Last update: March 29, 2012 08:40:49 AM E-mail Print

 

Boerbok nie veldvernieler nie

 

P Botha

 

VOLGENS dr Pieter Botha, weidingnavorser van die Landboukollege Grootfontein, wat boere tydens 'n Boerbokkursus op Somerset-Oos toegespreek het, blyk dit nou uit navorsingsresultate dat die Boerbok met welslae gebruik kan word om veld te bewaar, te benut en selfs te ontwikkel. Dit is hoog tyd dat die swak reputasie van die Boerbok as draadkruiper en veldvernieler nou vergeet word, het dr Botha gesê.

In 'n proef op die Landboukollege Grootfontein op gemengde grasbossieveld is die dieet wat deur Boerbokke geselekteer was, bestudeer en is gevind dat die diere hoofsaaklik op karoobossies gekonsentreer het.

Daardie karoobossies wat as smaaklik geklassifiseer word, soos swartganna en bloublommetjie, was in groot aanvraag by die bokke. Swartganna was veral baie gesog en het by geleentheid gedurende lente meer as 40% van die totale dieet van die diere uitgemaak.

Verder het die Boerbokke 'n groot hoeveelheid opslag gedurende die somer gevreet. Rolbos en groenbossie was gedurende hierdie tyd baie gewild.

Dr Botha het gesê dat die gemiddelde samestelling van die dieet van Boerbokke 63% uit karoobossies bestaan het. Van hierdie totaal was ongeveer 45% van bossies wat as smaaklik geklassifiseer is. Verder was opslag, veral die sagte eenjariges, ook belangrik in die dieet en bet dit omtrent 'n vyfde van die gemiddelde dieet uitgemaak.

Gras was nie 'n belangrike komponent van die Boerbok se dieet nie, behalwe gedurende die somer, en het toe slegs 11 % van die gemiddelde dieet uitgemaak, het dr Botha gesê.

In die breë gesien het die seleksiepatroon van die Boerbokke baie nou ooreengekom met die algemene groeiritme van karooplantegroei. Karoobossies is dus veral in die lente en herfs, en grasse gedurende die somermaande geselekteer.

Aangesien karoobossies in die winter oor die algemeen groener is as grasse, het die boerbokke hulle dan gedurende hierdie tydperk verkies.

Uit die navorsingsresultate het dit geblyk dat Boerbokke nie baie puntenerig of kieskeurig was wat betref die seleksie van plantspesies as voedsel nie. 'n Totaal van 44 verskillende spesies is uit 'n totaal van 95 spesies geselekteer. Interessantheidshalwe het dr Botha genoem dat Merino-ooie in dieselfde proef slegs 34 verskillende spesies geselekteer het.

Dit is dug duidelik dat Boerbokke nie baie selektief in hulle seleksiepatroon is nie.

As gevolg van hierdie vermoë van die Boerbok om oor 'n wye spektrum van spesies te selekteer is die Boerbok in staat om onder omstandighede waar ander diersoorte begin faal steeds goed te gedy. Hierdie eienskap van Boerbokke is in die verlede deur heelwat boere misbruik met die gevolg dat die Boerbok die skeldnaam van veldvernieler gekry bet.

Dr Botha is egter van mening dat juis hierdie veelsydige seleksiepatroon van die Boerbok met groot vrug in 'n kleinveebedryfstelsel gebruik kan word.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Herfs 1984