Last update: March 29, 2012 07:50:54 AM E-mail Print

 

Doeltreffendheid en toepaslikheid van enkele chemiese beheermetodes vir Mesquite (Prosopis-spesies) in die Noordwes-Karoo

 

M Vorster & W F lmmelman*

Afdeling Hulpbron-ontwikkeling

Landboukollege Grootfontein

Privaatsak X529

Middelburg K P

5900

 

*Carnarvonproefstasie

 

INLEIDING

Die Mesquite probleem (Prosopis-spesies) het reeds in die noordwestelike Karoogebiede 'n ernstige bedreiging vir die veld geword. Tans beslaan die plaag ongeveer 178 000 ha (Vorster, 1977). In 1977 is daar besluit om daadwerklik toe te tree tot die bekamping van die indringerplant. Navorsing, op beperkte skaal, oor enkele chemiese beheermetodes is op twee lokaliteite in die Kenhardtdistrik toegepas. Die hoofdoel was om suksesvolle chemiese beheer te verkry wat ook ekonomies verantwoordbaar sou wees. Lugbespuiting is ook oorweeg, maar weens die te yl stande van Mesquite, sou die koste nie regverdig kan word me. Daar is dus op gewone bespuitingstegnieke gekonsentreer.

Sedert die uitvoering van die eerste proewe is drie van die vier onkruiddoders (KOP 250, TORDON 155 en TORDON 225) van die mark onttrek, omdat hul 2, 4, 5-T as aktiewe bestanddeel bevat het. Hierdie aktiewe bestanddeel word nie meer geskik geag vir onkruidbeheer nie. Waar van hierdie onkruiddoders nog wel beskikbaar is, kan die aanbevelings soos deur Vorster (1979, 1981 & 1985) en Van der Merwe (1985) uiteengesit, gebruik word.

Die doel van hierdie artikel is om meer bepaald die doeltreffendheid en toepaslikheid van die verskillende chemiese beheermetodes wat in die proef van toepassing was, te behandel.

 

RESULTATE EN BESPREKING

1.  Stambehandeling

Aanvanklik is daar hoofsaaklik op stambehandelings as chemiese beheermetode vir Mesquite gekonsentreer, omdat dit, eerstens, uit die Mesquite-opname (Vorster, 1977) duidelik geblyk het dat dit vir die boere die aanvaarbaarste beheermetode is en dit, tweedens, geblyk het dat dit die mees aangewese beheermetode sal wees as die omvang van Mesquite-verspreiding in aanmerking geneem word.

Die proef het onteenseglik bewys dat stambehandeling op struike en in 'n mate op bome 'n effektiewe metode vir die beheer van Mesquite is (Vorster, 1979, 1981 & 1985), maar dat die toepassing daarvan op groot skaal deur die volgende faktore in 'n mate beperk word:

(i) Sedert die drastiese verhoging van petroleumprodukte in 1979 en 1984, het die koste van stambehandeling - waar dieselolie en/of kragparaffien as draer van die onkruiddoder gebruik word - sodanig gestyg dat dit in vergelyking met die ander chemiese beheermetodes relatief duur geword het.

(ii) As gevolg van die digte stand van Mesquite struike of waar die Mesquite bome se takke tot op die grond hang, word die vryheid van beweging van die arbeiders wat die stambehandeling toepas, beperk en bemoeilik, met die gevolg dat akkuraatheid van behandeling ingeboet word. Dit veroorsaak dat beheer nie suksesvol is nie. Die behandeling moet dus weer herhaal word wat weer beheerkoste drasties verhoog.

 

2.   Grondbehandeling

Grondbehandeling as 'n alternatiewe chemiese beheermetode is ook op die proef gestel. Dit behels dat die onkruiddoder onder die plante in die grond geplaas word en sodra dit reën, word die onkruiddoder deur die water opgelos en na die wortels afgevoer en opgeneem.

Die voordeel van hierdie metode is dat dit goedkoop is en die behandeling enige tyd van die jaar toegepas kan word, veral wanneer arbeid meer geredelik beskikbaar is.

Grondbehandeling was egter onsuksesvol om Mesquite in die Noordwes-Karoo te beheer (Vorster, 1979, 1981 & 1985). Hierdie verskynsel kan egter me aan die onkruiddoder op sigself toegeskryf word me, maar eerder aan die lae en wisselvallige reënval van die gebied. Trouens, die gebied was feit1ik die hele proefperiode aan 'n rampdroogte onderhewig. Die nadeel van hierdie metode is dus dat dit in die Noordweste te stadig reageer met die gevolg dat die plante kans kry om peule te produseer, wat die probleem in die toekoms kan vererger.

 

 

3. Loofbespuiting

Aanvanklik is loofbespuitingstegnieke met wateroplosbare onkruiddoders slegs op saailinge van Mesquite toegepas. Die resultate was uiters suksesvol (Vorster, 1979, 1981 & 1985). As gevolg van die drastiese prysverhoging in petroleumprodukte gedurende 1979, is aIle stambehandelings gestaak. Daar is besluit om die proef sodanig te wysig dat die uitwerking van loofbespuitingstegnieke met wateroplosbare onkruiddoders op struike en bome ook nagevors moet word. 'n Nuwe tegniek, naamlik ultra-lae-volume-loofbespuiting is op die proef gestel. Dit behels dat die oplossing (wateroplosbare onkruiddoder + kleefmiddel + water) deur 'n spesiale masjien (Micronette) teen 3l per hektaar aan die blare van die plante toegedien word.

Bemoedigende resultate is op die struike verkry terwyl die op die bome teleurstellend was (Vorster, 1981 & 1985). In die algemeen het die onderste blare van die bome afgeval, terwyl die boonste helfte feitlik nie gereageer bet nie. Laasgenoemde verskynsel kan waarskynlik toegeskryf word aan die feit dat die masjien nie in staat was om die onkruiddodermengsel bo in die bome te plaas nie.

Die praktiese toepassing van hierdie toedieningstegniek bet duidelike voordele getoon. Meer plante (saailinge, struike en bome) kan per dag behandel word. Dit is ook minder vermoeiend omdat dit nie nodig is om onder bome in te kruip of tussen digte struike in te beweeg nie. Verdere navorsing sal egter gedoen moet word om die toedieningstegnieke op veral die groter bome te verbeter.

'n Nadeel van hierdie chemiese beheermetode is dat die tyd van toediening vir suksesvolle toepassing krities is. Toediening kan slegs op windvrye dae en normaalweg slegs in die oggend wanneer temperature nog nie hoog is nie, geskied.

 

GEVOLGTREKKINGS

Dit wil egter blyk dat wat koste, doeltreffendheid en toepaslikheid van chemiese beheermetodes van Mesquite in die Noordwes-Karoo betref, loofbespuiting met effektiewe wateroplosbare onkruiddoders die mees aangewese behandelingsmetode sal wees. Dit wil ook voorkom dat ultra-lae-volume-loofbespuiting 'n doeltreffende toedieningsmetode vir die beheer van Mesquite kan wees, mits sekere probleme met die toedieningstegnieke opgelos kan word.

 

LlTERATUURVERWYSINGS

VAN DER MERWE I du T., 1985. Suidwesdoring - 'n Gevaarlike indringerplant. Bewaringsforum. 35-37.

VORSTER M, 1977. Indringing van suidwesdoring in die Karoo wek kommer. Karoo Streeknuusbrief, Des 1977. 26.

VORSTER M, 1979. Chemiese bestryding van die Meskietboom. Karoo Streeknuusbrief, Winter 1979. 14-15.

VORSTER M, 1981. Vorderingsverslag van faset K-GF 143/1: Chemiese beheer van Mesquite (Prosopis spp.) in die Noordwes-Karoo. Departement Landbou (Karoostreek), Middelburg K P

VORSTER M, 1985. Finale verslag van faset K-GF 143/1: Chemiese beheer van Mesquite (Prosopis spp.) in die Noordwes-Karoo. Departement van Landbou en Watervoorsiening (Karoostreek). Middelburg K P.

 

Published

Karoo Agric, Vol 3, No 6, 1985, 7-9