Last update: March 27, 2012 11:39:22 AM E-mail Print

 

Voedingsbehoeftes van Dorperskape

 

P G Marais

Diereproduksienavorsing

Landboukollege Grootfontein

Privaatsak X529

Middelburg K P

5900

 

INLEIDING

Dit is bekend dat die voedingsbehoeftes van plaasdiere onder vergelykbare toestande aansienlik verskil omdat die groeitempo's verskil en dat hierdie verskille aan verskeie faktore toegeskryf kan word. So byvoorbeeld verskil die vrywillige voerinname by 'n spesifieke dieet, asook die liggaamsamestelling en onderhoudsbehoeftes van verskeie diere.

Uit die werk van Hofmeyr (1972), Meissner, Roux & Hofmeyr (1975), Meissner, De la Rey, Gerhard & Van der Westhuizen (1976) en Searle & Griffiths (1976) is dit duidelik dat groot rasverskille ten opsigte van liggaamsamestelling voorkom. Groot geslagsverskille ten opsigte van liggaamsamestelling word ook gerapporteer. Verder rapporteer Roux, Meissner & Hofmeyr (1982) en Marais (1984) dat daar nie 'n konstante parsiële doeltreffendheid vir proteïen en vet gestel kan word nie. Gevolglik kan die afleiding gemaak word dat dit nie moontlik is om voedingsbehoeftes vir jong diere uit inligting vanaf volwasse diere, wat algemeen in proewe gebruik word, te bereken nie. Na aanleiding hiervan is dit wenslik om voedingstandaarde, bereken vanaf data van jong groeiende diere, vir die Dorper daar te stel.

 

PROEFPROSEDURE

Altesaam 78 Dorperlammers, bestaande uit 26 ooi-, 26 ram- en 26 hamellammers is in hierdie ondersoek gebruik. Alle lammers is binne 24 uur vanaf hul moeders verwyder en individueel op 'n ad lib.-melkrantsoen (Wessalam) tot op 50-dae-ouderdom geplaas. Hierna is die lammers gespeen en die proefrantsoen is aan elkeen op 'n ad lib. -basis beskikbaar gestel. Die rantsoen het 'n samestelling van 10,19 MJ/kg DM (droëmateriaal) en 19,6% ruproteïen gehad.

Een lam per geslag is weekliks tot op 13-weke-ouderdom en daarna tweeweekliks tot op 39-weke-ouderdom geslag en opgemaal vir die bepaling van liggaamsamestelling.

 

RESULTATE EN BESPREKING

Deur gebruik te maak van die AO-model (Roux, 1974; 1976) kan die energiebehoeftes van die diere deur middel van die energiewaarde van die liggaamsmassatoename, soos verkry vanaf die liggaamsamestelling, bereken word.

In Tabel 1 verskyn die daaglikse ME-inname in MJ /kg by verskillende liggaamsmassatoenames vir Dorperskape.

 

 

Ten einde hierdie voedingsbehoeftes met die van ander uiteenlopende rasse te vergelyk, is vergelykende data (Tabel 2) opgestel.

Uit Tabel 2 blyk dit dat aansienlike verskille tussen die ME-innames van rasse en geslagte voorkom. In die breë gesien is dit duidelik dat Dorpers 'n geringe hoeveelheid meer ME per dag as Vleismerino's en Karakoele benodig. Gevolglik is dit duidelik dat wanneer die innames van Dorpers met die van ander rasse op 'n massabasis gedoen word daar nie groot verskille aanwesig is nie. Indien die vergelyking per dier gedoen word, sal die verskille aansienlik wees omrede die Dorper 'n hoër liggaamsmassa en 'n hoër groeitempo as die ander rasse het. Verder blyk dit ook dat die voedingsbehoeftes soos deur die "Agricultural Research Council" (ARC, 1965) aangegee, nie in alle gevalle die behoeftes van die onderskeie rasse bevredig nie.

 

LITERATUURVERWYSINGS

AGRICULTURAL RESEARCH COUNCIL, 1965. The nutrient requirements of farm livestock: No 2 Ruminants. London. A.R.C

HOFMEYR H S., 1972. Kwantifisering van faktore wat die bruto doeltreffendheid van energie-omsetting van voer by skape beïnvloed. D.Sc.(Agric.).-tesis. Univ. van Pretoria.

MARAIS P G., 1984. Die doeltreffendheid van voergebruik met betrekking tot groei en liggaamsamestelling by Dorperskape M.Sc. (Agric.)-tesis. Univ. van Pretoria.

MEISSNER H H., 1977. An evaluation of the Roux mathematical model for the functional description of growth. Ph-D. Thesis. Univ. of Port Elizabeth.

MEISSNER H H, DE LA REY P J, GERHARD KATRINA E & VAN DER WESTHUIZEN ELNA, 1976. Variasie in die liggaamsamestelling van die skaap. Agroanimalia. 8,69.

MEISSNER H H, ROUX C Z & HOFMEYR H S, 1975. Voluntary feed intake, growth, body composition and efficiency in the sheep: Breed and sex differences. Agroanimalia.7,105.

ROUX C Z, 1974. The relationship between growth and feed intake. Agroanimalia. 8,83.

ROUX C Z, MEISSNER H H & HOFMEYR H S, 1982. The division of energy during growth. South African Journal of Animal Science. 12,1.

SEARLE T W & GRIFFITS D A, 1976. Differences in body composition between three breeds of sheep. Proceedings of the Australian Society of Animal Production Xl. 57.

 

Published

Karoo Agric 3 (6), 14-15