Last update: April 4, 2012 10:21:53 AM E-mail Print

 

DIE WEER EN ONS KAROOVELD

J Tredoux

 

Presies hoe beïnvloed die onderskeie aspekte van die weer die groei en samestelling van Karooveld? Beamptes van die seksies Weiding en Landbouweerkunde is besig om die antwoord op hierdie vraag te soek.

Ses weerstasies is op Grootfontein opgerig, elkeen op 'n ander veldtipe. Die temperatuur en voggehalte van die lug, die rigting en spoed van die wind en die reënval word by die stasies gemeet. Weersfaktore wat min wissel oor 'n paar kilometer, soos daaglikse sonskyn duur, word by die hoofweerstasie op Grootfontein bepaal en nie afsonderlik op elke veldtipe nie.

Die veldtipes in die ondersoek sluit onder andere tipiese bossieveld in asook grasveld in ‘n laagte en die plantegroei aan die noordelike en suidelike sye van ‘n rant. Gereelde plantopnames word in ‘n afgebakende perseel rondom die weerinstrumente op elke veldtipe gedoen.

Deur die plantopnames word inligting verkry oor die gras- en bossiesoorte wat aanwesig is, hul relatiewe hoeveelhede en die digtheid van die stand. Inligting word ook verkry oor die groeitempo van die plante en oor die tye waarop sekere ontwikkelingstadiums bereik word soos bot, blomstadium en saadstadium. Hierdie inligting kan dan met die voorafgaande weerstoestande in verband gebring word.

Die klimaatsverskille waargeneem oor 'n afstand van slegs sowat 12 km in hierdie ondersoek, is opvallend. Op die perseel met die meeste reën - die grasbedekte laagte kom gemiddeld 13 persent meer reën voor as op die droogste perseel. Die laagste nagtelike temperatuur by die koudste perseel is gemiddeld tussen 4 en 5 grade Celsius laer as by die warmste een. En by die winderigste perseel is daar gemiddeld 23 persent meer wind as by die stilste perseel.

Daar word vertrou dat wanneer ons daarin geslaag het om vas te stel presies hoe die weer Karooveld beïnvloed, hierdie kennis sal meehelp tot doeltreffender benutting en groter vooruitgang van ons veld.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Desember