Last update: March 26, 2012 02:13:37 PM E-mail Print

 

GROOTFONTEINSE DORPERS

 

P G Marais, J A Roux en A Koen

Diereproduksienavorsing

Landboukollege Grootfontein

Privaatsak X529

MIDDELBURG K P

5900

 

ONTWIKKELING

Vanweë die feit dat boere grootliks gedurende die dertigerjare in die ekstensiewe dele van die land met Afrikaner- en Swartkoppersieskape geboer het en daar ongeveer 5,6 miljoen nie-wolskape en 30,1 miljoen wolskape in Suid-Afrika was, was daar 'n groot surplus van slagvee wat nie deur die plaaslike markte geabsorbeer kon word nie. Lamkarkasse is dan ook na die Smithfield-mark in London uitgevoer. Ongelukkig kon Suid-Afrika se Swartkoppersie- en Blinkhaar Afrikanerlammers en die skraal Merinolammers nie daar met die beroemde Nieu-Seelandse Canterbury-lamkarkasse meeding nie.

Die Vleisraad het toe Dorset Horn-, Welsh Mountain-, Suffolk-, Texel-South Down-, en Ryelandramme ingevoer. Hierdie ramme is aan skaaptelers in die Karoo en in die Noordwes-Kaapland beskikbaar gestel om met veral Merino-, Swartkoppersie-, en Afrikaner-ooie te kruis ten einde 'n geskikte slaglam te probeer teel. Hierdie kruisteeltwerk is vanaf die Landboukollege Grootfontein deur mnre Dawid Engela en Harry Bonsma beheer. Onder die projektelers was boere soos mnr Edmeads (Norvalspont), die De Smidt-broers, mnre Ludick en Whitehead (Douglas) en Strauss (Upington).

Ander kruisteeltproewe is ook deur drs F N Bonsma en J S Starke van die Universiteit Pretoria, dr Wim Verbeek op Vaalharts-navorsingstasie en mnr G T van Rensburg van die Landboukollege Potchefstroom uitgevoer. Op Grootfontein self is aansienlike kruisteeltwerk onder leiding van mnr Engela uitgevoer.

Uit hierdie onderskeie navorswerk het dit deurgaans geblyk dat die Dorset Horn-Swartkoppersiekruising die beste resultate lewer. Daar is toe besluit om uit hierdie kruising 'n nuwe ras te ontwikkel met die uitsluitlike doel om nie-vetstert slaglammers te produseer.

Op 27 November 1946 is daar finaal besluit op 'n ras-ontwikkellingsprojek. 'n Groot aantaI telers het aan hierdie rasontwikkelingsprojek meegedoen. Die projek was baie suksesvol en op 19 Julie 1950 is 'n telersgenootskap te Grootfontein gestig.

Sedert sy ontstaan in 1950, maar veral na 1964 het die Dorperras fenomenaal in getalle toegeneem. Vandag is daar ongeveer 7 miljoen Dorpers in Suid-Afrika. Die Dorper is ook na Zimbabwe, Malawi, Zambië, ander Afrikastate en ook die Midde-Ooste uitgevoer.

Die Grootfontein Dorperstoetery bet sy ontstaan vanaf bogenoemde proewe en word huidiglik vir oplei. ding en navorsing gebruik.

 

OPLEIDING

Die Dorperstoetery verskaf opleidingsmateriaaI vir die Tweejarige Diplomastudente en kortkursusse aan boere. Hierdie opleiding behels die behandeling en demonstrasie van die rasstandaarde, beoordeling en algemene bestuursaspekte.

 

NAVORSING

Hierdie stoetery verskaf ook dieremateriaaI wat in navorsing gebruik word. So is daar gevind dat die voorkoms van bronstigheid gedurende Maart-April by 1 758 volwasse Dorperooie oor 'n tydperk van 6 jaar aantoon dat 89,8% van aIle ooie binne 21 dae bronstigheid getoon het. Hierdie verskynsel kan met groot vrug by handdekking gebruik word. Van die totale aantal ooie bet gemiddeld 91,4% gelam en by tweetand-ooie het gemiddeld 88,3% gelam. Die lampersentasie uitgedruk as die aantal lammers lewend gebore ten opsigte van aantal ooie beskikbaar vir paring, was gemiddeld 147%. In die geval van tweetand-ooie was dit gemiddeld 130%. Die gemiddelde speenlampersentasie, dit wil sê die aantal lammers gespeen ten opsigte van die aantal ooie beskikbaar vir paring was 144% en die by tweetand-ooie 126%. Die gemiddelde massa lam gespeen per ooie beskikbaar vir paring, was 46,0 kg en die tweetand-ooie 40,28 kg.

Gesien in die lig van die huidige tydsgewrig waar groot eise aan die doeltreffendheid van produksie gestel word, het dit noodsaaklik geword dat die doeltreffendheid van voerverbruik ook bestudeer word.

Volgens die resultate in Tabel 1 is dit duidelik dat die voerinname van ramme stadiger as die van ooie en hamels styg. Die voerinname van hamels is tot by 40 kg massa hoër as die van ooie en ramme en hierna is dit konstant hoër as die van ooie. Dit is opmerklik dat die voerinname tot 'n spesifieke liggaamsmassa styg en daarna weer daal. Die stadia wanneer daar 'n afname in voerinname tussen geslagte voorkom varieer vanaf 40 kg by ooie, 50 kg by ramme en 45 kg by hamels. Daar moet gelet word dat hierdie draaipunte slegs vir hierdie spesifieke dieet van hierdie proef geldig is, omrede die tipe dieet (kragvoer en ruvoer) die draaipunte beïnvloed.

Doeltreffendheid van voerverbruik word tradisioneel aangedui deur die maatstaf voeromsetting, hoeveelheid droë materiaal ingeneem tot liggaamsmassatoename. Dit is bekend dat die tempo waarteen proteïen en vet in die liggaam neergelê word, verander soos wat die dier in liggaamsmassa toeneem. Hierdie verskille beïnvloed die voeromsetting deurdat energie in die vorm van proteïen en vet nie ewe doeltreffend in die diereliggaam gesintetiseer word nie. Volgens Tabel 2 is die voeromsetting by 'n spesifieke liggaamsmassa van ramme deurgaans beter as die van die ander twee geslagte. Trouens, ooie het die swakste omsetting van al drie die geslagte gehad.

Hiervolgens is dit duidelik dat ramme wat minder vet as ooie en hamels in hul liggame by 'n spesifieke punt bet, die beter voeromsetters is. Aangesien 'n hoë tempo van vetneerlegging met swak voeromsetting geassosieer word, volg dit dat 'n hoë voedingspeil nie noodwendig tot maksimum voeromsetting sal lei nie. Die voordelige effek van groei vanaf 'n hoë energie-inname (bo-onderhoud) sal deur oormatige vetneerlegging gekanselleer word.

 

Published

Karoo Agric 3 (7), 19-20