Last update: April 3, 2012 02:36:53 PM E-mail Print

 

DROOGTEVOEDING VAN MERINO'S

 

deur C.W.P. STEENKAMP en F.C. HAYWARD

Karoostreek

 

Soos reeds oorbeklemtoon, is droogtes waarskynlik die grootste enkele faktor wat lei tot produksieverliese van die Suid-Afrikaanse veeboer. In hierdie opsig is die Merinobedryf uiters kwesbaar omdat dit hoofsaaklik ekstensief in die laer reënvalgebiede bedryf word. Hoewel dit so 'n bekende faktor is, word die meeste boere steeds onverhoeds daardeur betrap en lei dit tot ernstige probleme en groot verliese. Hier is dit egter nodig om te onderskei tussen gereelde seisoensdroogtes en sporadiese langtermyn- of rampdroogtes. Eersgenoemde word jaarliks in die meeste gebiede ondervind en bereik gewoonlik 'n piek net voor die reënseisoen. Die meeste boere is volkome bewus van hierdie tydperke van voerskaarste - of miskien meer korrek gestel, tydperke van lae gehalte voer - en tref die nodige voorsorg.

Langtermyndroogtes is daarenteen geheel en al onvoorspelbaar en bale nadeliger vir die produsent as seisoensdroogtes, omdat die reënseisoen nie aan die normale verwagtings voldoen nie. Die onvoorspelbaarheid van hierdie droogtes en die mens se nalatigheid om voorsiening te maak vir die onvoorsiene omstandighede is grootliks vir die ongerief van hierdie droogtes verantwoordelik.

Ofskoon die tegnologiese vordering van die afgelope eeu verstommend was, is die boer steeds van voerreserwes afhanklik om droogtes te kan oorbrug. Die ideale reserwevoertoestand is egter van soveel ander faktore, veral ekonomiese faktore, afhanklik dat dit nie sonder meer uitgewys kan word nie. Die verskillende voorsorgmaatreëls teen droogtes sluit onder andere korrekte weiveldbestuur, opbou van voerbanke en die aanplant van droogtebestande voergewasse in. Hierdie bespreking van droogtevoeding sal dus hoofsaaklik oor die volgende drie aspekte handel:

(i) Die verskaffing van lekke tydens droogtes waartydens reserwes wat moontlik nog op die veld mag voorkom, beter benut word.

(ii) Uitsluitlike droogtevoeding waartydens reserwes in die vorm van opgeboude voerbanke en aangekoopte voere gebruik word.

(iii) Die benutting van droogtebestande voergewasse.

 

HOE LEKKE DAARTOE BYDRA OM DROOOTES TE OORBRUG

(a) SEISOENSDROOGTES

Dit is oorbekend dat goeie hooi slegs verkry kan word wanneer die bewarings- en opbergingsproses doeltreffend deurgevoer word. As sulke hooi lank aan die elemente blootgestel was, verminder die voedingswaarde baie. Op dieselfde wyse verminder die voedingswaarde van die natuurlike weiveld namate dit ryp en droog, en aan die wind en weer blootgestel word. Met navorsing is bevind dat hierdie droë weiveld se voedingswaarde so laag is omdat dit tekorte aan belangrike voedingstowwe het. Die belangrikste tekorte is in die meeste gevalle energie, proteïen, fosfor en sout, terwyl koper-, kobalt- en molibdeentekorte ook in sekere kusgebiede voorkom. Om 'n gebalanseerde rantsoen aan die dier te kan bied. is dit nodig om hierdie tekorte aan te vul. Onder weidingtoestande word hierdie aanvullings meestal verskaf deur lekke op strategiese punte in kampe te plaas.

Voordat lekke uitgeplaas word. is dit egter van die allergrootste belang om verskillende diere se uiteenlopende behoeftes in ag te neem, asook die tekorte wat van weiding tot weiding verskil. Oor die algemeen is die behoeftes van groeiende laat-dragtige en lakterende diere aansienlik hoër as die van droë diere. Verder is proteïen-, fosfor- en souttekorte relatief groter in die grasveldgebiede, terwyl energietekorte weer groter is in die bossieveldgebiede. Gevolglik moet die lekke by die spesifieke omstandigheid aangepas wees en daarom is die volgende hoofgroepe ontwikkel:

 

Proteïenryke lekke

Hierdie lekke is veral vir die grasvelddele ontwikkel. Afgesien daarvan dat dit proteïen aanvul, bewerkstellig dit ook beter benutting van die veld, aangesien dit die dier se eetlus prikkel.

Gevolglik kan dit redelik doeltreffend in uitgegroeide spaarveld aangewend word om veral die lank uitgegroeide gras beter te benut.

As proteïenbron kan of natuurlike proteïen of nie-proteïenstikstof of 'n kombinasie van die twee aangewend word. Natuurlike proteïen soos byvoorbeeld karkasmeel, proteïenryke oliekoeke, ensovoorts word normaalweg beter deur die diere benut as nie-proteïenstikstof. Nie-proteïenstikstof afkomstig van ureum en biuret kan egter ook goed deur herkouers benut word en is heelwat goedkoper. Gevolglik het hierdie bronne die afgelope jare aansienlik veld gewen. Die konsentrasie ureum in lekke moet versigtig beheer word aangesien te veel daarvan giftig is. Voorsorg moet getref word dat ureumbevattende lekke nie nat reën nie. Ureum los bale maklik in water op en as die reënwater in die lekbak poele vorm, kan diere dit drink en vergiftig word. Normaalweg word 'n hoeveelheid fosfor, sout en 'n bindmiddel soos melasse saam met die proteïenbron by die lek ingesluit. Voorbeelde van proteïenlekke word in Tabel 1 verstrek.

 

 

Energieryke lekke

Aangesien die relatiewe energietekort groter is in droë bossieveld as in droë grasveld, het hierdie lekke hul grootste nut in bossieveldgebiede. Alhoewel sout en fosfor by hierdie lekke ingesluit word, is die belangrikste voedingsbron energie. Nagenoeg aIle grane en hul neweprodukte kan as gevolg van hul hoë energie-inhoud dien as basis vir energielekke. Geelmieliemeel is egter by uitstek die belangrikste energiebron, terwyl melasse en melasseprodukte ook algemeen aangewend word. In Voorbeeld van In energielek word in Tabel 2 verstrek.

 

 

Mineraallekke

Omdat die grootste gedeelte van die land se weidings 'n lae fosforinhoud het, is fosfor die mineraal wat gewoonlik aangevul moet word. Aangesien bossies oor die algemeen 'n hoër fosfor-inhoud as grasse het, is die tekorte nie so akuut waar bossieveld oorwegend voorkom nie. Verder is die soutinhoud van bossies ook hoër as die van grasse, met die gevolg dat sout-fosfaatlekke swakker benut word op bossie- as op grasveld. Gevolglik word oplosbare fosfate dikwels in hierdie gebiede by die drinkwater gevoeg om gereelde inname te verseker.

Spoorelemente word ook soma in klein hoeveelhede by lekke of drinkwater gevoeg in dele waar tekorte voorkom. Daar moet egter sekerheid oor 'n definitiewe tekort bestaan alvorens dit aan diere voorsien word, aangesien oormate uiters gevaarlik is.

Swael word hoofsaaklik by lekke ingesluit om geilsiekte te bekamp en daarom sluit baie boere van 1 tot 5 per sent blomswael by hulle mineraallekke in. 'n Oormaat swael kan egter ook gevaarlik wees en dit moet liefs slegs teen die laer konsentrasie ingesluit word en ook net wanneer geilsiekte verwag word. Voorbeelde van mineraallekke word in Tabel 3 verstrek.

 

 

Gekombineerde lekke

Dit gebeur selde dat droë veld net aan een voedingstof gebrekkig is. Gevolglik ontstaan die neiging al meer en meer om lekke saam te stel wat al die tekorte voorsien en balanseer. Hierdie lekke bevat meestal proteïen, energie, fosfor en sout maar die hoeveelhede wissel na gelang van die behoeftes van die dier en die gehalte van die weiding. Voorbeelde van gekombineerde lekke word in Tabel 4 verstrek.

 

 

Wanneer enige lek aan diere voorsien word is daar 'n aantal baie belangrike aspekte om in gedagte te hou.

Dit moet beklemtoon word dat lekke slegs 'n doel kan dien tydens droogtes indien die boer vir die nodige voedselreserwes in sy veld voorsiening gemaak het. Daarom kan dit gestel word dat goeie weiveldbestuur die grondslag vorm van droogteleniging. Verder moet die gehalte van die veld op die behoefte van die spesifieke skape - byvoorbeeld ooie met lammers en droë skape - in gedagte gehou word.

 

LANGTERMYNDROOGTES

Weens die langdurigheid van hierdie droogtes daal die voedingswaarde van die weiveld laer as gedurende seisoensdroogtes. Indien plantmateriaal wel nag op die veld beskikbaar is, geld dieselfde beginsels vir lekaanvullings as die wat so pas bespreek is en is dit by verre die goedkoopste metode om 'n droogte te oorbrug. Normaalweg word die veldreserwes egter uitgeput voor die einde van langdurige droogtes en moet van ander metodes gebruik gemaak word om dit te oorkom. Lekke kan op reeds oorbenutte weiveld slegs ernstige veldagteruitgang in die hand werk.

 

Published

Bladskrifreeks : Wolproduksie D.3.1/1975