Last update: April 5, 2012 10:17:31 AM E-mail Print

 

Grootfonteinse bydrae tot die Merinobedryf – ‘n Groot stoot vorentoe

 

Scholtz HG

Landboukollege Grootfontein

 

Grootfontein se Merinostoetery het van 1912 so ontwikkel dat dit tans tereg beskou kan word as een van die toonaangewende stoeterye van Suid-Afrika.

DIE afgelope halfeeu is gekenmerk deur snelle ontwikkeling op alle terreine van die wetenskap. Ook op landbougebied het die wetenskap sy invloed laat geld. Die Merino- en wolbedryf het in hierdie tydperk geweldige vooruitgang gemaak en die aandeel van die Landboukollege Grootfontein in hierdie ontwikkeling mag nie te gering geskat word nie.

Voor 1910 was daar weinig doelgerigtheid in die teelt en verbetering van die Merino. So ook was produsente en verkopers nog ongeorganiseerd en goeie bemarkingsgeriewe het ontbreek. Wol is swak geklas en verpak en is meestal deur winkeliers en spekulante opgekoop.

 

Opleiding en Voorligting

Dit was eers met die totstandkoming van die Unie-landboudepartement dat sake 'n ander wending geneem het. Die oortuiging het toe posgevat dat die boer met die beperkte weiding en 'n verskerpte mededinging, genoodsaak was om meer wetenskaplik en ekonomies te boer. Dit was om die rede dat die wenslikheid van na vorsing en die opleiding van boere duidelik besef is.

In 1910 is dan ook 'n Afdeling Skape en Wol gestig wat belas is met die uitroei van brandsiekte, die bevordering van die skaap- en wolbedryf, voorligting aan boere in verband met die klas en bestuur van skape en bokke en die voorbereiding en bemarking van wol en sybokhaar.

 

Voorligting

Die eerste voorligting aan boere het geskied deur persone waarvan die meeste hul opleiding in Australië ontvang het. Name soos C. Mallinson, J. F. McNab, W. M. McKee, J. J. McCall en andere, is van die bekendstes. Later is Suid-Afrikaners na Australië gestuur om opleiding in die vak Skape en Wol te ontvang, waaronder die baanbrekers mnre. G. J. Schuurman en E. N. Roberts (1909-1913) was.

Hierdie eerste voorligtingsdiens aan boere is later uitgebrei en meer beamptes is aangestel. Die skaap- en woldienste was soortgelyk aan die hedendaagse dienste wat deur verteenwoordigers van wolmakelaars en beamptes van die Suid-Afrikaanse Wolraad gelewer word: klassing van kuddes, uitsoek van ramme, beoordeling op tentoonstellings en voorligting in probleme soos teling, voeding en bestuur van skape en die hou van wol- en skaapskole en demonstrasies.

In die laat twintigerjare is ook gebruik gemaak van die sogenaamde "Demonstrasietrein" om voorligting aan boere te gee. Deur middel van hierdie trein het deskundiges die land deurreis en van plek tot plek is demonstrasies gehou oor landbou-onderwerpe. Vir hierdie doel was die trein goed ingerig en is selfs Merinoskape saamgeneem.

 

Opleiding

Ten einde ons eie boerderyprobleme op te los en jong boere op te lei, is landboukolleges met navorsings- en opleidingsgeriewe gestig. Vir die skaap-en wolbedryf het die keuse geval op Grootfontein in die hart van die skaapwêreld.

Mnr. E. N. S. Warren was dan ook die grondlegger van die eerste kursus in Skape en Wol wat in 1911 met 42 studente begin is. Hierdie eerste kursus was 'n tweejaar-diplomakursus met Skape en Wol as een van die vakke Die kursus is mettertyd gewysig en in 1919 is die sesmaande kursus in Skape en Wol saam met die diplomakursus aangebied; vir die eerste keer was Skape en Wol nou die hoofvak. Gaandeweg is hierdie kursus gewysig: eers tot 'n eenjaar- en later terug tot die huidige tweejaar-diplomakursus met Skape en Wol as hoofvak. Verskeie ander kursusse is ook ingestel, waaronder die eenweekse kursus vir boere in 1917 en later die driemaande-kursus wat tans vir nagraadse studente, amptenare en boere met 'n paar jaar boerdery ondervinding bedoel is.

Mettertyd is die geriewe ook verbeter en vandag kan Grootfontein terdeë trots daarop wees dat sy opleidingsgeriewe vir skape en wol uniek in die wêreld is. Deur middel van wetenskaplike proewe wat hier uitgevoer word, en die praktiese onderrig aan honderde boere en verteenwoordigers van wolmakelaars uit alle dele van die land, is ongetwyfeld baie tot die ontwikkeling van die bedryf bygedra.

 

Publikasies

Benewens bogenoemde bydraes is 'n groot aantal pamflette en ander publikasies oor teelt, voeding en bestuur en ander aspekte wat vir die boer van belang is, deur Skaap- en Wolbeamptes van Grootfontein geskryf. Die bydrae wat dit gelewer het ter bevordering van die skaapbedryf, kan nie genoegsaam beklemtoon word nie.

 

ORGANISASIE

Nie alleen was wol voor 1920 maar van betreklik lae gehalte me, maar die klassing daarvan was ook uiters swak. Dit was niks ongewoons dat onafgerande vagte sonder meer in bale verpak en bemark is nie. Hierdie toestand kan toegeskryf word aan die gebrek aan klasstandaarde en aan die feit dat behoorlike bemarkings- en verkopingsgeriewe ontbreek het en wol meestal deur winkeliers, handelaars en spekulante opgekoop is. Die wol is boonop opgekoop volgens 'n standaardprys per pond wol ongeag lengte, fynheid, gehalte en skoonopbrengs.

Hierdie swak bemarkingstoestande het daartoe gelei dat mnr. B. G. L. Enslin in 1920 oorsee gestuur is om ondersoek in te stel na die wolnywerheid van die Verenigde State en Brittanje en om aanbevelings te doen ten einde ons eie bemarkingstoestande te verbeter om meer vertroue in die Suid-Afrikaanse skeersel aan te moedig.

Sy belangrikste aanbeveling was dat alle tussenagente uitgeskakel moes word en dat alle wolprodukte regstreeks na die kushawens gestuur moes word, waar dit per openbare veiling verkoop moes word. Sodoende kon dit die hoogs moontlike mededinging van kopers uitlok.

Die voordele van behoorlike klassing van wol is verder beklemtoon, aangesien dit elke fabrikant die geleentheid sou gee om te koop wat hy nodig het. Hierdie aanbevelings het gelei tot die stigting van verskeie koöperatiewe bemarkingsorganisasies - F.C.U. (1919), B.S.B. (1920) en K.W.B. (1927).

Hierdie makelaars het geweldig uitgebrei en hanteer tans gesamentlik meer as die helfte van die land se skeersel. Naas die verkoop van klante se wol, voorsien hulle nie alleen produsente van plaasbenodigdhede nie, maar beskik daarby ook oor 'n uitgebreide veldpersoneel wat boere behulpsaam is met die klassing en verbetering van kuddes. Die grootste persentasie van hierdie pakhuis- en veldpersoneel het hulle opleiding op Grootfontein ontvang.

Een van die belangrikste bydraes wat Grootfontein gelewer het tot die ontwikkeling van die Merinobedryf is die toonaangewende rol wat die inrigting gespeel het in die totstandkoming van die Nasionale Wolkwekersvereniging van Suid-Afrika.

Met die samewerking van Grootfontein is die eerste Wolkwekersvereniging- van Middelburg en Graaff-Reinet in 1921 gestig en is leiding gegee met die opstel van die eerste wolklasstandaarde. Hoewel hierdie eerste standaarde nie aan al die vereistes voldoen het nie, het dit tog die grondslag gelê vir die latere omvattender klasstandaarde. In 1926 is die N.W.K.V. vir Kaapland op Middelburg gestig, wat in 1931 tydens 'n kongres in Bloemfontein gelei het tot die plasing van hierdie organisasie op nasionale grondslag.

Die doelstellings van die Nasionale Wolkwekersvereniging is:

(i) Gesamentlike optrede van wolprodusente in aIle sake rakende die wolnywerheid.

(ii) Beter klassing, verpakking en bemarking van wol.

(iii) Die beskerming en bevordering van die bedryf.

 

Die klasstandaarde en regulasies wat tydens 1930 bestaan het, moes hersien word.

In 1933 is die Veselkomitee benoem, waarop beamptes van Grootfontein gedien het. Dit was belas met die opstel van klasstandaarde asook die aanbring van veranderings van tyd tot tyd, na gelang van omstandighede.

Ten einde die boere op te lei in die toepassing van die nuwe klasstandaarde, het Grootfontein destyds spesiaal 'n kursus van ses weke ingestel. Naas hierdie kursusse was beamptes ook gemoeid met die inspeksiedienste van skeersels met die Springbokkopmerk (die nasionale merk van die N.W.K.V.), om toe te sien dat die klassing en verpakking van wol volgens regulasies geskied.

Vandag kan die N.W.K.V. met sy groot ledetal beskou word as 'n modelorganisasie en word dit amptelik erken as die mondstuk van die wolprodusent.

 

VEREDELING VAN DIE MERINO

In teenstelling met die klein, oorplooide tipe Merino wat voor 1910 so algemeen was, is die huidige Merino veel groter, minder geplooid en van 'n veel beter bouvorm. Nie alleen produseer dit vandag meer wol nie – die gemiddelde produksie per skaap per jaar is vandag 8.8 pond teenoor 5.2 pond in 1910 maar die wol is veel langer, van beter gehalte en het 'n hoër skoonopbrengs. Laasgenoemde vordering is veral te danke aan die invoer van Wanganellas en Tasmaniese Merino's (1904-1929) uit Australië.

In 1929 het Australië egter 'n uitvoerverbod op Merino's geplaas, maar goeie stoeterye was toe reeds in die land gevestig. Verskeie nuwe stoeterye het tot stand gekom en reeds bestaandes is verder verbeter. Beter teelstelsels is gaandeweg toegepas en die algemene teeltbeleid het meer doelgerig geword. Met die stigting van die Merinoramtelersvereniging - tans die Merinotelersvereniging - in 1937, is telers beter georganiseer en kon daar gesaghebbend opgetree word, veral ten opsigte beleid en ander sake rakende die Merinobedryf.

 

GROOTFONTEIN

Met die ontwikkeling van nuwe stoeterye in die land het Grootfontein nie agtergebly nie.

Daar is reeds in 1912, 63 ooie en twee ramme van die Wanganella, Bundermar en Murgha uit Australië ingevoer. Hierdie invoere is later gevolg deur 'n verdere twee ramme uit Australië. Naas hierdie skape is ook met verloop van tyd toevoegings gemaak deur aankope uit Suid-Afrikaanse stoeterye, waarvan 80 ooie en vyf ramme van die Tasmaniese stoetery van Sir Abe Bailey in 1929, die grootste was. Met die jare is daar van tyd tot tyd stoetramme van toonaangewende telers aangekoop.

In 1955 is 'n baie belangrike toevoeging gemaak deur die invoer van die vier Australiese ramme van Uardry, Wahwoon en Wanganella Estates af. Tegelykertyd is ook 280 ooie van plaaslike telers, bestaande uit aankope en goedgunstige skenkings van telers, tot die stoetery toegevoeg. In 1957 word Grootfontein volwaardige lid van die Merinotelersvereniging. Surplusramme word jaarliks per openbare veiling aan boere verkoop.

Die stoetery het van 1912 tot 1961 geweldig vooruitgegaan ten opsigte van wolproduksie, bouvorm en vrugbaarheid sodat dit reeds beroemdheid verwerf vir hierdie eienskappe en tereg beskou kan word as een van die toonaangewende stoeterye van Suid-Afrika.

Die skouspelagtige uitbreiding van die skaap- en wolbedryf die afgelope 50 jaar is onteenseglik te danke aan die oordeel en vernuf van ons land se skaapboere.

Deur die opleiding van ons land se skaapboere, stoettelers, wolmakelaars en ander amptenare, het Grootfontein egter ook 'n baie groot invloed gehad op die uitbouing van die land se kleinveebedryf.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 37 (6)