Last update: April 4, 2012 03:12:16 PM E-mail Print

 

DORINGLOSE TURKSVYE - DIE GOEDKOOP DROOGTEVOER

deur I. L. TERBLANCHE landboukollege Grootfontein Middelburg, K. P.


SKAAPBOERE in die lae reënvalstreke voer groot hoeveelhede mielies, lusern en ander voere aan hul skape gedurende droogtetye. Hierdie voere is duur en soms skaars. Slegs klein hoeveelhede van hierdie voere kan op die meeste skaapplase geproduseer word weens die beperkte hoeveelheid water wat gewoonlik beskikbaar is.

Groot hoeveelhede voer kan egter op die meeste skaapplase in die vorm van turksvye geproduseer word met geen of baie min besproeiing. In die bespreking wat volg, word gewys op die groot besparing wat die gebruik van doringlose turksvyblaai (veral die bloubladtipes) as droogtevoer vir die skaapboer kan meebring, en hoe hierdie gewas benut moet word.

Die metode van benutting sal noodwendig van plaas tot plaas verskil aangesien sommige boere kerfmasjiene tot hul beskikking het en ander nie. Turksvye kan in plantasies bewei word en aanvullende voer kan in krippe gevoer word.

Daar moet egter gewaak word dat die skape nie die turksvye oorbewei nie. Dit kan verhoed word deur plantasies in klein kampies te verdeel en die turksvye in die kampies vir kort periodes intensief te bewei.

'n Hoër inname van turksvye en gevolglik beter benutting sal waarskynlik verkry word as die turksvyblaaie gekerf word. Aanvullende voer kan in krippe gevoer word.

 

Voedingswaarde

 

Ongeveer 80 tot 90 persent van doringlose turksvyblaaie bestaan uit vog. Die 10 tot 15 persent droë materiaal bevat gemiddeld die volgende persentasies voedingstowwe:

Die hoë persentasie totale verteerbare voedingstowwe toon dat turksvyblaaie 'n energieryke voer is. Dit bevat ook redelik baie kalsium. Die proteïen-, fosfor- en natriuminhoud is egter laag.

 

Inname

Volwasse skape neem omtrent 2 weke om te leer om turksvyblaaie te vreet. Daarna vreet hulle van 5 tot 15 pond gekerfde, vars turksvyblaaie per dag met 'n gemiddeld van omtrent 8½ pond per skaap per dag. 'n Skaap kry dus ongeveer 0.85 pond droë materiaal per dag in wat 'n sekere hoeveelheid energie, proteïen en minerale voorsien.

Tabel 2 toon in hoe 'n mate die hoeveelheid turksvyblaai wat 'n skaap vreet in sy behoeftes vir verskillende voedingstowwe voorsien.

 

Wanneer skape dus soveel gekerfde vars turksvyblaaie vreet as wat hulle wil, word in 80 persent van hulle energiebehoeftes, 36 persent van hulle proteïenbehoeftes, 32 persent van hulle fosforbehoeftes en volledig aan hulle kalsiumbehoeftes voorsien terwyl die turksvye feitlik geen sout voorsien nie. Wat veral die energie betref, voorsien turksvyblaaie omtrent dieselfde hoeveelheid as wat 1.2 pond lusernhooi of 12 ons mielies sou voorsien. Deur turksvyblaaie aan skape gedurende 'n droogte te voer, word 1.2 pond lusernhooi of 10 ons mielies per dag bespaar. Teen huidige voerkoste beteken dit 'n besparing van 1.1 tot 1.3 sent per skaap per dag.

 

Aanvullende voer

Die 64 persent van die skaap se fosforbehoeftes en 99 persent van sy soutbehoeftes wat aangevul moet word, kan goedkoop voorsien word deur 'n lek bestaande uit 60 persent beenmeel en 40 persent sout beskikbaar te stel.

Nou bly nog die aanvulling van die proteïen en ook die bietjie energie oor. Wanneer turksvyblaaie die basis van 'n droogterantsoen vir skape is, moet in ag geneem word dat enige aanvullende voer slegs 20 persent van die energiebehoeftes van die skape hoef aan te vuI, maar wel 64 persent van hulle proteïenbehoeftes. Vir 'n skaap in maer toestand (70/80 pond), moet die aanvullende voer dus 2.4 ons totale verteerbare voedingstowwe en 1.1 ons ruproteïen voorsien. Die aanvulling wat gebruik word moet dus 'n verhouding van proteïen tot energie van so na as moontlik aan 1:2.2 hê.

In Tabel 3 word die verhouding van proteïen tot energie in 'n paar bekende voere aangegee.

 

Dit is baie duidelik uit Tabel 3 dat lusern van al die bekende voere die beste goedkoop aanvullende voer tot turksvyblaaie is gesien uit die oogpunt van proteïenaanvulling. Lusern bevat redelik baie ruvesel wat die laksering wat skape op turksvye kry sal teenwerk.

Die gebruik van 'n redelike proteïenryke voer soos byvoorbeeld lusern as aanvulling tot turksvyblaaie veroorsaak dat skape meer turksvyblaaie vreet as wanneer hulle min proteïen inkry. Dit beteken dat daar in werklikheid baie min aanvullende voer hoef gebruik te word, mits turksvye met die regte voer aangevul word. In Tabel 4 word die hoeveelhede lusern en mielies aangetoon wat as aanvulling tot turksvyblaaie gevoer moet word vir die onderhoud van skape met 'n gewig van 70 tot 80 pond. Hierdie gegewens is verkry in 'n proef waarin Merinohamels vir 1½ jaar op turksvye gehou is wat aangevul is met die hoeveelhede mielies of lusern wat in die tabel aangetoon is. Die hamels het hulle gewigte dwarsdeur die periode gehandhaaf.

 

Hierdie tabel bring weer eens die feit onder die aandag dat Iusernhooi 'n uitstekende aanvulling tot turksvyblaaie is. Dit toon verder dat hoewel mielies 'n hoër voedingswaarde het as lusern, laasgenoemde 'n beter en goedkoper aanvulling is tot turksvyblaaie.

Minder aanvulling is gedurende die somer as die winter nodig omdat die voedingsbehoeftes van die skape in die koue wintermaande hoër is en hulle meer droë materiaal deur die turksvyblaaie in die somer inkry as gedurende die winter wanneer turksvyblaaie meer vog bevat as in die somer.

In Tabel 5 word 'n vergelyking getref van die koste van droogtevoeding van skape met 'n gewig van 70/80 pond op verskillende rantsoene.

 

Dit is duidelik dat turksvyblaaie en lusern saam 'n goedkoper droogterantsoen as enige ander bekende voer is. Skaapboere wat genoeg turksvye het en dit benut is dus in die posisie dat hulle voerkoste gedurende droogtes ten minste drie keer laer kan wees as boere wat nie turksvye het, of dit nie benut nie.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 45 (11)