Last update: March 1, 2011 09:01:47 AM E-mail Print

Die inskakeling van beesboerdery op Karooveld

G Barnard


INLEIDING

Karooveld was in die verlede as skaapweiding beskou, waar daar nie plek vir beeste is nie. Die afgelope aantal jare het daar egter op baie plase ‘n verandering in veldsamestelling plaasgevind en die gras komponent het baie toegeneem.

Hierdie verandering kan hoofsaaklik aan twee redes toegeskryf word naamlik:

Hierdie verandering in veldsamestelling bring mee dat boere al meer belangstel om bees by hul boerdery in te skakel.

In die Karoo kan beesboerdery riskant wees en daarom is dit noodsaaklik dat elke boer eers sy eie situasie goed moet ontleed voordat hy 'n besluit neem. Hy moet vir homself die volgende vrae vra en antwoorde daarop kry:

Om te help met die besluitneming, word elkeen van die vrae bespreek.

 

1.   Doel

Die inskakeling van bees met die doel om oor die korttermyn geld te maak, is wensdenkery en is tot mislukking en moontlike finansiële verliese gedoem. As die doel egter is om oor die langtermyn, met behulp van die bees, beter veldbenutting en veldverbetering teweeg te bring wat lei tot 'n konstante hoër produksie van hoe gehalte weiding, is dit die regte pad.

 

2.   Geskiktheid van plaas

2.1 Fisiese fasiliteite 

'n Bees se waterbehoefte is groot en daarom kan swak water, klein krippies met stadige toevoer en klein damme met min opgaarkapasiteit probleme gee. Reservoirs en tenks wat nie toegekamp is, nie kan probleme gee, omdat dit beskadig word. Lae heinings, veral by suipings, het oorspring van bees as gevolg. Krale en drukgange wat vir skape gebou word, is nie geskik vir bees nie. Bepaal watter verbeterings aangebring moet word en wat die koste sal beloop.

 

2.2 Veld

 Die huidige toestand en potensiaal van die veld om beeskos te produseer, sal bepaal of die inskakeling van bees oorweeg moet word. Gronddiepte, helling saam met klimaat bepaal produksie-potensiaal van veld. Stel dus vir elke kamp op die plaas 'n inventaris op met betrekking tot grootte, veldsoort, plant-bedekking, gronddiepte, soort grond, helling, erosie ens. en maak 'n beraming van sy potensiaal om beeskos te produseer. By die potensiaal bepaling moet altyd in gedagte gehou word dat dieper grond in staat is om 'n permanente grasbedekking te behou, terwyl vlak grond slegs gedurende normaal tot bo-normale reënjare gras produseer.

 

Nadat die veld se potensiaal vir bees bepaal is, moet die koste om die fisiese fasiliteite te verbeter, in berekening gebring word. In die meeste gevalle sal dit op 'n plaas met lae potensiaal beesveld meer ekonomies oor die langtermyn wees, om liewer bestuursaanpassings in die skaapboerdery te maak. Oorweeg die inskakeling van merinohamels, hoër beweidingsdruk met groter trappe, korter weiperiodes met langer rus ens.

 

3.   Beesras

Wanneer daar op 'n beesras besluit word, is daar 'n paar faktore wat in gedagte gehou moet word.

3.1 Beeste met 'n ligter raam doen beter onder laer voedingstoestande, omdat voedingsbehoefte laer is. Vir Karoo toestande word dus 'n ligte- of mediumraam ras aanbeveel.

3.2 'n Ras met 'n goeie temperament d.w.s. een wat mak is, vergemaklik hantering veral waar fasiliteite nie geskik is nie.

3.3 Die beskikbaarheid van teelmateriaal, veral bulle, is belangrik. Wanneer op kleinskaal met bees geboer word, is bulkoste 'n groot faktor. Die uitruil van bulle tussen bure kan die koste baie verminder.

 

4.   Getal bees

Die hoofdoel met die inskakeling van bees is om langtermyn veldverbetering en veldbenutting te verkry. Die idee dat skaap en bees nie kompeteer nie en dat bees ekstra ingebring kan word, is nie reg nie. Om veldverbetering te verkry, is dit nodig om die skaapgetal te verminder, sodat die weidingskapasiteit van die plaas nie oorskry word nie. Daar bestaan geen vaste reëls oor die persentasie bees wat op Karooveld ingeskakel kan word nie.

 

Dit is dus noodsaaklik dat die veldinventaris deeglik opgestel en geïnterpreteer word. Deur die potensiaal van kampe in te deel in swak, gemiddeld, bo-gemiddeld en hoog, kan die volgende norms gebruik word in die bepaling van beesgetal.

 

Bees potensiaal van veld                              % bees

70 - 100 % bo-gemiddeld tot hoog              18 - 20%

50 - 70%          "                                       15 - 18%

30 - 50%          "                                       10 - 15%

Minder as 30 %         "                                Nie geregverdig

 

Bogaande norms moet slegs as 'n breë riglyn beskou word. Dit word aanbeveel dat met min bees begin word en getalle geleidelik vermeerder word. Dit sal die boer in staat stel om homself op hoogte te stel met beesboerdery-bestuur, sonder om duur foute te maak. Deur die veld gedurig te monitor, kan die regte skaap:bees verhouding beter bepaal word.

 

5.   Produksiestelsel

Verskillende produksiestelsels word deur beesboere gevolg waar kalwers op verskillende ouderdomme bemark word.

5.1 Speenkalfstelsel: - Kalwers word direk na speen (7 - 8 maande) verkoop. Slegs vervangingsverse word gehou.

5.2 Tolliestelsel: - Alle kalwers word vir een jaar oorgehou. Vervangingsverse word op 18 - 20 maande geselekteer en ander verkoop saam met tollies.

5.3 Os-stelsel: - Alle kalwers word een jaar oorgehou. Op 12 - 18 maande word vervangingsverse geselekteer en uitskotverse verkoop. Ossies word oorgehou en op 28 - 30 maande ouderdom verkoop.

5.4 Inkoop van speenkalwers - Die inkoop van speenkalwers is 'n praktyk wat deur boere gevolg word in gebiede waar speenkalwers maklik bekombaar is. Die praktyk het die groot voordeel dat geen aanteel diere aangehou word nie en die risiko faktor dus baie laag is. Die sukses van die praktyk word grootliks deur die volgende bepaal.

 

5.4.1 Koop goeie gehalte speenkalwers aan wat die potensiaal het om goed te ontwikkel en vleis te produseer.

5.4.2 Aanpassings probleme kan ondervind word as jou veld baie verskil van die veld waarop die kalwers geloop het. Probeer dus kalwers bekom van plase waar veld die meeste met joune ooreenstem.

5.4.3 Doen aankope so vroeg moontlik voor die winter (Maart) wanneer veld nog in groeiende fase is.

5.4.4 Die getal kalwers wat gekoop word, word bepaal deur die veldtoestand. Evalueer dus elke jaar die veldtoestand en reserwes beskikbaar en bepaal die getal voordat aankope gedoen word.

5.4.5 Deur 'n paar mak koeie in 'n kamp te plaas, kan help om kalwers rustiger te maak.

 

5.5 Opmerkings

5.5.1 Ekonomiese ontledings toon dat daar nie betekenisvolle verskil is met die inkomste wat verkry word met die verskillende stelsels nie. Ander faktore sal dus die keuse van stelsel bepaal.

5.5.2 Die sukses van al die stelsels berus daarop dat die kalwers so vroeg as moontlik na die winter gebore moet word. Die mikpunt moet wees dat alle koeie voor die einde van November moet kalf. Die dektyd wat aanbeveel word, is 15 Desember tot 15 Februarie.

5.5.3 Met al drie produksiestelsels het vroeë kalwers die voordeel dat hulle gespeen word, terwyl die veld nag in 'n goeie toestand is. Sulke kalwers verwerk makliker die speenskok en oorwinter beter. 'n Verdere voordeel van vroeë kalwers is, dat bemarking met al drie stelsels voor die winter gedoen kan word. Minder vee op die veld gedurende die winter laat meer reserwekos vir die normale moeilike na-winter periode.

5.5.4 In die Karoo met sy wisselvallige reënval en normaalweg swakker voedingstoestande, gedurende die lente en voor-somer, word die os-stelsel aanbeveel, omdat dit minder riskant is. Minder koeie word aangehou en alle aanteel (kalwers, tollies en osse) kan in 'n swak jaar voor die winter verkoop word en slegs aanteelkoeie oorgehou word.

 

6.   Getal koeie

Die getal koeie word bepaal deur die persentasie vee wat as bees aangehou word en die produksiestelsel wat gevolg word. In tabel 1 word 'n gemiddelde kudde samestelling met die verskillende produksiestelsels gegee. Vir die berekening is 100 GVE as basis gebruik. Kalfpersentasie - 80%, Vervanging - 12%, verse word op 20 - 24 maande gepaar en daar word met 'n mediumraam ras geboer. Bulle - 3%.

 

NB.

1. Vir berekening van GVE is Meisnertabel gebruik en GVE is afgerond tot heelgetalle.

2. Vir enige getal GVE wat aangehou word, kan die kudde-samestelling bereken word deur die GVE van bogaande tabelle om te reken na beplande getal GVE en dan veegetal volgens Meisnertabel te bepaal. Bv. As 70 GVE aangehou word en osstelsel word gebruik, sal die koeigetal wees :

 

50 X 70          =          35        =          29 koeie

 100                          1.21

 

7.   Beweiding

Die hoofdoel met die inskakeling van bees is langtermyn veldverbetering en konstante hoër produksie. Om hierdie doel te bereik, moet die bees reg by die weidingsprogram ingeskakel word.

 

Die beplanning van weiveldbestuur moet dus daarop gebaseer word dat skaap en bees mekaar aanvul en nie kompeteer nie. Die volgende praktiese wenke kan van waarde wees.

 

7.1 Bees kan goed gebruik word om erosiedele te herwin. Kamp erosie deel af en bewei vir 'n kort periode (2 - 3 weke) teen 'n hoë weidingsdruk gedurende die winter met bees. Volg die beweiding op met rus tot die volgende winter en herhaal behandeling totdat die veld so herstel het dat dit by die normale beweidingsprogram ingeskakel kan word. Behou die heining anders kan die agteruitgaan proses weer plaasvind.

 

Beweiding met bees vir die behandeling gee beter resultate as skaapbeweiding, omdat bees plante nie so kort afvreet nie. Plante word gestimuleer en nie doodgevreet nie. Bees het ook 'n baie beter lostrap effek waardeur 'n saadbed geskep word vir saad om te ontkiem en saailinge kan vestig.

 

Die veldherstel met die behandeling kan versnel word, deur die pak van klipwalletjies, die maak van takwalle of ander meganiese metodes.

 

7.2 Waar kaalkolle voorkom, word goeie herstel verkry deur bees se lekblokke op die kaalkolle te plaas. Miskruiers speel hier 'n groot rol, omdat die meeste soorte miskruiers direk onder die miskoek in die grond inwerk. Die grond word sodoende deurlug, organiese materiaal word in die grond ingewerk en die grond neem water op deur die miskruier tonnels.

 

Hierdie herstelproses kan ook versnel word as organiese materiaal soos koringstrooi, gras, riete ens. terselfdertyd oor die kaalkol gestrooi word. Genoeg organiese materiaal moet gestrooi word, sodat diere 'n deel in die grond kan intrap. Permanente herstel van kaalkolle kan slegs verkry word as die regte behandeling oor 'n lang periode geskied. Kaalkolle ontstaan deur kolseleksie, wanneer 'n kamp vir lang periodes bewei word deur skaap. Deur 'n kamp met kaalkolle vir 'n paar jaar slegs met bees te bewei en weiperiodes kort te hou (3 tot 6 weke) sal die veld weer tot sy volle potensiaal ontwikkel.

 

7.3 Met die inskakeling van bees word die vraag altyd gevra: "Watter vee moet eerste 'n kamp bewei?" Die antwoord hierop is dat die beste resultate behaal word as bees en skaap gelyktydig 'n kamp bewei. Die rede hiervoor is dat beide veesoorte eers die smaaklike plante met die hoogste voedingswaarde selekteer. Die soort wat dus eerste ingaan, sal beter presteer.

 

Indien daar onoplosbare praktiese probleme is waarom saambeweiding nie kan plaasvind nie, moet 'n program gevolg word waar 'n kamp een weiperiode met bees en die volgende weiperiode met skaap bewei word. Die "skoonmaak" van kampe met bees na skaapbeweiding is 'n praktyk wat baie omsigtig hanteer moet word, omdat skaap reeds die smaaklike kos met hoe voedingswaarde verwyder kan die bees maklik 'n voedingstekort ondervind. As die praktyk gevolg word, moet die weiperiode van die skaap kort wees, sodat daar genoeg goeie gehalte kos beskikbaar is vir die bees. Gebruik dan osse vir die skoonmaakproses en nie produserende koeie nie.

 

Opsomming

Die besluit om bees by 'n boerdery in te skakel, moet nie ligtelik geneem word nie, want dan kan die nadele dalk meer wees as die voordele. Beplan vooraf en verkry die nodige kennis van beesboerdery.

 

Die volgende is van belang :

  1. Besluit wat die doel met die inskakeling van bees is.
  2. Evalueer veld en fisiese fasiliteite om geskiktheid vir beesboerdery te bepaal.
  3. Bereken beesgetal en besluit op produksiestelsel. Vir die Karoo word die os-stelsel aanbeveel, omdat dit minder riskant is of die inkoop van kalwers waar prakties moontlik.
  4. Moet nie die weidingskapasiteit van die plaas oorskry deur bees in te bring nie.
  5. Kies 'n aangepaste ras waarvan teelmateriaal maklik bekombaar is. Boer met 'n ras en vergeet van kruisteling sonder 'n plan.
  6. Bestuur die beeskudde, sodat koeie vroeg kalf en bemarking voor die winter kan plaasvind.
  7. Die inskakeling van bees moet gesien word as 'n langtermyn beleid, waar daar deur beter veldbestuur, met behulp van die bees, veldverbetering kan plaasvind wat sal lei tot hoër en konstante produksie deur die bees en skaap.
  8. Om sukses van beesboerdery te maak, moet daar met bees geboer word en moet bees nie net aangehou word nie.

 

Published

Grootfontein Nuusbrief no 3, 1997