Last update: April 11, 2012 11:29:38 AM E-mail Print

 

Damplekke onder die Gronderosie-skema

E. A. Oosthuizen

 

Soos algemeen bekend, word damme onder die gronderosieskemas gebou vir

(a) gronderosiebestryding;

(b) suiping vir vee; en

(c) besproeiing,

en omdat laasgenoemde heelwat moeilikheid veroorsaak, sal die aandag hoofsaaklik daarby bepaal word.

Die keuse van 'n damplek hang natuurlik af van die doel van die dam, byvoorbeeld, as 'n dam uitsluitlik bedoel is vir die bestryding van gronderosie, is so 'n dam meesal 'n kombinasie van 'n slikvangdam en 'n leiwal, en die bak van die dam van minder belang.

In die geval van 'n suipdam is dit dikwels meer 'n saak van hoe noodsaaklik dit is dat water by 'n sekere plek vir diere verskaf moet word, en hoe lank so 'n dam water sal hou, as een van die geskiktheid van die damplek, en dit is soms selfs nodig om 'n gat in die grond te grawe vir die bak, met 'n wal in die vorm van 'n perdeskoen.

Waar 'n dam egter uitsluitlik vir besproeiingsdoeleindes vereis word, is die dambak, uit 'n ekonomiese oogpunt beskou, van groot betekenis, en heelwat ondervinding en deursig is nodig by die keuse van so 'n damplek.

 

Plek vir 'n Besproeiingsdam

Byvoorbeeld, dit spreek vanself dat dit onprakties en onekonomies is om 'n besproeiingsdam teen 'n steil helling te bou - swaelnes soos dit genoem word - want die bietjie water wat van tyd tot tyd daarin opgevang word en die gevolglike oes, kan nie die koste van die dam regverdig nie en gevolglik behoort sulke damme nie gebou te word nie.

Hierdie saak veroorsaak baie moeilikheid en ontevredenheid onder applikante, daar dit soms moeilik is om met die blote oog 'n juiste begrip te kry van die geskiktheid van 'n damplek as gevolg van 'n algemene tweevoudige skuinste van die landstreek.

Derhalwe gebeur dit baiemaal dat by 'n anders geskikte damplek, verskeie ingenieurs geraadpleeg word in verband met die geskiktheid of liewer ongeskiktheid van die bak.

Ongelukkig is dit die voorreg van die leek om 'n damplek te kies, maar die baie onaangename taak van die deskundige om dit af te keur.

 

Daar is vyf dinge wat noukeurig op gelet moet word by die keuse van 'n damplek vir besproeiingsdoeleindes:-

(1) Die ekonomiese moontlikhede van die voorgestelde skema vir besproeiing.

(2) Die geskiktheid van die damplek. Die lengte en hoogte van die wal. Die uitvoerbaarheid van die voorgestelde werk. Of die formasie van die dambak dig is sodat die dam sal water hou. Of 'n afsny- of pitmuur (corewall) sal nodig wees om die wal dig te maak. Of daar wel genoeg goeie grond is om die wal mee te bou. Poeieragtige grond wat nie bind nie, of grond wat deurtrek is met sout en wat pap word onder water, is ongeskik vir die bou van damwalle.

Ook moet in aanmerking geneem word of daar wel gruis en geskikte klippe byderhand is vir die bestrating van die wal.

(3) Die grootte van die dambak en die aantal morge wat onder besproeiing gebring kan word in verhouding tot die koste van die dam.

Soos reeds aangehaal, is baie ondervinding nodig om op die oog te kan besluit of die skema wel ;’n betaalbare proposisie sal wees of nie.

Dit is noodsaaklik om noukeurig te let op die fatsoen van die bak en in besonder op die val van die oppervlakte oor die lengte van die bak, want hierdie val is die beslissende faktor wat die inhoud van die dambak betref. As die val groot is, sal die water natuurlik nie ver opstuit nie en gevolglik sal die kapasiteit van die dambak maar klein wees,

(4) Die grootte en fatsoen van die opvanggebied is van groot belang, nl. of die opvanggebied te klein is om die dam vol te maak of veels te groot.

In die geval van klein damme sal meesal gevind word dat die opvanggebied baie te groot is, d.w.s. baie van die water wat die gebied oplewer, sal oor die uitloop moet wegloop.

As die opvanggebied steil, kaal en rou is, sal die dam weldra toespoel.

(5) Die uitloop is een van die eerste dinge wat bepaal moet word by die inspeksie van 'n damplek daar moet nl. 'n geskikte plek wees vir 'n voldoende groot uitloop, d.w.s. 'n uitloop wat, nadat die dam reeds vol is, al die afloopwater, wat met die grootste vloed van die opvanggebied kan verwag word, sal laat uitloop sonder dat die dam se wal in gevaar gestel word, en wat nie sal uitspoel en die kapasiteit van die dam langsamerhand sal verminder nie.

Dit gebeur soms dat daar 'n nekkie in een van die rante van die damplek is, wat vir 'n uitloop gebruik kan word, of meer dikwels moet die uitloop by een van die punte van die wal uitgegrawe word. Hoe dit ook al sy, moet dit onthou word dat die diepte van die water in die uitloop afhang van die breedte :van die uitloop en dat die hoogte van die damwal bokant die uitloopoppervlakte bepaal word deur die diepte van die water in die uitloop in tye van vloedwater.

Dit is dus te verstaan dat dit dikwels nodig is om vergelykende skemas te ontwerp en rekening te hou met die koste van die damwal en uitloop.

Na aanleiding van wat hier gesê is in verband met die keuse van 'n damplek, is dit duidelik dat daar nie alleen ondervinding en goeie deursig nodig is by die keuse van 'n damplek vir besproeiingsdoeleindes nie, maar ook wel tegniese kennis, alhoewel die dammetjies, wat onder die gronderosieskemas kan gebou word, maar klein is.

In 'n latere artikel sal 'n kort uiteensetting van die opvanggebied vir damme gegee word.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 11