Last update: March 23, 2012 10:02:57 AM E-mail Print

 

Die dieetseleksie van verskillende veerasse op gemengde Karooveld en

die invloed daarvan op die veld

 

P. Botha

Weidingnavorsing

Landboukollege Grootfontein

 

Suid-Afrika word gekenmerk deur 'n wye verskeidenheid veld- en veesoorte. Die veesoorte is in baie gevalle uitsluitlik op natuurlike plantegroei as voedselbron aangewese. Hierdie twee komponente, die diere en die plantegroei, het 'n wedersydse invloed op mekaar. Dit is dus nie alleen nodig om te weet watter plant elke diersoort vreet nie, maar ook watter tyd van die jaar die spesifieke plantsoort gevreet word ten einde die impak van die dier op die veld te bepaal.

Verskillende diersoorte openbaar verskillende dieetseleksies: 'n plantsoort wat vir die een diersoort onaanvaarbaar is, kan 'n groot deel van die dieet van 'n ander soort uitmaak. Dit is dus nodig dat die vee wat gebruik word om die natuurlike plantegroei te benut, aangepas moet wees by die tipe plantegroei. Om dus 'n goeie benutting van die plantegroei te verkry, is die keuse van die veesoort van die grootste belang. Spesieseleksie varieer nie alleen tussen veesoorte nie, maar ook van seisoen tot seisoen, van dag tot dag, selfs binne een dag, of tussen individue van dieselfde veeras. Die spesieseleksie van die dier hang in 'n groot mate af van die produk wat deur die dier geproduseer word asook die fisiologiese status van die dier. Dit is egter so dat diere neig om plante wat aktief groei te selekteer.

In Tabel 1 word die bydrae van die verskillende komponente van die Karooveld tot die dieet van die verskillende veerasse op gemengde Karooveld aangedui. Uit Tabel 1 is dit duidelik dat alhoewel die verskillende veerasse verskillende komponente as voedselbron selekteer, daar tog, wat die komponente in die dieet betref, 'n aansienlike mate van ooreenkoms is. Wat in Tabel 1 opvallend is, is dat die grootvee baie gras geselekteer het en dat hierdie graskomponent ook in aansienlike mate deur die Merino ooie gevreet is. 'n Verdere opvallende kenmerk wat in Tabel 1 na vore kom, is die hoë persentasie plante in die dieet van die kleinvee wat deur kundiges as onsmaaklik geklassifiseer word. Dit is ook duidelik dat die kleinvee in groot mate op die opslagkomponent konsentreer wanneer hierdie komponent aanwesig is.

 

 

In Tabel 2 word die persentasie gemeenskaplike spesies in die dieet van die verskillende veerasse aangetoon. Vit Tabel 2 is dit duidelik dat die mate van oorvleueling in die dieet groter is hoe nader die veerasse aanmekaar verwant is. Die oorvleueling tussen die Dorper- en Merinoskape is groter as byvoorbeeld tussen Dorpers en Boerbokke. Indien die oorvleueling in die dieet op 'n kwantitatiewe basis weergegee word, word 'n ander beeld verkry. Tabel 3 toon die kwantitatiewe oorvleueling in die dieet van die verskillende veerasse. Tabel 3 illustreer ook die feit dat alhoewel twee veerasse in groot mate dieselfde komponent geselekteer het, die mate waarin spesies van die betrokke komponente geselekteer is, aansienlik kan varieer. Volgens Tabel 2 was ongeveer 82% van die spesies in die dieet van die Dorperskape en Merinoskape dieselfde. Indien die persentasie waarin die spesies in die dieet aanwesig was egter in berekening gebring word, (Tabel 3) blyk dit dat die dieet van die twee skaaprasse met slegs 61% oorvleuel het. Hierdie verandering in die oorvleuelingsyfer kan daaraan toegeskryf word dat die persentasie wat dieselfde spesie van die dieet van die twee rasse uitgemaak het, gewissel het.

 

Oor die algemeen kan die volgende weigewoontes aan die verskillende veerasse gekoppel word:

* Skape - Hierdie diere vreet relatief selektief en bewei die plantegroei in die stratum van 2 tot 40 cm en konsentreer veral op die plantegroei laer as 10 cm.

* Bokke - Bokke is oor die algemeen minder selektief, kan aanpas by die omgewing en floreer onder toestande wanneer ander veerasse sukkel. Bokke het 'n wye benuttingspektrum. Bokke vreet plantegroei in die gebied van 2 tot 160 cm en konsentreer veral op die plantegroei hoër as 10 cm.

* Beeste - Grootvee is oor die algemeen swak benutters van die laer plantegroei. Hierdie diere vreet op 'n hoogte van tussen 8 tot 70 cm en tot so hoog as 170 cm.

Tabel 4 toon die aantal spesies wat in die dieet van die verskillende veerasse aanwesig was. Die aantal spesies wat geselekteer is, kan as 'n aanduiding van die selektiwiteit van die veeras beskou word. Boerbokke het die grootste aantal spesies geselekteer, naamlik 44 uit 'n beskikbare 95. Hierteenoor het die Merino ooie 'n totaal van 34 geselekteer. Uit Tabel 4 blyk dit ook dat die grootvee die selektiefste gevreet het. Die grootvee het deurgaans hoofsaaklik op die graskomponent gekonsentreer soos blyk uit Tabel 1.

Dit is dus duidelik dat diere nie aIle plante as voedsel gebruik nie, maar dat slegs sekere plante geselekteer word. Die gevolg hiervan is dat die weidende dier en die plantegroei 'n wedersydse invloed op mekaar het. Die feit dat die diere in 'n groot mate op daardie plante konsentreer wat aktief groei, vergroot die impak van die diere op die veld.

Tabel 5 toon die bydrae van die verskillende komponente van die Karooveld tot die beskikbare plantmateriaal. Oor 'n periode van 2 jaar het daar 'n verandering in die beskikbare plantegroei plaasgevind. Die smaaklike en onsmaaklike karoobossies maak aan die einde van die periode 'n groter persentasie van die beskikbare materiaal uit, in vergelyking met die begin van die periode, terwyl die bydrae van die graskomponent afgeneem het. Hierdie veranderinge kan grootliks aan die dieetseleksies van die weidende dier toegeskryf word.  Volgens Botha (1981) het die diere gedurende die volgende seisoene op die verskillende komponente van die veld gekonsentreer:

 

* Smaaklike karoobossies - lente en winter

* Onsmaaklike karoobossies - herfs

* Gras - somer en herfs

* Opslag - somer of wanneer aanwesig

 

Hierdie periodes stem grootliks ooreen met die algemene groeipatroon van die verskillende komponente van die Karooveld, naamlik aktiewe groei van karoobossies in die herfs en lente, van gras gedurende die somer en opslag wanneer voldoende vag aanwesig is. Die feit dat die plante geselekteer word wanneer dit aktief groei, het 'n nadelige invloed op die plantegroei. Elke komponent moet die geleentheid kry om te blom, saad te produseer en saailinge te vestig. Karoobossies het twee seisoene van die jaar waarin dit aktief kan groei en reproduseer. Die feit dat die diere die twee karoobossie-komponente gedurende verskillende seisoene geselekteer het, het tot gevolg dat die karoobossies gedurende een van die aktiewe groeistadiums 'n natuurlike rusperiode ontvang. As gevolg van die natuurlike rusperiode kon hierdie komponent dus reproduseer en het die bydrae van die komponent tot die beskikbare plantmateriaal dus vermeerder. Die teendeel is egter waar van die graskomponent wat elke keer gedurende die aktiewe groeistadium geselekteer is, met die gevolg dat die populasies verminder is en dat hierdie komponent dus na 2 jaar 'n kleiner deel van die totale beskikbare plantmateriaal uitgemaak het.

Die interaksie wat in die natuur tussen die plant en die dier bestaan het, het dus 'n definitiewe invloed op albei partye. Die veld word deur die dier gebruik as voedselbron. Aan die ander kant beïnvloed die dier die plantegroei deurdat verskillende plante verskillende tye van die jaar gevreet word. Plante moet die geleentheid kry om te blom, saad te produseer, saailinge te vestig en dus die populasie uit te brei. Uit die voorafgaande is dit duidelik dat die natuur op sy eie nie in al die behoeftes van die veld kan voorsien nie. Dit is dus noodsaaklik dat daar in die benutting van veld deur diere vir hierdie prosesse voorsiening gemaak moet word deur een of ander vorm van rusperiode in 'n weidings bestuurstelsel.

 

VERWYSING

BOTH A, P., 1981. Die invloed van spesieseleksie deur skape, beeste en bokke op die floristiese samestelling van gemengde karooveld. D.Sc.-proefskrif, PU vir CHO, Potchefstroom.

 

Published

Karoo Agric 3 (8), 24-26