Last update: August 15, 2011 02:15:45 PM E-mail Print

 

Droogte-adviesburo by Grootfontein maak besluite makliker

LG du Pisani

 

 

IN DIE KAROOSTREEK is droogtes geen ongewone verskynsel nie, maar vir die boer bly dit steeds een van die moeilikste faktore om mee rekening te hou in die boerdery. Die Droogte-adviesburo (DAB) by die Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut naby Middelburg KP gaan poog om die boer en landbou van hulp te wees, se dr. Louis du Pisani, projekleier van die DAB.

Dr. Du Pisani se mede-projekleiers is mnre. Chris Venter, hoof: Landbouweerkunde, en Reep Verloren van Themaat, Geografiese Inligtingstelsel-(GIS)spesialis, albei op Grootfontein.

Die DAB het verskeie doelstellings. Daar gaan onder meer gepoog word om die kwessie van droogtelysting en -ontlysting op 'n feitelike basis te plaas. Ten einde hierdie doel te bereik, gaan daar gestreef word na die inskakeling van alle relevante tegnologie en metodieke.

Volgens dr. Du Pisani het die droogtelysting en -ontlysting in die verlede dikwels ontevredenheid onder boere veroorsaak - nog 'n faktor wat grotendeels deur die DAB uitgeskakel kan word, omdat daar nou op 'n feitelike basis gewerk word.

Om dit te kan doen, word maandeliks 'n kaart geproduseer waarop die klimaatstoestande van die voorafgaande maand teen 'n resolusie van 10 km x 10 km aangetoon word.

Om hierdie kaart saam te stel, word die reënvalsyfers van ongeveer 400 boeremedewerkers wat versprei is oor die Karoostreek, gebruik. Hierdie syfers word gebruik om met behulp van die rekenaar 'n klimaatsindeks binne elke 10 km x 10 km-gebied te bereken.

Hierdie klimaatsindeks berus op die beginsel dat die werklike reënval vir 'n spesifieke maand met die langtermyn gemiddeld vir daardie maand vergelyk word. Die reënval van die voorafgaande 5 maande word ook in ag geneem, maar wel teen 'n afnemende mate.

Op grond van hierdie kaarte, tesame met die vraelys van dr. P. W. Roux, voormalige direkteur en weidingnavorser van die Karoostreek, word dan besluit of 'n gebied gelys of ontlys moet word.

'n Verdere gebruik van reënvalsyfers is om die droogterisiko van 'n gebied te bereken. Dit word  soos volg gedoen: vir elk van die 400 boeremedewerkers bestaan daar langtermyn reënvalrekords. Hierdie rekords word verwerk na klimaatsindekse waarmee die voorkoms van droogtes van verskillende intensiteite bereken kan word. Die droogterisiko van elke stasie is dus bekend, byvoorbeeld 'n risiko van 10 % wat impliseer dat daar 10 % van die tyd rampdroogtetoestande voorkom. Hierdie waarde kan gebruik word as riglyn om te bepaal in watter mate daar voorsiening gemaak moet word vir rampdroogtetoestande.

 

Vooruitskouing

Behalwe vir die klimaatindekskaart wat maandeliks geproduseer word, word daar ook 'n vooruitskouing gemaak van hoe die klimaatstoestande die volgende 2 tot 3 maande kan verander. Dit word gedoen op die basis van die gemiddelde reënval wat vir hierdie tydperk verwag word. Hierdie inligting kan dien as hulpmiddel by besluite oor veegetalle. Die vooruitskatting toon byvoorbeeld aan dat indien die reënval die volgende 2 tot 3 maande dieselfde as die gemiddeld is, die klimaatstoestande na rampdroog sal neig. Sodoende kan die boer vroegtydig besluit om byvoorbeeld van oortollige vee ontslae te raak.

Hoewel die DAB vanaf Grootfontein bedryf word, vervul die voorligtingpersoneel en medewerkende boere 'n belangrike rol. Hulle is die persone wat reënvalsyfers op 'n gereelde basis voorsien. Daarsonder sal daar nie maandeliks 'n akkurate kaart geproduseer kan word nie, se dr. Du Pisani.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief 1