Last update: August 18, 2011 11:02:23 AM E-mail Print

 

Aansteeklike blindheid ernstige bedreiging

 

CP van den Heever

 

 

Aansteeklike blindheid is besig om ernstige afmetings in dele van die Karoo aan te neem en boere moet bedag daarop wees, se dr C P van den Heever, laboratorium-veearts by die Landboukollege Grootfontein.

Hoewel die virussiekte elke jaar hierdie  tyd kop uitsteek, is die voorkoms vanjaar baie hoër as ander jare. Dit kan toegeskryf word aan die ideale veldtoestande wat in die grootste gedeelte van die Karoo heers na die goeie reën.

Dit is 'n baie algemene siekte onder skape en is hoogs aansteeklik. Dit kan selfs beeste en bokke aantas. Dit word versprei deur insekte, muggies en vlieë.

By skape is Rickettsia clamydia- en moraxella-organismes waarskynlik vir die siekte verantwoordelik.

Dr Van den Heever sê verspreiding kom verder voor wanneer diere in noue kontak met mekaar is, soos in 'n kraal. Stof irriteer die oog dan verder en kan dit laat ontsteek.

Uitbrekings is gewoonlik erger onder jong groeiende lammers. Dit begin met 'n vermeerderde traanvloei, waarna die aangetaste oë gevoelig raak vir lig. Die oë raak opgeswel en rooi en na twee dae begin die horingvlies vaal word wanneer 'n sweer op die horingvlies ontstaan.

Die sweer kan soms bars en die oog  verloor dan sy vog. As dit gebeur, is die skaap permanent blind in daardie oog.

 

Behandeling

Hy sê sommige skape word sonder behandeling gesond, maar behandeling is gewoonlik nodig.

Hy beveel aan dat 'n mengsel bestaande uit die helfte lewertraan en die helfte tetrasiklien aangemaak word en 'n druppel daarvan in die aangetaste oog gegooi word. 'n Tetrasikliensalf – soos mastitissalf - kan ook aan die oog gesmeer word.

Nog iets wat aangewend kan word, is entstof vir besmetlike misgeboorte, wat twee tot vier weke voor speentyd ingespuit word.

Dit is belangrik dat aangetaste skape dadelik uit 'n trop verwyder en afsonderlik behandel word. Behandeling moet vier tot ses dae lank volgehou word.

Hy se 'n dikkerige, olierige smeermiddel wat insekte dood en dus vlieë en muggies weghou - byvoorbeeld PAB - kan om die oog gesmeer word om te voorkom dat die virus verder versprei.

 

Published

Goue vag 19 (2)