Last update: April 11, 2012 09:13:05 AM E-mail Print

 

Droogterantsoene vir Skape

H. C. Bonsma en D. J. Engela 

 

SUID-AFRIKA se klimaatstoestande is baie wisselvallig, en gevolglik kan die gewone voergewasse alleen in beperkte streke met enige mate van sekerheid van jaar tot jaar geproduseer word. Verder is ons land onderhewig aan periodieke en soms langdurige droogtes, wat afwissel van jaar tot jaar en van plek tot plek. So 'n droogte het weer aan die end van 1937 oor die grootste gedeelte van ons land geheers, en boere het voor die probleem gestaan om hul skape op die mees ekonomiese manier aan die lewe te hou.

As gevolg van sulke droogtetoestande verminder die normale drakrag van die veld tot so 'n groot mate dat die skape wat daarop wei, nie genoeg kos kan vind om hulle te onderhou nie, met die gevolg dat die diere dan moet teer op opgestoorde reserwevoedsel in die liggaam, nl. vet, wat weer omgesit word in energie. Hierdie proses kan egter nie te lank aanhou nie, met die gevolg dat die skape daagliks agteruitgaan en die boer verplig is om een of ander vorm van byvoer te verskaf om die diere aan die lewe te hou.

Die hoofdoel van 'n droogterantsoen is om die skape te voorsien van 'n onderhoudsrantsoen, d.w.s. 'n rantsoen wat so opgestel is dat dit verhoed dat die skape tot enige mate in kondisie sal verbeter of verswak, m.a.w. dit maak net voorsiening vir die normale fisiologiese funksies van die dierlike liggaam.

Die samestelling van 'n droogterantsoen sal hoofsaaklik afhang van wat die boer in die vorm van reserwe-voer beskikbaar het, asook van die mees ekonomiese voersoorte wat hy kan aankoop.

 

1. Beskikbaarheid van Droogtebestande Voergewasse

Waar die boer so 'n droogtebestande voer op sy plaas het, moet die maksimum gebruik daarvan gemaak word; en hierdie voersoort moet gevolglik die basis van die droogterantsoen uitmaak.

 

(a) Oumansoutbos

Gedurende die afgelope vier jaar is proewe aan die gang op die Grootfonteinse Landbouskool met die doel om die waarde van Oumansoutbos as voer vir skape gedurende tye van skaarste of droogte uit te toets. Goed gevestigde soutbosplantasies word jaarliks gedurende die wintermaande deur skape bewei. Nie alleen vreet die diere alle blaargroei nie, maar selfs jong lote word gretig opgevreet.

'n Gemiddelde drakrag van ongeveer 16 skape per morg vir 'n periode van vier maande is verkry, en daarby bly skape, wat op soutbos wei, gesond en behou hul kondisie gedurende die hele weidingsperiode.

Onderstaande tabel gee 'n kort opsomming van die resultate van so 'n soutbosplantasie wat jaarliks bewei was:-

Jaar

Bewei deur

Lengte van weidingsperiode

(dae)

Aantal Skaapweidings

(dae)

Drakrag per morg vir 4 maande (skape)

Gem. Gewig (in lb) van skape aan:

Begin van weidingsperiode

Einde van weidingsperiode

1935

1936

1937

25 hamels

55

46

75

1 375

1 150

1 500

16.32

13.8

17.7

84.32

13.8

17.7

86.72

91.92

68.87

 

Die beste resultate word deurgaans verkry as die soutbosplante na beweiding getop word tot 'n hoogte van 18 tot 20 duim om sodoende te verseker dat die jong groei binne bereik van die skape sal wees. Om die volste gebruik van 'n soutbosplantasie te maak, is dit dus wenslik om dit jaarliks, of ten minste eenmaal in twee jaar te laat bewei. Met hierdie stelsel word die veld gespaar gedurende die tydperk wat die skape op soutbos wei. Die enorme waarde van Oumansoutbos as voer vir skape gedurende die wintermaande sowel as in tye van droogte word nog lank nie genoeg besef nie.

 

(b) Turksvye

In baie gevalle beskik die boer oor 'n groot hoeveelheid turksvye wat vir hom onmisbaar is, veral wanneer die gewone veldweiding te swak word om aan die vereistes van die skape te voldoen. Proewe het aangetoon dat skape nie vir enige lengte van tyd op turksvye alleen kan lewe nie, maar dat dit noodsaaklik is om saam met die turksvye een of ander vorm van byvoer te gee.

Die gemiddelde samestelling van turksvye is as volg: Water 91.3 persent, eiwit 0,58 persent, vet 0.12 persent, stikstofvrye ekstrak 4.67 persent, vesel 1.16 persent en as 1.76 persent.

Die voedingsbenodigdhede per dag vir ‘n 70-pond skaap is as volg: Droë materiaal 1.75 lb., eiwit 0.21 lb., koolhidrate 1.05 lb., en vet 0.035 lb.

Volgens hierdie gegewens blyk dit dat 'n skaap ongeveer 20 pond turksvye per dag moet vreet om in sy daaglikse benodigdhede van droë materiaal te voorsien, en al is die skaap ook in staat om hierdie hoeveelheid per dag te verbruik, kry dit alle en 0.1 lb. verteerbare eiwitte, terwyl volgens bostaande tabel die daaglikse benodigdhede 0.21 pond is. So 'n rantsoen voorsien ook nie in die daaglikse koolhidraat-benodigdhede nie.

Proewe het aangetoon dat wanneer skape gevoer word op turksvye, soveel as wat hulle wil vreet, die daaglikse verbruik van 10 tot 18 pond is. Dit blyk dus duidelik dat skape wat op so 'n rantsoen van turksvye gevoer word nog een of ander vorm van byvoer moet kry om hulle aan die lewe te hou.

Uit verdere proewe wat gemaak was, het dit geblyk dat Merinohamels aan die lewe gehou kan word op 'n rantsoen van fyngekerfte doringlose turksvye, soveel as wat hulle wit vreet, wanneer dit aangevul word met enige van die volgende hoeveelhede van onderstaande soorte byvoer, nl.:-

Lusernhooi - Agt onse lusernhooi per skaap per dag gedurende die winter en geleidelik verminder tot drie onse gedurende die somer.

Mielies - Agt tot tien onse per skaap per dag gedurende die winter, en verminder tot vier onse gedurende die somer.

Grondboontjiemeel - Vier onse grondboontjiemeel per skaap per dag gedurende die winter, en twee onse gedurende die somer was ook voldoende byvoer saam met die turksvye.

Verder het al die skape nog 1 ons beenmeel en soutlek (2 dele beenmeel op 1 deel sout) per skaap per dag gekry.

 

Voedingskoste

Die koste van byvoer per skaap vir 'n periode van 1 jaar vir die verskillende rantsoene was as volg :-

Lusernbyvoer: 3s. (Lusern gereken teen 2s. 6d. per 100 pond.)

Mielies as byvoer: 7s. 6d. (Mielies gereken teen 10s. per sak.)

Grondboontjiemeel as byvoer: 5s. 5d. (Grondboontjiemeel gereken teen 6s. 6d. per 100 lb.)

 

Die turksvye was met 'n handkerfmasjien in stukkies van omtrent 1 duim breedte gesny. Alhoewel nog nie op die proef gestel nie, kan dit egter verwag word dat dieselfde resultate verkry sal word deur die skape vry in 'n doringlose turksvyplantasie te laat wei en die byvoer te voorsien in voerbakke. Hierdie metode sal natuurlik meer ekonomies wees, deurdat dit die onkoste verbonde aan die aanry en kerf van turksvye uitskakel.

Gerieflike voertrogge kan gemaak word deur sakke al langs die nate in die lengte oop te sny en tussen twee drade van ongeveer 1 voet hoog en 10 tot 12 duim van mekaar vas te werk, sodat dit 'n voertrog vorm. Om te verhoed dat die skape heen en weer oor die voerbak loop en dit gevolglik gou stukkend trap, is dit wenslik om die trog of krip teen 'n permanente draadheining op te rig.

Bostaande gegewens het alleen betrekking op hamels of droë ooie. Ons kan egter hier aanstip dat vir 'n gemiddelde ooi, wat melk produseer, 'n rantsoen bestaande uit 12½ lb. turksvye plus. 1½ pond lusernhooi in die aard van 'n onderhoudsrantsoen sal wees, en hoewel dit nie vir enige lengte van tyd aanbeveel word nie, sal dit nietemin van groot nut wees gedurende periodes van droogte of gedurende die winter.

Proewe op die Grootfonteinse Landbouskool bet verder aan die lig gebring dat skape aan die lewe gehou kan word op turksvye, soveel as wat bulle wil vreet, plus 10 tot 16 ons lusernhooi per skaap per dag. Dwarsdeur hierdie proef het die diere geen drinkwater gekry nie; wat meer is, die skape het 525 dae geen drinkwater gekry nie - al die water wat hulle nodig gehad het, was verskaf deur die turksvyblaaie. Dit lei ons tot die gevolgtrekking dat skape vir enige lengte van tyd aan die lewe gehou kan word as daar voorsiening gemaak word vir sappige voer. (Warren en Stead, 1921.) Die feit dat skape, op 'n rantsoen van turksvye plus voldoende byvoer, sonder water kan klaarkom, is van groot ekonomiese belang. Gedurende droogte gebeur dit dikwels dat die drink water ingee en die diere soms baie ver gedryf moet word na die naaste drinkplek. Diere wat reeds in 'n swak kondisie is, en wat daagliks vir 'n lang afstand aangejaag moet word, verkwis sodoende energie met die gevolg dat hulle baie vinnig agteruit gaan. In gevalle waar daar alleen 'n gebrek aan drinkwater is en waar die veld nog betreklik goeie weiding verskaf, kan net turksvye gevoer word om in die waterbenodigdhede van die skape te voorsien. Waar die water egter ingee en die veld ook maar van min waarde is, sal dit wenslik wees om die skape in klein kampies te voer op 'n rantsoen van turksvye saam met voldoende byvoer, soos hierbo aangetoon.

 

(c) Doringlose Turksvye en Oumansoutbos

Proewe het baie oortuigend bewys dat dit 'n verkeerde praktyk is om hierdie twee gewasse deurmekaar in een plantasie aan te plant. Die rede hiervoor is dat wanneer skape vry toegang tot altwee gewasse het, die turksvye as gevolg van groter smaaklikheid, byna onherstelbaar oorbewei word, terwyl die soutbosplante nie genoeg bewei word nie. Dit is dus uiters wenslik om aparte afgekampte plantasies van elke gewas te hê, en wat betreklik naby mekaar is of liefs aanmekaar grens. As soutbos en turksvye op hierdie metode aangeplant word, kan 'n suksesvolle stelsel van wisselbeweiding toegepas word, deur die skape daagliks om te ruil van een plantasie na die ander. Proewe het aangetoon dat ooie hul immers suksesvol kan grootmaak as so 'n stelsel van beweiding gevolg word. Nieteenstaande die groei van die lammers onder normaal is, bly hulle tog gesond, en verliese is baie gering. Sodra sulke lammers op goeie veldweiding kom, verbeter hulle vinnig in kondisie en groei normaal uit.

Een morg elk van doringlose turksvye en Oumansoutbos sal jaarliks genoeg weiding verskaf vir ongeveer 30 tot 40 ooie met lammers vir 'n periode van 4 maande.

Hoe dikwels gebeur dit nie dat 'n boer verplig is om die lammers, wat aankom, te vernietig ten einde die ooie te red. Sulke verliese kan voorkom word as boere vroegtydig voorsiening maak vir droogteperiodes, deur die aanplant van doringlose turksvye en Oumansoutbos.

 

(d) Amerikaanse Garingboom

Hierdie droogtebestande voergewas is ook 'n groot bate vir die boer in tye van nood, en die waarde daarvan word nog nie genoeg besef nie. Skape vreet fyngekerfte garingboom nie so gretig as turksvye nie, maar wanneer hulle dit eers gewoond is, en dit saam met een of ander byvoer kry, vorm dit 'n baie doeltreffende droogterantsoen. Ongeveer dieselfde hoeveelheid garingboom kan die turksvye in 'n rantsoen verplaas. Sommige boere het ondervind dat skape fyngekerfte garingboom gretig vreet as dit eers vir 'n dag of wat gelê het voordat dit gevoer word.

Verskeie boere het hierdie plant al met groot sukses aan skape gevoer. Die dorings word eers afgesny en die blaaie dan in die dwarste gekerf tot min of meer dieselfde grootte as wat  turksvye gekerf word.

 

II. Waar die boer nie beskik oor enige droogtebestande voergewasse nie

Wanneer die boer opmerk dat beide die veld en die skape vinnig agteruitgaan, maar dat eersgenoemde tog nog tot 'n sekere mate in die dier se behoeftes voorsien, is dit wenslik om so gou moontlik te begin met die voer van een of ander byvoer. Deur vroegtydig te begin, kan skape soveel langer aan die lewe gehou word met 'n betreklike klein hoeveelheid byvoer. Lusernhooi, mielies, hawer of grondboontjiemeel is almal voersoorte wat goeie resultate sal lewer. Om mee te  begin, kan 2 tot 3 onse byvoer per skaap per dag gevoer word. Die hoeveelheid byvoer wat nodig is, sal hoofsaaklik afhang van die gehalte van die veld asook die kondisie van die skape, en gevolglik sal die boer self in die beste posisie wees om te oordeel of sy skape nog steeds agteruitgaan nieteenstaande 'n paar onse byvoer per skaap per dag gegee word. In so 'n geval moet die rantsoen vermeerder word. Die kondisie van die skape en die verswakking van die veld moet noukeurig bestudeer word, en die hoeveelheid byvoer moet daarvolgens geleidelik vermeerder word.

Mielies kan op harde plekke in die veld gestrooi word, terwyl die ander voersoorte in voerbakke of -rakke aan die skape verskaf moet word. Soms word die moeilikheid ondervind dat skape die byvoer nie wil vreet nie, veral kragvoer soos mielies, hawer of grondboontjiemeel. Om so iets te voorkom, is dit 'n goeie praktyk om 'n aantal skape vroegtydig apart te hou in 'n kraaltjie en hulle te forseer om hierdie voer te vreet, daarna word hierdie skape onder die verskillende kuddes verdeel en hulle sal gou die ander skape die kragvoer leer vreet.

Wanneer dit gebeur dat die veldweiding so erg verswak het dat dit van geen of baie min waarde is vir die diere, sal dit beter betaal om die skape in klein kraaltjies te bring en daar te voer op 'n onderhoudsrantsoen, want skape op hierdie stadium verkwis meer energie deur rusteloos in die veld rond te dwaal as die werklike energie wat hulle nog van die karige veldweiding verkry.

 

Voorbeeld van 'n Onderhoudsrantsoen

Onderstaande is 'n paar voorbeelde van onderhoudsrantsoene wat voldoende sal wees vir hamels of droë ooie van ongeveer 70 pond lewende gewig:-

(a) 1½ tot 2 pond lusernhooi per skaap per dag.

(b) 1 pond lusernhooi plus 8 onse mielies per skaap per dag.

(c) 1 pond mielies plus 8 onse lusernhooi per skaap per dag.

(d) 1½ pond strooi (strooi van enige van die wintergrane) plus 4 onse mielies plus 3 onse grondboontjiemeel per skaap per dag.

(e) 2 pond strooi plus 4 onse grondboontjiemeel per skaap per dag.

 

Die keuse van enige van die rantsoene sal afhang van die voersoorte wat die boer die goedkoopste gelewer kan kry op die plaas, sowel as die wat hy self tot sy beskikking het.

Daar is nog geen Suid-Afrikaanse proefgegewens beskikbaar in verband met die minimum hoeveelheid voer waarop ooie met lammers suksesvol aan die lewe gehou kan word nie, maar volgens Amerikaanse voedingstandaarde behoort die volgende rantsoene voldoende te wees vir lammerooie, gereken per ooi en lam per dag:-

(a) 2¼-2½ pond lusernhooi;

(b) 1½ pond lusernhooi en 1 pond mielies;

(c) 1 pond lusernhooi en 1 pond mielies;

(d) 1½ pond strooi, 6 onse mielies en 6 onse grondboontjiemeel;

of

(e) 1½ pond strooi, 4 onse mielies, 6 onse semels en 3 onse grondboontjiemeel.

 

Gedurende droogtetye is dit nog baie meer noodsaaklik om 'n lek van beenmeel en sout aan die skape te voorsien. Die lek kan opgemaak word in die verhouding van 2 dele beenmeel en 1 deel sout. Die skape behoort vrye toegang tot so 'n lek te hê.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 13