, Van Rooyen & Theron, 1982) bepaal. Die PHYTO 10-rekenaarprogram is hiervoor gebruik omdat dit die vermoë het om die verskillende plantspesie x grondvormassosiasies in alfabetiese volgorde te rangskik terwyl dit terselfdertyd ook die aantal kere wat elk van hierdie assosiasies voorgekom het, bereken. Op grond hiervan was dit moontlik om die assosiasies tussen die verskillende plantspesies en grondvorms te bepaal.

 

RESULTATE

Die assosiasies van die verskillende plantspesies (54) met die dominante grondvorms (10) word in Tabel 1 uiteengesit.

Uit Tabel 1 is dit duidelik dat Galenia africana (geelbos), G. procumbens (kraalbos), Kochia pubescens (inkbos), Panicum maximum (buffelgras), Salsola aphylla (beesganna), S. Glabrescens (rivierganna), Stipagrostis namaquensis (Kalaharikweek), Acacia karroo (doringboom), Cynodon incompletus (soetkweek) en Juncus inflexus (vleibiesie) hoofsaaklik die gronde van die diep Dundeevorm verkies, terwyl laasgenoemde drie spesies ook op die gronde van die Oakleafvorm voorkom.

Die meeste spesies word egter op die vlak struktuurlose en/ of swak ontwikkelde struktuurgronde (Glenrosa- en Mispahvorm) aangetref. Spesies so os Acacia mellifera (swarthaak), Eragrostis bergiana (kwaggakweek), Lebeckia spinescens (sandganna), Pentzia globosa (bitterkaroo), Themeda triandra (rooigras) en Zygophyllum lichtensteinianum (vaalspekbossie) kom hoofsaaklik op die gronde van die Mispahvorm voor, terwyl Aristida congesta (steekgras), Eberlanzia ferox (doringvygie), Eriocephalus spinescens (doringkapok) en Zygophyllum microphyllum (spekbossie) die gronde van die Mispah- sowel as Glenrosavorm verkies (Tabel 1). Aristida diffusa (ystergras), Carissa haematocarpa (noem-noembessie), Elytropappus rhinocerotis (renosterbos), Eriocephalus ericoides (kapokbos), Merxmuellera disticha (suurpol), Rhigozum obovatum (granaatbos), Cenchrus ciliaris (bloubuffelgras), Chrysocoma tenuifolia (bitterbos), Eragrostis curvula (oulandgras) en Rhus erosa (besembos) kom nie net op die gronde van die Mispah- en Glenrosavorm voor nie, maar verkies ook blykbaar habitatte met klip aan die oppervlak. Trouens spesies soos Digitaria eriantha (vingergras) (53,8%) en Heteropogon contortus (swartangelgras) (81,8%) word hoofsaaklik met habitatte wat klip aan die oppervlak bevat (berghange en rante) geassosieer (Tabel 1).

 

 

Volgens die tabel word Pentzia spinescens (doringkaroo), Rhigozum trichotomum (driedoring), Stipagrostis-spesies (S. ciliata en S. obtusa) (Boesmangrasse), S. uniplumis. (blinkblaarboesmangras), Phaeoptilum spinosum (brosdoring) en Rosenia humilis (perdekaroo) op beide matige diep apedale gronde (Huttonvorm) en vlak struktuurlose en/ of swak ontwikkelde struktuurgronde (Mispah- en Glenrosavorm) aangetref.

Dit is opmerklik dat behalwe vir Eragrostis bicolor (fynvleigras) en Atriplex halimoidea (blasiesbrak), daar blykbaar nie ander spesies is wat spesifiek met die sterk ontwikkelde struktuur-gronde (Valsrivier-, Swartland-, Sterkspruit- en Shortlandsvorm) geassosieer is nie. Spesies soos Euclea undulata (ghwarrieboom), Portulacaria afra (spekboom), Euphorbia coerulescens (noors) en Grewia occidentalis (kruisbessie) is wel met die Swartlandvorm geassosieer, maar dit dui ook die teenwoordigheid van gronde van die Glenrosa- en Mispahvorm aan.

Die Rhus-spesies R. glauca (blinkblaar), R. lancea (kareeboom), R. longispina (buffelsdoring), R. lucida (taaibos) en R. undulata (koeniebos), Lycium-spesies en Pentzia incana (ankerkaroo) toon geen patroon met betrekking tot 'n spesifieke grondvorm of gronddiepte nie. Dit wil egter  voorkom of die Rhus-spesies nie sterk ontwikkelde struktuurgronde verkies nie.

 

ALGEMENE BESPREKING

Dit moet duidelik gestel word dat bogenoemde assosiasies slegs in die breë voorkom omdat die inligting wat vir hierdie doel gebruik is, op semi-intensiewe veldopnames gebaseer is. Meer intensiewe plantopnames sou meer akkurate assosiasies te voorskyn gebring het.

Daar moet ook in gedagte gehou word dat die voorkoms van sekere plantspesies op gronde van sekere dominante grondvorms, nie net aan die gronde alleen toegeskryf kan word nie. Byvoorbeeld, die gronde van die diep Huttonvorm kom oorwegend in die noordwestelike dele van die Karoostreek voor. Die feit dat die Stipagrostis-spesies oorwegend op die gronde van hierdie grondvorm voorkom, kan dus nie alleen aan hierdie grondvorm toegeskryf word nie, maar ook aan die klimaat wat in hierdie gebied heers (Vorster, 1985). Dit is dus duidelik dat bogenoemde breë plant-grondvorm assosiasies versigtig geïnterpreteer moet word.

 

LITERATUURVERWYSINGS

MACVICAR, C.N., DE VILLIERS, J.M., LOXTON, R.F., VERSTER, E., LAMBRECHTS, J.J.N., MERRYWEATHER, F.R., LE ROUX, J., VAN ROOYEN, T.H. & HARMSE H.J. VON M. 1977. Grondklassifikasie. 'n Binomiese sisteem vir Suid-Afrika. Dept. Landbou-tegniese Dienste: Navorsingsinstituut vir Grond en Besproeiing, Wet. Pamflet 390, Staatsdrukker, Pretoria.

PENTZ, J.A., 1938. Die waarde van 'n plantkundige opname en die karteer van plantegroei soos van toepassing op boerderystelsels in Suid-Afrika. Plantkundige opname van Suid-Afrika. Pamflet no. 19, Staatsdrukker, Pretoria.

VORSTER, M., 1985. Die ordening van die landtipes in die Karoostreek in Redelik Homogene Boerderygebiede deur middel van plantegroei- en omgewingsfaktore. D.Sc.-proefskrif, PU vir CHO.

WESTFALL, R.H., DEDNAM, G., VAN ROOYEN, N. & THERON, G.K., 1982. PHYTO TAB - A program package for Braun-Blanquet tables. Vegetatio 49, 35-37.

 

Published

Karoo Agric 3 (7), 59-61