Last update: April 3, 2012 11:41:56 AM E-mail Print

 

CHRYSOCOMA TENUIFOLIA : BITTERBOS

PW Roux


Die bitterbos of bitterbossie is baie welbekend. In Fraserburg, Williston Loxton en Sutherland se wêreld praat die boere van beesbossie. Ander gewone name daarvan is bitterbeesbossie, beeskaroo, brandbossie, hantambossie en karoobossie. Moet liewer nie die name gebruik nie. Die beste alombekende naam is Bitterbos.

 Die bitterbossie kom wydversprei in die karoogebiede en Suid-Vrystaat voor. Dit is hierdie bossie wat die veld daardie eentonige geelgroen kleur gee. Die bossie groei gewoonlik betreklik regop. Die blaartjies is kort en redelik styf en het ‘n bitter smaak. Wanneer die bossies aktief groei, is die blare so klewerig dat die stammetjies met blare teen mekaar gedruk kan word. Die blommetjies is klein en goudgeel. Wanneer die blommetjies ryp geword het en die saadjies versprei is, bly die wit blomkelkies oor. Die kelkies lyk ook baie net soos blommetjies.

Die bitterbos kan beskou word as een van die vernaamste en aktiefste bossie indringers. Veral in uitgetrapte grasveld, vat die bossie die gaping met die grootste gemak. Dit neem veral toe waar oorbeweiding en aanhoudende beweiding, grasse vernietig of verswak het. In wese kan die bossie, veral in die meer oostelike karoogebiede en aangrensende soetgrasvelde, regstreeks met veldagteruitgang gekoppel word.

Die bossie is onsmaaklik vir skape, maar in die afwesigheid of tekort aan ander vreetbare plante, sal dit in 'n beperkte mate gevreet word. Die blomme en blomknoppe word ook soms in die herfs en vroeë wintermaande gevreet. Die bitterbossie bevat giftige bestanddele wat moontlik aanleiding tot fisiologiese steurnisse in vee kan gee.

Waar goeie veldbeheer toegepas word, veral waar daar 'n goeie graspotensiaal bestaan, kan bitterbosbevolkings onderdruk word en sy verdere uitbreiding gestuit word. Waar bitterbos alreeds geheel en al oorgeneem het as die dominante plant, bestaan die gevaar dat grondtoestande so kan verswak dat dit uiters moeilik is om die veld te herskep en gronderosie te stuit.

In werklikheid is die bitterbossie ‘n simptoom van veldverswakking. Na droogtes veral, gedy die bossie op sy beste, en dit is ook reeds na droogtes dat dit die grootste veldslae wen.

Interessant om te noem dat op Grootfontein ‘n proefkampie bestaan wat nou reeds vir 35 jaar nie bewei is nie. Daar is nie ‘n enkele bitterbos in die kamp nie, maar in die beweide kampe langsaan is daar heelwat bitterbos.

Die bitterbos het ‘n eie groot broer in die karooberggebiede wat soms verkeerdelik vir die gewone bitterbos aangesien word.

 

Published

Karoo Streeksnuusbrief Junie