Last update: April 4, 2012 03:36:00 PM E-mail Print

 

Droogtes en die boer

MJA Coetsee Voorligtingsbeampte Carnarvon

 

IN die Republiek van Suid-Afrika kan ons aanvaar dat droogtes 'n natuurlike verskynsel oor die grootste gedeelte van ons land is. Wat egter die afgelope paar dekades onrusbarend op die voorgrond getree het, is dat dit wil voorkom of die frekwensie en strafheid van droogtes aan die toeneem is. Hierdie toestand word direk weerspieël in die toenemende klagtes oor droogte, verklaring van distrikte as weidingsnoodgebiede, grootskaalse voer van diere, toenemende aanplanting van voergewasse, ensovoorts (Roux, 1965).

 

SOORTE DROOGTES

Daar kon veral vier soorte droogtes onderskei word, naamlik seisoensdroogtes, periodieke droogtes, rampdroogtes en mensgemaakte droogtes.

 

Seisoensdroogtes

Seisoensdroogtes is normale gereelde verskynsels wat gedurende sekere seisoene van die jaar heers. In die seisoen is die reënval normaalweg laag, en heers daar ook 'n tekort aan vreetbare materiaal. Omdat sulke seisoensdroogtes gereelde verskynsels is, kan 'n boer self beplan om hulle sonder baie koste en verliese te oorbrug.

Gewoonweg kom hierdie seisoensdroogtes hier in die lente en soms in die wintermaande voor. Hierdie droogtes kan egter lastig word waar 'n boer onoordeelkundig te werk gaan met natuurlike weiding op sy veld.

 

Periodieke droogtes

Periodieke droogtes is onvoorspelbaar en kan enige tyd van die jaar voorkom. Hulle bou altyd 'n bedreiging in en vereis permanente waaksaamheid en gedurige beplanning. Daar is geen vasgestelde "patroon" van voorkoms of 'n gereelde tydsduur vir die droogtes nie. Vir die boer wat sy beskikbare natuurlike hulpbronne oordeelkundig gebruik, hou hierdie droogtes nie groot verliese in nie.

Rampdroogtes

Rampdroogtes is eintlik 'n verlenging van die periodieke droogte. AIle beskikbare voere word opgebruik en Staatshulp moet op baie groot skaal aangewend word om die veestapel te red. Grondvog bereik 'n laagtepunt waar dit vir plante ontoeganklik is, en plante mag selfs op grootskaal doodgaan. Waar daar versuim word om voorsorg te tref teen periodieke droogtes, sal rampdroogtes veel groter afmetings aanneem.

 

Mensgemaakte droogte

Mensgemaakte droogtes ontstaan as daar weens oorbeweiding en/of onoordeelkundige gebruik van die veld, 'n voedselskaarste geskep word ten spyte daarvan dat die klimaatsomstandighede nie 'n droogte kan meebring nie.

Op plase waar mensgemaakte droogtes voorkom, sal 'n seisoensdroogte reeds in 'n ramp omskep word.

 

Omvang van probleem.

Die droogte is nie alleen 'n landswye probleem nie, maar ook 'n individuele probleem. Elke boer staan dan alleen om sy eie besluite te maak. Om die regte besluit te neem, is dit nodig dat die boer in goeie jare, elke oomblik daarvan bewus moet wees dat hy uit die ondervinding van die verlede moet beplan vir die droogte wat more of miskien volgende jaar sal kom.

So baie boere vergeet van droogte omdat hulle steeds bly hoop op 'n beter dag wat sal volg. Hierdie houding is fataal, want slegs deur aan te sluit by die gees van die twintigste eeu (die eeu van beplanning) kan 'n boer te wagte wees om sy kop bo water te hou.

 

Hulpbronne

Elke boer moet alles in sy vermoë doen om die allerbeste gebruik van die natuurlike hulpbronne tot sy beskikking te maak. Elke boer moet gedurigdeur daarvan bewus wees dat die skaapbedryf in die Noordweste 'n belangrike bydrae tot ons volk se ekonomie lewer. Alleen deur rasionele denke, beplanning en optrede kan die volk se ekonomie beskerm word.

In tye van droogte word 'n besondere las op elke landsburger gelê om sy deel by te dra om die veestapel te red en geen boer het dan die reg om deur onoordeelkundige optrede die las van sy mede-landgenote te verswaar nie.

Om die effek van droogtes te verminder, moet 'n gedurige aaneenlopende proses by die boer wees. Die boerdery moet so gewysig en aangevul word dat die boer gedurig in 'n staat van gereedheid is om droogtes te bekamp. Die boer wat nie beplan nie se veld gaan baie agteruit en sy verliese word groter van die een droogte na die ander.

Die drie belangrikste natuurlike hulpbronne van 'n boerdery is die bodem, die plantegroei en die water. Dit is daarom vanselfsprekend dat die boer aandag sal moet skenk aan die fisiese, biologiese en hidrologiese beplanning van sy plaas, ten einde die mees doeltreffende bewaring en benutting van hierdie skaars dog kosbare natuurlike hulpbronne op sy plaas te verseker.

 

VERSAG DROOGTE.EFFEK

Rasionele beplanning is nodig om die uitwerking van droogte te versag. Beplanning en vooruitbeplanning van 'n boerdery-eenheid moet gesien word as 'n gedurige aaneenlopende proses.

 

Fisiese maatreëls

Om die effek van 'n droogte te verminder, kan 'n boer die volgende fisiese maatreëls toepas:

Nadat genoemde maatreëls op papier beplan is, moet die boer alles in sy vermoë doen om dit op die plaas uit te voer. Met ander woorde, die basiese vereistes van plaasbeplanning moet nagekom word, soos byvoorbeeld die daarstelling van genoeg veesuipings en die afkamp van veldsoorte. Perke van drakrag moet nie oorskry word nie en wisselweidingstelsels of veldbeheermaatreëls moet noukeurig toegepas word.

 

Hidroliese beplanning

Hidrologiese beplanning sluit in die voorsiening van water vir veesuiping in elke kamp, asook voorskrifte vir die behoorlike beheer van water en wind, en die ontwerp van sodanige strukture wat vir die uitvoering van die hidrologiese beplanning nodig mag wees.

Dit mag nodig wees om spesiale aandag te skenk aan die voorsiening van water in die vorm van boorgate, ronde en gronddamme. Die uitlê van kampe word in 'n groot mate deur die nabyheid of beskikbaarheid van waterpunte bepaal.

Ongeveer twee derdes van 'n skaap se liggaam bestaan uit water. Drinkwater is vir die dier van die grootste belang. Hoeveel droë voer 'n skaap sal vreet, hang ten nouste saam met die hoeveelheid water wat hy sal drink. Voldoende drinkwater op strategiese plekke sal voorkom dat die vee onnodige lang afstande loop. Hierdeur word waardevolle energie bespaar, en word die beskikbare voervoorrade des te doeltreffender benut.

 

Biologiese maatreëls

Die toepassing van biologiese beheermaatreëls bevorder die digtheid en kwaliteit van die plantbedekking en stel dit in verhouding tot die vermoë van die plaaslike klimaat en grond.

Die volgende biologiese maatreëls sal bydra om die effek van 'n droogte te versag:

Gesonde boerderymetodes, veral oordeelkundige spaar van veld, lewer 'n onmiskenbare bydrae tot die doeltreffende bekamping van droogtes. Boere wat 'n hoë intensiteit van beweiding beoefen ondervind die grootste probleme en het reeds in 'n vroeë stadium van die droogte meer geen veld beskikbaar nie.

Boere wat 'n wisselbeweidingstelsel toegepas het en teen 'n laer intensiteit bewei, was langer bestand teen die droogte en dit blyk ook dat die plantegroei in hierdie geval vinniger reageer op neerslae en sodoende gouer herstel.

Droogtevoere moet gekweek of aangeplant word en die oorskot met sorg opgeberg word vir gebruik gedurende droogte. Met oorleg kan bronne van droogtevoeding daargestel word, wat in tye van droogte waterbronne vir vee op die pIaas gebruik kan word.

Daar word ook gedink aan die doeltreffende gebruik van onderaardse waterbronne en beskikbare bougrond. Die primêre doel hiermee moet wees om voer te produseer en nie om kontantgewasse te verbou nie.

Die ontginning van skaars onderaardse waterbronne of die aangaan van groot uitgawes met die bou van besproeiingsdamme en uitkeerstrukture, moet met die grootste mate van versigtigheid oorweeg en beplan word. Met die oog daarop is dit van die grootste belang dat aIle beskikbare inligting ingewin word, voordat met so 'n onderneming begin word.

Ontblote grond, of skraal bedekte grond is onderhewig aan oorverhitting - dit lei tot hoër verdamping en nog droër grond. Ontblote grond is die ideale slagoffer vir wind, water en ander vorms van erosie. Die boer moet alles in sy vermoë doen om hierdie oppervlaktes bedek te kry. Hy kan alleen daarby baat, want die digter plantegroei help om die balans tussen plant, grond en water te behou. Ook dra dit by om voedsel meer eweredig deur die jaar te voorsien.

 

Waterbane

Een aspek van droogtevoeding wat veral meer op die voorgrond kom, is die afkamping, bewaring en benutting van waterbane. Waterbane bevat gewoonlik meerjarige plantsoorte met 'n hoë smaaklikheid en voedingswaarde. Hierdie plantekompleks is gevolglik in baie opsigte die boer se redding in tye van droogte. Die plaas se kampe moet so gespan word dat hierdie veld in tye van oorvloed gespaar kan word om as 'n voerbank te dien in tye van droogte.

Tydens langdurige droogtes is daar gewoonlik 'n tekort aan rumateriaal. Die waterbaanveld vul hierdie rumateriaal aan. Bewaar en benut hierdie veld soos 'n kleinood, want die diere sal langer in die veld as op die res van die plaas aan die lewe bly.

 

Kuddebestuur

Ten opsigte van kuddebestuur, is daar ook sekere metodes wat kan bydra tot doeltreffender oorbrugging van droogtes. Hier word daar veral gedink aan gereelde klassering van veekuddes.

Sodra 'n droogte in aanvang neem, verswak 'n sekere persentasie skape. Hierdie diere het waarskynlik 'n lae inherente weerstand teen abnormale voedingskondisies - ook is hulle aanpassingsvermoë swak. Raak van hulle ontslae - die wat eerste verswak moet ook die langste gevoer word en na afloop van 'n droogte neem hulle die langste om weer in produksie te kom. Raak ook van diere met liggaamlike gebreke ontslae want hulle kan abnormale voedingstoestande glad nie die hoof bied nie. Deur hierdie seleksie getrou na te volg, word 'n groter mate van gehardheid in die kudde vasgelê.

Die vermindering van veegetalIe voor 'n droogte is 'n baie gewenste optrede. Hierdie is 'n besigheidsrisiko wat elke boer moet loop. Deur rekord te bou kan die risiko verminder word. Die komponente van 'n kudde wat eerste verkoop sal word, is ou ooie, swakker tipes ooie en ou en ongewenste hamels. Die jong ooi en die groeiende lam is die boer se laaste vesting.

Die stadium waarop die skape verkoop sal word, hang van elke boer self af. As hy groot voorrade opgehoopte hooi het, kan die diere betreklik goedkoop vetgemaak word. So nie sal die boer moet besluit of hy hulle so wil verkoop of teen 'n heelwat groter uitgawe eers markklaar wil maak.

 

Parasiete

Inwendige en uitwendige parasiete kom baie meer algemeen voor as wat besef word. Dit is 'n swak boer wat toelaat dat parasiete sy winste verminder. Die boer moet gedurig bewus wees daarvan dat daar parasiete onder sy vee is. Die ou gedagte dat daar in die halfdorre Noordweste geen parasiete is nie, hou nie meer steek nie, want te veel boere het parasiete ingebring deur in droogtetye na hoër reënvalgebiede te trek en dan die besmette vee terug te bring.

 

Skaduvoorsiening

Skaduweevoorsiening en ander skuilings vir vee tydens warm dae is eweneens belangrik. Daar kan genoem word dat skape wat onder skaduwee gevoer is twee tot drie pond swaarder geweeg het as skape wat op dieselfde rantsoen in die son gestaan het. Die diere wat in die son staan, moet van die energie van die voedsel wat hulle inneem gebruik om hul liggaamstemperature aan te pas. Aanplantings van skaduryke bome by veesuipings dra by om met dieselfde hoeveelheid voer as wat nou gegee word, die diere in 'n beter kondisie te hou.

 

Veelekke

As gevolg van die skeiding van veldsoorte, mag dit gebeur dat diere sekere veldsoorte nie ten volle benut nie. Hierdie mensgemaakte droogte kan voorkom word, deur die regte veelekke saam met die veld te voer.

Beplan en vind vroegtydig uit watter lekke geskik is. Hierdie praktyk moet egter oordeelkundig gebruik word. Deur aanvullende veelekke kan dit gebeur dat die vee die plantegroei op die veld baie beter benut. Die gevaar bestaan egter ook dat wanneer vee vir 'n onbepaalde tyd op die veld gehou word, dit ontbloting in die hand kan werk.

Die uiteenlopende geaardheid van die natuurlike weidings in Suid-Afrika, bring mee dat daar tydens droogtes, verskillende tekorte op verskillende veldsoorte voorkom. As gevolg van die hoë kalkgehalte van Karooweidings, sal dit nodig wees om veral fosfaat aan te vul. Gedurende langdurige droogtes kan dit ook nodig word om Vitamine A aan te vul (Cloete, 1966 (p.5). Die boer moet hiervan kennis neem en sy eie voerfasiliteite so inrig dat hy wel hierdie aanvullende voer vir sy diere sal kan verskaf.

 

Voerkampe

'n Deel van die beplanning van 'n boerderyeenheid wat werklik goeie aandag vooraf moet geniet, is voerfasiliteite. In die meeste gevalle word die veetroppe verdeel sodat daar van 200 tot 300 stuks vee in 'n kamp is. As die boer dan hierdie vee moet voer, kom dit daarop neer dat hy dikwels na ses of agt of meer kampe moet ry om die voer uit te strooi. Die vervoerkoste hieraan verbonde stoot die voerrekening onnodig op. Sommige boere het reeds begin met die oprigting van permanente voerkampe by die plaaswoning.

Meestal bestaan die voerkrip self uit 'n baan van klippe wat met sement geflodder is. 'n Lae draadheining word in die middel gespan sodat die baan op sy lengte in twee verdeel word. Die sykante van die krip bestaan uit klippe wat effens hoër is as die blad.

Daar bestaan egter ook ander soorte voerkrippe, sommige in die handel verkrygbaar en ander van plaaslike ontwerp, om sowel gemaalde as gebaalde voer in te gee.

Hierdie voerkrippe word meestal in die kampe geplaas waar die diere loop. Die algemene gedagte is egter dat elke boer hierdie voerfasiliteite op sy plaas in kleiner kampe spesiaal vir gebruik in tye van droogte sal aanbring. Hoewel sulke intensiewe voerfasiliteite maar seIde aangetref word, is die algemene opvatting dat die boere almal sulke permanente inrigtings begin aanbou. Die klaarblyklike redes hiervoor is dat die koste om die voer na die skape te bring, baie laer is en dat aanhoudende beweiding op 'n veld wat reeds verswak het as gevolg van die droogte nie verder deur beweiding beskadig word nie.

Hierdie voerfasiliteite moet in goeie jare reeds die boer se onverdeelde aandag geniet. Daar moet na aan die woonhuis klein kampies met water en skadu ingerig word om die diere in droogtetye te voer, en selfs vet te maak. Liewer 'n klein kampie tot in die grond vertrap as om groot kampe se veldbedekking te beskadig.

 

DIE BOER SE BENADERING

In die moderne wêreldgemeenskap vind verandering op byna aIle terreine - ook op landbougebied - teen 'n ontsettende tempo plaas. (Kolbe, 1966).

Die boer met sy gesin, is die middelpunt van sy bedryf. Of die landbou gaan verander of nie, hang van die benadering van die boer teenoor sy eie bedryf, af.

'n Verandering in die boer se praktyk beteken 'n diepgaande proses van fisiese, verstandelike en geestelike aanpassing - dit kom eintlik neer op 'n reoriëntasie van hom as persoon binne die omvang van sy lewensgrense.

 

Lewenswyse

In die boer se benadering tot die droogteprobleem, sal so 'n persoonlike reoriëntasie nodig wees. Hier volg nou 'n paar persoonlike faktore waarin 'n boer homself sal moet reoriënteer, indien hy die effek van 'n droogte wil verminder:

Deur sy lewenswyse op 'n meer gemiddelde basis te skoei, kan die boer in die goeie jare 'n kapitaalreserwe opbou, wat vir hom tydens droogtes sal help om dit te oorbrug. Dit is miskien nie so maklik om die lewenspeil te verlaag nie maar die feit bly dat die boer wat versigtiger is met die aankoop van persoonlike lewensmiddele, in staat is om 'n kapitaalreserwe op te bou.

Gedurende 'n droogte soos die huidige een, koop elke boer vir homself en sy huisgesin minder maar sodra die droogte egter verby is, koop sommige van hulle weer los en vas. Dit is dus belangrik dat die winkel of koöperasie teen die onverskillige boer wat alles op krediet wil hê sal moet optree.

Veral die koöperasie kan hier 'n opvoedingstaak verrig, deur aan die gemeenskap tuis te bring dat krediet nie so maklik soos voorheen verkrygbaar is nie.

 

Kennis

Nog 'n bydrae wat 'n boer kan lewer om die effek van droogte te verminder, is om sy kennis van tyd tot tyd aan te vul:

Kennis oor die fisiese, biologiese en hidrologiese beplanning van sy plaas; kennis van die basiese feite in verband met boerdery-ekonomie; en kennis van die bestuur van sy eie bedryf.

Hierdie kennis kan verbreed word deur besoeke af te lê by proefplase en suksesvolle boere; deur gereeld met die voorligter te skakel; deur landboutydskrifte te lees en na radiopraatjies te luister.

 

VOORLIGTING

Die S.A. Voorligtingsdiens het egter ook 'n taak in die vermindering van die effek van die droogte. So moet plaaslike omstandighede deeglik in aanmerking geneem word met die fisiese, biologiese en hidrologiese beplanning van 'n plaas. Soms moet boere ook ekonomies gehelp word om die beplanning uit te voer.

Die grootste taak van die voorligtingsdiens, is altyd om die boer te help om homself te help. 'n Boer kan egter aIleen gehelp word as die voorligter kennis dra van die opvoedkundige vlak waarop die boer beweeg. Die enigste manier om te weet hoeveel kennis 'n boer het, is om dit vir hom te vra.

Met hierdie kennis van die boer as uitgangspunt, kan die boer so bearbei word dat hy 'n gunstiger houding teenoor sy bedryf sal nahou.

Deur middel van die opstel en uitvoer van opvoedkundige programme kan die voorligter 'n positiewe bydrae lewer - hy kan die gemeenskap daarvan bewus maak dat die effek van 'n droogte verminder of selfs uitgeskakel kan word.

Die voorligtingsbeampte moet homself so verdiep in sy taak, dat hy met die grootste mate van vertroue in die gemeenskap kan optree. Om hierdie ideaal te verwesenIik, verg soms ook reoriëntasie van die kant van die voorIigter.

 

Literatuurlys

ROSSOUW, C. DE W., et al (1965) - Verslag oor droogtevoeding. Staatsdrukker, Pretoria.

ROUX, P. W., (1965) - Die invloed van droogte op die benutting en bewaring van die veld en bodem. Landbou-navorsingsinstituut, Karoostreek.

CLOETE, J. G. et al (1966) - Droogtevoer van skape. Herdruk uit Boerdery in Suid-Afrika. Julie 1966. Staatsdrukker, Pretoria.

DE LANGE, O. A. (1963) - Die voeding van skape.

KOLBE, F. F. H. (1966) - Die voortou. p. 11. Universiteit van Pretoria.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 44 (1)