Last update: April 4, 2012 12:27:56 PM E-mail Print

 

DALENDE WOLPRYSE WAT NOU ?

beter bestuur-beter wol

 

deur J.J. VENTER, Landbounavorsingsinstituut van die Karoostreek, Middelburg, K.P.

 

 

Veselgehalte word hier met behulp van 'n lugvloeimeter gemeet. Die apparaat meet die fynheid van die vesel. S.A. wol is dikwels fyner as wat die kartels aandui.

DIE dalende wolpryse is 'n wrede werklikheid wat alle wolboere tot selfondersoek behoort te stem.

'n Wolboer moet besef dat hy nie net wol as sulks produseer nie, maar 'n tekstielvesel wat verwerk moet word - en wat met baie ander vesels moet meeding. Vir verdere verwerking moet die wol aan sekere vereistes voldoen. So nie, verloor dit sy aanvraag en aansien.

Die afgelope 20 jaar het metodes van tekstielvesel verwerking geweldig verbeter. Delikate, hoëspoed- outomatiese spinmasjiene word vandag algemeen gebruik. Hoer vereistes word gestel aan tekstielvesels om die hoër koste en gebruik van die masjiene te regverdig. Die fabrikant is derhalwe kieskeuriger by die aankoop van sy grondstof en is bereid om meer te betaal net vir die wat die beste aan sy doel sal beantwoord. Vir goeie gehalte grondstof sal daar altyd 'n aanvraag wees.

Die groot vraag is egter of die wol wat vandag geproduseer word, wel aan die vereistes voldoen.

Die vernaamste vereistes is onder meer egaligheid van vesellengte en -dikte, en treksterkte. Om te voorkom dat die vesel onnodig breek tydens verwerking moet dit egalig van lengte en dikte oor die hele stapel wees. Dit geld vir sowel elke vesel as die hele massa wol in die baal.

Die koper wil weet wat hy koop. Hy dring al hoe meer aan op gemiddelde dikteveselmetings. Hierin het wol 'n gedugte stryd te stry teen die kunsvesels: laasgenoemde kan baie makliker volgens spesifikasies vervaardig word om te voldoen aan die vereistes van die fabrikant.

Deur navorsing in Suid-Afrika en ook oorsee word alles gedoen om wol se posisie te verbeter, veral ten opsigte van verbeterde verwerkingsmetodes en om nuwe gebruike vir wol daar te stel. Aandag word ook geskenk aan die verskillende faktore wat deur bestuur, voeding, teling en seleksie verbeter kan word.

Volgens opnames en metings van verteenwoordigende wolmonsters van die Suid-Afrikaanse skeersel blyk dit dat die wol in 'n al groter mate ondergekartel is; dit wil sê, die wol is in baie gevalle fyner as wat die kartels aandui. Dit kan toegeskryf word aan die voorkeur wat by seleksie gegee is aan goeie kwaliteit, in die besonder aan 'n sagte aanvoeling. Sodanige wol het, ondanks sy sagte aanvoeling, die nadeel dat dit te pap is en min staankrag op die skaap het. Dit bring mee dat die vag makliker oopval en so meer en dieper aan verwerende elemente blootgestel word.

Materiaal van ondergekartelde wol vervaardig :

Deur navorsing is bewys dat wolmonsters waarvan die karteling en veseldikte voldoen aan die sogenaamde Duerdense verhouding, 'n goeie aanvoeling het en oor genoeg staankrag beskik om die vag op die skaap toe te hou. Die vag is dus beskerm teen oopval en gevolglike verwering. Sodanige wol verwerk ook beter en gee 'n beter eindproduk.

 

GOEIE BESTUUR

Deur in sy teeltbeleid te strewe na die regte verhouding tussen veseldikte en -karteling behou die produsent al die gewenste eienskappe van goeie kwaliteit. Terselfdertyd skakel hy die ongewenste eienskap van papheid uit.

Veseldikte is gevoeliger vir omgewingsinvloede as karteling. Die kartel-/fynheidverhouding kan dus merkbaar verander, veral onder droogtetoestande. Dit geld ook by lammerooie, onder gewone toestande.

Hierdie feite beklemtoon nog eens die noodsaaklikheid dat skape te aIle tye gunstige voeding ontvang, om sodoende te verseker dat 'n egalig gebalanseerde en gesogte wolvesel geproduseer word.

Verwering verlaag die treksterkte van die wol. Die verweerde tipgedeeltes breek in die kamproses af - tot een derde van die lengte van 'n wolstapel kan so verlore gaan.

Proewe wat op Grootfontein uitgevoer is het heelwat meer lig gewerp op die onderwerp van verwering. In die eerste plek is gevind dat lang wol geneig is om heelwat dieper in te verweer as kort wol. Tweedens is chemies vasgestel dat verwering in die somer tien keer hoër kan wees as in die winter.

Dit lyk dus of die beste skeertyd om verwering te beperk ongeveer September/Oktober sal wees. Hierdie bestuursaspek sal meebring dat die wol oor die somermaande net sowat 3 tot 5 cm lank sal wees en nie sal oopval nie. So speel bestuur dan 'n groot rol in die bekamping van verwering.

Verdere proefresultate dui daarop dat direkte sonlig die belangrikste verweringsfaktor is. Verwering sal dus beperk word as daar veral op die hitte van die dag skaduwee aan die skare verskaf word waarin hulle teen die warm son kan skuil. 'n Ander oplossing vir hierdie probleem sal wees om die skaap kunsmatig te bedek soos met byvoorbeeld 'n kombers. Verdere navorsing in die verband word beoog. Die praktiese implikasies sal egter deeglik ondersoek moet word.

Die wolboer moet hom dus daarop instel om alles in sy vermoë te doen om slegs wol van die beste gehalte, met so min moontlik nadelige eienskappe, te produseer.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 47 (8)