Last update: April 4, 2012 02:10:57 PM E-mail Print

 

DORINGLOSE TURKSVYE AS VOORSORG TEEN DROOGTE

 

JD Aucamp

 

KAMELE van die plantewêreld; Die natuur se voerbank en voerkuil; en lewende voerskure is maar enkele van die name wat aan die doringlose turksvy toegedig word. Hoe beskrywend is hierdie name nie van die waardevolle (en dikwels versmaaide) droogtebestande voergewas nie!

 

Besondere kenmerke

Doringlose turksvye besit die besondere kenmerk dat dit in staat is om groot hoeveelhede water in 'n relatiewe kort periode in die sappige blaaie op te gaar. 'n Reënbui van 'n paar millimeter wat normaalweg vir gewone voergewasse feitlik van geen waarde sou gewees het nie, kan dus doeltreffend deur doringlose turksvye benut word. Hiertoe word dit in staat gestel deur sy relatiewe vlak en verspreide wortelstelsel. 'n Sappige turksvyblad bestaan dan ook uit byna 90% water.

Hierdie opgegaarde water stel die plant in staat om vir lang periodes op min of geen reën nie klaar te kom. Die droogtebestandheid van doringlose turksvye word treffend geïllustreer deur die waardes wat in Tabel 1 aangegee word.

 

 

Turksvye of Lusern

Uit Tabel 1 blyk dit dat doringlose turksvye slegs 267 pond water benodig om een pond droë voermateriaal te produseer. Aangesien lusern die belangrikste voergewas is wat in die droë gebiede verbou word, word sy relatiewe waterverbruik met die van doringlose turksvye vergelyk. So 'n vergelyking toon dat lusern byna drie keer meer water benodig vir die produksie van een pond droë voermateriaal as doringlose turksvye. As hierdie vergelyking in terme van oppervlakte en beskikbare water uitgedruk word, blyk dit dat drie morge doringlose turksvye vir elke morg lusern met dieselfde hoeveelheid water aangeplant kan word.

Die vraag wat dadelik ontstaan is of dit vir veeboere in die droë gebiede nie meer lonend sal wees om eerder die doringlose turksvye met die beperkte watervoorraad te besproei as om 'n klein oppervlakte onder lusern af en toe met 'n bietjie water te laaf nie. Proewe toon dan ook dat doringlose turksvye uitstekend op enkele besproeiings gedurende die somermaande reageer. Nie alleen groei die plante vinniger nie, maar ook die opbrengs aan sappige, vreetbare voermateriaal word aanmerklik verhoog.

As al die geld, tyd, arbeid en water wat op klein stukkies lusern spandeer word vir die verbouing van doringlose turksvye aangewend word, sal menige boer aangenaam verras wees. Doringlose turksvye het verder die voordeel dat dit geen addisionele arbeid, geen ekstra en duur implemente vir bewerking en geen voerskure of miedens benodig nie. As dit eers gevestig is, is dit altyd gereed en beskikbaar soos en wanneer dit benodig word.

Hoewel die hoë voginhoud van die sappige turksvyblad enkele nadele mag hê, kan dit gedurende droë tye wanneer die drinkwater dikwels skaars word, van onskatbare waarde wees. Hierdie sappige doringlose turksvyblaaie kan dan as bron van drinkwater vir die vee dien. Proewe het getoon dat skape vir meer as 500 dae sonder drinkwater kan klaarkom as hulle daagliks toegang tot voldoende hoeveelhede doringlose turksvye het.

Doringlose turksvye is baie gehard, maar soos enige ander voergewas het dit ook sy beperkings. Vir optimum produksie benodig dit ook water en goeie grond. Met 'n gemiddelde jaarlikse reënval van 10 tot 12 duim kan egter hoë opbrengste op goeie grond verkry word. Selfs op gronde wat te swak vir die verbouing van ander gewasse is, sal doringlose turksvye 'n redelike opbrengs lewer, hoewel die groeitempo heelwat stadiger sal wees.

Hoewel doringlose turksvye redelik bestand is teen koue (tot 20 grade ryp kan weerstaan word), is dit wenslik om plantasies waar moontlik teen noordelike en noordoostelike hange aan te plant. Seker die merkwaardigste eienskap van doringlose turksvye (behalwe hulle droogtebestandheid) is die reusagtige produksie van groen, sappige voermateriaal wat selfs onder betreklike ongunstige toestande gelewer word. Dit is beteken dat doringlose turksvye op 'n ouderdom van 5 jaar 'n opbrengs van tot 240 ton groenmateriaal per morg kan lewer.

 

Planttyd en -metode

Die beste planttyd vir doringlose turksvye is van September tot Oktober. Die blaaie is in hierdie stadium sterk en gereed om te spruit en die plante behoort dan die volgende winter met die eerste ryp reeds goed gevestig te wees. Slegs blaaie wat ouer as 'n jaar is, word vir voortplanting gebruik.

Enkelskaar-ploegvore word vooraf 10 tot 15 vt van mekaar getrek en die blaaie 4 tot 6 vt van mekaar in die vore geplant. Om die grootste moontlike aantal blaaie per oppervlakte te vestig, kan alternatiewe 10-vt en 4 vt rye geplant word. Vir die verskillende spasiërings word die aantal blaaie per morg benodig in Tabel 2 aangegee.

 

 

Die eenvoudigste metode is om die blaaie plat in die voor te plaas met 'n graaf vol grond of klip bo-op die blad. Blaaie kan ook op hulle sy in die grond geplant word. Hierdie metode vereis meer arbeid en onder baie nat toestande kan 'n groter persentasie van die blaaie verrot.

As gevolg van hulle bestandheid teen cochenille, word aanbeveel dat die doringlose bloubladturksvysoorte Robusta, Monterey en Chico vir voerdoeleindes aangeplant word. Hierdie soorte is ook relatief minder vatbaar vir cactoblastis. Hoewel die bloubladturksvye minder smaaklik is en 'n laer produksie lewe as die groenbladturksvye, is die ondervinding dat eersgenoemde weens sy beter droogtebestandheid, voorkeur moet geniet.

Doringlose turksvye moet eers toegelaat word om goed te vestig voordat hulle benut word. Beweiding moot onder geen omstandighede voor na drie seisoene geskied nie. Blaaie vir voerdoeleindes kan vroeër gesny word as die plante goed gegroei het. Ontblaring moet egter nie te straf wees nie.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 45 (10)