Last update: April 5, 2012 09:15:51 AM E-mail Print

 

BOERBOKKE KAN NUTTIG BY BOERDERYSTELSELS INGESKAKEL WORD

LR Steyl

 

Die Boerbok is 'n nuttige plaasdier waarvan die goeie hoedanighede in die verlede dikwels oor die hoof gesien is. Die teling en verbetering van die ras geniet teenswoordig al hoe meer aandag ten einde sy ekonomiese waarde in die boerderybedryf te bepaal.

Vooroordeel en die gebrek aan 'n behoorlik geformuleerde teelbeleid was twee van die grootste struikelblokke in die pad van die ontwikkeling van die Boerbok in Suid-Afrika. Die Boerbok is een van die oudste inheemse kleinveerasse in Suid-Afrika, maar die teling en verbetering van die ras as geheel is in die verlede totaal agterweë gelaat. Die waarde van die Boerbok en sy ekonomiese waarde in ons boerderybedryf is nog geensins wetenskaplik bepaal nie. Daar word egter nou pogings aangewend om navorsing te doen in verband met die Boerbok, wat baie verblydend is. Daar word uitgesien na die resultate, sodat 'n positiewe teelbeleid geformuleer kan word ten opsigte van Boerbokboerdery in Suid-Afrika.

Die Boerbok het in die verlede ‘n groot rol gespeel in die ontwikkeling van sekere boerderystreke. In die toekoms het dit ook nog ‘n groot diens om te vervul en selfs miskien in 'n groter mate as in die verlede. Die Boerbok is 'n ras met voortreflike eienskappe en dit word vandag al meer besef as die hernude belangstelling vir die ras in aanmerking geneem word. Die ekonomiese en biologiese waarde van die Boerbok is nie te versmaai nie en die vooroordeel dat die Boerbok veld verniel, is besig om te verdwyn. Die idee dat die Boerbok 'n vernieler van veld is, is te wyte aan die feit dat daar onoordeelkundig geboer is met hom en dieselfde geld ook vir enige ander kleinveeras.

Die Boerbok word hoofsaaklik aangehou vir vleisproduksie en dit beloof om nog 'n groot rol te speel in die vleishandel in die toekoms, aangesien daar 'n tekort voorspel word. Die vleis van Boerbokke, wat op 'n vroeë ouderdom bemark word, is besonder geurig, sag en aantreklik en uiters gewild by die verbruiker. In teenstelling hiermee is die vleis van 'n volgroeide bok taai en het soms 'n ongewenste geur, daarom is dit belangrik dat Boerbokke op 'n vroeë ouderdom bemark word, liefs voordat hulle ses-tand is.

Die verbeterde Boerbok het 'n goeie bouvorm met 'n goedgevleesde karkas en die vleis is goed deurspek met fyn lagies vet wat dit sappig en smaaklik maak. Bokvleis word op die beheerde mark in slegs twee grade gegradeer - Graad 1 en 2. Graad 1 is 'n vet karkas en Graad 2 'n maer karkas. Van alle bokke bemark op die beheerde mark, gradeer ongeveer 90 persent in die 1ste Graad en gemiddeld behaal bokvleis ongeveer 15c per pond. Uit die oogpunt van 'n vleisras voldoen die verbeterde Boerbok in 'n groot mate aan die vereistes, want die karkas het 'n goedgevleesde bouvorm en die uitslagpersentasie is besonder hoog. Die gegewens in Tabel 1 ten opsigte van uitslagpersentasies op verskillende ouderdomme is gebaseer op beperkte getalle, maar dien tog as 'n goeie leidraad van die verbeterde Boerbok.

 

Tabel 1

Gevoerde Boerbokke

Ouderdom

Lewende gewig

Koue Karkasgewig

Uitslagpersentasie

6-tand (kapaters)

2-tand (ooie)

Lammers

(7-8 maande)

181 pd

109.3 pd

73.6 pd

101.3 pd

58.5 pd

39.2 pd

55.9%

53.5%

53.3%

 

Ongevoerde Boerbokke

Ouderdom

Lewende gewig

Koue karkasgewig

Uitslagpersentasie

Volbek (Kapaters)

6-tand (kapaters)

4-tand (kapaters)

Lammers

(7-8 maande)

198.5 pd 

115 pd

116 pd

71.8 pd

112.5 pd 

58.5 pd

60.5 pd

34.5 pd

56.6 % 

50.9 %

52.2 %

48 %

 

Uit die gegewens in Tabel 1 is dit dus duidelik dat die Boerbok 50 persent en meer uitslag en dat Boerboklammers reeds op 'n baie vroeë ouderdom (7 tot 8 maande) geskik is om te bemark. Die gehalte van die vleis, die bouvorm van die karkas en die uitslagpersentasie word bepaal deur die gehalte Boerbok waarmee geboer word. Daar word gevoel dat die gehalte Boerbok wat in Suid.Afrika aangetref word nog baie ruimte laat ter verbetering. Die gebruik van goeie ramme is noodsaaklik om die gehalte van die kudde spoedig te verbeter tot voordeel van die produsent. Op 'n plaas is 'n Boerbok 'n gewilde slagding, en daarbenewens voorsien bokvleis in 'n groot mate in die behoeftes van die minder gegoede gedeelte van die bevolking.

Die vel van die Boerbok is uiters waardevol en het 'n hoë leerwaarde, en word ook deur Bantoes as bekleedsel gebruik. Sy melk speel 'n belangrike rol ten opsigte van Bantoevoeding en die voorsiening van melk aan minder gegoede gesinne. Bokmelk is uiters geskik vir menslike gebruik want dit is baie voedsaam en maklik verteerbaar.

Die Boerbok is 'n geharde baanbreker met besondere karaktereienskappe wat by ander kleinveerasse ontbreek en sy besondere ekonomiese waarde lê juis in hierdie eienskappe opgesluit.

 

GEHARDHEID EN AANPASSINGSVERMOë

Die Boerbok is 'n uiters geharde ras met 'n groot aanpassingsvermoë, gevolglik word dit onder 'n groot verskeidenheid klimaats- en weidingstoestande aangetref. Die Boerbok is 'n goeie stapper, het stewige bene en beweeg maklik in ruwe bergagtige dele en deur digte struike. Die bok vaar dus baie goed in dorre, droë streke waar die klimaatstoestande te straf is vir ander soorte kleinveerasse en waar die veesuipings beperk is.

Die Boerbok is ook besonder bestand teen- siektes soos bloutong, bloednier, geilsiekte, ens. Sy weigewoontes maak hom ook minder ontvanklik vir besmetting deur inwendige parasiete. Weens sy gehardheid en die geaardheid van sy vel kan die Boerbok gereeld gedip word en sodoende kan bosluise, luise en ander uitwendige parasiete asook die gevreesde siektes wat hiermee gepaard gaan, soos byvoorbeeld hartwater, rooiwater, ens., doeltreffend bestry en uitgeroei word in sekere dele. Met al hierdie genoemde voortreflike eienskappe bet die Boerbok dan ook bekend geword as 'n uitstekende baanbreker wat gebruik word om ondeurdringbare bos- en bergdele te "tem" en toeganklik te maak vir ander kleinveerasse. As gevolg hiervan kan daar vandag op 'n gesonde ekonomiese grondslag met ander tipes vee geboer word.

 

VRUGBAARHEID

Die Boerbok is besonder vrugbaar, en twee- en drielinge kom algemeen onder kuddes voor. Die gemiddelde vrugbaarheidspersentasie kan tussen 150 en 200 persent gestel word. Met goeie versorging en voldoende weiding kan 'n Boerbokooi drie maal in twee jaar lam. Boerbokke is vroeg geslagsryp, maar jong bokramme moet nie te straf gebruik word nie en jong ooitjies moet nie gepaar word voordat hulle minstens 12 maande oud is nie.

 

GROEISNELHEID

Boerbokooie is goeie melkproduseerders en indien met 'n goeie tipe bok geboer word, groei die klein bokkies vinnig uit. Die verbeterde Boerbok is reeds geskik vir bemarking op die vroeë ouderdom van tussen agt tot 12 maande.

 

LEWENSDUUR

Weens sy gehardheid word die Boerbok besonder oud en behou sy reproduksievermoë en lewenskragtigheid tot 'n besonder hoë ouderdom. Gevalle is bekend van Boerbokooie wat oor die tien jaar oud is en nog gereeld lam.

 

VELDBENUTTIGING

Die Boerbok is 'n goeie vreter van hoë groeiende bosse en struike asook van ongewenste pioniergewasse soos byvoorbeeld harde grasse en onsmaaklike struike en sy besondere ekonomiese waarde lê juis opgesluit in die benuttiging van sulke gewasse. In dele met gebroke en bosveld kan die Boerbok dus met 'n groot mate van sukses as 'n benuttigingsfaktor in die beweidingsprogram ingeskakel word.

 

BEKAMP BOSINDRINGING

Die gevaar van bosindringing in Suid-Afrika is vandag omvangryk en dit begin in sekere dele reeds ernstige afmetings aanneem. Die koste verbonde aan die bekamping van bosindringing is hoog, chemies sowel as meganies. Daar is vandag reeds in verskeie dele bewys dat die bok bosindringing doeltreffend bekamp, indien oordeelkundig gebruik.

 

TELERSVERENIGING

Die stigting van die "Suid-Afrikaanse Boerboktelersvereniging" in 1959 het voorsien in 'n langgevoelde behoefte, deur 'n gesaghebbende liggaam daar. te stel vir die bevordering en beskerming van die belange van die Boerbokteler. Aangesien die telers van die Boerbok nou agter een mondstuk geskaar is, is hulle as Telersvereniging beter in staat om 'n eenvormige teelbeleid en seleksieprogram na te volg, en op so 'n wyse die boerbok as ras te verbeter.  Sedert die Telersvereniging gestig is, is daar ook al veel gedoen om die teling van die Boerbok te verbeter en kennis van die ras te versprei. Daar is reeds in geslaag om 'n rasstandaard op te stel en 'n eenvormige teelbeleid neer te lê deur middel van die verspreiding van 'n brosjure en deur jaarliks 'n kursus te hou om die raseienskappe van die Boerbok te demonstreer. Hierdie pogings was tot dusver uiters geslaagd en het 'n wye belangstelling vir die Boerbok gaande gemaak.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 38 (10)