Last update: March 29, 2012 10:09:09 AM E-mail Print

 

DIE EFFEK VAN ENERGIEBYVOEDING AAN JONG GROEIENDE ANGORA BOKKIES

 

P D Grobbelaar en C M M Landman *

Afdeling Diereproduksie

Landboukollege Grootfontein

Privaatsak X529

Middelburg KP 5900

* Kollegestraat 38

Jansenville

6265

 

Normaalweg word Angorabokke onder ekstensiewe toestande aangehou. Die natuurlike weiding, wat gevolglik die primêre voedingsbron van die diere is, varieer grootliks ten opsigte van die hoeveelheid en gehalte vreetbare materiaal. Seisoenale droogtes veroorsaak 'n verdere afname in hoeveelheid en gehalte van hierdie vreetbare materiaal.

In die tradisionele Angorabokboerderygebiede bestaan die rantsoen van die diere hoofsaaklik uit materiaal afkomstig vanaf struike en bosse. Volgens Louw, Steenkamp & Steenkamp (1968), toon die skeikundige samestelling van hierdie tipe veld aan dat die voorsiening van proteïen deur die veld, gewoonlik voldoende is. Slegs gedurende langdurige droogtes kan daar moontlik 'n proteïentekort ontstaan, veral ten opsigte van reproduksie en groei.

In die weiding is die belangrikste voedingstekort dus normaalweg energie. Wentzel, Viljoen en Botha (1979) het gevind dat 'n onder-voorsiening van energie 'n faktor is wat moontlik aanleiding gee tot lae reproduksiesyfers, aborsies, kouevrektes en ook swak groei van klein en jong bokkies wat algemeen in die Angorabokbedryf ondervind word. Die aanvulling van energie op strategiese tye is dus noodsaaklik om bogenoemde probleme te beperk.

Een van die probleme met byvoeding op die veld is dat die diere die natuurlike veldweiding swakker benut weens 'n laer inname. Hierdie probleem kan verminder word deur teen 'n hoër peil aan te vul sodat die periode van aanvulling verkort word. Lae peile van aanvulling oor 'n lang periode moet dus vermy word.

Om vas te stel wat die peile van aanvulling moet wees en in watter vorm (mieliemeel en sout, of sjokolademielies) is op die Jansenvilleproefplaas 'n ondersoek ingestel met vyf groepe bokkies wat die volgende behandelings ontvang het :

Groep Byvoeding / bok / dag
1 (kontrole) geen
2 300 g sjokolademielies (SM)
3 300 g mieliemeel & sout (MM)
4 600 g sjokolademielies (SM)
5 600 g mieliemeel & sout (MM)

 

Bogenoemde behandeling is toegepas vanaf speentyd tot en met die derde skeer op ongeveer 13 maande ouderdom. Sout is by die mieliemeel gevoeg om innames onderskeidelik tot 300 en 600 g mieliemeel per bok per dag te beperk.

Verskillende produksie-eienskappe is ontleed waarvan die belangrikste die volgende is :

 

LIGGAAMSMASSA EN GROEI VAN KLEIN BOKKIES

Die gemiddelde liggaamsmassa op die verskillende skeertye is met mekaar vergelyk en word in Tabel 1 aangetoon.

Die bokkies is twee-weekliks geweeg ten einde hul groei oor die tydperk te bepaal. Die groeikurwes vir die verskillende groepe bokkies word grafies in Figuur 1 voorgestel.

 

 

Volgens Tabel 1 en Figuur 1 is dit duidelik dat daar wel betekenisvolle en hoogs betekenisvolle verskille tussen die groepe tydens die verskillende skeertye voorgekom het. Wat die gemiddelde speenmassa van die groepe betref, is gevind dat die 300 g SM-groep onderskeidelik 3,7 kg, 2,6 kg en 4,4 kg swaarder as die kontrole, 300 g en 600 g MM-groepe was. Die 600 g SM-groep was ook 2,8 kg swaarder as die 600 g MM-groep en 2,1 kg swaarder as die kontrolegroep.

Die relatief swak prestasie van die 600 g MM-groep kan grootliks aan die groter getal tweelinge (6 pare)  wat in hierdie groep voorgekom het, toegeskryf word.

Na speen het die situasie aansienlik verander. Volgens Figuur 1 is dit opmerklik dat die liggaamsmassa van die groepe wat aanvulling ontvang het almal redelik vinnig toegeneem het. In die geval van die kontrolegroep het die liggaamsmassa egter geleidelik afgeneem tot by die volgende skeertyd. Hierdie afname was 13,4 persent of 1,8 kg.

Tydens die Junie 1983 skeertyd, het die SM-groepe weereens opmerklik swaarder geweeg as die ander groepe. Alhoewel die een groep dubbeld die hoeveelheid mielies ontvang het, was daar nogtans geen verskil tussen die twee SM-behandelingsgroepe nie. Dieselfde tendens het by die MM-groepe voorgekom (Figuur 1). Die SM-groepe was ongeveer 5,8 kg swaarder as die twee MM-groepe en ongeveer 8,6 kg swaarder as die kontrolegroep. Alhoewel die 600 g MM-groep tydens speentyd 5,2 persent (0,7 kg) ligter as die kontrole was, het hierdie groep se gemiddelde liggaamsmassa betekenisvol toegeneem tot 22,4 persent (2,6 kg) swaarder as die kontrole tydens die Junie-skeertyd (Tabel 1).

Koue wat gewoonlik met die Junie-skeertyd gepaard gaan, het 'n gevoelige invloed op die liggaamsmassa van die klein bokkies na skeer gehad, soos ook duidelik blyk uit Figuur 1. Die liggaamsmassa van byna al die groepe het afgeneem na skeer, selfs tot soveel as 3 kg vir die 300 g SM-groep. Eers vanaf ongeveer 6 weke na skeel het die liggaamsmassa weer begin toeneem om na ongeveer 8 weke weer dieselfde massa as tydens skeertyd te bereik (Figuur 1). Die kontrolegroep het in 'n bosryke kamp geloop wat moontlik verklaar hoekom die kontrole bokkies na skeer nie so drasties in liggaamsmassa afgeneem het nie.

Wat die gemiddelde liggaamsmassa van die verskillende groepe tydens die Oktober 1983 skeertyd betref, is dieselfde tendens as vir die Junie 1983 skeertyd waargeneem. Die SM-groepe was weereens die beste produseerders (Tabel 1 en Figuur 1) en het hoogs betekenisvol 5,6 tot 6,5 kg swaarder as die kontrole en 2,1 tot 3,8 kg swaarder as die MM-groepe geweeg.

Op 'n jaar ouderdom was die gemiddelde liggaamsmassa van die kontrole ongeveer 21 kg en die van die MM-groepe ongeveer 24 kg. Die gemiddelde liggaamsmassa van die twee SM-groepe was ongeveer 27 kg wat die voorgestelde minimum paarmassa van 25 kg oorskry. Sulke goed uitgegroeide bokkies behoort op 18 maande ouderdom met redelike sukses gepaar te word. Dit is dan ook een van die groot voordele van energiebyvoeding aan kleinbokkies.

Volgens hierdie resultate blyk dit dat die SM-groepe deurgaans die beste produseerders ten opsigte van liggaamsmassa was. Tussen die twee peile van SM was daar geen betekenisvolle verskille nie, wat dus aantoon dat 'n byvoeding van ongeveer 300 g sjokolademielies per bokkie per dag voldoende behoort te wees om doeltreffende groei te verseker.

 

SKOONHAARMASSA

Die hoeveelheid haar geproduseer per bok of per kudde bepaal die haar-inkomste van die produsent. Skoonhaarmassa is belangrik vir die produsent want die koper beraam sy prys op die hoeveelheid skoonhaar geproduseer en nie op die hoeveelheid ruhaar, wat sand, star en saad insluit nie. Die gemiddelde skoonhaarmassa van die kleinbokkies vir die verskillende groepe tydens skeertye word in Tabel 2-aangetoon en grafies in Figuur 2 voorgestel.

Tydens speentyd (Februarie 1983) is daar geen betekenisvolle verskille in skoonhaarmassa tussen die kontrole- en die ander groepe gevind nie (Tabel 2 en Figuur 2). Groep 5 (600 g MM), met die meeste tweelinge, het gemiddeld 0,06 kg per bokkie minder skoonhaar as die twee SM-groepe (2 en 4) geproduseer.

Gedurende die tweede skeertyd van die kleinbokkies (Junie 1983) het die kontrolegroep onderskeidelik 0,22 kg en 0,39 kg minder skoonhaar as die 300 g en 600 g SM-groepe geproduseer (Tabel 2). Die 300 g SM-groep het ook 0,11 kg meer skoonhaar as die 300 g MM-groep geproduseer, terwyl die 600 g SM-groep onderskeidelik 0,17 kg, 0,28 kg en 0,25 kg meer skoonhaar as die 300 g SM-, en 300 g en 600 g MM-groepe geproduseer het.

 

 

Wat betref die Oktober 1983 skeertyd (± 13 maande ouderdom) het die 600 g SM-groep 0,39 kg meer skoonhaar as die kontrole, 0,2 kg meer skoonhaar as die twee MM-groepe en 0,15 kg meer skoonhaar as die 300 g SM-groep geproduseer (Tabel 2). Die 300 g en 600 g MM-groepe het ook 0,2 kg meer skoonhaar as die kontrolegroep geproduseer.

Die twee sjokolademieliegroepe was, wat skoonhaarproduksie betref, die beste produseerders. Ten opsigte van groei is 300 g SM dus voldoende maar 600 g SM gee beter haarproduksie.

 

VESELDIKTE

Veseldikte is 'n baie belangrike eienskap by sybokhaar omrede dit een van die prysbepalende faktore is. Hoe fyner die vesels, hoe hoër die prys. Die variasie in dikte oor die lengte van die vesels behoort ook so klein as moontlik te wees, want vesels wat op 'n gegewe plek baie dunner is, breek gewoonlik in die verwerkingsprosesse wanneer die vesels uitgekam word.

Aangesien die diere in hierdie ondersoek jong groeiende diere was, word daar verwag dat die vesels dikker sal wees by die wortelgedeeltes as by die tipgedeeltes. Hierdie verskil in veseldikte word in Tabel 3 aangetoon.

 

 

Met speentyd het die veseldikte van die tip van die vesels nie veel tussen groepe verskil nie (Tabel 3). Groot verskille het egter in veseldikte van die wortelgedeeltes van die vesels tussen groepe voorgekom. Die 300 g SM-groep se veseldikte was 2,9 mikron dikker as die van die kontrole.

Die peil van voeding het 'n groot invloed op die veseldikte van die vesels gehad. Vanweë die beter voeding het die SM-groepe deurgaans die dikste vesels geproduseer (Tabel 3). Die verskil tussen die wortelgedeeltes van die kontrole en die 600 g SM-groep vir die Junie 1983 skeertyd, het met tot soveel as 5,8 mikron verskil. Meeste van die verskille tussen die twee SM-groepe en die ander groepe was dan ook betekenisvol tot hoogs betekenisvol (Tabel 3). Die veseldikte van die 600 g MM-groep (met die meeste tweelinge) was, naas die kontrolegroep, die dunste tot by die Junie 1983 skeertyd. Daarna het die veseldikte toegeneem tot 26,2 mikron, wat 1,0 mikron dikker is as die veseldikte van die 300 g MM.groep. Dit dui daarop dat die effek van tweeling-geboortes op veseldikte alreeds vanaf die tweede skeer, verminder het.

Ten opsigte van die Oktober 1983 skeertyd is gevind dat die veseldikte van die haar van die verskillende groepe verder toegeneem het, tot soveel as 32,2 mikron vir die wortelgedeelte van die 600 g SM-groep. Die twee SM-groepe se vesels was tydens hierdie skeertyd 3,5 tot 4,5 mikron dikker as die van die kontrole en 1,0 tot 2,0 mikron dikker as die vesels van die twee MM-groepe.

 

SKOONOPBRENGSPERSENTASIE

Die skoonopbrengspersentasie van sybokhaar is normaalweg redelik hoog (ongeveer 80 persent) in vergelyking met Merinowol. Van die redes hiervoor is dat die persentasie haarwas en sweet aanwesig relatief laag is. Stofindringing word ook tot 'n groot mate beperk deurdat die lokke los is, en nie saamgepak soos by wol nie. Die vesels is ook gladder sodat stof en sand tot 'n groot mate uitval.

Ten opsigte van kleinbokkies is gevind dat die persentasie skoonopbrengs vanaf 77 tot 83 persent gewissel het. Geen betekenisvolle verskille kon waargeneem word tussen die verskillende behandelingsgroepe nie.

 

REGUITLENGTE

Loklengte is nie 'n getroue weergawe van die reguitlengte van die vesels nie , aangesien die vesels in 'n gedraaide vorm in die lokke voorkom. Die reguitlengtes van individuele vesels in 'n lok is derhalwe gemeet. Vesellengte is saam met veseldikte die twee eienskappe wat haarproduksie per bok bepaal. Aangesien daar 'n perk op te hoë veseldiktes geplaas word, is vesellengte die enigste eienskap wat verhoog kan word om verhoogde produksie te gee.

Tydens speentyd was die verskillende groepe se veselreguitlengtes ongeveer dieselfde, naamlik 9,7 cm. Vir die Junie 1983 skeersel het die kontrolegroep ongeveer 1,5 cm korter reguitlengtes as die twee SM. groepe, en ongeveer 1,0 cm korter reguitlengtes as die 300 g en 600 g MM-groepe geproduseer. Die twee SM-groepe se reguitlengtes was ook onderskeidelik betekenisvol (± 0,5 cm) en hoogs betekenisvol (± 0,7 cm) langer as die van die MM-groepe.

Die reguitlengte tydens die Oktober 1983 skeertyd het nie baie verskil nie. Hier was die kontrole se reguitlengtes 1,0 cm korter as die 300 g MM-groep, wat dan ook betekenisvol was. Die vesels van die ander groepe was slegs 0,8 cm (nie-betekenisvol) langer as die van die kontrolegroep.

 

OPSOMMING

Volgens hierdie resultate verkry op die Jansenvilleproefplaas, hou die byvoeding van energie aan kleinbokkies heelwat voordele vir die Angorabokbedryf in.

 

VERWYSINGS

LOUW G N, STEENKAMP C W P & STEENKAMP E L, 1968. Chemiese samestelling van die vernaamste plantspesies in die noorsveld. Tegniese mededeling nr 77. Pretoria: Staatsdrukker.

WENTZEL D, VILJOEN K S & BOTHA L JJ, 1979. Physiological and endocrinological reactions to cold stress in the Angora goat. Agroanimalia. 11, 19.

 

Published

Karoo Agric 3 (4), 11-15