Last update: April 11, 2012 08:58:47 AM E-mail Print

 

Doringlose turksvye en oumansoutbos vir skape

JG Marais & HC Bonsma

 

Suid-Afrika se klimaatstoestande is baie wisselvallig en gevolglik kan die gewone voergewasse alleen in beperkte streke met enige mate van sekerheid van jaar tot jaar verbou word. As gevolg van die wisselvalligheid van ons klimaat gebeur dit selde of nooit dat een of ander gedeelte van ons land nie deur droogte geteister word nie. Dit word algemeen aangeneem dat die landboubedryf dit gedurende 1937 gelukkig getref het, en tog het daar weer droogte in sommige dele geheers. Gedurende September 1938 was daar nie minder nie as vyf-en-vyftig distrikte wat weer as droogtegeteisterde distrikte verklaar was. Dit is 'n onweerlegbare feit dat droogte die vernaamste vyand van die boer is. Jaarliks word daar ongeveer 'n miljoen skape verloor as gevolg van gebrek aan voldoende voeding en water. Nie alleen beloop sulke verliese duisende ponde nie, maar die Regering spandeer aansienlike somme geld om die boere te hulp te kom in die dele waar droogtes heers.

Hoewel droogte soms vir 'n paar agtereenvolgende jare kan wegbly, maak dit periodiek altyd weer sy verskyning, en die boer wat voortdurend met hierdie probleem te kampe sal hê, moet op een of ander manier voorsiening maak om sodoende enige tyd gereed te wees vir so 'n kritieke tydperk.

 

Voorsorg teen Droogte

Die vraag kom dus by ons op, wat kan gedoen word om hierdie probleem suksesvol aan te pak? Gronderosie oor groot gedeeltes van die Unie dra baie daartoe by dat die natuurlike weiveld vinnig agteruitgaan, maar hierdie euwel word egter vandag op 'n uitgebreide skaal deur die Staat beveg. Hierdie weiveld-herwinningskema moet gepaard gaan met goed-oorlegde weiveldbestuur. Die gemiddelde grootte van plase word al hoe kleiner, en ooreenkomstig daarmee word die aantal vee wat aangehou word nie minder nie. Die gevolg is dat daar 'n algemene neiging bestaan om die natuurlike plantegroei te laat oorbewei, en die verhouding tussen vee en voedsel is ongebalanseerd. Die indiwiduele boer is in die beste posisie om die normale drakrag van sy veld te bereken. Deur normale drakrag word bedoel die aantal vee wat jaar na jaar op 'n sekere stuk grond onderhou kan word, sonder dat die veld agteruitgaan.

Hoewel gronderosie-bestrydingswerke en oorlegde veldbestuur aansienlik sal bydra om die algemene toestande te verbeter, kom daar tog tye wanneer die normale drakrag van die veld tot so 'n groot mate verminder dat die diere, wat daarop gehou word, nie genoeg kos kan vind vir hul onderhoud nie. In sulke gevalle moet diere teer op die versamelde reserwevoedsel in hul liggame, nl. vet, wat weer omgesit word in energie. Hierdie proses kan egter nie te lank aanhou nie, met die gevolg dat die diere daagliks agteruitgaan en die boer verplig is om een of ander byvoer te gee ten einde die diere aan die lewe hou.

Dit is dus klaarblyklik dat elke bees- of skaapboer 'n reserwe-voervoorsiening  moet opbou vir tye wanneer die natuurlike weiveld nie voldoende voedsel vir ons veestapel kan verskaf nie.

 

Droogtebestande voergewasse

In groot gedeeltes van die Unie behoort die aanplanting van droogtebestande voergewasse 'n vername deel uit te maak van die boerderybedryf en veral in die dele waar die reënval betreklik laag en onseker is, en die verbouing van voergewasse gevolglik altyd 'n onseker onderneming sal wees. Deur doringlose turksvye en Oumansoutbos aan te plant word nie alleen 'n versekerde reserwe opgebou nie, maar hierdie gewasse kan jaarliks bewei word en 'n deel uitmaak van oorlegde veldbestuur. Veral gedurende die wintermaande wanneer die drakrag van die veld as 'n natuurlike verskynsel afneem, sal 'n voorraad van hierdie twee gewasse 'n belangrike rol speel om as aanvulling tot die veldweiding te dien. Met so 'n stelsel van beweiding sal dit tot 'n groot mate moontlik wees om in die winter die drakrag van 'n plaas te verhoog en dit min of meer op dieselfde peil te bring as wat dit is gedurende die tyd van die jaar wanneer die drakrag onder normale toestande gewoonlik hoog is, d.w.s. gedurende die somer en herfs. Deurdat beide gewasse so droogtebestand is, behoort die aanplanting daarvan aangemoedig te word veral in die dele wat met 'n skraal reënval bedien is, en waar droogtetoestande meer algemeen is.

 

Voedingswaarde van hierdie Gewasse

Gedurende die afgelope vyf jaar is proewe op die Grootfonteinse Landbouskool aan die gang met die doel om die waarde van Oumansoutbos en doringlose turksvye as voer vir skape gedurende tye van skaarste of droogte uit te toets..

Proewe het aangetoon dat skape nie vir 'n onbepaalde tyd op turksvye alleen kan leef nie, maar dat dit noodsaaklik is om saam met die turksvye een of ander vorm van byvoer te gee. Uit verdere navorsingswerk wat gedoen was, het dit geblyk dat merinohamels aan die lewe gehou kan word op 'n rantsoen van fyngekerfte turksvye, soveel as wat hulle wil vreet, wanneer dit aangevul word met enige van die volgende hoeveelhede byvoer, nl:

Lusernhooi - Agt onse per skaap per dag gedurende die somer.

Mielies - Agt tot tien onse per skaap per dag gedurende die winter, en daarna verminder tot drie onse gedurende die somer.

Grondboontjiemeel - Vier onse per dag per skaap gedurende die wintermaande en twee onse gedurende die somer was voldoende byvoer saam met turksvye om die diere aan die lewe te hou.

 

Nog 'n belangrike punt wat aan die lig gekom het, is dat skape vir 'n betreklike lang tyd sonder water aan die lewe gehou kan word op 'n rantsoen van turksvye, soveel as wat hulle wil vreet, plus voldoende byvoer. Vir 525 dae lank is skape in goeie kondisie gehou op 'n rantsoen van turksvye en lusernhooi sonder water. Al die water wat die skape nodig gehad het was verskaf deur die turksvyblaaie.

Aangesien dit baie werk veroorsaak en gevolglik die voedingskoste heelwat hoër maak om diere op stal te voer deurdat die turksvyblaaie en/of soutbos versamel en aangery moet word, is proewe opgestel ten einde te bepaal in hoeverre hierdie twee gewasse met sukses bewei kan word. Die resultate wat tot datum verkry is, kan kortliks as volg opgesom word.

N.B. - Vir meer volledige informasie word u verwys na Boerdery in Suid-Afrika, van Februarie 1938.

 

Verskillende Beweidingstelsels

(1) Proewe het aangetoon dat dit 'n verkeerde praktyk is om turksvye en soutbos in een plantasie te plant waar die skape 'n vrye keuse tot altwee plante het. Die rede hiervoor is dat wanneer skape vrye toegang tot altwee gewasse het, die turksvye as gevolg van groter smaaklikheid, byna onherstelbaar oorbewei word, terwyl die soutbosplante jaarliks meer en meer onderbewei word. .

(2) Dit is wenslik om aparte afgekampte plantasies vir elke gewas te hê. As soutbos en turksvye op hierdie metode aangeplant word, kan 'n suksesvolle wisselbeweiding toegepas word. Een morg doringlose turksvye en een morg Oumansoutbos sal jaarliks genoeg weiding verskaf vir 30 tot 40 skape vir 'n tydperk van vier maande.

 

Algemene Opmerkings

(1) Met al bogenoemde beweidingstelsels het droë skape in 'n goeie kondisie gebly en in meeste gevalle selfs in gewig toegeneem;

(2) Lammerooie het ook in kondisie gebly en hoewel die lammers onder normaal gegroei het, het hulle vinnig in kondisie verbeter sodra hulle op normale veldweiding gekom het. Die verliese vir beide ooie en lammers is baie gering.

(3) Die beste resultate word deurgaans verkry as die soutbosplante na. Beweiding 18 tot 20 duim hoog getop word om sodoende te verseker dat die jong groei van die volgende seisoen binne bereik van die skape sal wees.

 

Plantmetodes

Daar is verskeie gewasse wat beskou word droogtebestand te wees, maar tot dusver skyn doringlose turksvye en Oumansoutbos (Atriplex nummularia) die doeltreffendste te wees vir aanplanting in streke met 'n betreklike lae reënval. Voorkeur word aan hierdie twee gewasse gegee omdat hoë opbringste en gevolglik 'n hoë drakrag van hulle verkry kan word. Verder sal hierdie twee gewasse sappigheid verskaf in tye wanneer daar 'n groot gebrek aan sappigheid heers. Die gewasse pas hulself ook aan by 'n groot verskeidenheid van grond en klimaatstoestande.

Waterbenodighede - Daar moet egter op gewys word dat, behalwe waar grond met 'n hoë waterhouvermoe aangetref word, hierdie gewasse nie sonder besproeiing met sukses gekweek kan word in streke met 'n baie lae reënval nie. 'n Arbitrêre reënval-lyn kan getrek word by 10 duim gemiddeld per jaar en met minder as dit sal besproeiing gewoonlik wenslik en selfs dikwels noodsaaklik wees vir die suksesvolle verbouing van hierdie gewasse.

Die vraag is of water ekonomies aan soutbos en turksvye toegedien kan word? Hierdie twee gewasse vereis egter min water en sal goeie opbringste lewer selfs in lae reënvalstreke met net twee of drie besproeiings gemiddeld per jaar. Die water sal net in die vore langs die plante afgelei word en gevolglik sal 'n groot streek besproei kan word met betreklik min water.

Keuse van plek vir Plantasies - Doringlose turksvye is nie kieskeurig wat grond betref nie, maar beantwoord die beste op goeie gronde met goeie dreinering. Omdat turksvye vir koue gevoelig is, is die ligging van die grond van groot belang. In meeste koue streke sal dit nie raadsaam wees om turksvye op laagliggende koue plekke soos bv. langs riviere of in vleie aan te plant nie. Teen die hellings, veral die noordelike hellings, van berge en rante is dit gewoonlik warm en die gewas aard beter op sulke hoë plekke.

Oumansoutbos is gehard teen koue en plantasies kan op die alluviale gronde langs riviere en in vleie met sukses gevestig word. Selfs op brak grond groei hierdie gewas goed, en baie kaal brak kolle wat tans nutteloos is in die Karoo kan met soutbos beplant word.

 

Doringlose Turksvye

Die aanplanting van doringlose turksvye is maklik, en in die Karoo sal vore, wat op die vereiste afstande van mekaar getrek is, voldoende wees. In grasveldstreke kan die mededinging van die vinnig groeiende grasse beheer word deur die hele land eers om te ploeg.

Daar is geen vasgestelde wydte wat die rye van mekaar moet wees nie, maar 9 voet kan beskou word as die minimum, en daar die weiveld tussen die rye in die Karoo onbeskadig is, kan die rye selfs tot 30 voet van mekaar wees. Dit sat dan 'n gemengde weiding van turksvye en veld verskaf. Die plante behoort ongeveer 6 voet van mekaar in die rye te wees. Indien moontlik moet die vore teen die val van die helling getrek word om soveel moontlik van die afloopwater te vang. Dikwels sal dit ook moontlik wees om afloopwater deur middel van grondwalle af oor die plantasie in te keer.

Doringlose turksvyblaaie groei uiters maklik en dit kan geplant word of anders plat neergesit word met 'n klip of 'n graaf grond daarop. Waar die blaaie geplant word, is dit wenslik om dit vir 'n paar weke te laat uitdroë, ten einde die wond waar die blad van die moederplant afgebreek is te laat genees. As die blaaie te gou geplant word, is hulle geneig om te vrot veral in klam grond. Waar die blaaie slegs plat neergelê word, sal die wond nie onder die grond wees nie en gevaar van verrotting is dus minder, maar die blaaie moet egter goeie kontak met die grond maak.

Doringlose turksvye word geredelik deur diere gevreet en dus sal die plantasies goed toegekamp moot word om selfs wilde diere soos steenbokke uit te hou.

 

Oumansoutbos

Volwasse Oumansoutbos is gehard teen strawwe klimaatstoestande, maar die jong plantjies is teer en vereis sorgvuldige behandeling. Om die rede word die saad gewoonlik eers in saadbeddings gesaai. Die saad word vir ongeveer 36 uur geweek en dan op goed bemiste en fyn voorbereide beddings gesaai en dan liggies toegehark. Vir een pond saad sal 'n bedding van 20 by 20 voet groot genoeg wees en genoeg plantjies kan hiervan verkry word om 4 tot 6 morge te beplant. Sukses in die saadbedding is afhanklik van die vogtigheid van die grond. Dit is dus raadsaam om veral in die begin die saadbedding klam te hou. Vinnige verdamping kan verhoed word deur 'n laag riete, strooi of so iets oor die bedding te versprei. Sodra die plantjies sterk word, kan die riete verwyder word en die tye tussen benattings moet ook geleidelik verleng word.

Na ses maande, d.w.s. die volgende Maart of April, sal die plantjies geskik wees vir verplanting. Die land waarop uitgeplant moet word kry in die Karoo, slegs vore op afstande 6 voet van mekaar. In die grasveldstreke sal dit raadsaam wees om die hele land deeglik om te ploeë. Die plantjies word versigtig uitgehaal, 8 duim hoog gesnoei, in klam sakke gedraai en dadelik in die voorbereide vore ook 6 voet van mekaar geplant. Die grond om die wortels moet deeglik vasgetrap word, en waar geen besproeiingswater beskikbaar is nie, is dit noodsaaklik dat die verplanting moet plaasvind na 'n goeie reën of anders moet water in die vore gelei word onmiddellik na uitplanting.

Onder gunstige toestande sal die plante na 'n jaar twee voet of meer hoog wees, en om 'n meer bosagtige groeiwyse aan te moedig, kan die plante dan afgesny of afgebreek word tot 'n hoogte van 12 tot 15 duim. N a twee jaar sal ligte beweiding, veral deur skape, kan plaasvind.

Kamp die plantasie in, want hoewel soutbos nie 'n hoë smaaklikheid besit nie, sal dit tog gevreet word waar dit onbeskermd is. 'n Meer breedvoerige verhandeling oor hierdie gewasse sal binnekort in pamfletvorm verskyn.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 14