Last update: April 11, 2012 08:47:50 AM E-mail Print

 

As u grond beweeg, is u die volgende om te beweeg

JP du Toit

 

DIT is opmerklik dat die euwel van grondverspoeling eers nadat van Regeringsweë skemas ontwerp en in werking gestel is, daadwerklik bestry word. Omdat daar nog persone is wat die gevaar van grondverspoeling in al sy menigvuldige vertakkings nie ten volle besef nie, is dit nodig om andermaal op hierdie euwel wat die boerdery bedreig, terug te kom.

Jare en jare het verbygegaan waarin nie alleen toegelaat is dat grondverspoeling sy vrye gang gaan nie, maar die euwel is selfs aangehelp deur oorbeweiding wat gepaard gegaan het met die uittrapping van die veld, die oopry van paaie, die ooptrap van 'n menigte voetpaaie wat hoofsaaklik aan ondoeltreffende watervoorrade op plase, en talle van dergelike wanpraktyke gewyt kan word. Onder sulke omstandighede kan dus verwag word dat die grond met oorweldigende vloedwater sal verspoel.

Hoewel die reënval so dikwels hiervoor die blaam kry, is dit deur noukeurige waarneming van die reënval van al die jare bewys dat dit nog dieselfde is as die van vyftig jaar gelede. In ons soek na 'n oorsaak vir die verminderde opbrings en drakrag van plase gryp ons in die lug na die teorie van 'n veranderde reënval in stede daarvan om die oorsaak op die bodem en by onsself te soek.

Of ons dit wil weet of nie, die bedreiging van die boerderybedryf in die vorm van grondverspoeling staar ons in die aangesig - die bestryding of nie-bestryding wat alternatiewe resultate sal oplewer, berus by onsself. Ons gronde het reeds verskuiwe en is nog steeds besig om te beweeg - die volgende aan die beurt om te verskuiwe, is die grondbewoner self.

 

Nut van die Regeringshulp

Gelukkig kan met nadruk verklaar word dat die gronderosie- en waterbewaringskema van die Departement van Landbou en Bosbou hierdie verblydende uitwerking gehad het dat daar 'n algemene ontwaking by die boeregemeenskap te bespeur is in die stryd teen die euwel van grondverspoeling en daarom wil ek graag wys op die vrugte wat die veldtog alreeds opgelewer het.

Sekerlik een van die grootste voorwaartse stappe in hierdie rigting, alhoewel indirek, is die afkamping van plase, en in besonder die afkamping met jakkalsproefdraad in die skaapdistrikte, asook die voorsiening van meer doeltreffender watervoorrade. Sowel uit 'n oogpunt van gronderosie as uit ander boerdery-oogpunte is hierdie afkamping en watervoorsiening van aktuele belang. Hoofsaaklik het dit meegebring 'n besef van die nadele van oorbeweiding as ‘n direkte faktor van grondverspoeling. Die gevolg was dat weggedoen is met die kraalstelsel wat die groot oorsaak van veldvertrapping en die ooptrap van voetpaaie is. By die talle windpompe in die kampe is netjiese baksteen- of konkreetdamme - in plek van die vroeëre swak en ontoereikende watervoorrade opgerig.

Die boere het, oor die algemeen gesproke erosiebewus geword en hoewel daar ongelukkig nog enkele gevalle in distrikte voorkom van plaaseienaars wat nog nie die gevare van grondverspoeling insien nie, behoort hierdie gevalle reeds tot ‘n klein minderheid. Vandag spoel die gronde nie meer na willekeur weg sonder dat dit iemand raak nie. Daar moet so vroegtydig moontlik gewerk word, want hoe langer gewag word hoe groter is die skade. Daarom word die uitdrukking "Ek moes net vyftig jaar eerder begin werk het " so dikwels gehoor.

In hierdie staat van bewuswording is na die fasiliteite van die gronderosiebestrydingskema van die Departement van Landbou en Bosbou gegryp. Progressiewe boere het hierin die voortou geneem en die onderneming is bekroon met konkrete bewyse dat grondherwinning nie sukses gedoen kan word. Ander boere het die voorbeeld gevolg en die resultate daarvan kan dwarsdeur die land in alle distrikte in 'n meerder of minder mate bespeur word. Gronddamme, keerwalle, contourwalle en verskillende soorte klip en konkreetwerke kan oral gesien word - almal monumente van suksesvolle bestryding van grondverspoeling. Dit kan nie gesê word dat al die werke nie verbeter kon word nie, maar dit hoef nie tot mismoedigheid te stem nie. Ondervinding is die beste leermeester, en as 'n persoon met sy eerste onderneming miskien nie die hoogste mate van sukses met sy konstruksiewerk behaal het nie, is daar die beamptes van die Departement sowel as heelwat literatuur oor die onderwerp wat kan meehelp om die volgende onderneming 'n beter sukses te maak.

Terloops wit ek hier daarop wys dat die erosie-bestrydingskemas van die Regering bedoel is om aangewend te word om grond te herwin en om uiteindelik boerderytoestande te verbeter tot voordeel van die huidige geslag en geslagte wat sal kom.

Dit is dus ons plig as grondbesitters om die saak in hierdie lig te beskou en dit met alle erns aan te pak.

 

Voorbeelde van Suksesvolle Werke

Die foto's wat hier verskyn, toon 'n paar werke aan wat met sukses opgerig is, ooreenkomstig die Gronderosiebestrydingskema:

Op foto 1 sien ons die punt van 'n goed en netjies afgewerkte 3-voet wal wat water uit 'n ou pad oor die veld weglei. Hierdie wal is een van 'n reeks wat oor 'n ou pad aangebring is. Dis 'n bekende en een van die doeltreffendste metodes van gronderosiebestryding waar slote in 'n taamlike gelyk oppervlakte gespoel is. Dis 'n tipiese gesig.

 

 

Foto's 2, 3 en 4 toon die pragtige resultate wat verkry is deur 'n keerwal oor 'n sloot. Al die foto's is bo-op die wal geneem. No.2 is die agterkant van die wal en toon die sloot aan wat 8 voet diep is. Die uitwerking op die plantegroei in die sloot kan duidelik gesien word. Sodra vloedwaters nie die los grond wegspoel nie, groei plante weer na die reëns en sodoende herstel die sloot weer aan die agterkant.

 

 

Op foto 3 word die voorkant van die opgeslikte sloot gesien. Langs die kante is duidelik te bespeur hoe die eerste weelderige plantegroei opspruit en wel in die vorm van melkbosse en stinkblare wat gewoonlik eerste hul verskyning maak. Dit maak later plek vir meer waardevolle bosse, struike en gras. Die sloot wat altyd dieper en wyer vreet, is in sy vernielingsgang gekeer en wat meer is, dit het verdwyn en is nie alleen 'n stuk veld herwin nie, maar ook verbeter.

Op foto 4 word aangetoon waar die waters uitstoot. 'n Duidelike kontras is te bespeur tussen die voor- en agterkant van die wal. Toe hierdie foto's geneem is, het die water 'n maand gelede na 'n ligte neerslag uitgestoot.

 

 

Die veld aan die waterkant was groen en waardevolle vleigras het opgeskiet. Die agterkant was egter nog dor en droog.

Bokant hierdie wal is 'n reeks keerwalle oor dieselfde sloot. Die grondgeaardheid is brak, kaal en sonder plante wat tiperend is van verspoelings in baie dele van die Karoo. Hierdie grond het so herstel dat dit vandag 'n vaste vlei met bossies is en geen teken van slote is te bespeur nie.

Foto's 5 en 6 toon twee prestasies op die gebied van damme. Hulle is albei gebou onder die blanke-arbeidskema en albei is voltooi teen minder as £350, die maksimum bedrag wat toegestaan word aan lone vir een dam onder hierdie skema. Die dam op foto 5 is gebou op die plaas Wasbank van mnr. C. Battenhausen, Philipstown, terwyl foto 6 die dam van mnr. Venter, Philipstown, op die plaas Kranskop aantoon.

 

 

Albei hierdie damme lewer bewys wat met die fasiliteite wat hierdie skemas aanbied, tot stand gebring kan word.

Dergelike resultate kan deur enigeen verkry word en die plig rus op plaaseienaars om 'n poging aan te wend ten einde te verhoed, dat hul grond onder hulle uit skuif.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 14