Last update: April 4, 2012 10:10:24 AM E-mail Print

 

HOE BEWEIDING MET KLEINVEE KAROOVELD BEïNVLOED

P.W. ROUX 

 

KAROOVELD, geklassifiseer ten opsigte van beweiding, is saamgestel uit smaaklike bossies, onsmaaklike bossies, meerjarige gras van verskillende soorte, pionierplante van semipermanente en tydelike aard, en opslag. Benewens hierdie plantsoorte kan bome, struike, sukkulente en bolplante ook voorkom.

Hierdie plante kan ook in gewenste en ongewenste soorte ingedeel word. Die verhoudings waarin die verskillende plantsoorte tot mekaar in die veld voorkom, word hoofsaaklik deur die klimaatstreek, veldsoort en die toestand van die veld bepaal. Die toestand van die veld kan gewoonlik regstreeks aan beweiding gekoppel word.

Inherent oefen kleinvee, veral die skaapsoorte, 'n nadelige uitwerking op karooplantegroei uit. Die mooiste illustrasie van die uitwerking wat kleinvee op veld uitoefen, is wanneer hulle met beeste vergelyk word.

Daar kan verwag word dat veld wat onder beweiding deur kleinvee verkeer, nooit stabiliteit kan bereik nie, maar voortdurend teen 'n gestadigde of versnelde tempo sal verander. In die meeste gevalle is die verandering ten nadele.

As gevolg van hierdie toestand is dit dringend noodsaaklik dat beweiding en beheer van karooveld met kleinvee met die grootste omsigtigheid en op die hoogste vlak geskied.

Die uitwerking wat kleinvee op karooveld het, word bepaal deur hoe daar gevreet word, waar gevreet word, wanneer gevreet word, wat gevreet word, hoeveel gevreet word, hoe lank daar gevreet word en wanneer daar weer gevreet word.

 

HOE

Hoe daar gevreet word, het betrekking op die veesoort (skape, bokke, ensovoorts) en die soort vee (lammers, hamels, dragtige ooie, ensovoorts). Wolskape - hoofsaaklik Merino's - Dorpers en Angorabokke is die belangrikste veesoorte wat op karoovelde wei.

Basies is daar min verskil tussen die uitwerking wat die Merino of die Dorper op 'n spesifieke stuk karooveld in dieselfde omstandighede gal uitoefen. Die Dorper is egter 'n meer geharde beweier as die Merino en vreet gewoonlik minder selektief. Die Dorper is dus uiteraard ietwat minder beskadigend teenoor veld en daarby ook 'n doeltreffender benutter van die veld as die Merino.

As gevolg van laasgenoemde eienskappe en hul gehardheid kan Dorpers onder 'n hoe belading langer uithou op veld as Merinoskape - met uiters nadelige gevolge vir die plantbedekking. Op 'n gelyk voet naamlik ongeveer twee Dorpers teenoor drie Merino's, sal die Dorper egter minder beskadigend op veld wees.

Die uitwerking van bokke - meer spesifiek Angora bokke - verskil heelwat van die van skape. Die vernaamste rede vir die verskil is dat skape meer geneig  is om naby die grond te vreet teenoor die bok wat so hoog bokant die grond vreet as wat vir hulle gerieflik is. Wanneer weiding op die gerieflike hoogtes skaars raak, vreet bokke ewe doeltreffend op die laer vlakke en kan selfs op die grondoppervlak weiding baie doeltreffend benut.

Die bok vreet baie minder selektief as die skaap.

Verdere verskille in weigewoontes van kleinvee word teweeggebring deur voedingsbehoeftes. So sal 'n dragtige ooi byvoorbeeld heelwat anders vreet as 'n droë ooi.

Om veld realisties met kleinvee te belaai, moet die veesoort en soort vee en hul fisiologiese toestand beslis in aanmerking geneem word.

So byvoorbeeld: as die drakrag van 'n 200 ha kamp 1 kleinvee-eenheid per ha is, kan dit of 100 Merino’s of 120 Angorabokke, of 67 Dorpers oor 'n periode van 12 maande dra. 'n Droë Merino-ooi is ook byvoorbeeld gelyk aan 1 K.V.E., 'n dragtige ooi gelyk 1,6, en 'n ooi met 'n lam 2,3.

 

WAAR

Waar daar gevreet word, het hoofsaaklik betrekking op die selektiewe beweiding van veldsoorte Waar meer as een veldsoort in 'n kamp voorkom, sal die smaaklikste en meer bekombare veldsoorte oorbenut raak en op die lange duur erg daaronder ly en selfs vernietig raak.

Om beheer hieroor uit te oefen is dit nodig  dat verskillende veldsoorte, sover prakties moontlik, apart afgekamp word.

 

WANNEER

Die uitwerking van beweiding met kleinvee kan die beste getakseer word deur die seisoen waarin weiding plaasvind in ag te neem. Die grondslag waar op wisselweidingstelsels en veldbeheermaatreëls berus, is hoofsaaklik op seisoene geskoei.

Die verskillende veldkomponente soos meerjarige grasse, bossies, opslag, ensovoorts vertoon inherente basiese seisoengroeiritmes. Die golwende groeiritmes gedurende 'n seisoen, of jaar, staan in 'n baie noue verband met die gevoeligheid van 'n spesifieke veldkomponent teenoor beweiding.

 

 

Beweiding gedurende maande of seisoene waarin die groeiaktiwiteit hoog is, vir 'n spesifieke veldkomponent, is die peri ode waarin beweiding die meeste skade aan die spesifieke komponent kan aanrig. So kan gras byvoorbeeld feitlik totaal deur somerbeweiding vernietig word en bossies deur herfs, winter en lentebeweiding.

Om gras te stimuleer, sal die beste behandeling wees om veld jaarliks slegs gedurende die wintermaande te bewei. Om bossieveld te stimuleer, is die voordeligste behandeling om dit vanaf Maart tot aan die einde van September of Oktober te spaar.

Die beste behandeling vir gras en bossies onder praktiese boerdery omstandighede word outomaties vervat in wisselweidingstelsels.

 

 

HOEVEEL

Die hoeveelheid plantegroei wat afgevreet word, staan in regstreekse verband met die veebelading en die tydsduur van beweiding. Veegetalle is beslis die heel belangrikste aspek van beweiding en die doeltreffende benutting en herstel van veld.

Geen beweidingspraktyk, hoe goed dit ook al is kan slaag as veegetalle te hoog is nie.

'n Te hoë veebelading gekoppel met 'n lang periode van beweiding is sekerlik een van die nadeligste beweidingspraktyke. Wanneer meer veld afgevreet word as wat daar geproduseer kan word voordat beweiding weer plaasvind, is die gevaar wesenlik dat die veld en sy bedekking sal agteruitgaan met 'n gepaardgaande verlies aan drakrag.

Maar met realistiese veegetalle en oordeelkundige veldbeheer kan veld feitlik vir 'n onbepaalde tyd produktief en benutbaar bly.

 

 

'n Plant wat te kort gevreet is se kanse om 'n droogte te oorleef, voort te plant of beweibare materiaal te produseer, is baie skraal. Sommige karoobossiesoorte gedy en oorleef meer suksesvol as hulle kortgevreet is.

Waar bossies egter kortgehou word, moet dit binne die raamwerk van 'n wisselweidingstelsel geskied, of nog beter, onder 'n groepkampstelsel.

Die plantmateriaal wat op veld oorbly na beweiding is van deurslaggewende belang by die hersteltempo van veld. Veld wat te kort gehou word oor 'n te lang periode, sal onvermydelik verswak. Daar moet ook duidelik besef word dat om bossies kort te hou alle smaakliker plante soos grasse nag korter sal wees en ook meer geredelik vernietig raak.

Waar bossieveld ruig uitgegroei geraak het, kan die veld met 'n hoe belading van vee teruggesnoei word. Na so 'n behandeling moet die veld lank genoeg rus sodat daar weer voldoende hergroei kan plaasvind.

Hoe veegetalle bring ook oormatige vertrapping mee, met gepaardgaande gronderosie wat op sy beurt die plantegroei nadelig beïnvloed.

 

WAT

Die soorte plante wat gevreet word, het te doen met die geaardheid en eienskappe van die plant sowel as die soort dier wat wei. Gewoonlik word die sagter, doringlose en minder harshoudende plante by voorkeur gevreet. Sulke plante staan gewoonweg bekend as smaaklik en die weidingsproses as selektiewe beweiding.

Dit is dan ook duidelik waarom veld wat vir lang periodes oorbewei was uit slegs geharde en feitlik onvreetbare soorte bestaan. Opslagplante wat na reëns voorkom, vorm dan ook in so 'n geval gewoonlik 'n belangrike bestanddeel van die weiding, maar dan is die hoeveelheid weiding feitlik regstreeks afhanklik van die reënval.

Kleinvee kan, indien daartoe genoodsaak, plante vreet wat doringrig, hard en harsryk is.

 

 

Die uitwerking van Merino-ooie teenoor Angorabok ooie op Karoobossieveld: die resultaat is verkry oor 'n periode van 10 jaar. Die figuur is uit die resultate so saamgestel asof beweiding met die twee kleinveesoorte op presies dieselfde stuk veld begin het. (Die grootte van die stukkies veld wat uitgebeeld word, is ongeveer 4 m by 2,5 m.)

 

Die selektiewe weigewoontes, voedingsbehoeftes en smaakvoorkeur sal bepaal watter plante gedurende 'n gegewe tydstip gevreet sal word. So byvoorbeeld sal skape hoofsaaklik gras vreet gedurende die maande wanneer dit groen is - en bossies gedurende die maande wanneer gras droog is en die bossies groen, dit is, in die herfs en winter. Alle smaaklike plante sal by voorkeur gevreet word.

 

HOE LANK

Die skadelikste vorm van "die duur van beweiding" op veld is aanhoudende beweiding. Die voordeligste vorm sou, teoreties, aanhoudende spaar wees. Dit is egter noodsaaklik dat die meeste weidingsplante van tyd tot tyd bewei moet word, veral om verhouting en veroudering te voorkom en verjonging te bewerkstellig.

Teoreties sou dit ook voordelig wees om alle plante op een dag af te wei en dan te laat rus. Die probleem is egter dat dit nie moontlik is nie. Die kombinasie van veegetalle en tydsduur is 'n baie belangrike aspek van beweiding en die uitwerking wat dit op veld het.

Daar moet sover moontlik 'n balans wees tussen die mate waartoe 'n plant afgevreet word, hoe lank dit kortgehou word en hoe lank dit daarna sal rus. Die effektiwiteit en duur van die rus om herstel te bewerkstellig, sal veral van reënval afhang. Hoe droër dit is, hoe langer sal dit neem.

Hoe langer veld onder oorbeweiding of wanbestuur verkeer het, hoe langer sal dit neem om te herstel. In baie gevalle moet selfs van duur kunsmatige metodes gebruik gemaak word.

Die beste balans tussen die duur van beweiding en die graad van afvreet en genoegsame rus, op praktiese grondslag, kan verkry word deur die toepassing van groepkampstelsel, soos gebaseer op geordende wisselweidingstelsels en spesiale veldbehandelings.

Gesonde oordeel aan die kant van die boer sal in baie gevalle die deurslag gee tussen sukses en mislukking van die doeltreffende benutting, bewaring, herstel en ontwikkeling van veld.

Om die uitwerking van kleinvee op karooveld ten beste te benut en te beheer, kan die volgende reëls in gedagte gehou word:

 

 

Die uitwerking van verskillende weidingsbehandelings op karoobos-voorskootveld met Merinohamels oor 'n periode van 30 jaar. Die belading was 1 skaap op 1,28 ha (1,5 morg) behalwe op E waar dit 1 skaap op 0,86 ha (1,0 morg) was. (Verduideliking: Swart kolletjies is opslag; kammetjies is pioniere; swart koepels is smaaklike bossies; groot wit koepels is onsmaaklike bossies; en polletjies is meer jarige gras.)

 

Die volgende artikels kan geraadpleeg word ten opsigte van wisselweidingstelsels, die groepkampstelsel en die aanplant van droogtevoergewasse:

AUCAMP, J.D., 1973. Benut droogtebestande struike. Goue Vag, 2, No 11 (Herdruk).

AUCAMP, J.D., 1973. Vestiging van droogtebestande struike. Goue Vag, 2, No 11 (Herdruk).

DE KOCK, G.C., 1967. Droogtevoergewasse. Hand. Weidingsveren. S. Afr. 2, 147-156.

ROUX, P.W., 1968. Beginsels van veldbeheer in die Karoo en droë soetgrasveldstreke. Kleinveebedryf in S.A.,

W.J. Hugo. Hoofstuk XIX p. 318-340. Dept. L.T.D. Pretoria.

ROUX, P. W., 1972. Moderne begrippe oor veldbenutting. Boerderykeur, 109-115. Promedia Publikasies, Braamfontein.

ROUX, P.W. & SKINNER, T.E. Die Groepkampstelsel. Herdruk uit Boerdery in Suid-Afrika.

 

Om die uitwerking van die selektiewe beweiding van verskillende veldsoorte teen te werk, moet hulle apart afgekamp word. A en B verteenwoordig twee veldsoorte waarvan B die smaaklikste is. Die proses van agteruitgang deur selektiewe beweiding word van 1 tot 8 geïllustreer. Nege en 10 illustreer die beginsel van die afkamp van veldsoorte.

 

Published

Boerderykeur Braamfontein : Promedia