Last update: April 11, 2012 08:14:07 AM E-mail Print

 

Bembix-wespe as Vyande van Skaapbrommers

Dr. G. C. Ullyett en A. H. de Vries

 

SKAAPBROMMERBEVOLKINGS toon dikwels 'n vinnige toename in digtheid en bereik 'n hoogtepunt om vervolgens weer ewe vinnig in getalle af te neem. Nieteenstaande swaar besmettings gedurende November en Desember, word die brommers, bv. in die Karoo-streek teen ongeveer die einde van Januarie skaars. Hierdie skielike afname is welbekend by boere. Baie van hulle het ook opgemerk dat die afname dikwels voorafgegaan word deur die verskyning van heldergekleurde wespe wat die volgroeide brommers vang en wegdra terwyl laasgenoemdes in die nabyheid van skape rondvlieg.

Hierdie sameloop van omstandighede het tot die geloof gelei dat die wespe wat tot die geslag Bembix behoort, van groot belang, is by die bestryding van die brommers. Daar is ook vermoed dat dit miskien moontlik sou wees om hulle nuttigheid te verhoog deur die toepassing van een of ander metode wat by die biologiese bestryding van plaaginsekte gebruik word. Ten einde die ware waarde van die wespe vas te stel en die moontlikheid daarvan om hulle by hulle goeie werk te help, uit te toets, is ondersoeke sowel in die veld as in die laboratorium deur skrywers ingestel. 'n Kort verslag van die resultate wat verkry en die gevolgtrekkings wat daaruit gemaak is, word hieronder gegee.

 

Lewensgeskiedenis

Die neste van hierdie "graafwespe" word in die klam sand van rivierbeddings of op sanderige oewers langs 'n rivier gebou. Die wyfie graaf 'n gat wat van 6 tot 9 duim diep onder die oppervlakte is. Aan die onderent van hierdie gat is 'n ronde kamer wat as nes dien waarin die nageslag geteel word. 'n Kort entjie in die gat in, draai daar 'n vals gangetjie af, waarin die wyfie tydens slegte weer en in die nag kan skuil.

Die nes word binne twee of drie uur klaar gegrawe en die wyfie-wesp verlaat dit vervolgens op soek na prooi. 'n Brommer word gevang, verlam en in die nes geplaas. 'n Enkele eier word op die brommer gelê en daarna verlaat die wesp die nes en maak sy die opening van die gat sorgvuldig met sand toe. Die nes word eers na verloop van 'n dag of twee as die eier uitgebroei het, opnuut besoek. Vervolgens word nog 'n brommer gebring en daaraan begin die pas uitgebroeide larwe vreet. Van nou af aan voorsien die wyfie-wesp haar groeiende larwe voortdurend van vars brommers totdat die larwe na verloop van vier of vyf dae en nadat dit die inhoud van 50 tot 60 brommers verteer het, sy eiervormige sykokon, met sandkorrels gemeng, spin, en verpop. Op hierdie tydstip word die nes verseël en begin die moederwesp die bou van 'n nuwe nes.

Elke wyfie maak haar eie afsonderlike nes, maar baie wyfies kom op dieselfde stuk sand bymekaar om 'n groep of kolonie neste te maak. Die openings hiervan is dikwels baie dig bymekaar.

Terwyl daar in iedere nes, vir sover bekend, slegs een larwe verblyf hou, verskil menings wat betref die getal neste vat tegelykertyd deur iedere wesp versorg word. Dit is egter waarskynlik dat nie meer as een nes terselfdertyd in stand gehou word nie en dat die konstruksie van 'n nuwe nes en eierlegging eers plaasvind nadat die bewoner van die voorafgaande nes gereed is om te verpop. Net so onseker is die antwoord op die vraag hoeveel nakomelinge deur 'n enkele wyfie grootgemaak kan word totdat hulle volgroeid is. Terwyl daar geen gegewens is om 'n bepaalde antwoord te verskaf nie, is dit tog waarskynlik dat nie meer as 5 of 6 larwes deur iedere ouer wesp geproduseer word nie.

Wespe verskyn omstreeks die einde van Oktober of die begin van November in betreklik klein getalle in die veld. Hulle word eers talryk in Desember, as volgroeide wespe uit die eerste larwegenerasie ontpop en neste begin maak. Vier of vyf onderskeie geslagte van volgroeide wespe is gedurende die somermaande bedrywig. Die laaste generasie verskyn in Maart. Onder veldtoestande neem elke geslag van eier tot volgroeide insek ongeveer een maand in beslag.

 

Toestande in die Nes

Soos reeds opgemerk, maak die Bembix-wespe hulle neste in die rivierbedding of in sanderige oewers langs die rivier. Die sand is. op hierdie plekke byna altyd klam en stewig en daar is gevind dat hierdie toestande dit moontlik maak vir die wesp om te broei. Dit is een van die belangrikste punte in die vraagstuk onder bespreking aangesien die verspreiding van die wespe klaarblyklik deur die aan- of afwesigheid van geskikte broeigrond bepaal word.

Met die oog op die feit dat die nes tot 9 duim diep in klam stewige sand geleë is; spreek dit vanself dat die toestande waaronder die wesp in sy onvolgroeide stadiums leef, baie verskil van die van die buitelug. Twee punte word duidelik nl:-

(1) Die atmosfeer in die beperkte ruimte van die nes moet voortdurend met waterdamp versadig wees ten gevolge van die vogtigheid in die sand daaromheen.

(2) Weens die diepte van die nes onder die oppervlakte van die sand en die voortdurende verdamping van vog uit laasgenoemde, bly die temperatuur van die nes taamlik konstant en is dit onafhanklik van skommelings in die temperatuur van die buitelug.

Hieruit blyk dat die groeiende insekte gedurende die broeiseisoen feitlik onder konstante temperatuurs- en vogtigheidstoestande grootgemaak word. Dit is 'n baie gespesialiseerde omgewingstipe wat betreklik selde in die natuur voorkom. Dit het twee belangrike gevolge, nl:-

(a) Wespe sal alleen in die streke waar sulke spesiale broeigronde bestaan, in voldoende groot getalle voorkom om van waarde te wees by die bestryding van brommers. In die praktyk beteken dit dat die aanwesigheid van riviere of strome onmisbaar is vir hulle vestiging.

(b) Die ontwikkelingstydperk van die wesp vertoon gedurende die broeiseisoen nie baie skommelings nie.

 

Vangs en Uitsoek van Prooi

Die prooi van alle Bembix-soorte bestaan uitsluitend uit vlieë wat deur die wyfiewesp in die vlug gevang word. Baie boere sal dit al opgemerk het. In die geval van Bembix olivata, 'n soort wat algemeen in die Karoo voorkom, is daar gesien dat wespe gedurende tydperke waarin brommers volop is, dikwels in die buurt van skape kom en rondom die diere na brommers soek. Dit is 'n opmerklike voorbeeld van aanpasbaarheid by wisselende omgewingstipes, want die wespe is vir hulle prooi nie net op skaapbrommers aangewys nie.

As die wesp daarin geslaag het om 'n brommer te vang, verlam sy dit en klem sy dit stewig tussen die twee middelste pote teen die liggaam aan. Met die brommer in hierdie posisie vlieg die wesp na die nes.

Bembix-wespe kan gebruik maak van 'n baie groot verskeidenheid van soorte wat tot verskillende geslagte en families van vlieë behoort. Aangesien dit so is, is dit duidelik dat 'n wesp enige geskikte vlieg sal vang waarmee sy op die roofvIug in aanraking kom, en dat dit louter 'n saak van toeval is watter soort sy sal buitmaak. Hieruit volg dus dat die soort wat gedurende 'n gegewe tydperk in die grootste getalle in die veld voorkom, ook die meeste in die oes verteenwoordig sal wees. Ondersoekings van neste op verskillende tydstippe gedurende die seisoen bevestig hierdie bevinding. As die digtheid van skaapbrommerbesmettings hoog is, maak hierdie insekte tot 80 persent van die buit uit. Gedurende tydperke van skaarsheid verminder hulle egter tot 5 persent of selfs nog minder.

 

Faktore wat die Bembix beïnvloed

(a) Klimaatsfaktore. - Bembix-wespe is lief vir son; tydens betrokke weer hou hulle bedrywighede op en bly hulle in hulle gate. Gedurende lang tydperke van sulke weer word die daaglikse werksaamhede van nesmaak, die vang van vlieë en die voer van die jong larwes derhalwe tydelik opgeskort. In nou verband hiermee staan die uitwerking van temperatuur op die volgroeide wespe. By koue weer bly hulle in hulle gate, al skyn die son ook.

Daar moet onthou word dat die twee genoemde faktore gedurende die somer ongeveer dieselfde uitwerking op die wesp se prooi het, sodat skommelings in hierdie faktore, as ons voedster- en roofinsek tesame beskou, klaarblyklik weinig daartoe bydra om die verhouding tussen die twee te wysig.

By die instandhouding van vogtigheid wat so belangrik is vir die broeiplekke van die wesp, het reënval 'n voor die hand liggende, regstreekse uitwerking op die Bembix:-bevolking deurdat dit die vloei van riviere en waterlope bevorder. Daar bestaan egter nog 'n ander, ewe belangrike betrekking tussen reënval en die wespkolonies. Vanweë sy konstruksie beskerm die kokon van die Bembix-wesp die papie teen aanvalle deur natuurlike vyande. Dit skyn asof slegs gebeurtenisse van katastrofale aard die vernietiging van die wesp op hierdie stadium kan bewerkstellig. Gedurende swaar reëns kom die riviere in volle vloed af en word hulle beddings uitgespoel. Ten gevolge hiervan word baie kokonne aan die verdorrende werking van die son blootgestel en daar is gevind dat die papie onder hierdie omstandighede gedood word. Dit is ook maklik om in te sien hoe 'n baie minder uitgebreide styging van die water oorstroming van die neste en vernietiging van groeiende larwes deur verdrinking kan veroorsaak.

 

(b) Natuurlike vyande.- Vir sover vasgestel is, het die Bembix-wesp min natuurlike vyande. Geen ware parasiete of roofinsekte is in hierdie land aangeteken nie. Dit is hoofsaaklik te danke aan die sorg waarmee die wyfie-wesp die tonnel toemaak telkens as sy die nes verlaat.

Sekere klein Sarkofagidiese of vleisvlieë slaag soms daarin om hulle lewende larwes in die nes te bring.

Laasgenoemdes val die wesplarwe egter nie aan nie, maar vreet as ongenooide gaste dan die vlieë wat deur die wyfie wesp verskaf word. Hierdie vlieglarwes verminder die hoeveelheid voedsel wat vir die wesplarwe beskikbaar is, maar hulle is nooit talryk genoeg om enige ernstige uitwerking op laasgenoemde te hê nie.

 

(c) Skommelings in die prooi-voorraad. -Oor die algemeen is die toename van roofinsekbevolkings regstreeks afhanklik van die bevolkingsdigtheid van die insekte waarvan hulle leef. As die roof-insek slegs een soort prooi aanval, volg die styging en daling in bevolking onmiddellik op die van die prooi, sodat 'n skaarsheid van prooi-insekte 'n ernstige vermindering in die getalle van die roofinsek ten gevolge het.

Waar die roofinsek verskeie soorte prooi-insekte aanval, soos in die geval van die Bembix, is die posisie heeltemal anders. As een van die prooi-insekte skaars word, kan daar 'n ander volop aanwesig wees, sodat die roofinsek sy aandag eenvoudig na laasgenoemde verplaas. Dit is duidelik dat hoe groter die getal verskillende soorte wat aangeval word, is, hoe minder moeilik die roofinsek dit sal vind om altyd voedsel te kry.

Dit is bekend dat Bembix-wespe vlieë aanval wat tot minstens sewe verskillende families behoort. Die tydperke waarin die verskillende vlieë-soorte wat hierdie families verteenwoordig, hulle hoogste getalle bereik, kom nie ooreen nie. Gedurende die broeiseisoen het die wespe derhalwe selde gebrek aan 'n volop voorraad geskikte prooi-insekte. Skommelings in die voorraad van enige van hierdie vlieë word nie noodwendig in die bedrywigheid of voortplantingstempo van die wesp weerspieël nie. Bowendien is dit uiters onwaarskynlik dat alle voedselbronne gelyk sal opraak.

 

Verhouding tot Brommerbevolkings

Uit wat hierbo gesê is, sal dit, duidelik wees dat die verspreiding van die wespe en hulle verhouding tot brommers deur die volgende faktore beperk word:-

(1) Onder sekere omstandighede word hulle deur klimaats- en seisoenstoestande beïnvloed.

(2) Hulle broei in 'n uiters gespesialiseerde omgewing en word derhalwe tot geskikte topografiese streke beperk.

(3) Hulle besit 'n lae voortplantingstempo. Dit word in aansienlike mate goedgemaak deur die feit dat hulle betreklik vry is van natuurlike vyande.

(4) As 'n verhoging in atmosfeertemperature 'n vinniger ontwikkeling van die brommers teweegbring dan is daar geen vergelykbare versnelling van ontwikkeling in die wespbevolking nie.

(5) Hulle prooi bestaan uit enige soort vlieg wat op 'n bepaalde tydstip mees algemeen voorkom en dit kan van geen soort wesp gesê word dat dit 'n spesiale voorliefde vir brommers as kos het nie.

(6) Die gewoonte van sommige soorte om hulle neste in die rivierbedding te maak, het as gevolg dat kolonies op groot skaal gedurende die reënseisoen vernietig word.

Dit beteken nie dat Bembix-wespe van weinig of geen waarde is nie. Inteendeel, hulle speel ongetwyfeld 'n baie nuttige rol by die beperking van brommerbevolkings. By die oorweging van hierdie vraagstuk moet daar met nadruk op gewys word dat die onmiddellike uitwerking van 'n natuurlike bestrydingsfaktor nie so belangrik is as die uiteindelike uitwerking nie. Met ander woorde, hoewel dit nie 'n drastiese vermindering in die getalle van 'n prooi-insek mag teweegbring sodat ekonomiese skade heeltemal of onmiddellik verhoed word nie, kan dit nietemin soveel prooi-insekte vernietig dat die strafheid van die kwaad deur laasgenoemde of in die volgende geslag of in die volgende seisoen aangerig, verminder word.

'n Bestrydingsfaktor wat in werking tree nadat alle ander sterftefaktore die insektebevolking reeds verminder het, is dikwels van groter indiwiduele waarde as die wat voorafgegaan het, aangesien dit geheel en al afreken met daardie gedeelte van die plaagbevolking wat vroeër in hulle lewe vernietiging vrygespring het. Deurdat Bembix-wespe volgroeide brommers aanval, behoort hulle tot hierdie klas. Dit is bekend dat hulle in groot getalle aanwesig is op 'n tydstip wanneer die brommerbevolking op sy hoogste is en dat hulle groot getalle brommers gebruik om hulle jonges te voer. Hoewel die ware waarde van die wespe alleen geskat kan word wanneer dit moontlik is om hulle bedrywighede in die lig van die hele brommerkompleks in oënskou te neem, kan daar nietemin aangeneem word dat hulle 'n vername plek inneem.

Hoewel 'n afname van brommers dikwels op die verskyning van wespe volg, sou dit egter ook verkeerd wees om hierdie hele verskynsel aan die bedrywigheid van laasgenoemdes toe te skryf. Dit is meer waarskynlik dat 'n samewerking van faktore (natuurlik met insluiting van die wespbevolking) tot die afname in die brommerbevolking bydra.

 

Kan die Bembix gehelp word?

Die gewone metode waarvolgens die bedrywigheid van inheemse nuttige insekte gehelp kan word, bestaan in die massateling en loslating van groot getalle in die streke waarin hulle nodig is. In die onderhawige geval is enige onderneming wat so iets beoog, om die volgende redes aan mislukking onderhewig.

(1) Loslating- van Bembix-wespe in distrikte waar hulle onder natuurlike omstandighede nie voorkom nie, sou geen nut hê nie aangesien daar in hierdie distrikte geen geskikte broeiplekke beskikbaar is nie en die wespe gevolglik nie sou kon aanteel nie. Dit beteken natuurlik dat geen prooi gesoek of gevang sou word nie.

(2) Behalwe wanneer die Bembix-wespe onder natuurlike omstandighede volop in die veld voorkom, sou hulle loslating geen aanmerklike uitwerking op die uiteindelike brommerbevolking hê nie. Daar word alleen talle brommers gevang wanneer die bevolkingsdigtheid van laasgenoemde groot is. Wespe wat losgelaat word, maak op hierdie reël geen uitsondering nie. Derhalwe sou die loslating van wespe op 'n tydstip wanneer die bevolking nie dig is nie, nutteloos wees. Hierdie spitsperiode val gewoonlik saam met die tydperk wanneer die wespe self opvallend volop in die veld is. Ekonomies geproduseerde wespe wat in die laboratorium geteel is en op hierdie tydstip losgelaat word, sou die Bembix-bevolking nie belangrik vermeerder nie.

Terwyl ons dus ten volle die waarde van hierdie insekte erken as 'n nuttige faktor by die bestryding van die brommerkompleks, moet ons tot die gevolgtrekking kom dat daar geen gegronde rede bestaan om in die plan van die Natuur in te gryp nie.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 16