Last update: March 27, 2012 12:05:56 PM E-mail Print

 

Doeltreffendheid van die 'hand-en-oog'-metode teenoor objektiewe meting as seleksiemetode vir skoonwolmassa

 

J J Olivier & J A N Cloete*

Diereproduksienavorsing

Landboukollege Grootfontein

Privaatsak X529

Middelburg Kaap

5900

 

* Carnarvonproefstasie

 

INLEIDING

Weens die afwesigheid van voldoende fasiliteite en apparaat in die verlede is diere vir teeldoeleindes nie objektief gemeet nie. Verskillende riglyne is neergelê waarvolgens teeldiere subjektief beoordeel is. Die doel van seleksie was dan nog altyd om ouers te selekteer wat meerderwaardige nageslag ten opsigte van sekere eienskappe sal gee.

Met die toepassing van populasiegenetika in diereteling het dit duidelik geword dat genetiese verbetering van plaasdiere wel moontlik was.

Om maksimum genetiese vordering te verseker, moet die seleksiedifferensiaal so groot as moontlik wees. Die seleksiedifferensiaal is die verskil in die gemiddelde van die geselekteerdes en die gemiddelde van die ongeselekteerde groep vir 'n spesifieke eienskap.

Genetiese vordering per generasie word deur die volgende vergelyking voorgestel.

 

    R = h2 S

 

Die oorerflikheid (h2) van 'n eienskap kan nie verander word nie. Die enigste manier waarop vordering (R) dus verkry kan word, is om die seleksiedifferensiaal (S) so groot as moontlik te maak. Dit is ook duidelik dat as h2 klein is min vordering moontlik is.

Daar is drie maniere waarop S so groot as moontlik gemaak kan word:

1.   Hoë aanteeltempo wat verseker dat baie diere beskikbaar is vir seleksie

2.   So min as moontlik eienskappe wat gelyktydig geselekteer word

3.   Die meting van die seleksie-eienskappe moet so akkuraat as moontlik wees

 

Vir maksimum genetiese vordering moet daar aan al drie die eienskappe voldoen word.

Met subjektiewe beoordeling is daar vir 'n hele aantal eienskappe gelyktydig geselekteer. Verder is produksie-eienskappe geskat en gevolglik is die meting nie akkuraat nie.

Om die doeltreffendheid van objektiewe meting te illustreer, is daar in 1962 'n proef op die Carnarvonproefstasie begin wat die doeltreffendheid van objektiewe en subjektiewe meetmetodes bepaal het.

 

PROSEDURE

In 1962 is Merino-ooie ewekansig binne ouderdomsgroepe aan die twee seleksiegroepe toegeken. In elke groep was 200 ooie teenwoordig en die getalle is deur die proefperiode konstant gehou. Die ramme wat in 1962 en 1963 gebruik is, was van die Grootfonteinse Merinostoet afkomstig. Vanaf 1964 is vervangingsdiere volgens die onderskeie seleksiemetodes geselekteer. Alle ramme is jaarliks vervang. Die seleksiemetodes wat gebruik is, was soos volg:

 

Groep S

Diere met prulfoute is uitgeskot. Hierdie persentasie is van 5 tot 10% beperk. Alle nageslag is op 18 maande geskeer. Tydens skeer is 'n midribmonster geneem en die ruvagmassa aangeteken. Ramme en ooie met die hoogste skoonvagmassa is as ouers vir die volgende generasie geselekteer.

 

Groep B

AlIe diere is op 18 maande voor skeer deur twee skaap- en wolbeamptes volgens die "hand-en-oog"-metode vir vagmassa geselekteer. Na seleksie is die diere geskeer en ruvagmassas is bepaal. 'n Midribmonster is terselfdertyd geneem.

AI twee die seleksiegroepe het dieselfde behandeling gekry en die nageslag het onder dieselfde omstandighede grootgeword.

 

RESULTATE EN BESPREKING

Om omgewingsvariasie te elimineer is die seleksiedifferensiale (verskil tussen die gemiddeld van die geselekteerdes en die gemiddeld van die groep as geheel) as % van die groepgemiddelde uitgedruk. Oor die proefperiode van 16 jaar was die ongeweegde seleksiedifferensiaal ten opsigte van skoonvagmassa soos volg:

 

                         Ramme                      Ooie

Groep S             20,86%                     5,74%

Groep B             10,84%                     3,86%

 

Uit bostaande is dit duidelik dat die seleksiedifferensiaal by Groep B-ramme ongeveer die helfte kleiner was as by die van Groep S-ramme. Die verskille in die seleksiedifferensiale by die ooie was kleiner, maar die van Groep S was nogtans groter as die van Groep B. Die rede vir die klein seleksiedifferensiale by die ooie kan by die lae aanteeltempo (Olivier, 1980) gesoek word. Volgens Olivier (1980) was daar met 6 ooi-ouderdomsgroepe en met 'n 70%-lampersentasie nagenoeg net 10% diere elke jaar surplus as die ooigetalle konstant gehou is. In sommige jare was die aanteel so laag dat feitlik alle ooilammers geselekteer moes word om die ooikudde op 200 diere konstant te hou. Hierdie resultate beklemtoon weer eens die belang van 'n hoë aanteeltempo om te verseker dat genoeg diere vir seleksie beskikbaar is.

 

GEVOLGTREKKING

Hierdie resultate bevestig die feit dat skatting van meetbare eienskappe baie onakkuraat kan wees. Met die huidige tegnologie en fasiliteite beskikbaar behoort geen persoon hom meer te verlaat op die skatting van meetbare produksie-eienskappe by plaasdiere nie. Alhoewel daar by ramseleksie slegs enkele diere geselekteer was, was die 'hand.en-oog '-metode steeds ± 50% minder doeltreffend as die objektiewe seleksiemetode. As die aanteeltempo in die kuddes groter was, sou die verskille in die seleksiedifferensiale by die ooie van die twee groepe ook groter wees. Die akkurate meting van skoon. vagmassa by Groep S impliseer dan ook dat genetiese vordering in die groep ook groter as in Groep 8 sou wees. Die optimale benutting van die natuurlike hulpbronne kan verseker word as diere geselekteer word wat optimaal van die hulpbronne gebruik kan maak. As daar dug met objektiewe seleksie na 'n aantal jaar tot by 'n sekere produksienorm gevorder is, impliseer hierdie resultate dat dit met die 'hand-en-oog"-metode ongeveer die helfte langer sal neem om dieselfde produksienorm te bereik.

Alhoewel hierdie resultate ten opsigte van skoonvagmassa by Merinoskape gevind is, is die resultaat en toepassing ten opsigte van ander meetbare produksie-eienskappe by Merinoskape, sowel as by ander veerasse, dieselfde.

 

LITERATUUR VERWYSINGS

OLIVIER J J., 1980. Die invloed van objektiewe en subjektiewe seleksiemetodes en omgewingsfaktore op produksie- en reproduksieeienskappe van Merinoskape op die Carnarvon-proefplaas. M.Sc.(Agric.)-verhandeling. U.S.

 

Published

Karoo Agric, Vol 3, No 6, 1985, 16-17