Last update: April 10, 2012 11:35:59 AM E-mail Print

 

Die Droëlandvraagstuk in die Noordoostelike Kaapprovinsie

C. E. M. Tidmarsh

 

IN die afgelope paar jaar het die afname in vrugbaarheid en die uitputting van grond wat jaarliks as droëland bewerk word, ‘n belangrike plek ingeneem in die navorsing en die landbouliteratuur van verskillende lande. Hierdie vraagstuk is in Suid-Afrika besonder akuut, veral in die somerreënvalstreke waar dit 20 tot 30 duim per jaar reën. Die skade as gevolg van die jaarlikse omploeg van die grond in hierdie streke met ‘n hoë temperatuur in die somer is hoofsaaklik daaraan toe te skryf dat die organiese materiaal in die grond vinnig deur oksidasie vernietig word. Dit word teweeggebring deur die toename in belugting van die grond, as gevolg waarvan die struktuur en die vrugbaarheid van die grond vernietig word. Aangesien daar egter in die laaste tyd in die pers baie aandag aan hierdie sy van die saak gewy is, beoog hierdie artikel meer om die een of ander praktiese maatreël te bespreek wat met voordeel in streke soos die noordoostelike Kaapprovinsie en veral in die distrik Aliwal-Noord toegepas kan word.

In gematigde en droë gematigde streke met 'n somerreënval en 'n hoë temperatuur in die somer word die organiese materiaal in goed belugte grond gewoonlik vinniger deur oksidasie vernietig as wat dit gevorm word; gevolglik word daar 'n baie geringe hoeveelheid humus in sulke grond opgegaar. In hierdie streke is die mees praktiese en die doeltreffendste manier om die humusgehalte van die grond te verhoog en in stand te hou, die verbouing van meerjarige gewasse, veral grasveld. Digte grasbedekking bring nie alleen groot hoeveelhede ru organiese materiaal in die grond nie, maar verminder ook die somertemperatuur en die belugting van; die grond, verhoog die voghouvermoë van die grond en skep so die regte toestand vir die, versameling van humus. Oor die algemeen lê die oplossing dus in die verbouing van meerjarige voergewasse en weidings op ons droë bouland.

 

Geskikte Meerjarige Weiding en Voergewasse

Aangesien die boer vir sy bestaan van sy grond afhanklik is en dus nie al sy tyd aan die heropbou daarvan kan wy nie; moet hy sorg dat die meerjarige weidings wat hy in sy boerderystelsel opneem, nie alleen die vrugbaarheid van die grond verhoog nie, maar hom ook die nodige vergoeding sal besorg. Die oogmerk van elke ondersoek moet dus wees om geskikte meerjarige weidings- en voergewasse te toets en uit te soek en om vas te stel hoe hierdie gewasse die beste in die algemene boerderystelsel kan inpas om aan bogenoemde vereistes te voldoen.

Dit beteken dat die hele boerderystelsel aan die begin in hersiening geneem:moet word en dat veeboerdery die voorkeur moet geniet. Dit is noodsaaklik dat die bouland in die streek onder bespreking, wat op die oomblik hoofsaaklik vir die verbouing van kontantgewasse, as 'n min of meer selfstandige onderneming, gebruik word, geheel en al in die hele boerderystelsel ingeskakel moet word sodat kontantgewasse (bv. koring en mielies) in groot mate deur voergewasse en weiding vervang word en so hulle regmatige plek in 'n geskikte wisselweidingstelsel inneem.

Die meerjarige gewasse waarop die boer hom moet toelê, is veral die wat hooi, kuilvoer en winterweiding sal verskaf, sodat die voervoorraad deur die hele jaar en veral in droë tye in stand gehou kan word. Hulle moet dus gehard en bestand teen droogte wees en moet kan posvat ten spyte van die belemmering van onkruid. 'n Ondersoek van vier jaar in die distrik Aliwal-Noord (waar daar baie droëlande is wat agteruitgaan of reeds uitgeput is) het tot dusver vier belangrike gewasse aan die lig gebring wat vir die doel geskik is. Hulle is naamlik lusern, Digitaria Smutsii, Setaria sphacelata str Dutoitskraal, en Tetrachne dregei. Hierdie gewasse is almal getoets op vlak, sanderige leemgrond met 'n klei-onderlaag waarop daar jare lank elke jaar koring, hawer en mielies verbou is en waarvan die uitputting dus ver gevorder is. Die gemiddelde reënval van die streek is ongeveer 19 duim per jaar.

 

Lusern

Dit is natuurlik 'n welbekende gewas wat op groot skaal onder besproeiing in Suid-Afrika gekweek word. Daar is egter minder bekend van die moontlikhede en die waarde daarvan en hoedat die gewas of droëland gekweek kan word. Omdat dit 'n peulgewas is, is dit veral waardevol as voer met 'n hoë proteïengehalte en verhoog dit die grondvrugbaarheid omdat dit deur die wortelknoppies stikstof in die grond verskaf. Op droëland is dit veral waardevol as hooigewas en in die distrik Aliwal-Noord kan 'n mens gewoonlik van twee tot drie snysels per seisoen kry. Die opbrengs en die getal snysels hang natuurlik van die grond en die reënval af. Die plant is werklik buitengewoon bestand teen droogte en kan of afsonderlik of saam met grasse gekweek word.

 

Digitaria Smutsii (Smuts vingergras)

Dit is 'n merkwaardige inheemse gras van die Transvaalse hoë middelveld. Hoewel dit oorspronklik uit 'n streek met 'n betreklik hoë reënval kom, is dit al in Suid-Afrika met sukses op droëland gekweek op wyd uiteenlopende soorte grond en in verskillende klimaatsgesteldhede. In Aliwal-Noord het dit ook baie voordelig geblyk as hooigewas en weiding op droëland. Hoewel daar verlede seisoen in die tydperk September (1944) tot Februarie (1945) slegs 1½ duim reën aangeteken is, is daar in dieselfde tyd drie snysels van hierdie gras gewen, hoewel dit ook buitengewoon warm was en daar droë winde voorgekom het.

Digitaria Smutsii is smaaklik en voedsaam en verskaf nie alleen hooi nie maar ook waardevolle weiding in die vorm van nagras wat deur die hele winter halfgroen bly en in hierdie toestand vir die vee baie smaaklik is. In die tydperk September 1944 tot Mei 1945 het die gras vier snysels hooi en nog nagrasweiding opgelewer.

 

Setaria sphacelata str., Dutoitskraal

Hierdie mannagras is uit die omgewing van Dutoitskraal in Rhodesië in die Unie ingevoer. Hoewel dit in party streke waarde vol geblyk het as hooigras, het dit op .droëland in die distrik Aliwal-Noord veral goed beantwoord as weidinggras wat bestand is teen droogte. Hierdie gras bly ook in die winter halfgroen en smaaklik. In die tydperk September 1944 tot Mei 1945 het dit so vinnig gegroei dat dit vierkeer deur beeste afgewei kon word.

 

Tetrachne dregei

Hoewel dit op die oomblik baie skaars is, is Tetrachne wyd versprei en kom dit in natuurlike veld in die Kaapse Middelland, die noordoostelike Kaapprovinsie en die oostelike Vrystaat voor. Dit gedy op baie verskillende soorte grond en by verskillende klimate. Dit is uiters bestand teen droogte. Op oop veld is dit die gras wat in die lente die eerste begin groei en in droogte die laaste verdor. Dit bly deur die hele winter baie meer as halfgroen mits die grond nie heeltemal droog is nie. Vee vreet Tetrachne graag in die winter en in droë tye. In die reëntye van die somer verkies hulle egter ander grasse. Dit is hoofsaaklik ‘n weidinggras en soos Setaria Dutoitskraal is dit ook verlede seisoen op droëland vierkeer afgewei.

Bogenoemde ondersoekings is op mnr. L. S. Dorington se plaas, Elandshoek, in die distrik Aliwal-Noord uitgevoer en gaan nog vier jaar lank voortgesit word. Ongelukkig is daar nog geen saad van die grasse wat aanbeveel is vir boere beskikbaar nie. Alle moontlike pogings word egter aangewend om die verbouing daarvan uit te brei. Ons hoop groot hoeveelhede saad binnekort beskikbaar wees.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 21