Last update: April 3, 2012 03:37:36 PM E-mail Print

 

BAKTERIESIEKTES

 

deur E.M. VAN TONDER

Middelburg, Kaap

 

Miltsiekte

Hoewel hierdie siekte uiters aansteeklik is, word uitbrekings onder skape baie selde aangemeld. Aangesien dit egter 'n akute, dodelike siekte by alle plaasdiere is. is dit raadsaam om altyd op die hoede te wees vir die voorkoms daarvan onder skape. Miltsiekte is 'n geproklameerde siekte en die voorkoms of vermoedelike voorkoms daarvan moet onmiddellik aangemeld word.

 

OORSAAK EN VERSPREIDING

Die siekte word veroorsaak deur 'n groot staafvormige bakteriekiem, Bacillus anthracis.

Wanneer diere aan die siekte vrek en veral as hulle oopgesny word, kom groot hoeveelhede van die kiem wat in die bloed en organe is met die lug in aanraking en verander in 'n vorm wat baie goed weer stand kan bied, die sogenaamde spore wat vir baie jare in die grond kan lewe. Die bloederige uitloopsels by die natuurlike openinge, velle, bene en vleis vorm bronne van besmetting en speel 'n belangrike rol in die verspreiding van die siekte. Behalwe die mens kan gewone en bytende vlieë, aasvoëls, jakkalse en ander kleiner aasdiere as belangrike verspreiders van die siekte optree.

Die wat goed bestand is teen ongunstige toestande kan ook deur reëns aangespoel word en in vlak panne en damme versamel wat dan mettertyd, veral as hulle begin opdroog, gekonsentreerde bronne van besmetting word.

Diere kry gewoonlik die besmetting deur die bek in wanneer hulle besmette water drink, op besmette veld wei of aan besmette velle, bene, bloed of karkasse lek of vreet.

Mense is ook vatbaar en kan die besmetting opdoen deur wonde, of deur spore deur die mond in te neem of in te asem. Besmette wol en velle kan tydens klassering en sortering as belangrike bronne van besmetting vir mense dien.

Let wel: Die oopsny van verdagte miltsiekte karkasse word ten strengste deur die wet verbied.

 

VOOR- EN NADOODSE SIEKTETEKENS

By skape word die siekte gekenmerk deur skielike vrekte, sodat siek diere seIde gesien word. Indien wel, word simptome soos koors, bewing van die liggaam, waggelende gang, stuiptrekkings, bloeding op die slymvliese asook vry bloeding by die natuurlike openinge of 'n bloederige stoelgang dikwels opgemerk.

Die belangrikste nadoodse tekens is die donker bloederige uitvloeisel by die natuurlike openinge. Aangesien die oopsny van verdagte miltsiekte karkasse verbied word moet gevalle wat skielik vrek en sulke uitvloeisels toon as verdag beskou en by die naaste staatsveearts of vee-inspekteur aangemeld word. Indien 'n karkas per abuis oopgesny word moet 'n groot geswolle, bloederige milt en bloedinge by feitlik aIle organe onmiddellik as verdag beskou en aangemeld word.

 

DIAGNOSE, BEHANDELING, VOORBEHOEDING

Aangesien miltsiekte verwar kan word met baie ander siektes en vergiftigings wat skielike sterftes veroorsaak, is dit altyd raadsaam om die hulp van 'n veearts in te roep. Skielike vrektes met donker bloederige uitloopsels by die natuurlike openinge wat nie stol nie, moet altyd as verdagte tekens beskou word.

Vanweë die akute aard van die siekte is behandeling normaalweg nie moontlik nie en word die siekte hoofsaaklik deur voorkomende inenting in bedwang gehou.

Uitbrekings of verdagte gevalle moet aan die naaste vee-inspekteur of staatsveearts gerapporteer word, onder wie se toesig en voorskrifte verskeie voorbehoedende maatreëls soos beskikking oor besmette materiaal, ontsmetting, afsondering en inenting toegepas moet word.

 

Bloednier

Bloednier is sekerlik die algemeenste siekte by skape in die Republiek. Ofskoon voorbehoedende inenting uiters doeltreffend is vir die beheer van die siekte, en die entstof vryelik beskikbaar is, word vrektes nog steeds feitlik daagliks ondervind. As vernaamste redes kan onkunde en onverskilligheid ten opsigte van die bestaan van die siekte en sy gevolge asook die beskikbaarheid en hantering van die entstof genoem word.

 

OORSAAK EN VERSPREIDING

Die siekte word veroorsaak deur 'n gifstof geproduseer deur die kiem Clostridiumwelchli, tipe D. Hierdie kiem wat normaalweg in die dermkanaal van Skape voorkom, kan onder sekere omstandighede vinnig vermenigvuldig en groot hoeveelhede gifstof vorm wat dan deur die dermkanaal opgeneem word en vir die siekte en dood  verantwoordelik is.

Die aanleidende faktor is gewoonlik een of ander vorm van spysverteringstoornis wat deur verskeie omstandighede veroorsaak word, soos die skielike verandering van swak na goeie of van natuurlike na aangeplante weidings, ander dieetveranderinge soos die verskaffing van droogtevoeding of hoë konsentraatvoeding met gebrekkige hoeveelhede ruvoer, vetmesting sonder voldoende aanpassing, dosering met spesifieke middels, ens.

 

VOOR- EK NADOODSE SIEK TETEKENS

Bloednier word ook gekenmerk deur die voorkoms van skielike vrektes en die feit dat siek skape seIde gesien word. 'n Tipiese patroon is dat daar in 'n sekere kamp of kampe, elke oggend 'n paar dooie skape gevind word. Wanneer siek skape wel opgemerk word, is daar veral twee vorms van die siekte wat onderskei kan word:

Wat nadoodse tekens betref is daar werklik min tipiese verskynsels. Die karkas is gewoonlik opgeblaas met skuim by die bek en in die lugpyp, geel leë winderige derms en bloeding van die vel oor die skouers en rug. Die niere in die vars karkas is geswolle, donkerrooi verkleur met stuwing van die oppervlakkige bloedvate en selfs klein bloedings. Ontbinding van die karkas tree baie gou in, veral in warm weer, en dit is as gevolg hiervan dat die niere pap word.

 

DIAGNOSE, BEHANDELING EN VOORKOMING

Vir 'n vroeë in-die-kol-diagnose moet die naaste veearts onverwyld geraadpleeg word. Om hom te help met 'n diagnose is betroubare agtergrondgegewens (d.w.s. 'n relaas van waarnemings, siektetekens, bestuurs- en inentingsprogramme) van groot waarde. In sommige gevalle mag dit egter nodig wees om monsters vir bepaalde ondersoeke te neem.

Daar is geen behandeling vir hierdie siekte nie en voorkoming is dus van uiterste belang.

'n Uitstekende entstof word op Onderstepoort vervaardig, wat oral verkrygbaar is vanaf primêre en sekondêre verspreiders. Die entstof het 'n oliebasis en inenting vind slegs eenkeer per jaar plaas. Jong lammers word gewoonlik vir die eerste keer op speenouderdom slegs eenkeer geënt, ofskoon in sommige gevalle 'n opvolgdosis, 6 weke tot 2 maande later, voordelig mag wees. In gevalle waar bloednier straf voorkom kan inenting reeds vanaf tweemaande-ouderdom toegedien word.

Ofskoon die weerstand na inenting vir minstens 12 maande sal duur, word nietemin aanbeveel dat opvolgende inentings voor die verstryking van die tydperk herhaal sal word.

Dit is ook raadsaam om inenting so te reël dat die diere die maksimum weer stand sal hê voordat hulle aan drastiese dieetveranderings en doserings soos reeds genoem, blootgestel word. In geval van uitbrekings onder diere waar bale goeie voedingtoestande aangetref word, en veral onder diere wat nog nie vantevore geënt was nie, moet inenting so spoedig moontlik geskied, en dit sou ook raadsaam wees om sulke diere tydelik na swakker weiding te verskuif tot tyd en wyl voldoende weer stand opgebou is. 'n Goeie weerstand ontwikkel gewoonlik 2 tot 3 weke na inenting.

Dit is uiters belangrik dat entstowwe nie na die vervaldatum gebruik word nie en dat dit altyd sorgvuldig volgens voorskrif bewaar en gehanteer word.

 

Clostridial siektes

Bloedpens

Hierdie siekte wat vroeër jare toe skape nog gereeld snags ingekraal is ernstige afmetings aangeneem het, het onder huidige skaapboerdery omstandighede, drasties afgeneem. Dit is hoofsaaklik 'n siekte by jong lammertjies vanaf geboorte tot 14 dae oud. Die moontlikheid bestaan egter dat dit ook by ouer lammers voorkom, maar in 'n vorm wat nie maklik herkenbaar is nie.

 

OORSAAK EN VERSPREIDING

Bloedpens word deur 'n spoorvormende kiem, Clostridium welchii, tipe B, veroorsaak. Die weerstandbiedende spore wat deur die kieme gevorm word, kan baie lank onder uiters ongunstige omstandighede behoue bly. 'n Kraal of veld wat besmet is kan dus jare lank besmet bly.

Die kiem word deur die bek ingeneem wanneer In lam aan die besoedelde spene van die ooie wat met besmette mis of grond in aanraking was, suig. So nie kan dit ook ingeneem word deurdat veral die ietwat ouer lam aan mis of ander bronne van besmetting lek of peusel.

 

VOOR- EN NADOODSE TEKENS

Die kiem wat deur die bek ingeneem word, vermenigvuldig in die dermkanaal en vorm ‘n gifstof wat deur die dermwand opgeneem word en die siekte en dood veroorsaak. In akute gevalle kan die lam skielik vrek, maar gewoonlik word die volgende waargeneem: Die lam is lusteloos en wil nie suip nie, daar is tekens van maagpyn, maagwerking ontwikkel wat selfs bloederig kan word, ernstige ontwatering kom voor en bewusteloosheid tree in, gevolg deur die dood. Die omgewing van die stert is gewoonlik erg besoedel as gevolg van die maagwerkings.

Wanneer die lam oopgesny word is daar rooibruin gekleurde vloeistof in die buikholte en is groot gedeeltes van die hele dunderm rooi. Die dermwand is fluweelagtig, rooi en bloederig met vlak sere en In bloederige inhoud.

 

DIAGNOSE, BEHANDELING EN VOORBEHOEDING

Die voorkoms van die siekte, simptome en nadoodse tekens gee gewoonlik 'n redelike goeie aanduiding daarvan. Vir bevestiging van die diagnose is dit egter raadsaam om met die naaste veearts te skakel. Monsters van die aangetaste dunderm nadat dit behoorlik afgebind is, word vereis vir die laboratoriumondersoek en bevestiging van die diagnose.

Ofskoon behandeling in akute gevalle van min waarde is kan dit wel in minder akute gevalle suksesvol wees, en dit is daarom baie belangrik dat In veearts geraadpleeg word vir bevestiging van die diagnose, sodat behandeling waar moontlik en die toepassing van voorbehoedende maatreëls kan geskied.

Wat voorbehoeding betref is daar ‘n uiters doeltreffende entstof beskikbaar. Aangesien die lam die siekte op 'n baie vroeë ouderdom opdoen, word aanbeveel dat die dragtige ooie geënt word om sodoende kort na geboorte aan die jong lam deur middel van die biesmelk beskerming te verleen. Die teenliggaampies (weerstand) wat deur die ooi opgebou word, word ook in die biesmelk uitgeskei en wanneer die jong lam drink, word dit deur sy liggaam opgeneem en verleen aan ham beskerming teen die siekte.

Die eerste keer moet ooie tweekeer met 'n tussenpose van 3 tot 4 weke geënt word, en die laaste inspuiting moet ongeveer 14 dae voor lam toegedien word. Aangesien ooie in troppe oor 'n tydperk van 6 weke tot 2 maande lam, is dit egter nie prakties moontlik nie en word dus aanbeveel dat inenting 6 weke en dan weer 2 weke voor die eerste ooie moet lam toegedien word. Ooie wat reeds geënt is ontvang slegs een inenting ongeveer 14 dae voordat die eerste ooi moet lam.

Aangesien die lam binne enkele ure na geboorte die besmetting kan inneem is dit noodsaaklik dat hy so gou moontlik na geboorte biesmelk moet inkry. Dit is daarom raadsaam dat ooie nie tydens die lamproses gesteur moet word nie.

Gedurende uitbrekings ontstaan heelwat probleme en moet ander bykomstige maatreëls getref word. As uitbrekings aan die begin van die lamseisoen voorkom, moet alle dragtige diere onmiddellik geënt word. Aangesien 'n goeie weerstand binne 14 dae opgebou word en ooie gewoonlik oor 'n tydperk van 6 weke tot 2 maande lam, kan groot verliese onder lammers wat na die tyd gebore word, voorkom word. Wanneer die siekte egter aan die einde van lamseisoen uitbreek, soos dikwels die geval is met eerste uitbrekings, sou inentings vanweë die tyd wat dit neem om weer stand te ontwikkel, nie veel waarde hê nie en moet ander voorbehoudende maatreëls toegepas word. In die geval sal onmiddellike verskuiwing vanuit die kraal of kamp verligting bring.

As algemene maatreël is dit wenslik dat diere in die oop veld lam, of dat hulle waar krale of kampies gebruik word, so skoon moontlik gehou en indien moontlik ontsmet word.

 

Sponssiekte

Hierdie siekte wat by skape hoofsaaklik deur besmetting van wonde veroorsaak word kom steeds in 'n toenemende mate voor. Ofskoon aIle skape vatbaar is vir die besmetting, is wolskape as gevolg van die skeerproses en gevolglike verwonding, meer onderhewig aan die siekte. Vanweë sy velplooi en veral die fyn lyfplooie, is die Merino en veral die ontwikkelde tipe, weer meer onderhewig aan skeerwonde en dus ook aan die besmetting.

 

OORSAAK EN VERSPREIDING

Sponssiekte word veroorsaak deur die spoorvormende kiem Clostridium chauvoei. Die karkas van 'n dier wat aan sponssiekte vrek is deurtrek met kieme wat dan by ontbinding in spore verander en die hele omgewing besoedel. Hierdie spore is uiters bestand en kan vir jare in ongunstige toestande voortbestaan.  Dit volg ook vanselfsprekend dat die besmetting in die vorm van spore versprei kan word deur dele van karkasse, veral velIe en bene, asook die klere, hande en instrumente van werkers wat sulke karkasse gehanteer het. Die onwenslike gebruik om velIe en veral velIe van diere wat gevrek bet, in die skeerskuur te droog en te berg, dien as die belangrikste bron van besmetting by skape.

By skape dring die spore van die kiem die liggaam hoofsaaklik deur wonde binne. Die belangrikste is natuurlik skeerwonde, waar die skeerskuur besmet is of waar die vangkrale of ander krale en omgewing waar die skape onmiddellik na skeer aangehou word 'n hoë besmetting huisves. Deur middel van hul oorpakke en skêre, speel skeerders ook 'n belangrike rol in die verspreiding van die siekte van een plaas na 'n ander.

Die spore kan natuurlik ook deur ander wonde indring. In gevalle waar skape op erg besmette dele loop, kan die spore volop in die veld aanwesig wees en deur middel van spuitnaaldwonde of deur bosluis-, steekgras- of doringwonde binnedring.

By jong lammers kan die siekte toegang verkry deur wonde veroorsaak deur kastrasie of waar lammers stert-af gesny is.

 

VOOR- EN NADOODSE TEKENS

In geval van skape kom die siekte gewoonlik binne 4 tot 6 dae voor na skeer of ander aktiwiteite waar wonde veroorsaak is soos bv. ent, kastreer ens. Die siekte word gekenmerk deur skielike vrektes en talle siek. aangetaste diere, na gelang van die betrokke handeling, die aantal diere en bron van besmetting. Aangetaste skape het 'n hoë koors, is mank in die aangetaste ledemate (gewoonlik die agterste) terwyl die dele akuut geswolle, warm en pynlik is en kraak wanneer dit betas word. By ligkleurige skape vertoon die dele rooi tot bloupers. In erger gevalle vorm krakies in die vel en word 'n rooi, stinkende, waterige vloeistof afgeskei. Indien die skaap bly lewe word die geswolle gedeelte later koud en gevoelloos.

By nadoodse ondersoek vloei baie van die stinkende, bloederige vog uit die weefsels by insnyding, terwyl die spiere sponsagtig is en onegalige ligte en donker vlekke vertoon. Gewoonlik is die kern van die letsel in die dikspierweefsels donkerrooi tot swart verkleur.

 

DIAGNOSE, BEHANDELING EN VOORKOMING

Die geskiedenis, simptome en nadoodse tekens is baie tipies. Indien twyfel ontstaan, veral met die oog op behandeling van aangetaste diere waar antibiotika toegedien moet word, en waar spesifieke voorkomende maatreëls getref moet word, is dit altyd raadsaam om die hulp van die naaste veearts in te roep.

Voorkoming berus op voorbehoedende inenting asook suiwer higiëniese maatreëls. Weer eens is 'n uitstekende entstof beskikbaar en dit word aanbeveel dat diere jaarliks geënt word, ten minste 3 weke voor skeer of ander bepaalde prosesse. Ofskoon uitbrekings redelik sporadies voorkom moet in gedagte gehou word dat veral na skeer groot getalle diere aangetas word en vrek, en dat die besmetting lank op 'n bepaalde plek aanwesig kan wees.

Tydens 'n uitbreking moet die skeerproses of ander handeling onmiddellik gestaak word en die reeds geskeerde skape van die res geskei word.

Die aangetaste skape moet weer van die ander afgesonder en daagliks behandel word. Dit mag ook lonend wees om by aanvang van die uitbreking die reeds geskeerde, maar sigbaar nog onaangetaste skape, almal een behandeling te gee. Die ongeskeerde skape moet onmiddellik geënt word op 'n streng basis van een skaap per naald. Eers na verloop van drie weke kan die skeerproses hervat word nadat die skeerhok behoorlik ontsmet is.

Alle dooie skape moet sover moontlik diep begrawe of verbrand word.

Nie alleen ter voorkoming van sponssiekte nie, maar ook van bale ander siektes en besmettings wat deur skeerders na ander plase versprei mag word, word die volgende standaardmaatreëls aanbeveel vir doeltreffende skeerhokhigiëne:

1. Verwyder alle wol en bederfbare materiaal uit die skeerhok. Dit is veral t.o.v. uitbrekings gedurende die skeerproses. Die beskikbare wol moet verwerk, verpak en verwyder word. Velle behoort in elk geval nie naby die skeerhok te wees nie.

2. Bespuit die vloere, mure en selfs die dak van die skeerhok met 3- tot 5- persent formalien met behulp van 'n drukspuit. Spuit ook die ontvangskrale deeglik. Maak alle deure en vensters toe vir minstens 24 uur, en maak dit dan weer oop om die irriterende reuk te laat verdwyn.

3. Plaas 3- tot 5-persent formalien in die skeer emmertjies waarin skêre gedoop word, of in vlakker panne waarin die kamme van masjienskerknippers gedoop kan word elke keer by omruiling van skape.

4. Voorsien minstens twee tot drie oorpakke aan skeerders, wat in die skeerskuur aan- en uitgetrek en oornag daar gehou word. Oorpakke kan elke week of meer dikwels omgeruil word en die vuil pakke in wassoda gekook word.

5. Verander die skeervolgorde deur in volgorde van die jongste na die oudste groepe te skeer.

6. Ontsmetting van wonde tydens skeer kan ook toegepas word. By stertafsit en kastrasie word dit egter noodsaaklik geag.

7. Inenting, stertafsit en kastrasie behoort so higiënies moontlik te geskied, in 'n stofvrye omgewing en met behoorlike sterilisasie van instrumente en naalde.

 

Dikkop by ramme

Hierdie siekte kom veral op stoetplase onder jong ramme voor. Omdat die diere in groepe aangehou word, veral op groen vogtige weidings, is daar In sterk neiging by die rammetjies om onderling te baklei. Kopwonde wat so ontstaan, raak dan besmet met die bepaalde kiem.

 

OORSAAK EN VERSPREIDING

Die besmetting van die wonde word veroorsaak deur die spoorvormende kiem Clostridium oedematiens. Die spore kan ook baie lank aan die lewe bly in besmette grond en vogtige weidings. Wanneer die spore in die wond beland vermenigvuldig dit vinnig en vorm 'n gifstof wat die siektetekens en vrekte veroorsaak.

 

VOOR- EN NADOODSE TEKENS

Die siekte word gekenmerk deur 'n skielike deegagtige geswel van die kop. Die oë is gewoonlik toegeswel, die lippe dik en die dier haal moeilik asem. Die swelsel versprei later na die nek en selfs voorpote.

By nadoodse ondersoek is daar slegs 'n helder tot effens gelerige jellieagtige vloeistof in die onderhuidse weefsels van aangetaste dele sigbaar.

 

DIAGNOSE, BEHANDELING EN VOORKOMING

Ofskoon die siektebeeld onder jong ramme taamlik kenmerkend is, is daar wel ander siektes soos geeldikkop wat met gewone dikkopsiekte verwar kan word. Indien twyfel ontstaan is dit altyd wenslik om die naaste veearts te raadpleeg sodat 'n noukeurige ondersoek gedoen kan word, monsters vir bevestiging geneem kan word en tydige behandeling toegepas kan word.

Wat voorbehoeding betref is daar 'n doeltreffende entstof beskikbaar en gereelde inenting van jong en ander ramme word dus aanbeveel. By die eerste toediening moet die jong ram tweekeer met 'n tussenpose van 4 weke geënt word. Hierna hoef inenting slegs eenkeer jaarliks te geskied.

 

Kwaadaardige oedeem

Afgesien van sponssiekte kan hierdie toestand ook nog as 'n besmetting van skeerwonde voorkom en dus verwarring veroorsaak.

 

OORSAAK EN VERSPREIDING

Die kiem wat in die geval besmetting veroorsaak staan bekend as Clostridium septicum. Die kiem kom orals voor, byvoorbeeld in die grond, maar veral in mis en verrotte materiaal. Wanneer dit die wond binnedring, vermenigvuldig dit ook en vorm In gifstof wat vir die toestand verantwoordelik is. Wonde word veral besmet in vuil misbedekte skeerhokke en krale asook deur besoedelde skêre en instrumente.

 

VOOR- EN NADOODSE TEKENS

Die sigbare tekens is beperk tot die bepaalde wond of wonde en omgewing wat 'n uitgebreide warm en pynlike swelsel toon. Die swelsel voel meer deegagtig en 'n bloederige sug sypel by die wond uit.

Nadoods vind 'n mens slegs die lokale letsel met 'n aansameling van donkerrooi vloeistof onderhuids sowel as binne die weefsels.

 

DIAGNOSE, BEHANDELING, VOORKOMING

Aangesien die toestand maklik met sponssiekte verwar kan word, moet 'n veearts geraadpleeg word vir bevestiging van die diagnose en sodat antibiotiese behandeling so gou moontlik voorgeskryf en toegepas kan word. Monsters van letsels is noodsaaklik vir bevestiging en moet onmiddellik geneem word nadat 'n dier gevrek het of by nog lewende uiterste gevalle.

'n Entstof word tans nag op eksperimentele basis berei en lewer uitstekende resultate. 'n Akkurate diagnose is egter belangrik ten einde dit van ander besmettings te onderskei.

Streng higiëniese maatreëls soos in geval van sponssiekte, is van uiterste belang in lokale waar wonde toegedien kan word en die besmetting daarvan kan plaasvind.

 

Nageboortelike gasgangreen

Hierdie toe stand wat in 'n toenemende mate onder skape sowel as bokke voorkom, word apart behandel, nie omdat dit as sodanig 'n aparte siekte is nie, maar hoofsaaklik omdat dit onafhanklik van die gewone toestande wat deur die betrokke kieme veroorsaak word, voorkom. Dit word byvoorbeeld dikwels gevind op plase waar tipiese sponssiekte, dikkopsiekte of kwaadaardige oedeem in geen jare voorgekom het nie.

 

OORSAAK EN VERSPREIDING

Hierdie toestande word veroorsaak deur enige van die drie organismes, nl. Clostridium chauvoei, Clostridium septicum en Clostridium oedematiens. Gevalle is selfs bekend waar twee en selfs al drie die organismes in die letsels van die geslagsorgane van dieselfde dier aangetref is.

Die spore van hierdie organismes, wat soos reeds beskryf wyd verspreid kan voorkom, baie goed weerstandbiedend is en vir jare in die grond of elders behoue kan bly, dring waarskynlik die geslagskanaal kort voor, gedurende of na geboorte binne. Aangesien heelwat kneusing en beskadiging van die slymvlies van die geslagskanaal tydens geboorte, en veral in moeilike gevalle, voorkom, bied dit waarskynlik die geleentheid vir binnedringing van die weefsels deur die kiem.

Dit word egter gevoel dat die belangrikste plek van indringing hoogs waarskynlik deur die baarmoederkoeke is, omdat die noue of intieme verbinding van die vrugvliese en baarmoeder deur die geboorteproses en losskeuring van die vrugvliese verbreek word. Blykbaar is die toestande vir die vinnige vermeerdering van die organismes uiters gunstig in die dragtige baarmoeder kort na geboorte.

 

VOOR- EN NADOODSE TEKENS

Simptome van die besmetting verskyn gewoonlik binne 6 tot 24 uur na lam en word gekenmerk deur hoë koors, geweldige parsie deur die ooi, dik slymerige donker bloederige uitvloeisel by die vulva, 'n geswolle persrooi vulva en omgewing met In krakerige sponsagtige gevoel en algemene tekens van bloedvergiftiging. By onbehandelde gevalle tree die dood gewoonlik in binne 12 tot 24 uur na ontwikkeling van simptome.

Afgesien van die algemene tekens van bloedvergiftiging is die belangrikste nadoodse tekens in die geslagskanaal aanwesig. Die hele kanaal is gewoonlik aangetas, met In akute bloederige inflammasie, vergesel van erg geswolle wonde met bloederige en soms helder vloeistof en soms gasaansameling. Die holte van die baarmoeder is donkerrooi tot pers en bevat groot hoeveelhede slegruikende bloederige vloeistof.

 

DIAGNOSE, BEHANDELING, VOORKOMING

Die simptome en nadoodse tekens is gewoonlik tipies. Dit is egter noodsaaklik dat bepaalde monsters verkry moet word om die veroorsakende kiem te kan identifiseer. Omdat tydige behandeling met antibiotika uitstekende resultate lewer en spesifieke monsters vereis word in 'n vars toestand, sou dit raadsaam wees indien die naaste veearts geraadpleeg word.

Wat voorbehoeding betref bestaan daar reeds doeltreffende entstowwe teen Clostridium chauvoei en Clostridium oedematiens, terwyl 'n entstof teen Clostridium septicum op aanvraag berei kan word. Aangesien die akute siekte deur behandeling beheer kan word is dit uiters wenslik dat die veroorsakende kiem korrek geïdentifiseer moet word en die regte entstof gedurende dieselfde of opvolgende lamseisoene gebruik word, eerder as om die entstowwe een vir een uit te toets.

 

Klem-in-die-kaak

Dit is 'n akute, dodelike siekte van aIle huisdiere, maar by skape word dit meesal by jong lammers aangetref, waar dit groot getalle mag aantas. Dit volg gewoonlik op operasies soos kastrasie, stertafsit en die aanbring van oormerke.

 

OORSAAK EN VERSPREIDING

Die oorsaak is 'n spoorvormende organisme, nl. Clostridium tetani. Die kiem kom wyd verspreid voor en word dikwels in die dermkanaal van diere, veral perde, gevind. Die spore wat uiters bestand is,kom oral in die grond voor en sal dus uit die aard van die saak meer gekonsentreerd wees op bepaalde plekke. Die spore dring die liggaam binne deur bepaalde wonde, vermenigvuldig en vorm 'n sterk gifstof wat hoofsaaklik die senuweestelsel aantas. Aangesien die organisme nie in die aanwesigheid van lug kan groei nie, is oppervlakkige wonde van minder belang. Die ideale wond is dus 'n diep indringende wond of selfs redelik oppervlakkige wonde wat vinnig toe trek en lug uitsluit. Die beskadigde dooie weefsel vorm dan 'n uitstekende groeibodem omdat die afbreking van die weefsels vry suurstof bind. By lammers is kastrasie, stertafsit en oormerkwonde baie belangrik. Die aanwending van rubberringetjies is uiters bevorderlik vir die voorkoms van die siekte omdat dit afsterwing van weefsel veroorsaak en indringing van lug verhoed.

 

VOOR- EN NADOODSE TEKENS

Die eerste tekens verskyn gewoonlik binne enkeIe dae tot 'n week en selfs langer na besmetting. Die aangetaste lam word styf en gespanne, loop met 'n rukkerige gang en stywe bene. Die styfheid word progressief erger en brei na aIle ledemate en ander dele van die liggaam uit. Beweging is -later onmoontlik en die dier staan wydsbeen met die kop vooruitgestrek. Die dier se reaksies op geluid of aanraking is hipersensitief, terwyl die oë oopgesper en gewoonlik na onder gedraai is. Wanneer so 'n lam omval kan hy nie weer opstaan nie en Iê plat op die sy met die bene stokstyf, weg van die liggaam, met die kootgewrigte gewoonlik na binne gebuig en die kop en nek agteroorgetrek. In 'n vroeëre stadium kners die dier op die tande, maar later is die kake styf op mekaar geklem. Die dood kan skielik intree of kan selfs enkele dae lank sloer.

Afgesien van die absoluut. stywe ledemate, kop en nek, selfs onmiddellik na dood en die tipiese houding, is daar geen kenmerkende nadoodse tekens nie.

 

DIAGNOSE, BEHANDELING EN VOORKOMING

Diagnose moet hoofsaaklik op die simptome en geskiedenis gegrond word, terwyl daar ook geen doeltreffende behandeling is nie.

Wat voorbehoeding betref is daar 'n doeltreffende entstof beskikbaar. Diere wat vir die eerste keer geënt word ontvang twee toedienings met 'n tussenpose van 4 tot 6 weke en word daarna slegs jaarliks weer ingespuit. By lammers, veral waar hulle op jong leeftyd gemerk, gekastreer of stert-afgesny word, is dit raadsaam om die dragtige ooie te ent. Die ooie word die eerste keer ongeveer 6 weke en dan weer 2 weke voordat die eerste ooie lam, geënt en daarna slegs eenkeer per jaar, 2 tot 4 weke voordat hulle lam. Die teenliggaampies in die bloedstroom van die ooi word dan deur die biesmelk uitgeskei en deur die lam ingeneem. Die lam sal dan vir ongeveer 8 tot 10 weke 'n passiewe weerstand he en operasies moet dus binne die tyd uitgevoer word.

 

Lamsiekte

Alhoewel lamsiekte nie 'n baie hoë voorkoms onder skape het nie, word dit tog sporadies veral onder stoetramme en selfs onder skape wat gemaalde of gekerfde hooi ontvang, aangetref.

 

OORSAKE EN VERSPREIDING

Lamsiekte word veroorsaak deur die gifstof van die kiem Clostridium botulinum wat by uitstek in verrottende en in droë karkasmateriaal gevind word. Die gifstof is uiters sterk en klein hoeveelhede daarvan kan die siekte veroorsaak. In geval van skape word die gifstof gewoonlik saam met besmette gemaalde voer ingeneem. Voer wat in miedens gepak word bevat dikwels groot getalle afgestorwe muiskarkasse wat die gifstof bevat en saam met die voer gemaal word. Gevalle is ook bekend waar dooie kuikenkarkasse saam met hoendermis as deel van 'n rantsoen aan ramme gevoer is en lamsiekte veroorsaak het.

 

VOOR- EN NADOODSE TEKENS

In die geval van skape is die eerste tekens gewoonlik 'n effens wankelende gang, terwyl die kop laag gehou word en tydens beweging heen en weer swaai. Skape is ook geneig om reëlmatige ruk- of swaaibewegings met die stertwortel (gewoonlik stomp afgesit) uit te voer. Progressiewe verlamming volg vinnig en ook die dood. In ernstige gevalle kan die dood intree sonder dat enige tekens of dikwels slegs verlamming waargeneem is.

Daar is geen kenmerkende nadoodse letsels nie.

 

DIAGNOSE, BEHANDELING EN VOORKOMING

Diagnose kan alleenlik op volledige agtergrondgegewens en simptome gegrond word, terwyl daar geen behandeling vir die siekte bestaan nie.

lndien dit 'n probleem is kan voorbehoedende inenting toegepas word. Twee toedienings met 'n tussenpose van ongeveer 6 tot 7 weke word aanbeveel vir diere wat nog nie voorheen geënt was nie. Hierna geskied inenting eenmaal per jaar, ook by reeds geënte diere.

Daar moet egter sorg gedra word dat besmette voer nie aan diere gevoer word nie.

 

Published

Bladskrifreeks : Wolproduksie E 8.1/1975