Last update: April 11, 2012 01:30:08 PM E-mail Print

 

Digtheid van die Merinowolvag

V. Bosman

 

DIE digtheid van die wolvag is 'n belangrike kenmerk vir beoordelaars en telers van Merinoskape. Rose (3) sê in sy bespreking van die “Verduideliking van die Merino-Punteskaal in Suid-Afrika " dat digtheid bete!ken " hoe dig opmekaar die vesels op die vel groei ". Praktiese skaapboere skat die digtheid van die wol deur dit te voel en daarna te kyk, en stel dan die verskillende grade relatief vas. Volgens hierdie metode van beoordeling kan kwaliteit egter nie rekenkundig noukeurig uitgedruk word nie en die beoordeling is dikwels foutief.

In proewe met skape is meer noukeurige metodes nodig vir die vasstelling van die digtheid van die wolvag, en dit word dan ook gebruik in die navorsingslaboratorium op Grootfontein by die studie van Merinokenmerke uit 'n genetiese oogpunt. Die berekening is gebaseer op die aantal wolvesels per eenheid veloppervlakte en ook op die dikte van die vesels. Dis nodig gevind om so 'n berekening te maak omdat twee skape wat ewe veel vesels per eenheid veloppervlakte het, tog nie dieselfde vagdigtheid het, as die een 'n fynwol- en die ander 'n sterkwolskaap is nie, want laasgenoemde sal 'n heelwat digter vag hê.

 

Nodige Stappe

'n Opsomming van die metodes vir die bepaling van vagdigtheid, sonder om uit te wei oor die metodes gebruik in 'n laboratorium, word hier gegee:-

(a) Afmerk van 'n eenheid vel oppervlakte, waarvan die wolmonster afgeknip word.

(b) Vas stelling van die aantal vesels in die monster.

(c) Bepaling van die veseldikte van die monster.

(d) Berekening van die vagdigtheid per eenheid veloppervlakte.

 

Die bepaling van die digtheid van die wolvag op hierdie manier het feite van fundamentele belang vir die Merinoteler aan die lig gebring. Dis bewys dat vir 'n goed uitgegroeide stoetram met 'n vag van 4-duim-stapellengte, 64's kwaliteit en 50 persent skoonopbrings, elke 10,000 vesels per vierkante duim 4.11b, by die gewig van geskeerde vag beteken (1). Dus sal so 'n ram met 50,000 vesels per vierkante duim 'n skeersel van 23.5 lb. vetwol gee.

 

Bepalings in die Geval van Merino-stoetooie

Die vagdigtheid van 'n aantal Merino-stoetooie is bepaal. 'n Paar van die resultate word hieronder aangegee:-

 

 

Die tweede kolom, d.i. die getal vesels per vierkante duim op die blaaie, toon 'n variasie van 38,300 tot 66,300. Soortgelyke bepalings in gewone skaapkuddes was in vergelyking baie kleiner, en 15,000 tot 25,000 vesels per vierkante duim is gevind.

In die derde en vierde kolomme word die veseldikte en die kwaliteitnommers aangegee, wat varieer van 64's tot 80's. In die vyfde kolom word die vagdigtheid uitgedruk in persentasie van die totale veloppervlakte deur die vesels bedek, en dit varieer van 1.54 tot 3.56. Dit toon aan dat meer as 96 persent van die vel sonder wolvesels is. As die sweet en vetkliere van elke vesel in aanmerking geneem word, dan beslaan die vesels met hul toebehore van ses tot agt persent van die veloppervlakte. Dit beteken dat naasteby 92 per sent van die veloppervlakte nie deur wolveselkliere in beslag geneem word nie, wat die bevindings by Merinostoetramme staal (2). Die 92 persent veloppervlakte wat nie deur wol in beslag geneem word nie, bestaan uit bindweefsels, bloedvate, ens., en dien om voedingstowwe aan die voortdurend groeiende wolvesels te verskaf. Dis 'n vraag vir navorsing of die vel van die Merino op meer as die agt persent wolklieroppervlakte wol sal kan lewer.

As die praktiese skaapboer die digtheid deur hantering waarneming beoordeel, hanteer hy die klein persentasie werklike wolmateriaal en meer as 92 persent materiaal wat nie wol is nie, maar uit vet, olie, sand en lug bestaan. Die kompaktheid wat hy opmerk, word nog versterk deur die veerkragtigheid van die wol. Die vreemde materiaal in die wol is dus 'n belangrike faktor by die beoordeling van die digtheid van Merinowol.

Die aantal wolvesels wat per vierkante duim groei, soos in kolom twee aangegee, dui alleen nie die woldigtheid aan nie. In die geval van skaap No. 10 met 591000 vesels per vierkante duim en 80's wol, is die vagdigtheid 2.15 persent, wat minder is as in die geval van skaap No. 10 met 58,000 vesels per vierkante duim, 66's kwaliteit wol en 2.59 persent vagdigtheid. Soortgelyke vergelykings kan nog verder op grond van die tabel gemaak word tussen skape Nos. 10 en 24 wat byna dieselfde vagdigtheid, 2.1 persent, het, terwyl die een 59,000 en die ander een 41,300 vesels per vierkante duim het. Die onreëlmatigheid is te wyte aan die verskil tussen veselfynheid in 80's en 64's kwaliteit wol. Dis dus duidelik dat by die berekening van vagdigtheid, die aantal vesels per vierkante duim sowel as die fynheid van vesels in aanmerking geneem moet word.

 

LEKTUUR

(1) Bosman, V. (1933). "Wolproduksie en die Merino Rekenliniaal." "S.A. Journal of Science." Deel XXX.

(2) Bosman, V., en Mare, G. S. (1933). " Merino-stoetram Wol." Die" Farmers'

Weekly", 12 April.

(3) Rose, P. D. (1930). " Die Verduideliking van die Merino Punteskaal." Boerdery in Suid-Afrika, Maart. (Herdruk No. 20, 1930.)

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 9