Last update: April 11, 2012 02:27:05 PM E-mail Print

 

‘n Doeltreffende en Goedkoop Brommerval

A. H. de Vries

 

EEN van die bestrydingsmaatreëls vir skaapbrommers is om vlieë in valle of vangers te vang. Hoewel die metode nie juis die oplossing van die brommerplaag-vraagstuk is nie, help dit egter baie om die plaag in bedwang te hou.

 

 

Elke boer behoort minstens een brommerval by elke waterdrinkplek op sy plaas te hê en sommige op ander geskikte plekke, soos by landerye, riviere, digte bome of bosse, en veral by plekke waar skape dikwels bymekaarkom. So 'n val gelaai met 'n stinkende aas trek 'n menigte brommers aan. Afgesien van die menigte brommers wat gevang en vernietig word dien die val ook om brommers weg te trek van rustende skape soos bv. by suipplekke waar skape op die middae lê en rus. Die vlieëvalle moet soveel moontlik in die skaduwee geplaas word, veral in droë en warm streke soos die Karoo.

 

 

'n Geskikte Val.

 

Daar is vandag baie verskillende en doeltreffende valle op die mark, dog die groter valle veral, is baie duur (klein vlieëvalle word nie aanbeveel nie), en dit gaan swaar vir boere, veral nou om 'n genoegsame aantal te bekostig. Om die rede is 'n groot en goedkoop val gemaak en uitgetoets. Dit word as volg gemaak :

 

 

Neem 'n 44-gelling drom wat albei kante toe is en verwyder die een band naaste aan die boom. Kap dan die drom deur op die merk van die band, soos aangetoon in Fig. 1 (a). Vier duim bokant die boom word nou 'n aantal klein gaatjies rondom ingeslaan en baaldraad deurgeryg sodat 'n rooster van draadwerk onderin die drom gevorm word. Op die rooster rus die dooie aas waarmee die val later voorsien word om vlieë te trek [Fig. 1 (b)].

 

Die Pote van die Val

Die volgende stap is om pote aan die boonste gedeelte te sit, sodat die deel bo-oor die onderste gedeelte kan staan en 'n spasie van 2 duim laat tussen die twee gedeeltes. Die spasie is belangrik, want dit is waar die vlieë later moet ingaan. Die pote kan gemaak word van dun pyp (duimspyp), dog ander geskikte yster- en selfs sterk hout kan ook gebruik word. Laasgenoemde sal egter gou log word; en nie so lank hou nie. Drie pote is oorgenoeg en word so geplaas dat hulle ewe ver uitmekaar is. Die pote word vasgesit met sinkboutjies sodat drie duim spasie gelaat word vanwaar die pote vas kom aan die drom tot die onderste rand. Die spasie word later gebruik om die tuit, en plaat vas te sit. Ook moet die pote so lank wees dat, as die hulle vas op die grond staan, daar 'n spasie van twee duim tussen die dromme gelaat word. 'n Vername punt is dat die onderend van die poot nie verder as 4 duim moet staan van die onderste gedeelte van die drom op die grond nie. Fig. II wys die spasies van 2 duim, 3 duim en 4 duim, asook die poot.

 

Die Gaasdraad-tuit of -kone

Maak 'n gat bo in die deksel met 'n deursny van 10 duim. Die gat word bedek met gaasdraad en omdat die lig deur skyn, word die vlieë van onder na bo getrek en so gevang [Fig. I (b)].

Die volgende stap is om die gaasdraad-tuit of -kone te maak: - Neem 'n groot stuk papier en trek twee lyne (min of meer in die middel van die papier), AB en CD wat mekaar met 'n reghoek sny [Fig. III (a)]. Waar die lyne kruis by A sal die middelpunt van die half-sirkel FBG wees.

 

 

Met 'n straal (radius) gelyk aan die deursny van die drom plus 2 duim (die 2 duim is vir die omslaan van die tuit-rand later), en A as middelpunt word die halfsirkel FBG getrek [Fig. III (a)]. Merk nou op CD 'n lyn TO af wat die helfte is van die straal van die sirkel, byv. As die straal 24 duim is dan is TO 12 duim en TA en AO 6 duim elk. Verder word 'n lyn FG getrek wat drie maal die lengte is van TO (36 duim) en wat parallel is met CD en die halfsirkel sny by F en G. FN weer moet net so lank wees as NG. Die lyne FT, TO en OG word nou getrek. Dis gevind dat as die tuit te breed, en veral te lank is, dit nie so goed die vlieë vang nie as wanneer dit korter is. Dis dus wenslik om dit korter en smaller te maak by die tuitpunt wat maklik gedoen kan word deur die lyne FH, HM en MG te trek. (Trek HM sowat twee duim tot 3 duim van, en parallel met TO. Merk verder 'n duim weerskante af van TO en verbind die punte met F en G. Waar die lyne dan sny, nl. H en M, gee dit ons die smaller en korter tuitpunt. Sny nou die figuur FHMGB uit en ons kry die figuur BOOS in Fig. III (b) aangetoon. (Die deursny van. die standaard 44-gelling drom is 22 duim. Twee duim word bygetel en ons het 'n straal van 24 duim. Die mate hierbo aangegee is dus die mate vir 'n 44-gelling drom. Op presies dieselfde manier kan 'n tuit of kone vir enige grootte drom gemaak word: - Byv. meet eers die deursny, tel 2 duim by, en gebruik die maat as straal van die halfsirkel, ens.)

 

 

Die gaasdraad word nou dubbeld gevou en die papier-figuur, nl. FHMGD, daarop geplaas sodat HM na voor wys, met ander woorde sodat HM val op die gedeelte wat omgevou is, maar wat nog aanmekaar is. Die figuur word nou uitgeknip en ons kry 'n gaasdraadfiguur, soos aangetoon in Fig. III (c). Die kante FH en HL word aanmekaar gewerk met dun draad, ook GM en MR. Maak nou 'n aantal gaatjies met ongeveer 'n kwart duim deursny, of sodat 'n potlood maklik kan deurgaan, langs die lyn HM en dan is die tuit. of kone kompleet. Plaas die tuit nou van onder af in die boonste gedeelte drom en slaan sowat 2 duim van die gaasdraad om die onderste rand en maak styf vas met baaldraad, soos in Fig. I (b) aangetoon. Die nou gedeelte van die tuit met die gaatjies staan dan presies onder die opening bo in die drom. Dit is noodsaaklik omdat hiervan afhang die hoeveelheid vlieë wat gevang word.

 

Die Skutplaat

Die volgende stap is die maak van 'n plaat wat die opening tussen die dromme so beskut dat die vlieë maklik kan ingaan, dog nie weer kan terugkeer nie. Neem 'n gladde plaat 7 duim breed en heelwat langer as die omvang van die drom. Sny snitte in die plaat 4 duim uitmekaar en byna dwarsdeur soos in Fig. IV (a) aangetoon (half-duim spasie word behou langs CD). Die gesnyde gedeeltes langs AB word nou sowat 1 duim oormekaar geskuif en vasgeklink met klinknaels, soos in Fig. IV (b) aangetoon. Op die manier word die lengte van een kant, AB, verminder terwyl die anderkant CD dieselfde bly. As die plaat nou in posisie geplaas word dan pas AB om die boonste drom en CD staan weg sodat dit nie die opening tussen die twee dromme heeltemal toemaak nie. As AB nou die regte lengte het, word dit om die onderste gedeelte van die boonste drom, en bo-oor die omslaan-gedeelte van die tuit, gemeet, afgesny en vasgesit met twee klinknaels. As die plaat gemaak word, soos hierbo beskryf, sal dit netjies teen die pote rus waar dit dan styf vasgemaak word met baaldraad. Dit is al wat die plaat nodig het om in posisie te bly. Fig. V wys die plaat in posisie oor die opening en hoe dit vasgemaak is om die pote. Die werking van die plaat is hoofsaaklik om al die lig uit te sluit sodat brommers, wat ingaan na die aas, nie weer terugkeer nie maar opgaan na die lig wat deur die opening skyn bo in die drom. Om die vangs nog te verbeter word die binnekant van die drom, sowel as die binnedeel van die plaat, swart geverf.

 

 

Hoe die Val werk

Die onderste drom is groot genoeg om een hele skaap te hou, dog dis miskien beter om dit stukkend te sny. Onder in die drom word sowat drie gellings sprinkaangif (een deel gif verdun met 50 dele water) gegooi. Al die maaiers wat ontwikkel val in die gif en kom dus om.

 

 

Bygaande foto's toon duidelik aan, eerstens die twee duim opening tussen die dromme, die pote, en ook die deel van die tuit wat omgeslaan en vasgemaak is met baaldraad; tweedens die hele vanger kompleet met die plaat in posisie.

Dromme kan soms verkry word van spoorwegdepots of groot oliehandelaars teen pryse wat soms afwissel van 1s; 6d. tot 5s. Die prys van vangers hang dus af van die prys van die drom en kan enigiets wees van 4s. tot 7s.

Sit vlieëvalle soveel moontlik in die skaduwee, want dit verseker nie alleen 'n groter vangs nie, maar voorkom ook dat die aas te gou uitdroog.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 8