Last update: April 11, 2012 03:05:29 PM E-mail Print

 

Die Skape van die Grootfontein Landbouskool

E. N. S. Warren

 

DRIE kuddes Merino-stoetskape word op die Grootfontein Landbouskool aangehou, naamlik: (a) Wanganellas, (b) Tasmaniese, en (c) 'n Dubbelkudde.

 

Wanganellas

Die stoetkudde Wanganellas is in September 1912 begin met ingevoerde ooie uit Australië, wat spesiaal uitgesoek was deur mnr. John F. McNab, toenmalige hoof skaap- en wolbeampte, Die kudde het bestaan uit een stoetram, " Body", wat 250 ghienies gekos het, en afstam van "94" en " The Gentleman "; 10 spesiale stoetooie teen £30 elk, en 50 stoetooie teen £10 stuk, afkomstig van die plaas van wyle F. E. Body, van Bundemar, Trangie, Nu Suid- Wallis; een stoetram" Murgha " wat £300 gekos het, en 60 stoetooie teen £10 stuk, afkomstig van mnre. A. J. en H. L. Austin se Murgha-stoetkudde; en 40 spesiale stoetooie teen £20 stuk, afkomstig van die Wanganella Pastoral Co. (wyle Albert Austin), Wanganella.

In Mei 1914, is 50 stoetooie verkry van die Goewermentsstoetplaas Grootvlei, O.V.S. Hierdie skape was die aanteel van ingevoerde vee van soortgelyke afkoms as die oorspronklike aanvangskudde, met ook nog Deniliquin Stud Park bloed (Thos. Millear) in hulle.

In Me). 1916, is "Elsenburg Admiral ", afstammeling van die ingevoerde Deniliquin Stud Park-ram, en geteel op die Goewermentsstoetplaas Grootvlei, O.V.S., ook by gekry, en tot 1920 in die stoetkudde gebruik. Dit was die beste ram wat tot daardie tyd in die stoetkudde gebruik is.

Ramme, geteel uit hierdie stoet, is vanaf 1918 in gebruik geneem en die ram hieronder wat die beste resultate gegee het en meeste gebruik van gemaak is, was "Grootfontein Elliott ", 'n hoë kwaliteit medium tot fyn wol ram, van Murgha-bloed. Geen nuwe bloed is van buite af ingebring nie tot 1920, toe " McSweeny ", 'n ingevoerde Canowie sterkwol-stoetram wat spesiaal uitgesoek is deur mnr. A. G. Michaelian, toenmalige hoof skaap- en wolbeampte, en gekoop vir £840. Hierdie ram is net vir een seisoen gebruik omdat hy swak resultate gelewer het; sy lammers was grof en harig, en almal, behalwe een ooi, is uit die stoetkudde uitgeneem. In dieselfde jaar (1920) is 20 ooie gedek deur 'n ingevoerde sterkwol Haddon Rig-ram, wat mnr. A. G. Michaelian vir die Glen Landbouskool gekoop het. 'n Paar jaar later is twee van sy nageslag gebruik.

In 1921 het mnr. E. N. S. Warren 'n ingevoerde ram, “9.12 ", wat deur die Austin Wanganella Pastoral Co. Geteel is, vir 1,000 ghienies gekoop. Hierdie ram het baie gedoen om die kwaliteit van die wol te verbeter, wat soos die meeste van die destydse Suid-Afrikaanse stoetskape, aan die sterk kant was. Die nageslag van "9.12" was egter geneig om kruis-hakskene te hê.

In 1927 is "Havoc ", 'n ram met Boonooke-bloed, van dr. E. G. Goddard van Summer Hill, Tarkastad, gekoop vir £500. Dit was 'n mooi wolram, maar ongelukkig was die wol van sy nageslag geneig om te sterk, grof en harig te wees, en hy is gou uitgeskakel.

In 1928 is "Luckhoff ", 'n ram wat mnr. A. Luckhoff van Zuurplaats., Graaff-Reinet, geteel het, en afstam van “King Charles II ", vir £300 gekoop. " Luckhoff " het 'n hoë kwaliteit medium wol gehad, en is net vir twee seisoene gebruik, omdat sy nageslag, hoewel in baie opsigte uitstekend, geneig was om vuil gesigte te hê, 'n gebrek waarvan die Grootfonteinse stoetkudde nie bekend is nie.

In 1929 is die hoë-kwaliteit stoetram, "505 ", wat deur mnr. Frank Kock van Richmond, Kaapprovinsie, geteel is, en van opregte Grassdale afkoms is, vir £1,000 gekoop; hy is 'n groot dier met 'n uitstekende bou en 'n wonderlike mooi houding, met 'n medium tot sterk wol van hoë kwaliteit, en het op tot 36 lb. wol gelewer. Mnr. Frank Kock se "Five Again ", Reserwe Groot-Kampioen, Middelburg, 1931, is deur "505" geteel. Gedurende die afgelope drie seisoene is die enigste ramme wat gebruik is net "505" en sy lammers. Dit word gehoop om op hierdie manier gou 'n oorheersende tipe ras te verkry.

 

Tasmaniese Stoetkudde

Hierdie stoetkudde is in Desember 1913, begin met 32 stoetooie en een ram "Grootvlei Captain", wat verkry is van die regering se stoetplaas op Grootvlei, O.V.S. Dit is opgevolg deur ander besendings, nl. 18 stoetooie in 1914, en in 1915, die Eksvale-stoetram, "Minister", wat £430 gekos het, asook 48 stoetooie en 27 lammers. In 1920 is die Tasmaniese stoetkudde op die Glen Landbouskool oorgebring na Grootfontein. Hieronder was “Glen Star", een van die beste ramme wat ooit in Suid-Afrika geteel is, en wat op Bloemfontein met "Meteor" van mnr. F. W. Southey meegeding het vir die Groot Kampioenskap. "Glen Star" het 'n vag gehad van buitengewone digtheid, volheid, kwaliteit en karakter, en het in hierdie rigting groot verbeterings in die Grootfontein stoetkudde aangebring. Ongelukkig het hy met die ouer word, steekhaar ontwikkel, wat ook in sy nageslag opgemerk is.

Die Tasmaniese skape van hierdie tydperk het bestaan uit taamlik klein, gerimpelde diere met toe gesigte en 'n kort fyn wol van hoë kwaliteit en groot digtheid, maar met lae skoongewaste gewig. "Grootfontein Olifant " wat in die stoetkudde geteel is en afkomstig is van "Grootfontein Captain" en "Minister", was verantwoordelik daarvoor dat hierdie ras verander het. "Olifant" is van 1919 tot 1926 gebruik; hy is 'n tweeling lam van buitengewone grootte, met 'n sterk konstitusie, gladde lyf en oop gesig. As 'n 4-tand het hy 'n sagte, fyn hoë kwaliteit wol van 64 tot 70 kwaliteit gehad, wat fyner geword het tot 80 kwaliteit toe hy sewe jaar oud was. Sy wollengte as 'n tweejaar-oud was 3½ duim, wat buitengewoon was vir die Tasmaniese skaap van daardie dae. Hierdie ram was een van die oorheersendste wat ooit gebruik is, en het baie gedoen om die stoetkudde se tekortkominge in verband met oorontwikkeling, toe-gesigte en kort wol, te verbeter.

Die eerste Zara-bloed is in 1921 ingebring, toe 'n seun van "2.1" van die Clewer Estate-stoetkudde van Sir Abe Bailey gekoop is. In 1924 is "Prince Rag", geteel van Sir Abe Bailey se "Lord Haig", met 'n Grootfonteinse stoetooi, met veelbelowende resultate, gebruik een van sy lammers, "Sir Rag", is vandag een van die beste ramme. In 1927 is "Speedy", deur “Victory", 'n ingevoerde Zara, van dr. E. G. Goddard gekoop.

Met die uitverkoping van Sir Abe Bailey se Zara-Tasmaniese skape, in Mei 1929, is 'n baie waardevolle byvoegsel gemaak toe 83 stoetooie van hoë standaard met 27 lammers, en die volgende vyf stoetramme vir £7,991 gekoop is:-

" Bemerside ", deur "Lord Haig" (agtereenvolgende fynwol kampioen van Suid-Afrika se vernaamste tentoonstellings).

" Dandy", deur “Field Marshall", van “Lord Haig" van "2.1”, “Dandy" se moer was"Daisy”, deur " Lord Haig ". "Daisy" het 'n baie beroemde tentoonstellingsrekord.

Hierdie ram is dood nadat hy een jaar gebruik is, maar hy het 'n  veelbelowende aanteel nagelaat, naamlik "Bytel", deur " Bysit" (ongelukkig 'n nie-teler), " Z 388”, deur " Griffiths ", en 'n ramlam, deur " Bemerside ".

 

Die Dubbelstoetkudde

In 1929 is besluit om die getalle van beide die Wanganella- en die Tasmaniese stoetkuddes te verminder en net ooie van hoë standaard te behou. Die skape wat uit beide stoetkuddes uitgeskakel is, het die fondament geword van die Dubbelstoetkudde. Wanganella-ramme is onder Tasmaniese ooie gesit en omgekeerd. Die resultate tot op datum is veelbelowend, en baie van die nageslag is van die beste diere wat nog op die Landbouskool geteel is.

Die plan is om die drie kuddes vereers heeltemal apart te hou totdat tyd en omstandighede 'n verandering eis.

 

Algemeen

Hierdie Landbouskool het heelwat sukses gehad op baie van die vernaamste tentoonstellings. Byvoorbeeld op die Queenstown-skaaptentoonstelling is die volgende pryse in die oop klasse behaal, naamlik: Een Groot-Kampioenskap; een Reserwe Groot-Kampioenskap, en twee Reserwe Kampioenskappe.

Die teelt-oogmerke in al die stoetkuddes is om 'n groot skaap te verkry wat 'n oop en skoon gesig het, nie hare en steekhaar het nie, en 'n hoë kwaliteit medium tot fyn wol dra. Die drie stoetkuddes bestaan uit omtrent 450 ooie van teelouderdom, en die plan is om hulle op hierdie getal sterkte te hou.

Behalwe hierdie stoetskape, word ook 'n kudde van 1,200 Merino-teelooie en 150 Swartkop-Persies aangehou, asook 'n klein kudde, Angorabokke, wat 'n totaal gee van ongeveer 6,000 stuks kleinvee. Hierdie getal is gedurende die afgelope 15 maande tot 4,500 verminder, deur verkoop, en deur verplasing na ander landbouskole.

Die besonderhede hieromtrent is as volg : -

 

 

Uit hierdie sal opgemerk word dat Grootfontein grotendeels in die benodighede van die ander skole en afdelings voorsien wat skape betref.

 

Ondersoekwerk

Ondersoekingswerk in skape en wol word aan Grootfontein uitgevoer, onder toesig van die Direkteur van Veeartsenydiens en Veenywerheid, en bestaan grotendeels uit teelt (genetiese) proewe, insluitende (1). bruinvlek, (2) swartkloutjie, (3) kemp of steekhaar, (4) lettermerk, (5)klimaatstoestande om die invloed van omgewing op wol vas te stel, (6) bronstigheid, (7) kunsmatige dekking, (8) vrugbaarheid, (9) beweiding van lusern in somer en winter, wintergrane, soutbos en doringlose turksvye om die drakrag vas te stel, ens., (10) kruisteelt vir vleis- en vetlamproduksie, en (11) voeding.

Vier voltydse amptenare is besig met die proewe waarvoor byna 1,000 skape gebruik word.

Die inkomste van bogenoemde diere, insluitende die verkoop van wol en velle, was £3,200 gedurende die laaste 15 maande. Daar word jaarliks sowat 1,500 lammers grootgemaak.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 8