Last update: April 11, 2012 02:55:29 PM E-mail Print

 

Bereiding van Merinoskape vir Tentoonstelling

W. A. Stahl

 

DAAR is baie goeie skape wat nie ten volle na waarde geskat is op tentoonstellings en verkopings in Suid-Afrika nie, omrede die skape, as gevolg van onverskillige behandeling gedurende die voorafgaande twaalf maande, nie op hul beste gelyk het nie.

Daar steek baie waarheid in die bewering dat voeding helfte van die teling is. 'n Skaap kan nie al sy goeie eienskappe wys as dit nie die nodige behandeling ontvang het nie.

 

Vervalsing

Daar bestaan 'n verskil tussen vervalsing en goeie behandeling vir tentoonstellingsdoeleindes. Byvoorbeeld, die uithaal van plooie uit die wange, uittrek of skroei van hare of growwe vesels, uittrek of uitborsel van steekhaar, en skeer om die liggaamsbou van skape reg te kry, moet as vervalsing beskou en afgekeur word, terwyl ligte mate van mikskeer, bedekking met komberse, behuising en goeie voeding, beskou word as goeie behandeling vir tentoonstellingsdoeleindes.

Enige teler wat skape op 'n tentoonstelling wil plaas, moet goed toegerus wees en ook bereid om alles moontlik te doen gedurende die twaalf maande voor die tentoonstelling.

Die diere moet uitgesoek word dertien maande voordat hulle op die tentoonstelling geplaas word, en 'n maand voordat hulle geskeer word, moet hulle volle rantsoene ontvang, soos hieronder aangedui, om die wol goed en gesond te laat groei.

 

Skeer en Dip

Die skape moet glad geskeer word, en die datum van skeer opgeteken word. Die gewone praktyk is om skape te dip 'n paar weke nadat hulle geskeer is. Mens kan enige nadelige uitwerking van dip op tentoonstellingskape vermy deur hulle te dip 'n maand voordat hulle geskeer moet word. Dip word egter nie aanbeveel nie, tensy die skape met skaapluise of ander uitwendige parasiete besmet is. Net goedgekeurde skaapdipstowwe moet gebruik word.

Daar is rekords om aan te toon dat daar gevalle is waar goeie skape deur dip doodgemaak is. In sulke gevalle is die diere in 'n vars aangemaakte dip oplossing geplaas. Dis dus nodig om die voorsorgmaatreël te neem om eers 'n paar minderwaardige skape, soos ou-ooie of uitvang-ooie te dip, voordat die tentoonstellingskape gedip word.

 

Voeding

Voeding moet bestaan uit groen weiding, hooi en graan, tesame met die vereiste mineraalstof, in die meeste gevalle fosfate. Die weiding kan bestaan uit lusern of gemengde grasse, of by voorkeur albei. 'n Mengsel van wintergrasse wat bestaan uit sê, 5 lb. Lang blomgras, met 2 of 3 lb. Lang swenkgras, lang hawergras, oorjarige roggras en moontlik phalaris elk, kan opgemaak word om teen ongeveer 22-24 lb. per half morg te saai. Dit sal goed wees om ‘n pond of twee lusern of geel klawerblaar ook by die mengsel te voeg.

Die plek wat mens uitkies om hierdie grasse te saai, moet nie kalkagtig wees nie, omdat dit 'n drogende uitwerking op die wol het; kies diep, donker klei-agtige spoelgrond. Onderverdeling van weikampe is wenslik, sodat wisselweiding toegepas kan word.

Die skape moet elke more 'n graanrantsoen kry, wat bestaan uit gelyke dele mielies en hawer; begin met 'n paar onse per skaap per dag. Na gelang van die ouderdom, kondisie en gewig van die diere kan die rant so en vermeerder word tot 1½ lb. per skaap per dag. As die skape te vet word, moet die hoeveelheid mielies in die rantsoen verminder word; dis nie nodig om die mielies te breek nie. Die. diere moet altyd toegang hê tot lusernhooi van goeie gehalte wat in voerrakke geplaas is.

Daar kan nie genoeg nadruk gelê word op die noodsaaklikheid van skaduwee nie; skape staan op 'n hoop in die koelte, en word gou vol stof. Om dit te voorkom; is dit baie wenslik om 'n draagbare afdak (skuiling) te hê. As dit nodig is om die weikamp te besproei, is dit miskien wenslik dat die akkers verdeel word deur vore and nie deur walle nie, want skape is geneig om op die walle wat gewoonlik stowwerig is, te loop en te lê. Skoon drinkwater sowel as 'n geskikte skuur waar die skape, in geval van reën en stofstorms, ingeja kan word, is noodsaaklik. Die vloer van die skuur moet by voorkeur van latte gemaak wees, sodat die mis en urine kan deurval, of anders moet daar altyd genoeg skoon beddegoed op die vloer wees.

 

Komberse Omsit

Wat bedekking met ligte komberse betref, kan ons geen vaste reëls neerlê nie. Die vernaamste doel is om stof- en vuilgoed uit die vag te hou, en om die punte teen verwering en gevolglike verslegting te beskerm. Ondervinding kan 'n mens alleen leer wat die beste manier is om die skape te bedek. In hierdie verband moet die indiwiduele benodighede van elke skaap bestudeer word. As 'n skaap oor die nege maande wol het, moet net ligte komberse gebruik word om te verhoed dat die vag plat gedruk word. Dis noodsaaklik om die skape te klee 'n week of twee voor die tentoonstelling.

Die diere kan dag en nag in kampe loop, behalwe in reënerige weer wanneer hulle onder dak gebring moet word. Moenie die skape onnodig bangmaak of rondja nie, omdat dit oorverhitting veroorsaak, wat hulle te veel sal laat sweet, en die vag moontlik kan verkleur. Die skape moet noukeurig dopgehou word of hulle nie opblaas, baklei, of brommers, of uit- en inwendige parasiete het nie. As die mikke van die skape vuil word, kan hulle effens gemikskeer word en die plek met 'n bietjie sagte seep en warm reënwater gewas word. Die peesters van ramme moet gereeld geïnspekteer, en wanneer nodig, skoongemaak word.

 

Knip van Hoewe en Horings

Dis ook nodig om die hoewe gereeld te knip, want as hulle toegelaat word om te lank te word, is dit moeilik om hulle weer reg te sny sodat hulle weer hul normale vorm het. Dit gebeur dikwels dat swaar ramme lam is omdat hul kloue verwaarloos is.

Die skerp punte van die ramme se horings moet afgesaag en rond gemaak word; dit verbeter die voorkoms van die skape en verhoed dat die komberse en vagte van die ander skape beskadig word. Al die skape lyk nie noodwendig op hul beste as hulle twaalf maande wol het nie. 'n Gladde-lyf skaap, waarvan bekend is dat hy wol met 'n buitengewone lengte het, sal waarskynlik die beste lyk met 'n tien maande vag, terwyl verwag kan word dat 'n ontwikkelde skaap met korter wol 'n beter vertoning met 'n twaalf maande vag sal maak.

Uit 'n opvoedkundige oogpunt, moet die voorbereiding en vertoning van tentoonstellingskape aangemoedig word, omdat vertoners leer deur hul skaap gedurig te hanteer, en ook deur hulle met ander skape op die tentoonstellings te vergelyk.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 8