Last update: April 10, 2012 09:20:24 AM E-mail Print

 

Die Noorsveld

P. W. Roux 

 

DIE noors, noorsdoring, soetnoors of vaalnoors staan plantkundig bekend as Euphorbia coerulescens, 'n naam wat beteken blouerige Euphorbia en het betrekking op die eienaardige blou-groen kleur van die gelitte stamme van die noorsplant.

Die soetnoors is 'n doringagtige sappige struik met melksap, en is vertak vanaf die basis. Die menigvuldige regop stamme het 'n hoogte van 3 tot 6 voet of meer, en is 1 tot. 2 duim dik; die stamme is baie duidelik ingesnoer om geronde langwerpige of verlengde litte te vorm, wat vier- tot seskantig is. Hierdie stamme is min vertak; sekondêre takke kom in trosse voor, ietwat kransgewys gerangskik. Die sterk wegstaande dorings is ¼ tot ½ duim lank en kom in pare voor op die horingagtige rande van die kantige takke (6). (Fig. 1.)

 

 

Die sketskaart dui die hoof geografiese grense van die noorsveld as sulks aan. Hierdie gebied, met Jansenville as sentrum, beslaan ongeveer 1,200 vk. myl.

Die verspreiding kom hoofsaaklik voor in 'n uitgestrekte laagliggende, warm, droë kom, tussen die berge en heuwels wat in hoofsaak 'n reënskaduvallei is met 'n hoogte tussen 1 000 en  2 000 voet bo seevlak. Hierdie kom strek noordwaarts vanaf die voet van die Klein Winterberg en westelike Suurberg en eindig in die vorm van smal tonge wat tussen die rante en heuwels ten noorde van Jansenville - Waterford inskiet. Die hele streek word deur 'n lae reënval gekenmerk wat gemiddeld van 6 tot 10 duim per jaar wissel. Die gemiddelde jaarlikse reënval vir die streek is ongeveer 9 duim.

Die volgende tabel toon die jaarlikse reënval aan vir verskillende stasies, in of op die grens van die noorsveld geleë, vir die 10-jaar tydperk vanaf 1940 tot 1949.(4)

 

 

As gevolg van die lae ligging bo seevlak. is die streek betreklik vry van ryp. Gedurende die tydperk 1940-1949 het Jansenville 'n maksimum van slegs 3.8° ryp (28.2° F.) gehad, terwyl die maksimum temperatuur 114° F. was. Die hoogste gemiddelde maandelikse temperature word in Januarie-Februarie ondervind, terwyl Junie-Julie die koudste maande is. (4)

Die eerste blanke pioniers het reeds vroeg in die 18de eeu in aanraking gekom met die noorsveld in die huidige distrikte Somerset-Oos en Jansenville. Sedert daardie tyd het daar vermoedelik nie veel verandering in die geografiese verspreiding van die noors plaasgevind nie.

In 1823 het James Bowie, 'n plantkundige, die eerste noorsmonster na die beroemde Kew Gardens in Engeland gestuur. Dit is ongelukkig egter nie bekend waar hy die monster versamel het nie. Daar bestaan ook gekweekte noorsplante in die Huntington Gardens in Kalifornië, asook in die ZoŇĎlogiese Tuine in Amsterdam.(6)

Die vroeë nedersetters in die noorsveld, volgens 'n skrywer. in 'n baie ou uitgawe van die "Eastern Province Herald ", het die noors honderd jaar gelede as nutteloos beskou. Die deel is beskryf as 'n uitgestrekte gebied met noors oortrek, sonder water en feitlik nutteloos. Met verloop van tyd egter, het mens en dier hulself aangepas by die veeleisende streek en die eienskappe van die geharde noors in 'n mate self aangeneem (6). Vandag is dit 'n nuttige produserende gebied waar met puik kuddes merinoskape, vleisskape, beeste, sybokke en boerbokke geboer word.

 

Waarde as Veevoer

Die waarde van die soetnoors as veevoer, veral in tye van droogte, is lank bekend aan die noorsveldboere en word ook deur sommige boere deur die jaar gebruik as hoofbestanddeel van hul veld. Die plant word met 'n lang mes (noorsmes) in stukkies van 'n paar duim lank afgekap en op die grond gelaat om in die warm son droog te word. Na sowat 2 tot 5 dae word die stukke noors van die grond af deur diere gevreet. Na verneem word, kan een persoon daagliks genoeg noors afkap om sowat 500 tot 600 skape te onderhou (5).

 

 

Waar noors gereeld gekap word, kan sowat een skaap per morg aangehou word, soos op die kleiner plase die gebruik is. Daar word egter beweer dat meeste veesoorte nie langer as 4 tot 6 maande op 'n dieet van noors alleen onderhou kan word nie, en dat. Persiekruise en boerbokke beter gebruik maak van die noorsdoring as merinoskape of sybokke. Beeste kan skynbaar ook gekapte noors doeltreffend verbruik. In die volgende tabel word 'n vergelyking. getref tussen die voedingsbestanddele van noors teenoor die van doringlose turksvy:

 

Vergelykende ontledings van Noors en Doringlose Turksvy: persentasies, droë gewigsbasis:

Voedingstowwe                              Noors             Turksvy

As                                                     9.70                19.46

Vette (Eterekstrak)                            11.06                 1.49

Ru-proteïene                                       4.49                3.65

Stikstofvrye ekstrak (koolhidrate)        53.75               63.42

Ru-vesel                                           21.00               11.98

                                                     100.00              100.00

* Ontledings deur skeikundiges van die Grootfonteinse Landboukollege.

 

Die syfers aangegee vir noors is nie van algemene toepassing nie aangesien slegs een monster vir ontleding beskikbaar was.

Ofskoon boere in die noorsveld die waarde van die noorsdoring deeglik beset, word uiteenlopende menings gehuldig aangaande die gewensdheid van 'n digte bedekking noorsdoring op die plaas, veral op groot plase waar die veld ligter gelaai word en hoofsaaklik met merinoskape geboer word. Op sulke plase word die noors slegs as reserwe voer tydens droogtes gebruik en daar word dus hoofsaaklik. op die Karoostruike en grasse tussen die noorspolle geboer. Onder hierdie omstandighede word 'n betreklik digte stand noorsdoring - waar die hoeveelheid die benodigdhede vir 'n droogtereserwe ver oorskry - dikwels as ongewens beskou. (Fig. 2.)

 

 

In hierdie verband word 'n verslag deur dr. C. E. M. Tidmarsh, van die Grootfonteinse Landboukollege. Hier aangehaal.

Wenslikheid van Uitroei van Noorsdoring ?

"As gevolg van 'n versoek gerig aan die Departement van Landbou deur die Jansenville Boere-, Bokhaar- en Wolkwekersverenigings is die saak van die wenslikheid al dan nie van die uitroei van noorsdoring in die veld in die omgewing van Jansenville, deur beamptes van die Weidingnavorsingseksie op Grootfontein, die Voorligtingsebampte op Graaff-Reinet, en 'n groep belangstellende boere van die distrik Jansenville gedurende April 1951, nagegaan.

Die ondersoek is onderneem as gevolg van 'n verskil van mening onder die boere aangaande die nut en gewensdheid van die noorsdoring. Ofskoon sy waarde as 'n droogtevoer in tye van nood algemeen erken word, het die  vraag nogtans ontstaan of die noorsdoring nie plek in die veld inneem wat voordeliger deur voedsamer plante ingeneem kon word nie, en verder of die noorsdoring nie die kleiner, meer gewenste- plante tussenin (Karoobossies, grasse e.d.m.) teenwerk en gedeeltelik verdring nie. Skynbaar word tereg geglo dat, in die omgewing van Jansenville waar die noorsdoring vandag ruig voorkom, met enkele spekboom, witgat, wildepruim, kruisbessie, e.d.m. daardeur versprei, die plantegroei vroeër hoofsaaklik uit hierdie nuttige struike bestaan het en dat die noorsdoring 'n ondergeskikte plek daarin beklee het (Fig. 3), Derhalwe word die huidige ontwikkeling van die noorsdoring, wat uitermatig beskou word, met agterdog deur baie boere bejeën.

 

 

Dit moet verduidelik word dat om die noorsdoring doeltreffend te gebruik, moet dit gekap of gekerf word en dat dit dan beswaarlik 'n onderhoudsrantsoen aan meeste veesoorte verskaf. Waar dit ruig staan, is dit geneig om die wol van die skape (indien wolskape) uit te kam. Dit veroorsaak ook dat diere in hul beweiding verhinder word, langer afstande daagliks moet stap in hul bewegings deur die veld. En dit bemoeilik ook die bymekaar maak en bestuur van die troppe.

Mnr. Sid Fourie, van Jansenville het derhalwe ongeveer vier jaar gelede op sy plaas Rondekop die volgende proef uitgevoer:-

Twee aangrensende kampe van ongeveer 200 morge elk is gebruik vir die doel. In die een kamp is die noorsdoring sover moontlik met bospikke geheel-en-al uitgehaal, behalwe in vlak klipperige grond waar dit stomp afgekap is. In die tweede kamp is die noorsdoring onaangeraak gelaat. Altwee kampe is toe vir die afgelope vier jaar gespaar, behalwe dat 'n klein trop beeste (ongeveer twaalf) in die kampe onlangs toegelaat is.

Op 19 April 1951 het die bogenoemde beamptes en boere die kampe van mnr. Fourie besigtig en ook die vliegveld op die dorpsmeent waar 'n betreklik groot oppervlakte 13 jaar gelede geheel-en-al van noorsdoring skoongemaak is. Rondom die vliegveld, wat nie afgekamp is nie, staan die noorsdoring nog ruig, en die geheel word betreklik swaar bewei. Gelukkig vir die doel van die ondersoek is die vliegveld sedert sy stigting feitlik nie deur vliegtuie gebruik nie en is die veld dus nie daardeur versteur nie.

Reëlings is getref om noukeurige opnames .van die velde met gebruik van die wielmetode te maak, en van 6 tot 8 Junie is die opnames deur beamptes van die Weidingnavorsingseksie uitgevoer. Die resultate daarvan word in die bygaande tabel aangegee.

Die syfers wat in die tabel as bodembedekking aangegee word, stel die gewortelde bedekking van die plante op grondvlak voor, en verskille van ongeveer 1 persent in die totale bedekking kan as betekenisvol (P=0.05) aanvaar word.

 

 

Uit hierdie tabel blyk dit dat die noorsdoring nie die ander veldplante verdring nie en dat daar geen betekenisvolle toename in die hoeveelheid beskikbare weiding plaasvind as gevolg van die uitroei van die noorsdoring nie. lnteendeel, die totale grondbedekking, waar die noorsdoring uitgeroei is, is ongeveer 45 persent laer as die van die noorsvelde en derhalwe is die grond meer aan erosie blootgestel. Op die skoongemaakte vliegveld van Jansenville is daar ook betekenisvol meer steekgras as in die omliggende noorsveld. Daarby moet genoem word dat verskillende nuttige plante, en veral die waardevolle grasse, buffelsgras (Panicum sp.), vingergras (Digitaria sp.), rooigras (Themeda sp.) en ander, in die noorspolle skuil en gladnie voorkom in die veld wat skoongemaak en bewei is nie. Verder is opgemerk dat gedurende droogte (soos. bv. tydens die. opnames) die kleiner plante, veral die Karoobossies, tussen die noorsdorings groener en meer lewendig voorkom as die in die skoongemaakte veld.

 

Aanbevelings

As gevolg van die inligting wat uit die ondersoek verkry is, word die voor-die-voet uitkap van noorsdoring afgeraai. Indien die plant egter verhoudings in die veld aanneem wat tot hindernis van mens en dier strek, word voorgestel dat bane deur die veld, op die kontoer, oopgekap word en dat breë bane van noorsdoring tussenin ongestoord gelaat word om as beskutting teen verdorrende winde en spoelende waters te dien. In die bane wat oopgekap word, word verder aanbeveel dat die noorsdoring slegs afgekap, en nie uitgekap word nie, sodat die waardevolle plante wat in die noorspolle skuil, en aIdus aan beweiding blootgestel word, deur die agterblywende noorstoppel teen doodvreet beskerm word. Sodoende kan hierdie plante benuttig, maar nie uitgeroei, word nie.

Ten slotte word mnr. Fourie bedank vir die proewe wat hy. uitgevoer het asook vir sy welwillende hulp en samewerking met die ondersoek. Die belanghebbende boere van Jansenville word ook hartlik bedank vir hul vriendelike ontvangs en die nuttige besprekings wat gevoer is. Hul belangstelling in hierdie sake word op prys gestel.

 

Veldbeskermende Plant

Wat veral opvallend was tydens die ondersoek wat in die verslag hierbo genoem word, is dat na 13 jaar daar feitlik geen nuwe noorsplante op die vliegveld opgekom het nie. Die meeste jong noorsplante kom op die omtrek van die vliegveld voor waar die ou gevestigde noors staan. Die nuwe plante ontstaan skynbaar hoofsaaklik as gevolg van die vegetatiewe voortplanting van die ouer noorsplante. Die wortelstokke van die moederplant versprei lateraal en hieruit spruit die nuwe noorsplantjies. Die enkele plante wat op die vliegveld voorkom, is hoofsaaklik spruite van ou oorgeblewe wortelstokke. Dit is dus vanselfsprekend dat die noorsdoring nie ligweg vernietig behoort te word nie. Waar noorsdoring noodwendig uitgekap moet word, soos by. waar bane oopgekap word, kan dit aanbeveel word dat die plantmateriaal (tensy dit vir voer gebruik word) op hope gestapel word; verrottende noors, waar dit ruig staan, kan moontlik as gevolg van die vrystelling van vette in die plantmateriaal, wat met die braksoute in die grond reageer, verseping van die grond veroorsaak. Die gevolg van die reaksie is 'n verseëling van die oppervlak van die grond waardeur die opname van water in die grond bemoeilik word.

Navorsing op Grootfontein het getoon dat, met die beskikbare hoeveelheid vog in die Karoo in beperkte voorraad, die totale hoeveelheid plantmateriaal wat per eenheid oppervlakte kan groei en onderhou word, ook streng beperk is. Deur die hoeveelheid van een plantsoort te vermeerder sonder om die vogvoorraad ooreenkomstiglik aan te vul. sal dit 'n ooreenstemmende vermindering onder die ander plante teweegbring (3). In teenstelling hiermee blyk dit egter dat vetplante, waaronder die noorsdoring en turksvy onder andere ressorteer, in staat is om te vermeerder sonder dat daar 'n ooreenstemmende vermindering onder die ander veldplante plaasvind.

Afgesien van sy voortreflike eienskap as droogte- en aanvullende voer, wil dit voorkom asof die noors 'n soortgelyke voordeliger uitwerking op die veld uitoefen as die doringlose turksvy; as gevolg van sy windbreek effek, dien dit die goeie doel om winderosie en waterverlies deur verdamping teen te werk. Deur sy skadu op die grond te werp, word die grondoppervlak vermoedelik ook koeler gehou.

Die noors besit vermoedelik ook, net soos die doringlose turksvy, 'n voortreflike spaarsame waterhuishouding. Die plant, met sy vlak wortelstelsel, is in vermoë om 'n geringe neerslag reën feitlik onmiddellik te benuttig en in die plantweefsels op te gaar waarop die plant dan verder teer. Grondvog wat op die wyse gebruik word, sou heel waarskynlik vir die gewone veldplante deur verdamping verlore gegaan het. Die noors, asook die turksvy, gebruik dus skynbaar oortollige sowel as klein hoeveelhede vog wat die ander plante nie in staat is om te gebruik nie. Aktiewe mededinging om water tussen noors en die ander veldplante word dus grootliks uitgeskakel.

 

Stryd om Vog en nie Ruimte nie

Dit skyn dan die verklaring te wees van die resultate van die bogenoemde ondersoek, naamlik dat, in plaas van 'n moontlik verwagte vermeerdering in die ander veldplante as gevolg van die uitkap van die noorspolle, 'n mate van agteruitgang eerder plaasgevind het. Dit beklemtoon ook die toestand in die Karoo waar die stryd om 'n bestaan tussen plante eerder om vog as om groeiruimte gevoer word. Dis juis omdat die beskikbare oppervlaktes waarop plante kan groei die beskikbare vogvoorrade ver oorskry dat die plantbedekking van die Karoo so yl is en waarom vetplante, wat (weens hul eienaardige waterhuishouding) skynbaar nie met die ander veldplante regstreeks om water meeding nie, 'n bestaan in die veld kan voer sonder om afbreuk aan die ander plante te doen.

Hierdie belangrike beginsel word tans op die Grootfonteinse Landboukollege verder ondersoek.

 

LITERATUUR

  1.  ACOCKS, J, P. H, Kaart: Veltipes van Suid-Afrika. (in pers.) .

  2.  MARLOTH, R., The Flora of South Africa. Band II, Seksie ii. 1925.

  3. TIDMARSH, C. E. M., Veld Management Studies 1934-1950. Pasture Research in S.A. Vorderingsverslag No.3, 1951.

  4.  Weerburo verslae 1940-1949., Departement van Vervoer.

  5.  WESSELS, N. G., TIMARSH C. E., CLAASSENS, C. C., en DIPPENAAR, C. J. Angora Goat and Mohair Industry (ongepubliseerde verslag).

  6.  WHITE, A., DYER, R. A., en SLOANE B. L. The Succulent Euphorbieae (Southern Africa.) 1941.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 28