Last update: September 2, 2011 10:17:26 AM E-mail Print

 

Bewaring rus op die skouers van elke boer

PW Roux

 

Wanneer 'n bevolking - soos die in die RSA - in 'n ontwikkelings- en dinamiese fase op pad is na industrialisasie, grootskaalse verstedeliking en politieke hervorming verkeer, wit dit voorkom dat die indiwidu feitlik totaal verwyder raak van 'n bewaringsgedagte - uitgesonderd enkele toegewyde indiwidue, Landbou-unies en die Departement." So se dr Piet Roux, weiding deskundige en voormalige Direkteur van die Karoostreek.

Na sy mening beteken dit in wese dat die Staat feitlik as die enigste moontlike effektiewe bodembewaarder kan optree. Die grondgebruiker - met uitsonderings – sal moeilik sonder dwang beweeg kan word om voortdurend behoedsaam teenoor die hulpbronne op te tree en effektiewe maatreëls deurgaans te beoefen.

Dit wil vir dr Roux dus voorkom of grondbewaring by uitstek 'n Staatsverantwoordelikheid sol wees en laastens die van die indiwidu.

 

INSENTIEWE

Die indiwidu sal slegs aktief tot bewaring toetree wanneer daar aanvaarbare insentiewe - dit is subsidies, lenings ens. - op die spel is vir minimum teenprestasies, of andersins, wanneer wetlike dwang deur die owerheid uitgeoefen word, sê hy.

Insentiewe en dwang is egter onwaarskynlik en sal bodembewaring dus primêr op die skouers van die grondgebruiker rus. Of hy dit bevredigend sal bybring is betreklik onwaarskynlik, gesien veral teen die agtergrondsgeskiedenis.

Dr Roux het boere egter gemaan, ter wille van hul ekonomiese gesonde voortbestaan, dat hulle hul sal moet uitsit en dwing om bewaringsboerdery te beoefen.

Hy het aanbeveel dat elke boer homself moet vergewis van die beginsels van veldbestuur en die maatreëls teen erosie. Die hoofskakelpunt sou wees die landbouvoorligter, bewaringstegnikus en die Direkteur van die betrokke Streek.

 

WANBALANSE

In die sogenaamde boerdery-ekosisteem manipuleer of eksploiteer die boer die omgewing om aan sy behoeftes te voorsien. 'n Ontwrigting van die boerdery-ekosisteem lei gewoonlik tot die skep van wanbalanse in die sisteem. Hier is dit veral die plantegroei en grond wat die impak van 'n eksploiterende boerdery moet dra.

Dr Roux het bepleit dat  dit besef moet word dat geen grondeienaar in hierdie sisteem as 'n onafhanklike en geïsoleerde entiteit beskou kan word nie. Wat die boer op bewaringsgebied doen, of nie doen nie, raak sy buurman of direk of indirek.

Sogenaamde versnelde erosie vind plaas as gevolg van die gebruik van die land vir doeleindes waarvoor dit nie geskik is nie. 'n Voorbeeld hiervan is die omploeg van veld vir kontantgewasse op marginale gronde.

Die gevolge van versnelde erosie is meestal van 'n permanente en onomkeerbare aard. Dit volg hieruit dat boerdery sover as moontlik in harmonie met die omgewing bedryf moet word. Dit kan egter nie aldag gebeur nie weens gebrek aan kennis en ekonomiese druk, het dr Roux gesê.

Dit is vir dr Roux uit aIle getuienis duidelik dat te veel vee, gepaard met onoordeelkundige veldbenuttingspraktyke, die grootste enkele oorsaak van die degenerasie van die plantegroei is, met gevolglike versnelde erosie en stimulering van die verwoestyningsproses. Die totale effek hiervan is die verlaging van die doeltreffendheid van reënval met gepaardgaande verlies aan drakrag. 'n Verswarende faktor in die erosieproses is droogtes, het hy bygevoeg.

Dit is egter sy oorwoë mening dat die uitsprake oor erosie en die algemene bewaringsituasie ietwat te negatief gestel is.

Wanvoorstellings ten opsigte van die toestand van die bodem en sy bedekking kan direk aanleiding gee tot oordrewe opvattings, onnodige vrese, en in gevalle vrugtelose of onnodige bewarings- en voorkomende insette.

Dit word tans vereis dat die Staat 'n totale inventaris maak van die natuurlike hulpbronne en hul toestand. Verder word daar prioriteite gestel waar die nodige fondse met die grootste vrug aangewend kan word. In die verlede is daar reeds sleutel erosiegebiede geïdentifiseer en het die Staat deur sy gronderosiebestrydingsprogramme deur die bou van sleutel en ander werke, reuse sukses behaal. Dr Roux ys as hy dink wat die toestand tans sou gewees het as hierdie insette nie gemaak was nie.

Hy het aan die boere gesê dat hulle nooit die potensiaal van hul plase moet onderskat nie. As hulle saam met die natuur speel en die basiese beginsels van bewaring implementeer, hulle die produksievermoë van hul plase aansienlik winsgewend kan verhoog.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief 2