Last update: April 11, 2012 12:36:05 PM E-mail Print

 

Behandeling en Versorging van Ramme

Hoe Ramme Vrugbaarheid onder Stoet- en Kuddeskape kan beïnvloed

L. L. Roux

 

DIE Merinostoetteler en die kudde-eienaar het twee hoof oogmerke in gemeen, naamlik: Die verbetering van hul skape deur seleksie en teling, en die verkryging van hoë vrugbaarheid, wat in hoë lampersentasies weerspieël word.

Die vraagstuk van verbetering deur seleksie en teling, is in vorige uitgawes van hierdie blad bespreek (Roux, 1933; Schuurman en Maré, 1935).

Ouinlan (1935) het 'n oorsig gegee van die navorsingswerk wat onlangs in verband met die geslagsfisiologie by skape uitgevoer is. Die meeste navorsingswerk in verband met die vrugbaarheid van skape is ten opsigte van ooie uitgevoer, maar nou is dit moontlik om baie van die voorheen onverklaarbare verskynsels van ongereelde reproduksie te verklaar. Die resultate van die navorsing toon ook aan dat die bevrugtingsvermoë van ramme kan varieer.

Ouinlan (1930) verklaar dat daar soms gevalle van patologiese letsels van die genitalia van die ram voorkom, maar dat onvrugbaarheid ook veroorsaak kan word deur bakterieë in die saad of deur morfologiese veranderings van die spermatosome. Deur die saad van ramme mikroskopies te ondersoek, kon McKenzie en Phillips (1933) ramme, ten opsigte van hul vrugbaarheid as "bevredigend " of " onbevredigend " klassifiseer; die resultate van hierdie mikroskopiese ondersoek is deur teeltproewe gestaaf. Ouinlan, Mare en Roux (1932) het gevind dat die vrugbaarheid van dertien klinies-normale Merinoramme aanmerklik afgewissel het toe hulle gebruik is om altesame 525 Merino-ooie onder kontrole of individueel te dek. Nadat die ooie gedek is, is hulle weer vir bronstigheid getoets. Met die eerste dekking is slegs 49.5 persent van die ooie bevrug, en eindelik nadat die ooie wat weer bronstig geword het, soveel as drie- en vier keer gedek is, is slegs 66.3 persent van die totale getal ooie bevrug. Volgens die gegewens verskaf deur die skrywers het vier ramme meer as 80 persent van die ooie bevrug, vyf meer as 70 persent, een meer as 60 persent en drie minder as 30 persent.

Dit blyk dat dit wel kan gebeur dat ramme permanent onvrugbaar word of selfs so onvrugbaar dat hulle as steriel beskou kan word, maar in baie gevalle is hulle slegs tydelik onvrugbaar. Noukeurige waarneming is nodig om gevalle van afwisselende vrugbaarheid op te merk; in die praktyk kan sulke gevalle maklik deur gekontroleerde of individuele dekking aangewys word, en as onvrugbaarheid vermoed word, kan met sekerheid vasgestel word of dit wel die geval is deur die saadkieme te toets.

Volgens waarnemings word die lewenskrag, stamina en vermoë van ramme aangetas, as hulle nie behoorlik versorg en behandel word nie. Deur verkeerde metodes toe te pas wanneer uiters vrugbare ramme tydens paring gebruik word, kan 'n verkeerde indruk van die ram se bevrugtigingsvermoë verkry word. Dit is belangrik, veral in die geval van goedgeteelde ramme, dat die maksimum diens oor so 'n groot aantal jare as moontlik van die diere verkry word. By afwesigheid van siekte of oorerflike onvrugbaarheid, bestaan daar min moontlikheid dat ramme, wat behoorlik versorg en behandel word, onvrugbaar sal wees.

Dit word gevoel dat waar stoet- en kuddeskaapboere groot bedrae vir ramme betaal, hulle in baie gevalle nie voldoende wins op hul beleggings ontvang nie. Daar moet gewaak word teen die skadelike uitwerking wat slegte behandeling onder ons Suid-Afrikaanse toestande op skape kan hê, aangesien daar te dikwels te veel op natuurlike weiding vertrou word vir die instandhouding van die lewenskrag, stamina en vermoë van stewig-geboude ramme met swaar vagte.

 

Geslagsdrang

Ramme het voortdurend geslagsdrang, en is in geen besondere tyd van die jaar onvermoënd nie. Die skrywers van hierdie artikel het dit deur proefneming onder Suid-Afrikaanse toestande ondersoek.

Wanneer ramme onder ooie in die trop gesit word, word dikwels opgemerk dat hulle hulle nie steur aan en hulle ook afskei van die ooie  dit is ‘n bepaalde aanduiding dat die ooie nie bronstig is nie. In streke waar die ooie gedurende die grootste gedeelte van die jaar bronstig is, bestaan die mening, dat tye van warm weer of droogte bronstigheid by ooie onderbreek in ander streke is gevind dat daar 'n bepaalde tyd is wanneer die ooie nie bronstig is nie. Wanneer die ramme hulle nie aan die ooie steur nie, is dit die beste om hulle te verwyder, en om vas te stel wanneer die ooie bronstig word deur " gevasektomiseerde " speelramme onder hulle te sit, of deur 'n paar ramme met tussenposes van vier of vyf dae onder hulle te sit, en hulle dan dop te hou. Die aanwesigheid van ramme of speelramme laat nie die ooie bronstig word nie. Die gebruik om ramme te doseer ten einde hul geslagsdrang te prikkel, word sterk afgekeur; normale, gesonde ramme onder bronstige ooie sal normale geslagsdrang toon.

Wanneer gekontroleerde of individuele dekking toegepas word, is opgemerk dat sekere ramme, in die begin van die paarseisoen, geen poging maak om te werk, selfs nie eers by 'n bronstige ooi nie. Dit word eerder as 'n psigologiese dan 'n fisiologiese toestand beskou, en dit kan oorkom word deur die ram vir 'n paar uur of selfs vir 'n nag alleen te laat by 'n bronstige ooi. In gevalle waar ramme onder 'n trop ooie gesit of by ooie in kampies afgesonder word, word sulke ramme baie gou normaal bedrywig.

Dit skyn heeltemal logies dat ramme wat in swak kondisie is en aan bloedarmoede ly nie straf werk nie, en dat uitermatige vet ramme lui is. Die uitwerking van hierdie toestande op vrugbaarheid word in die volgende afdeling bespreek.

 

Vrugbaarheid

McKenzie en Phillips (1933) het ramme as , “bevredigend" of "onbevredigend " ten opsigte van vrugbaarheid beskryf. In laasgenoemde geval, het mikroskopiese ondersoek aan die lig gebring dat onvrugbaarheid toe te skryf is aan (1) of die afwesigheid van, of 'n groot skaarste aan spermatosome in die saad; (2) die afwesigheid van 'n hoë persentasie abnormaal-gevormde spermatosome in die saad of (3) geen hoë beweeglikheid van die aanwesige spermatosome. Besondere lewenskragtighejd tydens dekking is nie noodwendig ‘n aanduiding van hoë vrugbaarheid nie. Skrywers hiervan het opgemerk dat daar in die saad van 'n ram wat besonder bedrywig was, hoegenaamd geen normale spermatosome aanwesig was nie.

Boere kan die vrugbaarheid van hul ramme die beste bestudeer as hulle gekontroleerde of individuele dekking toepas; ooie wat deur onvrugbare ramme gedek is, sal weer bronstig word, d. w .s. hulle sal na omtrent 15-20 dae (gewoonlik 17 dae) weer na die ramme kom.

Ramme kan in die begin van die paarseisoen bedrywig en tog onvrugbaar wees, maar hulle herstel nadat hulle 'n rukkie gewerk het; dis moontlik dat ramme vir 'n tydperk van twee tot drie weke onvermoënd kan bly. Sulke gevalle is deur Roux en Van Rensburg (1935) gerapporteer.

Ramme moet in 'n uitstekende kondisie wees, wanneer hulle gebruik word. Dis opgemerk dat ramme wat in 'n swak kondisie is, of aan bloedarmoede ly, min spermatosome het, en dat die spermatosome nie baie beweeglik is nie, met die gevolg dat minder bevrugting plaasvind. McKenzie en Phillips (1933) het aangetoon dat die spermatosome van ramme wat in 'n baie goeie kondisie is, verswak en gevolglik onvrugbaarheid veroorsaak. As die kondisie van die ram afgebring word, behoort hy weer sy normale vrugbaarheid terug te kry; dit kan miskien 'n paar maande duur voor hy weer herstel, en die tyd wat die ram nodig sal hê om te herstel, sal afhang van die duur van sy abnormale toestand.

Mnr. P. D. Rose, Lektor in Skape en Wol, Landbouskool, Grootfontein, Middelburg, Kaap, in medewerking met skrywers hiervan, het gewys op die noodsaaklikheid om by die seleksie van ramme spesiale aandag aan vrugbaarheid te gee; hy is die mening toegedaan dat verontagsaming van hierdie aspek ernstige gevolge kan hê. Aangesien vrugbaarheid op 'n genetiese grondslag berus, kan seker verwag word dat onvrugbaarheid sal toeneem, as daar nie op die aanwesigheid daarvan gelet word nie, en die moontlikheid is groter dat dit wel sal gebeur as 'n stelsel van inteling toegepas word met die oog op die verkryging van 'n sekere gewenste bouvorm en wol-eienskappe. Mens moet baie versigtig te werk gaan as jy vind dat daar 'n mate van onvrugbaarheid in 'n gevestigde ondersoort of familie voorkom; strenge uitskakeling is die juiste gedragslyn wat in sulke gevalle gevolg moet word.

 

Paringstelsels

Die meeste kudde-eienaars pas die stelsel toe van somar hul ramme onder hul troppe ooie te sit. Twee tot drie ramme word per honderd ooie uitgekeer, en waar baie groot kuddes aangehou word, is daar dikwels geen ander uitweg as om die ramme onder troppe ooie van soveel as duisend en meer te sit nie.

Wanneer hierdie stelsel van dekking toegepas word, is die lampersentasie gewoonlik onbevredigend, en omdat dit besef word dat ooie gedurende party jare ongereeld kan lam deels omdat hulle nie gereeld bronstig geword het nie, het die gedagte ontstaan dat die vrugbaarheidspersentasie vermeerder kan word deur paring behoorlik te beheer.

Wanneer ooie in 'n trop van duisend gepaar word, sal die boer maar selde die beste resultate verkry as al die 20 ramme tegelyk onder die ooie gesit word. Dit kan gebeur dat die ooie nog maar baie stadig bronstig word op die tyd wanneer die ramme onder hulle gesit word, en dat teen die tyd wanneer hulle groot bedrywigheid vertoon, miskien na verloop van 14 of 21 dae, die meeste ramme nie meer so lewenskragtig en flink is nie, veral as die ramme aan minder oefening en beter voeding gewoond was. Dit sou verkiesliker wees om, sê ses ramme in die begin van die paarseisoen onder die ooie te sit en hul bedrywigheid dan noukeurig dop te hou; dit sal gevind word dat hulle die bedrywigste is vroeg in die oggend en in die aand wanneer dit koel is. As opgemerk word dat meer ooie bronstig .word, kan 'n tweede groep ramme onder hulle gesit word, en, as dit blyk dat 'n paar van die eerste groep oorwerk is, kan hulle weggeneem en die tweede groep weer met 'n gelyke aantal aangevul word. Die derde groep kan later gebruik word. Die ramme wat weggeneem word, moet besonder goed versorg word, sodat hulle indien nodig weer onder die ooie in die trop teruggesit kan word. Wanneer om die grootste aantal ramme onder die ooie te sit, sal afhang van die geslagsdrang van die ooie. As meer tyd aan die saak bestee en meer moeite gedoen word, sal ongetwyfeld 'n groter lampersentasie verkry word.

Waar klein klompies skaap aangehou word, skyn paring in klein kampies die beste stelsel te wees. Volgens hierdie stelsel kan beter toesig gehou word en kan vir elke ram 80 tot 100 ooie toegelaat word.

Volgens hierdie stelsel kan maksimum resultate verwag:word, as die ramme van omtrent 4 of 5 uur nm. tot 8 of 9 uur vm., die volgende oggend onder die ooie gesit word. Die ramme word dan gedurende die dag gespaar, wanneer hulle weens die hitte nie so lewenskragtig en bedrywig is nie. Dit sal die beste wees om hulle die grootste gedeelte van hul kragvoerrantsoen te voer kort nadat hulle in die oggend van die ooie weggeneem is, en dan kan hulle weer 'n paar uur voordat hulle in die aand onder die ooie gesit word 'n kleiner hoeveelheid kry. Hulle behoort ook bedags goeie ru-voer te kry en in koelte gehou te word.

Dieselfde stelsel wat in die geval van troppe ooie aanbeveel word, naamlik, om die ramme uit te haal en weer onder te sit, kan ook toegepas word as ramme met ooie in klein kampies gepaar word. Dit moet egter onthou word dat wanneer slegs twee ramme onder 'n klein klompie ooie gesit word, hulle baie sal baklei, en dat dit meer bevredigend is om 'n derde ram by te sit. Vir hierdie paarstelsel kan die ooie dus in troppe van300 verdeel word. Waar net twee ramme in die geval van kleiner kuddes beskikbaar is, kan hulle om die beurt vir 'n week onder die ooie gesit word.

Die meeste stoettelers pas die stelsel toe van gekontroleerde of individuele dekking, in watter geval ramme met voorskote, of gevasektomiseerde speelramme, gebruik word om bronstige ooie aan te dui wat dan deur bepaalde ramme gedek word. Op hierdie wyse word die krag bewaar van die ramme wat die ooie moet dek. Gewoonlik word die ooie tweemaal per dag probeer, naamlik in die oggend en in die aand, en namate die ooie bronstig word, word hulle gedek, of onmiddellik nadat die hele kudde probeer is.

Volgens die gegewens wat tans beskikbaar is met betrekking tot die duur van die lewenskragtigheid en beweeglikheid van die spermatosome in die verskillende dele van die reproduktiewe buis van die ooi (Ouinlan, Maré en Roux, 1932 en 1933), die duur van die bronstyd, en die juiste tyd waarop die Graafse kliersak breek (Ouinlan en Mare, 1931), skyn dit dat groter vrugbaarheid verkry word as die ooie binne 'n bepaalde tydperk nadat hulle bronstig begin word het, gedek word. Hoewel 'n vrugbaarheid van 80 persent verkry kan word as die ooie gedek word sodra hulle bronstig geword het, bestaan daar 'n groter moontlikheid om 'n hoër vrugbaarheid te verkry, as paring plaasvind 6 tot 30 uur nadat die ooie bronstig begin word het. Hoewel Merino-ooie gewoonlik 24 uur en langer bronstig bly (Ouinlan en Maré, 1931), is korter tydperke in die geval van baie individuele ooie opgemerk (Roux, in voorbereiding).

In die praktyk skyn dit asof gekontroleerde dekking die beste resultate behoort te lewer, waar die ooie twee keer per dag vir bronstigheid getoets word. Ooie wat in die oggend bronstig word, moet in die oggend gedek word, en moet in die kudde bly vir die middagtoets en as hulle nog bronstig is, moet hulle weer gedek word. As hierdie stelsel toegepas word, is dit nie nodig om die ooie meer as eenkeer by elke geleentheid te laat dek nie. Dit geld ook vir ooie wat by die middagtoets vir die eerste keer bronstigheid wys; hulle moet in die middag eenmaal gedek word, en as hulle die volgende oggend nog bronstig is, moet hulle weer gedek word.

Waar ooie vir individuele dekking net een keer per dag, in die oggend, getoets word, kan hulle in die oggend gedek en van die kudde afgesonder word. In geval hulle nog bronstig is, kan hulle in die middag weer gedek word.

Individuele dekking is nie so 'n maklike taak as dit miskien volgens bostaande wenke lyk nie, en telers wat die stelsel toepas, moet bereid wees om tyd, arbeid en noukeurige aandag daaraan te bestee as hulle die gewenste resultate wil behaal. Waar bostaande stelsels van gekontroleerde dekking toegepas word, kan daar miskien moeilikheid ondervind word waar 'n groot aantal ooie met een ram gepaar moet word, en veral in gevalle waar baie van die ooie vir 'n bepaalde ram op een dag bronstig word. Die volgende is baie belangrik: Hoe lank behoort 'n ram te rus tussen een dekking en die volgende, hoeveel keer moet hy op een dag toegelaat word om te dek, en kan hy intensief aanhou dek sonder dat sy geslagtelike werksaamhede sy lewenskragtigheid sal aantas, sy vrugbaarheid sal verminder, en sonder dat sy waarde as ram vir latere gebruik daardeur benadeel sal word? In hierdie opsig moet ons deur vorige waarnemings gelei word, maar dit moet nadruklik verklaar word, dat die geslagsbedrywigheid en die vermoë van ramme grotendeels afhang van hoe hulle behandel word, nie net vir die kort tydjie net voor die paarseisoen begin nie, maar gedurende elke dag van hul hele lewe. Vraagstukke in verband met die voer en handeling van ramme sal verder aan in hierdie artikel behandel word.

Ramme wat nie in 'n goeie of sterk kondisie is nie, kan miskien baie gewillig wees om te werk, maar hul fisiese kragte gee gou in, met die gevolg dat hulle nie, in staat is om die ooie te ry en te dek nie. Sommige lewenskragtige ramme is swak dekkers omdat hulle dit moeilik vind om die ooie te ry; sulke ramme kan miskien gehelp word, deur die ooi met die linkerhand aan die nekvoue vas te hou en die penis van die ram tussen die oop vingers van die regterhand reg te stuur. In gevalle waar die sak van 'n ou ram te veel hang, kan dit deur middel van 'n verband styf teen die lyf vasgebind word.

Ongelukkig is daar geen bepaalde gegewens beskikbaar om aan te toon presies op watter tyd, in ure, ramme in staat is om ooie gedurende 'n intensiewe paringsperiode, met sukses te dek nie. Ljutikava (1933) toon egter aan dat die hoeveelheid saad en aantal spermatosome selfs na die tweede en derde dekking verminder. Skrywers hiervan het gevind dat 'n lewenskragtige ram getoets op 'n kunsmatige vagina van ‘n kunsmatige ooi vier keer per uur gedek het, en die volgende hoeveelhede saad afgeskei het, naamlik 1.6 k.s., 1.1 k.s., 0.5 k.s. en 0-6 k.s. Skrywers het ook opgemerk dat 'n lewenskragtige ram, in 'n klein kampie onder 'n klompie ooie waarvan party bronstig was, 12 keer in 2½ uur gedek het. Aangesien 1 k.s. saad van 'n ram tussen 300- en 400-miljoen spermatosome bevat, is slegs 'n baie klein bietjie van die saad wat afgeskei word, nodig vir bevrugting (Walton, 1933). Derhalwe, al sou die hoeveelheid saad wat afgeskei word, met herhaalde dekkings verminder, sou bevrugting waarskynlik nog plaasvind. Daar moet nadruk op gele word dat ramme van mekaar verskil, en dat die gretigheid van 'n ram om ooie te dek as algemene leidraad gebruik kan word. Verder is dit baie belangrik, dat die lewenskragtigheid van ramme wat intensief gebruik word, onder alle omstandighede opgebou en herstel moet word deur hulle volop versterkende voer te gee.

Die tabel (volgende bladsy) toon aan in watter mate Merino-ramme met bevredigende resultate gebruik kan word; dit gee ook die getal ooie aan, wat gedurende elkeen van 21 agtereenvolgende dae gedek is. Verdere gegewens word versamel in verband met hierdie interessante fase van die geslagsbekwaamheid van ramme.

 

Gebruik van jong en Ou Ramme

Die wenslikheid om jong ramme te gebruik, word dikwels in twyfel getrek. As jong ramme baie goed uitgegroei is, kan hulle met voordeel gebruik word, veral as mens hulle wil uittoets vir hul vermoë om uiters gewenste eienskappe oor te plant. Jong ramme van 8 tot 12 maande oud, kan 25 tot 30 ooie kry om te dek (as gekontroleerde dekking toegepas word). Dit word beweer dat as jong ramme te veel dek dit hul groei vertraag en oorsaak is dat hulle in hul later lewe minder vrugbaar is. Dit is moontlik dat jong ramme individueel baie kan verskil en dit is seker dat dit baie afhang van die versorging, veral die voeding, wat sulke ramme kry of hulle in so 'n mate gebruik kan word as hierbo aangetoon.

Hoe lank 'n ram gebruik kan word, hang grotendeels af van die sorg wat aan hom bestee word. Dit gebeur dikwels dat kudde-ramme vir die boer nie solank diens kan doen as hulle behoort nie. As sulke ramme goed versorg word, kan hulle verkoop word, sodra dit nodig word om hulle, te vervang, en die geld wat hulle inbring, kan dan weer gebruik word om 'n groot deel van die koste in verband met die aankoop van nuwe ramme te dek. In die geval van stoetvee word goeie ramme so lank moontlik aan die lewe gehou, en hoewel daar wel individuele verskille bestaan, bereik baie ramme ongetwyfeld 'n ouderdom van 10 tot 12 jaar. Op hierdie ouderdom verswak baie ramme; hulle steur hulle nie aan bronstige ooie nie, hulle gaan agteruit in kondisie, begin aan bloedarmoede ly en styf word. Ouinlan en Pfaff (1930) wat nagegaan het of dit moontlik is om 'n verswakte ram weens ouderdom te verjong, het tot die gevolgtrekking gekom dat, hoewel klierinenting wel die algemene gesondheidstoestand verbeter en die geslagsdrang in sekere mate geprikkel het, die prikkeling onvoldoende was om die ram weer ten volle geslagsbedrywig te maak, en dat inenting alleen van praktiese waarde kan wees, as dit toegepas word voordat daar duidelike tekens van ouderdomsverswakking opgemerk word.

Die vraagstuk betreffende die beste ouderdom waarop ramme uitgesoek of gekoop moet word, word dikwels bespreek. Van Heerden (1923) het aangetoon dat die koop of verkoop van jong ramme uit die oogpunt van beide die koper en verkoper beskou maar 'n waagstuk en 'n slegte beleid is. Ramme kan die beste uitgesoek word as hulle omtrent 24 maande oud is; op hierdie ouderdom behoort hulle heeltemal uitgegroei te wees en hul goeie eienskappe sowel as hul gebreke duidelik te toon.

 

 

Voer en Algemene Behandeling

Die beste metode om die normale geslagsvermoë van ramme te verseker, is om hul normaal gesond te hou, en dit kan alleen verkry word as hulle genoeg voedsame voer kry en ook vry van siektes en parasiete gehou word.

Jong ramme behoort normaal gesond te bly en te groei solank hulle nog aan hut moers drink. Dis bewys dat vir die verkryging van normale gesondheid en groei by lammers, die hoeveelheid moersmelk van meer belang is as die gehalte daarvan (Ritzman, 1917, Neidig en Eddings, 1919). Mnr. P. D. Rose, en skrywers hiervan, meen dat groot getalle Merino-lammers jaarliks verloor word, weens die swak melkeienskappe van hul moers; hierdie feit skyn te meer rede te wees waarom daar by die uitsoek van ramme meer noukeurig op hierdie punt gelet moet word ten einde hierdie eienskap in ooie te verbeter.

Dit is verkeerd om te beweer dat stoet- en kudderamme wat opgepas is, vertroetel is. Enige ram wat volgens moderne lyne geteel is vir die produksie van 'n groot hoeveelheid wol van goeie kwaliteit, moet 'n goed-uitgegroeide, goed-geboude dier wees, en om sy liggaam te kan opbou, sy bouvorm te kan behou vir wolproduksie en te kan teel, moet hy genoeg voer kry. Dikwels word gesê dat gekoopte ramme nie onder plaastoestande beantwoord nie, maar sulke toestande wissel baie af. Dit skyn die beste te wees om die ramme 'n ietwat beter behandeling in hul nuwe omgewing te gee as waaraan hulle gewoond was.

Skape wat met parasiete besmet is, kan nie so gesond wees as skape wat vry van parasiete is nie. Die skadelike uitwerking van wurms en die geneesmiddels wat daarvoor gebruik word, is volledig in hierdie blad bespreek (Monnig, 1932). Wurmbesmetting veroorsaak gou bloedarmoede; en die skadelike uitwerking daarvan oplewenskragtigheid en vrugbaarheid is reeds in vorige stukke vermeld.

In alle dele van Suid-Afrika is dit noodsaaklik om lekke van mineraalstowwe as aanvullende voer te gee. Die behoefte aan hierdie lekke en die geskiktheid van die baie produkte wat verkrygbaar is, is in hierdie blad bespreek (Groenewald, 1934). Ramme behoort gemiddeld 'n lek van 5 tot 7 ons per dag te verbruik. Beenmeel word aanbeveel in 'n mengsel bestaande uit 3 of 2 dele (volgens gewig) beenmeel en 1 deel sout, en kalsiumfosfaat, 1 deel (volgens gewig) en 1 deel sout. Ysterfosfaat of groen vitrioel is 'n uitstekende versterkmiddel en kan by die bogenoemde lekke gevoeg word teen 1 deel (volgens gewig) per 100 dele van die lek-mengsel. 'n Lek wat volgens die mening van 'n baie suksesvolle stoet-eienaar uitstekende resultate gee, bestaan uit die volgende produkte, in dele volgens gewig : - Kalsiumfosfaat, 100; sout, 100 ystersulfaat, 2; landboukalk, 25; swawel, 20.

Alle ervare boere besef dat afwisseling van weiveld 'n versterkende uitwerking op skape het; dit geld veral gedurende lang droogtetye, wanneer die weiveld nie groei nie. In streke waar die winter droog is, word die ramme voordelig in goeie kondisie gehou deur hulle groen graanweiding te gee;dit is die beste en ook meer ekonomies om hulle daagliks vir slegs 2 tot 3 uur in sulke weiding te laat loop, aangesien hulle beter aan die groei gehou word met aanvullende voer soos goeie ru- en kragvoer.

As dit nodig word, moet die ramme sonder versuim ru- en kragvoer kry. Dit is nodeloos om teen die gebruik om ram me te voer, te argumenteer wanneer dit duidelik blyk dat die diere sonder sulke voer nie normaal gesond en in kondisie kan bly nie. Watter soort en hoeveel voer gegee moet word, sal afhang van die aard van die weiding, die voersoorte beskikbaar, en die koste daarvan, indien dit gekoop moet word.

Ru-voer bestaan hoofsaaklik uit twee soorte: Peuldraend, soos lusern en die hooi van ertjies en boontjies en koolbevattend, soos tef- en al die gras-hooisoorte. Baie ervare skaapboere verkies om liewer beide hooisoorte te voer as net die ryk peuldraende soorte en dit skyn asof dit 'n verstandige gedragslyn is. As goeie weiveld nie beskikbaar is nie, moet daar volop ru-voer vir die ramme in die hooirakke en die klein kampies verskaf word. Die grashooisoorte kan gedurende die dag en die peulgewashooi in die aand gegee word.

Selfs wanneer goeie ru-voer gegee word, sal 'n mens vind dat kragvoer meer groeikrag gee en meer versterkend is. Besonderhede aangaande die voer van kragvoer kan nie hier volledig genoeg vir alle gevalle gegee word nie. Hoewel daar kort tussenposes mag wees wanneer kragvoer nie nodig is nie, hou ramme nogtans daarvan en vreet hulle sulke voer goed, selfs al word dit in sulke klein hoeveelhede as 4 tot 5 ons per dag gegee, en die koste behoort dus nie bo die vermoë van die eienaar van ramme te wees nie. As groter rantsoene gegee word, moet jong ramme wat ongeveer 100 lb. weeg, en uitgegroeide ramme met 'n gewig van 150 tot 200 lb. daagliks van 1 tot 1.5 lb. kragvoer kry behalwe die ru-voer, waarvan hulle tussen 4 tot 5 lb. sal verbruik, as weiding skaars is of nie verskaf word nie. Kragvoer wissel af wat kwaliteit betref. Mielies maak baie vet en moet derhalwe saam met ander kragvoer aan aanteelskape gevoer word, en dit is veral belangrik wanneer slegs koolbevattende hooisoorte soos tefhooi gevoer word. Hawer- en koringsemels is albei uitstekende voersoorte vir skape; waar hawer verbou word, kan hawerhooi met baie goeie resultate gevoer word. Die proteïenryke kragvoer grondboontjiemeel is maklik verkrygbaar; dit kan met voordeel gebruik word om die groter hoeveelheid proteïen wat nodig is in die rantsoen te verskaf en die smaaklikheid daarvan te verbeter.

'n Goeie rantsoen vir jong, groeiende ramme en vir ramme wat vir dekdoeleindes voorberei word, is: -Mielies, 1; hawer, 1; koringsemels, 1. Onderstaande is 'n goeie rantsoen, in dele volgens gewig, vir ramme met 'n swak vleiskondisie: -Mielies, 6; hawer, 10; koringsemels, 3; grondboontjie-oliemeel.

Kragvoer in klein hoeveelhede kan soggens gevoer word, maar wanneer hoeveelhede van omtrent 11 .lb. gegee word, is dit beter om dit in twee rantsoene te voer, veral gedurende die koue wintermaande. Baie kan ten gunste van 'n afwisseling van voer gesê word, beide ten opsigte van krag- en ruvoer.

Ramme moet in 'n sekere mate oefening kry. As goedkoop kampies en hokke verskaf word, kan ramme betreklik maklik en met min moeite en tog doeltreffend gehanteer en behandel word. Sulke kampe en skure behoort van die nodige hooirakke, voer-, lek- en skoon waterbakke voorsien te word Dit is duidelik dat waar sulke fasiliteite vir die hantering en huisvesting van ramme beskikbaar is, dit baie makliker is om die ernstige gevaar van ramme wat baklei, af te weer, en sulke voorsorgsmaatreëls is noodsaaklik, veral wanneer waardevolle ramme aangehou word. Afskortings kan in skure aangebring word, sodat waardevolle ramme gerieflik apart van ander prikkelbare ramme gehou kan word.

Die algemene behandeling van ramme sluit in mikskeer, gesig oopskeer, skoonskeer om peester, regsny van kloue, en afwering van brommersaanvalle. Die volgorde en die tyd wanneer ramme ingeënt, geskeer en gedip moet word, kan die beste deur die boer self bepaal word, aangesien dit afhang van die tyd en die paarseisoen.

 

LEKTUUR

Groenewald J. W. (1934). Fosfaatlekke vir Vee: Bestanddele en Bereiding daarvan. Herdruk No. 36, uit Boerdery in Suid-Afrika, April 1934.

Ljutikowa, P.O., en Polovcova, Y. Y. (1933). The Influence of Sexual Activity of Rams on the Production of Spermatozoa. Extract Anim. Breed, December, 1934.

Monnig, H. O. (1932). Wurms in Skape. Verskillende Soorte en hul Bestryding. Herdruk No. 89, uit Boerdery in Suid-Afrika, Desember 1932.

McKenzie, Fred F.J en Phillips, Ralph W. (1933). Measurrng Fertility in the Ram. A preliminary report. Paper read before the Amer. Vet. Med. Assoc., Chicago, August, 1933.

Neidig, R. E., en Eddings, E. J. (1919). Ouantity and Composition of Ewe's Milk. Its Relation to the Growth of Lambs. Jour. Agric. Resc. vol. 17, No.1. April 15, 1919.

Ouinlan, J; (1930). Sterility or Reduced Fertility of Cattle in South Africa. Jour. of South African Med. Vet. Assoc. 1-4.

Ouinlan, J. (1935). Recent Observations on Sex-physiology in Sheep. South African Med. Jour., Vol. ix, No.1, January 12, 1935.

Ouinlan, J., en Mare, G. S. (1931). The Physiological Changes in the Ovary of the Merino Sheep in South Africa, and Their Practical Application in Breeding. 17th Rpt., Director of Vet. Servo and Animal Industry, Union of South Africa, Aug. 1931.

Ouinlan, J., Mare, G. S. en Roux, L. L. (1932). The Vitality of the Spermatozoon in the Genital Tract of the Merino Ewe, with Special Reference to Its Practical Application in Breeding. 18th Rpt. Of the Dir. of Vet. Sci and Animal Industry, Union of South Africa, August, 1932.

Ouinlan, J., Mare, G. S. en Roux, L. L. (1933). The study of the Duration of Motility of Spermatozoa in the Different Divisions of the Reproductive Tract of the Merino Ewe. Onderstepoort Jour. Of Vet. Sci. and Animal Ind., Vol. 1, No. 1, 1933.

Ouinlan, J., en Pfaff, G. (1930). Gland Grafting in Merino Sheep. Preliminary Observations on Its Influence (B) on Senility. 16th Rpt. of the Dir. of Vet. Serv and Anim. Ind., Union of South Africa, August 1930.

Ritzman, E. G. (1917). Ewe's Milk: Its Fat Content and Its Relation to the Growth of Lambs. Journ. Agric. Resc., Vol. 8 No.2, Jan., 1917.

Rose, P. D. (Correspondence).

Roux, L. L. Sex Physiology of Sheep (In preparation).

Roux, L. L. (1933). Seleksie by die Teling van Merinoskape. Boerdery in Suid-Afrika, Vol. 8, Nos. 88 en 89, 1933.

Roux, L. L., en van Rensburg, C. T. (1935). Kruisgeteelde Lammers onder Oos-Transvaalse Toestande. Boerdery in Suid-Afrika, Vol. 10, No. 109, Maart 1935

Schuurman, G. J., en Mare, G. S. (1935). Teling en Paring van Merinoskape. Boerdery in Suid-Afrika, Vol. 10, No. 112, Julie 1935.

Van Heerden, W. S. (1923). Die Seleksie van Ramme vir Stoeterye en Kuddes. Herdruk No 9. Herdruk uit landboujoernaal, Februarie 1923.

Walton, Arthur (1933). The Technioue of Artificial Insemmination. Imperial Bureau of Animal Genetics.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 10