Last update: March 29, 2012 08:24:14 AM E-mail Print

 

DIE BENUTTING VAN LUSERN ONDER BESPROEIING VIR INTENSIEWE MERINOSKAAPPRODUKSIE

 

A G BEZUIDENHOUT

Cradockproefperseel

Posbus 248

Cradock 5880

 

1. INLEIDING

Lusernverbouing is een van die hoofboerderyvertakkings in die Groot Visrivier besproeiingsgebied. Alhoewel die lusern in die vorm van hooi benut word, vind 'n verskuiwing in die boerderypatroon vanaf hooiproduksie na intensiewe diereproduksie plaas. Weens die seisoensgebonde reproduksiepatroon van Merinoskape sowel as die seisoensgebonde groeipatroon van lusern, bestaan daar talle leemtes ten opsigte van 'n doeltreffende benuttingstelsel van lusern deur reproduserende wolskape.

Die voedingswaarde van lusern kan aansienlik verskil gedurende die verskillende stadia van groei (Martin, Leonard & Stamp, 1976). Namate lusern die blomstadium nader, verander die blaar- tot stingelverhouding daarvan met gevolglike verlaging in voedingswaarde. Weens die seisoenale groeipatroon van lusern, kan dit slegs gedurende die somermaande vir hooiproduksie gesny of bewei word. Indien dit vir hooiproduksie gesny word kan dit dwarsdeur die jaar in voerkrale gevoer word. Indien lusern hoofsaaklik as weiding benut word moet 'n alternatiewe metode van voervoorsiening gedurende die winter egter gevind word. Kleingraan wat 'n hoë voedingswaarde het (Van Wyk & Verbeek, 1945) kan in hierdie opsig 'n belangrike rol vervul.

Ondersoek is ingestel na die benutting van lusern deur reproduserende Merino-ooie, terwyl inligting oor die voordeligste groeistadium vir beweiding, weidingstelsels en ander bestuurspraktyke ook ingewin is.

 

2. PROEFPROSEDURE

In 'n ondersoek wat op die Cradockproefperseel uitgevoer is, is lusern as gemaalde hooi in die voerkraal gevoer en ook op twee verskillende groeistadia, naamlik die tien persent blomstadium en die 15 tot 20 cm groeihoogte, bewei. Agt-en-sewentig ongeselekteerde twee- tot viertand  Merino-ooie is in drie groepe verdeel en vir die ondersoek gebruik. Gedurende die wintermaande het die twee beweidingsgroepe, na onderverdeling, onderskeidelik Scheepers 69 koring bewei en lusernhooi in die voerkraal ontvang.

Na paring met Afrinoramme gedurende die herfs, het die voerkraalgroepe gedurende laat-dragtigheid en laktasie 'n 80 persent lusernhooi : 20 persent mieliemeelrantsoen ontvang, terwyl die verskillende beweidingsgroepe nie energie-aanvulling ontvang het nie. Die lammers is op 100 dae ouderdom gespeen deur die ooie uit die verskillende groepe te verwyder. Slegs die lammers in die voerkraal het addisionele aanvulling ontvang deur middel van die 20 persent mieliemeel wat in die rantsoen ingesluit is. AI die lammers is op ongeveer 27 weke ouderdom geslag.

 

3. RESULTATE EN BESPREKING

3.1 Benutting van lusernhooi in voerkraal

Die gemiddelde daaglikse droëmateriaal inname van die droë ooie was ongeveer 1 400 g lusernhooi per ooi wat 46 persent hoër was as die benodigde inname vir onderhoud, naamlik 960 g per ooi (NRC, 1975). Tydens dragtigheid het die ooie se gemiddelde daaglikse droëmateriaal inname gestyg tot 1561 g per ooi waarna dit gedurende die laaste ses weke van dragtigheid afgeneem het tot slegs 1381 g per ooi. Hierdie daling in voerinname is in ooreenstemming met die bevindings van verskeie navorsers (Forbes, 1970; Forbes, 1977; Foot & Russel, 1979) en vind plaas as gevolg van die afname in beskikbare rumen volume. Laasgenoemde is die gevolg van die vinnige groei van die fetus gedurende die laaste ses weke van dragtigheid (Geisler & Jones, 1979). Die laer voerinname tydens laat-dragtigheid het tot gevolg gehad dat die ooie ten spyte van die insluiting van 20 persent mieliemeel in die rantsoen, onvoldoende energie ingeneem het (NRC, 1975).

 

3.2 Direkte beweiding van lusern

Lusern is op twee verskillende groeistadiums bewei soos in Tabel 1 aangetoon. Volgens die resultate in Tabel 1 blyk dit dat, ten spyte van die hoër totale droëmateriaal produksie van lusern op ongeveer tien persent blomstadium, beter benutting van die beskikbare materiaal op die 15 tot 20 cm groeihoogte verkry is.

Die swakker benutting van lusern op die tien persent blomstadium kan toegeskryf word aan die groot hoeveelheid materiaal wat platgetrap word deur die skape asook die kaalgevrete stingels wat as gevolg van selektiewe beweiding nie benut word nie. Gevolglik kon 'n hoër gemiddelde drakragpeil gehandhaaf word met beweiding op die 15 tot 20 cm groeihoogte soos in Tabel 1 aangedui.

Met beweiding op die 15 tot 20 cm groeihoogte is korrekte bestuur van die lusern noodsaaklik. Dit moet minstens een keer gedurende die groeiseisoen toegelaat word om uit te groei tot in die blomstadium, anders vind degenerasie van die lusernstand plaas, omdat wortelreserwes uitgeput word.

Volgens die resultate in Tabel 1 is elke kampie slegs vir 'n periode van sewe dae bewei. Die weiperiode kan moontlik verkort word maar moet nie langer as sewe dae wees nie aangesien dit die bestuur van die lusern moeilik maak. Weikampe moet dus klein genoeg wees of voldoende skape per kamp dra om binne vier tot sewe dae kaal gevreet te word. Die afname van die beskikbare materiaal gedurende elke week van beweiding was nie reglynig nie, gevolglik het die skape meer gevreet aan die begin van elke week van beweiding. Langer weiperiodes sal dus lae innames aan die einde daarvan tot gevolg hê sowel as meer vertrapping en meer selektiewe beweiding aan die begin van beweiding.

 

 

Gedurende die wintermaande is die Scheepers 69 koring bewei en met vier weke hergroei-periodes, kon die koring vyf keer bewei word.

Tydens laat-dragtigheid en laktasie was die ooie se energie-inname onvoldoende en dit sal dus voordelig wees om 'n energielek aan die ooie beskikbaar te stel gedurende hierdie periodes. Die voorsiening van swakker gehalte lusernhooi asook koringstrooi aan skape op lusern- en kleingraanweidings kan voordelig wees.

Geen opblaasprobleme is met die Merinoskape op die lusernweidings ondervind nie. Dit kan gedeeltelik aan die selektiewe en minder gulsige vreetgewoontes van die Merino toegeskryf word.

 

3.3 Reproduksie

Larnpersentasie is die aantal lammers lewend gebore as 'n persentasie van die aantal ooie beskikbaar. Volgens die resultate in Tabel 2 was die lam- en speenpersentasies van die ooie in die voerkraal die hoogste terwyl die twee lusernbehandelings nie groot verskille getoon het nie.

 

3.4 Massatoenames en slagmassas van lammers

In Tabel 3 word die resultate van die Afrino x Merino kruisras lammers (lente-lamseisoen) aangetoon. Volgens Tabel 3 was die voorspeense massatoenames hoër op lusernweidings met gevolglike hoër speenmassa as in die voerkraal. Na speen op 100 dae ouderdom was die massatoenames in die voerkraal die hoogste sodat die gemiddelde eindmassas nie betekenisvol verskil het nie. Die lae naspeense massatoenames op die lusernweidings kan toegeskryf word aan onvoldoende energie-inname van die lammers aangesien hulle geen -energie-aanvulling ontvang het nie. Energie-aanvulling (byvoorbeeld 250 tot 300 g mielies per dag) is dus noodsaaklik om vinnige afronding van lammers op lusernweidings te verseker.

 

 

3.5 Drakragpeile

Volgens Tabel 1 was die gemiddelde seisoenale drakragpeile hoër op die 15 tot 20 cm groeihoogte lusernweiding. Gedurende die wintermaande is gemiddeld 37 dragtige ooie per hektaar aangehou op die koringweiding.

Na die lentelamseisoen het die drakragpeile op die lusernweidings afgeneem na ongeveer 22 en 27 ooie per hektaar op die tien persent blomstadium en 15 tot 20 cm groeihoogte onderskeidelik. Nadat die lammers op 100 dae ouderdom gespeen is, was die drakragpeile aanvanklik 60 en 77 lammers per hektaar op die tien persent blomstadium en 15 tot 20 cm groeihoogte onderskeidelik. Daarna het dit gedaal tot ongeveer 40 lammers per hektaar namate die lammers ouer geword het en die hergroei van die lusern aan die einde van die groeiseisoen begin afneem het.

Voorgaande drakragpeile verwys na die aantal ooie of lammers per hektaar per groeiseisoen. Volgens die resultate kan jaarliks ongeveer 25 ooie (met lammers) per hektaar aangehou word op lusern- (somer) en kleingraan- (winter) weidings.

 

3.6 Wolproduksie van ooie

Volgens die gemiddelde woldata, verwerk na 12 maande wolgroei soos in Tabel 4 aangedui, het Groep C (15 tot 20 cm groeihoogte lusernweiding) gedurende die droë periode die hoogste wolproduksie gelewer met 'n gemiddelde skoonvagmassa van 6,32 ± 0,89 kg per skaap. Aan die einde van dragtigheid en laktasie was die gemiddelde skoonvagmassa van Groep A (voerkraal) die hoogste, naamlik 6,92 ± 0,93 kg, wat onderskeidelik 8,13 en 4,85 persent hoër was as die van Groep B (tien persent blomstadium) en Groep C (15 tot 20 cm groeihoogte). Groep B het gedurende beide periodes die laagste wolproduksie gehad, terwyl Groep C deurgaans die hoogste rouvagmassa gehad het wat aan die hoë ruproteïen inhoud van lusern op die 15 tot 20 cm groeihoogte toegeskryf kan word.

 

 

Die resultate in Tabel 4 toon verder dat die wolproduksie van al die groepe hoër was aan die einde van laktasie as aan die einde van die aanvanklike droë periode. Die gemiddelde skoonvagmassa was aan die einde van laktasie onderskeidelik 14,95 persent (P < 0,01), 11,69 persent (P < 0,05) en 4,43 persent (P > 0,05) hoër by Groepe A, B en C. Hierdie steeds stygende wolproduksie kan aan die verandering in die voeding vanaf veldweiding voor die aanvang van die proefperiode toegeskryf word. Gevolglik het die hoër voedingspeil in die voerkraal en op aangeplante weidings, ten spyte van die lamseisoen, nog steeds 'n aanpassingseffek op die wolproduksie van die ooie gehad.

Volgens die Afdeling Landbouproduksie Ekonomie was die gemiddelde 12-maande wolproduksie van fynwolskape in die Karoostreek 5,70 kg per skaap gedurende 1980/81. In vergelyking met die gemiddelde rouvagmassas van die verskillende behandelings was die wolproduksie onder intensiewe toestande na 'n lamseisoen dus 57,19 persent (tien persent blomstadium) tot 66,84 persent (15 tot 20 cm groeihoogte) hoër as op veldweiding.

Volgens Jones (1970) was die rouwolproduksie van Merino-hamels op besproeide grasklawerweidings 6,2 kg per skaap met 'n beweidingsintensiteit van 39,5 skare per hektaar, wat as 'n moontlike wêreld wolproduksie rekord van 245 kg wol per hektaar beskou is. Met 25 reproduserende Merino-ooie per hektaar per jaar en met 'n gemiddelde rouvagmassa van 9,51 kg (Groep C) beteken dit 'n produksie van 237,75 kg wol per hektaar wat baie goed vergelyk met die resultate van Jones (1970).

 

4. GEVOLGTREKKING

Die resultate van hierdie ondersoek toon aan dat goeie gehalte lusernhooi voldoende voedingstowwe bevat om (bo onderhoud) bevredigende groei en wolproduksie te verseker by droë Merino-ooie. Ten spyte van die onvoldoende energie-inname tydens laat-dragtigheid en vroeë laktasie op die kleingraan- en lusernweidings onderskeidelik, het die ooie ooreenstemmend met die voerkraalgroep, bevredigende reproduksie resultate gelewer en het die wolproduksie steeds gestyg. Energie-aanvulling aan ooie tydens laat-dragtigheid en laktasie en aan lammers op lusernweiding, behoort verhoogde skaapproduksie resultate en veral hoër naspeense massatoenames van lammers tot gevolg te hê. Beweiding van lusern op die 15 tot 20 cm groeistadium het die volgende voordelige resultate tot gevolg gehad :

 

Alhoewel die beweiding van lusern hoë bestuursinsette vereis, kan dit met inagneming van die steeds stygende meganisasiekostes 'n toenemende rol vervul in die intensiewe verhoging van vleis- en wolproduksie.

 

LITERATUURVERWYSINGS

FOOT, J.L. & RUSSEL, A.J.F., 1979. The relationship in ewes between voluntary food intake during pregnancy and forage intake during lactation and after weaning. Anim. Prod. 28, 25-39.

FORBES, J.M., 1970. Voluntary food intake of pregnant ewes. J: Anim. Sci. 31, 1222-1227.

FORBES, J.M., 1977. Interrelationships between physical and metabolic control of voluntary food intake in fattening, pregnant and lactating mature sheep: A model. Anim. Prod. 24,91-101.

GEISLER, PAMELA A. & JONES, C.M., 1979. A model for calculation of the energy requirements of the pregnant ewe. Anim. Prod. 29, 339-355.

JONES, G.O., 1970. Irrigated pasture sets a wool production record. J: Agric. Victoria, 582.

MARTIN, J.H LEONARD, W.H & STAMP, D.L., 1976. Principles of field crop production. New York: Macmillan. N.R.C., 1975. National Research Council. Nutrient requirements of sheep. Washington: N.R.C.

VANWYK, H.P.D. & VERBEEK, W.A., 1945. Wheat as grazing for fattening oxen. Fmg. S. Afr. 20,235-238.

 

Published

Karoo Agric 3 (3), 3-6 Merinotelers kwartaalblad 56 (4)