Last update: April 10, 2012 12:17:31 PM E-mail Print

 

Beveilig die Waarde van ons Wolskeersel

Dr. L. L. Roux

 

DIE gemiddelde jaarlikse wolopbrings van die Unie van Suid-Afrika is ongeveer 200 miljoen pond (vetwolgewig) en die waarde van die skeersel sowat £13 miljoen. Skaapboerdery is vir baie duisende boere sowel as vir baie honderde ander persone wat by die bemarking en distribusie van die produkte daarvan betrokke is 'n belangrike bron van inkomste.

Die grootste gedeelte van die Unie se skeersel bestaan uit merinowol van besonder hoë gehalte; die wol van hierdie land staan bekend vanweë die uitstekende hantering en sagtheid daarvan wat heelwat bydra tot die waarde daarvan as tekstiel vir die vervaardiging van stowwe van hoë gehalte. Gedurende die afgelope wolseisoen het merinowol van goeie gehalte van. 20 tot 26 pennies per pond behaal.

Langdurige droogtes beïnvloed die normale groei van wol, en siektes soos bloutong en inwendige parasiete veroorsaak swaar verliese. Dit is bekend dat die Unie se jaarlikse wolskeersel as gevolg van hierdie nadelige faktore soms met baie duisende bale verminder het. 'n Daling van 1 pennie per pond in die wolprys beteken 'n vermindering van meer as £800,000 in die land se jaarlikse inkomste van daardie produk.

Verbeterde metodes van bestuur met die resultate van wetenskaplike navorsing as leidraad het sommige van hierdie gevare uitgeskakel en die uitwerking van ander versag. Goeie opbringste en die beste gehalte sal maksimum winste lewer en om hierdie dinge te behaal, moet bestuurmetodes toegepas word wat die geskikste is vir die bepaalde omstandighede. Boere moet hul bestuurmetodes van tyd tot tyd ondersoek of op die proef stel; want metodes wat 5 of 10 jaar gelede bevredigend was, mag nie meer doeltreffend wees nie.

In die afgelope tyd en veral gedurende die oorlogstydperk het ander steurende faktore die merino teeltbeleid beïnvloed. Baie beweer dat dit merino’s aan gehardheid ontbreek, dat hulle verpot bly, aan brommerbesmetting blootgestel is en dat hul wol deur steekgras bederf word. Ander is van mening dat die grootste bedreiging die mededinging van kunsvesels is. Die meeste mense skyn dit eens te wees dat dit die maklikste oplossing sou wees om van die merino af te sien. Kruising het die aantreklikste vooruitsigte gebied want daar is verwag dat n kruisskaap teen bovermelde nadelige faktore bestand sal wees; daarbenewens was die pryse van skaap- en lamvleis goed terwyl die wolpryse van die kruisskape ook op 'n hoë peil staan. Daar kan natuurlik geen kritiek uitgespreek word teen die aanvaarding van kruisteeltbeleid nie.

Wat egter belangrik is, is dat die boer moet verseker dat die verandering 'n groter wins sal oplewer en dat dit makliker aanpassing moontlik sal maak wanneer die vraag na skaapprodukte weer na die vroeëre peil terugkeer. Die huidige neiging tot kruising het gedurende vorige tydperke van oorlog ook voorgekom.

 

Produksieverhoudings

Produksieverhoudings wat saamgestel is volgens gegewens van die tien vernaamste wolproduserende lande in die wêreld bring die volgende aan die lig: Gedurende die tydperk 1890-92 was die merino wolopbrings twee maal so hoog as die wol van kruisskape. Syfers vir die daaropvolgende ag jaar toon 'n aanmerklike toename in, die produksie van kruisskaapwol, wat grootliks aan die ontwikkeling van verkoelingsinstallasies toe te skryf is. Van 1903 tot 1910 het die merino wolopbrings as gevolg van ontwikkelings in Suid-Afrika toegeneem; in 1910 was die. verhouding 1.26 lb merinowol vir 1 lb kruisskaapwol. Gedurende die oorlogstydperk 1914-18 is die produksie van kruisskaapwol aangemoedig hoewel merinowol ook 'n vermeerdering getoon het. In 1920 was die verhouding 3 merino's vir 4 kruisskape. Vanaf 1920 het vredestoestande die vraag na merinowol verskerp en hierdie toename is tot 1928 volgehou. Vanaf hierdie jaar het die verhouding van 1.15 merinowol tot 1.0 lb. Kruisskaapwol taamlik bestendig gebly totdat die abnormale behoeftes van die huidige oorlog ontstaan het. Die vermindering van die vraag na kruisskape aan die end van die eerste wêreldoorlog (1914-18) het merinopryse laat styg tot byna vier keer die waarde van kruisskape. Met die prysineenstorting van 1921-22 was die pryse van kruisskape slegs 1/5de van die van merino's en gedurende die depressie van 1922:-33 slegs ⅓de daarvan. Van 1933-1939 was daar 'n aanmerklike daling in merinopryse wat waarskynlik vererger is deur die verhoogde vraag na kruisskape om strategiese redes.

 

Gesonde Teeltbeleid Noodsaaklik

'n Saak wat veral beklemtoon moet word, is dat as kruisteelt toegepas word dit nie na willekeur moet geskied nie, aangesien doellose kruisteelt altyd nadelig is. 'n Besliste teeltbeleid moet gevolg word. Die prosedure sal afhang van die materiaal wat beskikbaar is en van die bestuurstoestande, veral van die voer. As die maksimum hoeveelheid voer beskikbaar is, soos byvoorbeeld onder besproeiing, moet ooie van groot liggaamsbou, goeie woleienskappe en hoë vrugbaarheidsvermoë, wat goed melk gee, soos Romney Marsh gekruis met merino of Dorset Horn gekruis met merino, met ramme soos die Southdown gepaar word. Hierdie paring sal 'n lam lewer van goeie gehalte wat vinnig groei en wat op die ouderdom van 90 tot 110 dae 'n bemarkbare lewendige gewig van 60-65 lb. kan bereik. Onder goeie veldtoestande selfs met 'n mate van aanvullende voeding, soos groen graanweiding kan dieselfde skaapmateriaal slegs 80 persent sukses lewer. Die voedingsbehoeftes van hierdie kruistipe ooi is hoër as die van die merino. Merino-ooie is nie heeltemal ongeskik vir kruisteelt nie, maar hulle moet goed uitgegroei en breed gebou wees, en moet in goeie kondisie gehou word anders sal hulle nie lammers wat vinnig groei en binne sowat 3½ tot 4 of selfs 5 maande 65 lb. kan bereik, teel nie. Ramme van meeste van die verbeterde vleisrasse is geskik vir gebruik by merino's. Die Southdown word veral aanbeveel. Suiwergoeteelde vleisrasramme is aan siektes onderhewig, veral aan longsiektes, derhalwe word graadramme soos byvoorbeeld ¾bloed Southdown-swartkoppersies aanbeveel. AIle lammers moet verkoop word wanneer hulle bemarkbare gewig bereik.

As een of ander van die geharde nie-woldraende rasse onder dorre en halfdorre toestande gebruik kan word vir lamteelt en vleisproduksie sal dit verkiesliker wees as om merino's te gebruik omdat eersgenoemdes meer gehard en vrugbaarder is. In hierdie geval word Southdown- en Dorset Horn-ramme aanbeveel. Om bostaande redes word graadramme ook by hierdie stelsel van kruisteelt aanbeveel. Waar toestande ongunstig is, sal die teel van hoër graad vee uit die verbeterde vleisras nie 'n sukses wees nie omdat graadskape hoër as die halfbloedpeil gehardheid verloor. Halfbloedramme kan voortdurend gebruik word ten einde 'n tipe te teel wat die gewenste eienskappe van die halfbloed het, naamlik gehardheid, goeie vrugbaarheid en hoe melkopbringsvermoë.

Die mees afbrekende stap wat gedoen kan word, is om ramme van sulke rasse soos die Swartkop-Persiese, Ronderib-Afrikaner, ens. in merinotroppe te gebruik uitsluitlik met die doel om lewenskragtigheid en gehardheid in te teel. Hierdie nie-woldraende rasse sal verantwoordelik wees vir die voorkoms van hare en gekleurde vesels wat die skeersel sal bederf. Sommige boere is van mening dat hulle groter lywe, gehardheid en lewenskragtigheid sal verkry deur een of ander van die verbeterde witwolvleisrasse met groot liggaamsbou in te voer.

Die halfbloedskape wat hieruit verkry word, mag hibridiese lewenskrag aan die dag Iê, maar hulle is kruisskape en lewer as sulks die wol van kruisskape. Met die teel van hoër graad vee uit die vleisras verminder die stamina wat - die halfbloedskaap mag gehad het en as die veld nie eers die merino kan dra nie sal dit nog minder in staat wees om die grootlyf-graadskaap te dra. Die ander weg is terugkruising van die halfbloed met die Merino.

Dit is onwaarskynlik dat graadskape wat hierdeur verkry word 'n verbetering op die oorspronklike merino sal wees as die peil van die omgewing en die bestuur nie verbeter het nie. Dit word beslis nie aanbeveel dat halfbloedramme van Corriedale- en Palworth-oorsprong by merinotroppe gebruik word nie.

Gelukkig besef sekere merinotelers dat verkeerde teeltstelsels en bestuurmetodes skape van swak prestasie, onekonomiese opbringsvermoë en van lae vrugbaarheid gelewer het. Dit is verblydend om te sien dat hulle nou die ontwikkeling van merinotipes beoog wat meer geskik vir hul bepaalde toestande is en dat baie begin besef dat gesondheid en lewenskrag noodsaaklik is vir die verkryging van hoë wolopbringste.

 

Die Toekoms van Wol

Niemand kan op die oomblik met enige mate van sekerheid verklaar wat die toekoms vir wol inhou nie. Wol is een van die belangrikste grondstowwe by internasionale handel en die toekoms daarvan hang ongetwyfeld in groot mate af van internasionale handelsooreenkomste en finansiële reëlings. Die mening is uitgespreek dat “...die insluiting van wol by 'n grootskaalse internasionale verpoelingskema wat in werking gestel is vir 'n groot verskeidenheid primêre produkte van meer as groepsbelang kan wees deur daartoe by te dra dat daardie mate van algemene ekonomiese bestendigheid deur die hele wêreld geskep word wat 'n noodsaaklike vereiste vir na-oorlogse voorspoed is ". Wol is die beste tekstielproduk wat na die staking van vyandelikhede in oorvloed beskikbaar sal wees. Wol sal 'n belangrike rol vervul by die kleding en beskerming van die groot massas mense wat selfs nie oor die eenvoudigste lewensmiddele sal beskik nie. Sodra arbeid en masjinerie beskikbaar gestel kan word, sal die verskeie miljoene bale opgehoopte wol goed gebruik word.

Van die onderwerp van mededinging van sintetiese vesels kan nie liggies afgestap word nie. Die wêreld se rayon-opbrings het van 10.4 miljoen pond in 1923 tot 2,381 miljoen pond in 1940 gestyg. Van die vier belangrikste veselsoorte (katoen, wol, rayon en sy) verteenwoordig rayon en wol onderskeidelik 13 en 12 persent van die wêreld se totale opbrings. Na die mening van sommige sal die grootste invloed van die mededinging van kunsvesels eers sowat 5 jaar na die oorlog ondervind word. Deskundiges op die gebied van tekstielsake Iê nadruk op die behoefte aan deeglike en gedurige navorsing na alle aspekte van die produksie, bemarking en vervaardiging van wol ten einde te verseker dat 'n produk van die –hoogs moontlike tekstielgehalte teen 'n mededingende prys gelewer word, om onnodige uitgawe ten aansien van hantering en bemarking uit te skakel, en om doeltreffende metodes vir die vervaardiging van nuwe ligte stowwe van aantreklike ontwerpe uit te vind.

Na ons mening is die beste bydra wat alle wolprodusente kan maak om te verseker dat wol sy plek behou as een van die belangrikste tekstielvesels in die na-oorlogse tydperk, die handhawing van die huidige goeie naam van Suid~Afrikaanse wol deur o.a. te sorg dat die Unie se wolskeersel nie deur die verskyning daarin van sulke ongewenste dinge soos steekhare, gekleurde vesels, ens., benadeel word nie.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 19