Last update: April 2, 2012 10:03:22 AM E-mail Print

 

'n Benadering om weidingskapasiteit vanaf veldtoestand te bepaal

 

M Vorster

Landbounavorsingsinstituut van die Karoostreek

Middelburg, KP

 

INLEIDING

 

Die bepaling van weidingskapasiteit (drakrag) is 'n baie omstrede onderwerp. Tidmarsh (1951) het selfs so vel gegaan om te sê dat die bepaling van weidingskapasiteit 'n teoretiese abstraksie is. Selfs in die VSA is die bepaling van weidingskapasiteit 'n netelige vraagstuk (Drewes & Steyn, 1979). Hierdie toedrag van sake kan toegeskryf word aan die feit dat daar 'n magdom van faktore is wat die bepaling van weidingskapasiteit beïnvloed. Indien een faktor verander, het dit in 'n meerdere of mindere mate 'n verandering in weidingskapasiteit tot gevolg.

Alhoewel dit tans feitlik onmoontlik is om die "ware" of korrekte weidingskapasiteit van 'n veld te bepaal, is dit nog steeds noodsaaklik om 'n beraming van weidingskapasiteit te maak, wat as 'n riglyn vir optimale veldbenutting kan dien. In die huidige stadium word weidingskapasiteit in die meeste gevalle op 'n ad hoc-basis deur ervare en onervare persone beraam, wat weer aanleiding gee tot 'n groot variasie in beraamde weidingskapasiteit vir dieselfde stuk veld. Daarom is dit van die uiterste belang dat 'n metode gevind moet word wat hierdie variasie tot 'n minimum kan beperk sodat feitlik enige persoon 'n beraming van weidingskapasiteit kan maak.

Verskeie pogings is al aangewend om 'n wetenskaplik gefundeerde metode te vind om weidingskapasiteit te beraam (Roux, 1979). Volgens Roux (1979) wil dit blyk dat toestand van veld die beste basis bied waarvolgens weidingskapasiteit beraam kan word.

Deur die veldtoestandklas van 'n stuk veld deur middel van 'n veldbeoordelingstegniek te bepaal, kan die benaderde beraamde weidingskapasiteit van so 'n veld bepaal word. Tainton, Edwards & Mentis (1980) het reeds 'n poging aangewend om huidige weidingskapasiteit vanaf veldevaluasie data (veldtoestand) te beraam.

Condon, Newman & Cunningham (1969) het nou wel nie veldtoestand as basis vir die beraming van weidingskapasiteit gebruik nie, maar het veldtoestand as een van ses faktore gebruik.

 

KOPPELING VAN BERAAMDE WEIDINGSKAPASITEIT VAN VELDTOESTNDKLASSE

1. Keuse van veldbeoordelingstegniek

Die keuse van 'n veldbeoordelingstegniek om veldtoestandklasse te bepaal, het 'n groot invloed op die sukses of mislukking van die benadering. Bo en behalwe die feit dat dit wetenskaplik gefundeerd moet wees, is dit ook belangrik dat dit van jaar tot jaar en van seisoen tot seisoen veranderde veldtoestandklasse en dus veranderde beraamde weidingskapasiteit, as gevolg van wisselvallige reënval en benuttingspraktyke, moet aandui. Verder is dit ook noodsaaklik dat die veldbeoordelingstegniek prakties maklik toepasbaar moet wees.

Die Ekologiese Indeksmetode (ElM) van veldbeoordeling om veldtoestand te bepaal, wat volledig beskryf is deur Vorster (1981), verleen homself uitstekend daartoe om weidingskapasiteit aan veldtoestand te koppel. Die rede daarvoor is dat die veldtoestandindeks (perseelindeks) normaalweg 'n aanduiding is van die volume voer en kwaliteit van die weiding. 'n Lae veldtoestandindeks is gewoonlik 'n aanduiding van 'n lae voervolume en -kwaliteit, en dus 'n lae weidingskapasiteit. Net so is 'n hoë veldtoestandindeks gewoonlik 'n aanduiding van 'n hoe weidingskapasiteit, omdat dit gewoonlik 'n hoë voervolume van hoe kwaliteit plante bevat. 'n Veld met 'n gemiddelde veldtoestandindeks en dus gemiddelde weidingskapasiteit kan of ‘n gemiddelde voervolume en gemiddelde kwaliteit plante besit, of 'n lae voervolume en hoë kwaliteit plante, of 'n hoe voervolume met lae kwaliteit plante.

'n Verdere voordeel van die ElM is dat indien twee identiese stukke veld geneem word en die een word straf bewei, sal die beweide veld normaalweg 'n laer veldtoestandindeks besit as die onbeweide veld. Die laer veldtoestandindeks is 'n aanduiding van 'n laer bedekking (% S) en dus 'n verminderde fitomassa, al het daar min verandering in die relatiewe plantegroeisamesteIling plaasgevind. 'n Wisselvallige reënval sal ook 'n invloed op die % S van die veld uitoefen. In tye van hoë reënval sal die % S styg, met 'n gevolglike hoër veldtoestandindeks en dus hoër weidingskapasiteit. Gedurende tye van lae reënval of droogtes, sal die teenoorgestelde waar wees. Dus, is die ElM in staat om in 'n groot mate fluktuerende weidingskapasiteit as gevolg van benutting en wisselvallige reënval te meet.

'n Derde voordeel van die ElM is dat dit van 'n veldverwysingspunt (VVP) gebruik maak. Deur 'n beraamde weidingskapasiteit aan die VVP te koppel, kan die weidingskapasiteit van die ander veldtoestandklasse deur middel van die ElM beraam word.

Ander voordele van die ElM is dat dit wetenskaplik gefundeerd en prakties maklik toespasbaar is, veral waarvan die skattingskaal gebruik gemaak word (Vorster, 1981).

 

2. Beraamde weidingskapasiteit van veldverwysingspunt (VVP)

Die VVP wat. vir elke topografiese-eenheid (veldsoort - Roux, 1966) binne die huidige subboerderygebiede of toekomstige Redelik Homogene Boerderygebiede (RHB's) vasgestel gaan word, vorm die basis van die koppeling van weidingskapasiteit aan veldtoestand. So 'n VVP behoort uitstekende toestand veld van so 'n topografiese-eenheid binne 'n spesifieke subboerderygebied of RHB te verteenwoordig. Waar sulke veld nie voorkom nie, moet die huidige "beste" VVP geïdentifiseer word. (Vorster, 1981).

Sulke geïdentifiseerde VVP's word daarna deur middel van die ElM gekarakteriseer, waarna 'n beraamde weidingskapasiteitnorm aan elk van die VVP's toegeken word. Totdat meer wetenskaplike inligting bekend is, kan die toekenning van beraamde weidingskapasiteitnorme deur ervare persone soos weidingkundiges, voorligtingsbeamptes en bewaringsboere gedoen word. Die beraamde weidingskapasiteitnorm per VVP moet in hektaar per KVE uitgedruk word.

 

3. Beraamde weidingskapasiteit van die ander veldtoestandklasse

Die volgende stap is om beraamde weidingskapasiteite aan die ander veldtoestandklasse te koppel, met inagneming van die beraamde weidingskapasiteit van die VVP.

Die aanname is gemaak dat die verskil in weidingskapasiteit tussen veldtoestandklasse vanaf uitstekende veldtoestand tot baie swak veldtoestand progressief groter word (Vorster, 1981). Daar bestaan dus 'n kurvilineêre verhouding in weidingskapasiteitnorme tussen veldtoestandklasse (Fig. 1). Uit ondervinding wil dit blyk dat die volgende breë kurvilineêre verhouding (vanaf uitstekende tot baie swak toestand veld) vir die grootste gedeelte van die Karoogebiede van toepassing kan wees, naamlik, 1,0: 1,5 :2,5 :4,0:6,0 (Tabel 1).

 

 

In plaas daarvan om al die verskillende veldtoestandklasse per topografiese-eenheid binne 'n sekere gebied te besoek en beraamde weidingskapasiteite daaraan toe te ken, kan bogenoemde kurvilineêre verhouding gebruik word om die beraamde weidingskapasiteit van veld in enige veldtoestandklas op soortgelyke topografiese eenhede, vanaf die VVP te bepaal. Dit kan deur middel van die volgende formule geskied.

 

1Verhoudingsfaktor = Breë kurvilineêre verhouding (Tabel 1).

 

PRAKTlESE TOEPASSING

Die volgende voorbeeld kan as 'n praktiese illustrasie dien om die weidingskapasiteit met behulp van die formule te beraam. Veronderstel die VVP van bulteveld (topografiese-eenheid) in die Grassridge Komgebied (subboederygebied) is in 'n uitstekende toe stand volgens die ElM en het 'n beraamde weidingskapasiteit van 0,8 ha/KVE. Gestel 'n bulteveld in dieselfde gebied is volgens die ElM as in 'n redelike toestand geklassifiseer. Volgens die verhoudingsfaktor, is die beraamde weidingskapasiteit van daardie bulteveld 2,5 maal swakker as die van die VVP. Dus, volgens die formule, is die beraamde weidingskapasiteit van die geëvalueerde bulteveld: 0,8 x 2.5 = 2 ha/KVE

In die meeste gevalle behoort die verhoudingsfaktor van die beraamde weidingskapasiteit van die VVP = 1 te wees, maar in sekere gevalle kan dit gebeur dat die VVP nie uitstekende toestand veld verteenwoordig nie. In sulke gevalle sal die verhoudingsfaktor (deler in die formule) gelyk aan die veldtoestandklas van die VVP wees. Om laasgenoemde aspek te illustreer, sal die volgende voorbeeld gebruik word. 'n VVP van vlakteveld in die Grassridge Komgebied is volgens die ElM as in 'n goeie toestand geklassifiseer, met 'n beraamde weidingskapasiteit van 2,0 ha/KVE. Die verhoudingsfaktor van hierdie veld is 1,5. 'n Ander vlakteveld in dieselfde gebied word met die ElM as in 'n swak toestand geklassifiseer. Dus, sal die beraamde weidingskapasiteit van laasgenoemde vlakteveld

 = 5,3 ha/KVE wees.

 

BESPREKING

Die koppeling van beraamde weidingskapasiteite van veldtoestandklasse is slegs 'n breë benadering om die huidige ad hoc- beramings van weidingskapasiteit in 'n groot mate te vervang. Dit behoort te verseker dat die variasie in beraming van weidingskapasiteit tussen persone in 'n groot mate uitgeskakel word. Daar word deeglik besef dat hierdie koppeling van beraamde weidingskapasiteite aan veldtoestandklasse nie volmaak is nie, maar dit wil egter blyk dat hierdie benadering wel belofte inhou vir praktiese gebruik vir optimale veldbenutting.

Die grootste gebrek van die benadering in die huidige stadium is die feit dat die beraamde weidingskapasiteite van die VVP's, asook die verhoudingsfaktor tussen veldtoestandklasse (Tabel 1), subjektief bepaal word. Wat eersgenoemde betref, behoort die beraming van weidingskapasiteite van die VVP's deur kundiges nie afbreuk te doen aan die akkuraatheid van die beramings nie, want Roux (1979) het tot die gevolgtrekking gekom dat, met die nodige voorsorgmaatreëls en ervaring, akkurate beramings van weidingskapasiteit wel gemaak kan word. Die voorgestelde verhoudingsfaktore (Tabel1) kan as 'n beginpunt beskou word. Die moontlikheid bestaan wel dat die verhoudingsfaktore tussen boerderygebiede of tussen topografiese eenhede binne 'n boerderygebied verskillend kan wees. Heelwat navorsing sal gedoen moet word om die subjektiwiteit wat by hierdie benadering bestaan, in 'n groot mate te kwantifiseer.

 

VERWYSINGS

ANONIEM, 1973. Ontwikkelingsplan van die Karoostreek. Dept. Landbou-tegniese Dienste (Roneo).

CONDON, R.W., NEWMAN, J.C. & CUNNINGHAM, C.M., 1969. Soil erosion and pasture degeneration in Central Australia. Part III - The assessment of grazing capacity. Ext. .l Soil Conserv.. N.S.W. Vol. 25 (1), 225-249.

DREWES, R.H. & STEYN, J .A., 1979. Studiereis na die V.S.A. Julie/Augustus 1979. Dept. Landbou en Visserye, Hoëveldstreek, Potchefstroom.

ROUX, P.W., 1966. Beginsels van veldbeheer in die Karoo en aangrensende droe grasveldstreke. Hfst. XIX in: Die Kleinveebedryf in Suid-Afrika: Saamgestel deur W.J. Hugo, Staatsdrukker, Pretoria.

ROUX, P.W., 1979. Directorate committee for agricultural regional development. Conservation of veld (carrying capacity) (Unpublished).

TAINTON, N.M., EDWARDS, PJ. & MENTIS, M.T., 1980. A revised method for assessing veld condition. Proc. Grassld. Soc. sth. Afr: 15.37-42.

TIDMARSH, C.E.M., 1951. Pasture Research in South Africa, Progress Report No. III, Part 1 – Veld Management Studies at the Grootfontein College of Agriculture: 1934-1950. Govt. Printer, Pretoria (Roneo). .

VORSTER, M., 1981. 'n Belowende tegniek om veld in die Karoogebiede te beoordeel. Karoo Agric. Vol. 2, No. 1.

 

Published

Karoo Agric 2 (2), 17-20