Last update: August 18, 2011 03:42:36 PM E-mail Print

 

PRODUKSIE EIENSKAPPE BY MERINOSKAPE MET BEHULP

VAN ‘N DIEREMODEL

 

J.J. Olivier, G. J. Erasmus, G. J. Delport &

1A. O. de Lange

 

Landboukollege Grootfontein, Middelburg

Departement Veekunde, UOVS, Bloemfontein

SA Vagtoetssentrum, Middelburg

1ARDRT. Univ. Fort Hare, Alice

 

Weens die feit dat produksie eienskappe van Merinoskape in albei geslagte gemeet kan word en gewoonlik ook matig tot hoog oorerflik is, word die dier se eie waarde in vergelyking met die van sy tydgenote (PT) as ‘n akkurate beraming van die dier se teelwaarde beskou.  Met ‘n dieremodel word alle beskikbare inligting verkry vir teelwaardeberaming.  Vir jong diere, word benewens die dier se eie prestasie ook die teelwaardes van sy ouers gebruik om sy teelwaarde te beraam.  Die beraming van teelwaardes van jong diere sonder nageslag (TWnp) met behulp van ’n dieremodel behoort dus teoreties meer akkuraat te wees as net die prestasie van die dier alleen gebruik word.  Die teelwaarde van 111 Merinoramme wat gemiddeld 28,19 ± 15,44 nageslag gehad het, is met ‘n dieremodel beraam en die waardes verkry is as die dier se werklike teelwaarde (TWp) geneem.  Die korrelasie tussen PT en TWp was 0,573 vir liggaamsmassa, 0,512 vir skoonwolmassa en 0,735 vir veseldikte.  Daarteenoor was die korrelasie tussen TWnp en TWp vir liggaamsmassa, skoonwolmassa en veseldikte 0,815, 0,830 en 0,852 onderskeidelik.  Die resultate dui daarop dat die gebruik van TWnp eerder as PT tydens seleksie, genetiese responsie in hierdie eienskappe kan versnel.  Die ooglopende meerderwaardigheid van TWnp teenoor PT wanneer diere oor kuddes of omgewings vergelyk word, maak die gebruik van die dieremodel in die bepaling van teelwaardes van jong diere nog meer aantreklik.

 

Published

Handleiding 28ste SAVDP-kongres