Last update: April 4, 2012 03:39:42 PM E-mail Print

 

BITTERBOS IN DIE KAROO

deur C. M. R. DU PREEZ Karoostreek

 

BITTERBOS (Chrysocama tenuifolia) is ongelukkig een van die algemeenste bossiesoorte in die Karoogebied en in die aangrensende soetgrasstreke. Hierdie bossie maak sy verskyning as die veld uitgetrap is na aanhoudende somerbeweiding.

In sommige dele kom baie digte en amper suiwer stande voor. In 'n sekere sin is dit 'n beskermingsmaatreël van die natuur, aangesien bitterbos een van die onsmaaklikste bossies vir diere is. Vee sal dus geneig wees om bitterbosdele te vermy, maar daardeur weer 'n erger vertrapping elders veroorsaak. Dit is egter ook bekend dat skape onder sekere omstandighede en in sekere gebiede die knoppe en blomme van bitterbossies vreet.

Om die bestuur van bitterbosveld te behartig, was dit nodig om 'n ondersoek na die groei en produksie van bitterbos onder spesifieke klimaatsomstandighede te onderneem.

 

PROEF

Die plantmateriaal wat die bossies produseer, is gemeet deur omtrent 60 persent van die kroon van 'n bossie af te knip en 'n sifdraadhokkie wat presies die vorm van die oorblywende gedeelte het, oor die bossie te trek. Na verloop van 'n sekere tydperk is al die late en blare wat deur die sifdraadhokkie gegroei het weer afgeknip. Die droë gewig van hierdie plantmateriaal gee die produksie van die bossie oor die tydperk tussen die twee snysels.

Die proef is met 'n groot aantal bossies gedurende die groeiseisoen herhaal, sodat goeie gemiddelde waardes verkry kon word.

Verder was daar ook 'n groep bossies wat afgesien van die normale reënval, nog 'n bykomende twee duim besproeiing per maand ontvang het. Dit is gedoen om die reaksie van die bossies onder die gunstige grondvogtoestande te ondersoek.

Die groeistadium waarin die plante verkeer en wel die algemene toestand, blaar- en stamgroei, knopvorming, teenwoordigheid van oop blomme en vrugte en saad, is elke maand waargeneem. Daar is ook met gereelde tussenposes grondmonsters geneem om die grondvoggehalte te bepaal en omgewingsfaktore soos reënval, temperatuur en humiditeit is gemeet.

 

Gevolgtrekkings

Op 'n skraalvlakte in die Karoo, waar bitterbossies oorwegend voorkom, is 'n plantopname gemaak en daar is gevind dat die bitterboskrone 11 persent van die oppervlakte bedek, terwyl al die ander bossiesoorte en grasse se krone saam 'n bedekking van 22 persent het. Dit volg dus dat 67 persent van daardie stuk veld geen bedekking het nie. Op 'n morg van die veld is 54,000 bitterbossies getel.

Die reënval, grondvog, temperatuur en humiditeit van Augustus tot Augustus, soos gemeet op die stuk veld hierbo genoem, word in Tabel 1 gegee.

Daar is verder vasgestel dat die bitterbossies gedurende die voorsomermaande Augustus tot November, 'n oplewing in hul groei-aktiwiteit vertoon. Die plante wat 'n besproeiing van 2 duim saam met die normale reënval ontvang het, groei egter heelwat sterker as die plante sonder 'n besproeiing.

 

Temperatuurstyging

Uit Tabel 1 kan gesien word dat die temperatuur vanaf Augustus begin styg. Dit is bekend dat die groei van meerjarige grasse deur die temperatuurstyging geaktiveer word. Op velde wat telkens gedurende hierdie periode bewei is en wat dus in 'n uitgetrapte toestand verkeer as gevolg van selektiewe uitvreet en kort vreet van die grasse, sal die bitterbossies in staat wees om in die openinge wat deur die grasse gelaat is te floreer.

 

 

Reën

Met die aanvang van die reën in Januarie (sien Tabel 1), was daar 'n verdere toename in die groei-aktiwiteit. Die plante wat meer water gekry het, het egter steeds 'n hoër produksie gehandhaaf, wat beteken dat bitteroossies 'n hoë produksiepotensiaal gedurende die warm maande het, mits genoeg vog beskikbaar is. Maksimum produksie is gedurende Februarie bereik, terwyl die meeste ander bossiesoorte later, gedurende Maart of April, hul aktiefste groei vertoon. Hierdie vroeë groei-aktiwiteit van bitterbos stem ooreen met die van die meerjarige grasse. Dit maak bitterbos 'n gevaar vir die uitgetrapte grasveld, omdat hierdie bossie dan in staat is om onder toestande wat eintlik die grasse moes bevoordeel, aktief te groei en toe te neem.

 

Blomvorming

Gedurende Desember en gedurende Maart bet die bossies geblom en saad gemaak. In albei gevalle is gemerk dat die reproduktiewe stadium net na maksimum produksie voorgekom het. Die daling in vegetatiewe groei-aktiwiteit is waarskynlik deur die blomvorming veroorsaak.

Na die blomvorming in Maart en die daling in die gemiddelde daaglikse temperatuur (sien Tabel 1), neem die produksie van die bossies skerp af, hoewel die grondvoggehalte en humiditeit nog hoog is, en afgesien van die bykomende watertoediening op die groep besproeide plante. Dit is dus duidelik dat bitterbossies van Mei tot Julie in 'n onaktiewe groeistadium verkeer. Van Augustus is daar egter weer 'n oplewing in die groei-aktiwiteit te bespeur wat waarskynlik toegeskryf kan word aan die styging in temperatuur en aan vag wat van die vorige reënseisoen in die grond oorgebly bet.

 

Dus...

Omdat skape slegs die knoppe en blomme van bitterbossies vreet, sal dit raadsaam wees om bitterbosveld net gedurende die blomstadium na die somer te laat bewei en die veld van middel Augustus tot middel Maart te laat rus.

Om bitterbosveld te herstel, val die klem egter op die rusperiode gedurende die somer. Deur hierdie praktyk te volg, sal die grasse weer kans kry om die bitterbossies gedurende die somermaande uit te druk.

'n Sekere mate van benutting van die bitterbossies sal deur 'n beweiding gedurende hul blomstadium na die somer verkry word, wat moontlik ook 'n mate van vertraging in die reproduksie van die bossies sal veroorsaak.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 44 (5)