Last update: March 30, 2012 10:58:11 AM E-mail Print

 

Durumkoring en die verbouing daarvan in Suid-Afrika

 

Pienaar R de V, Roux HS, De Kock GC, Traut HW & Laubscher J 


UITTREKSEL

Die verbouing van durumkoring dateer uit die eerste millennium v.C. Onder toestande van lae vog en hoë temperature produseer dit harde, horingagtige, amberkleurige graan wat baie geskik is vir die vervaardiging van pastaprodukte soos macaroni, noedels, spaghetti en vermicelli. Omdat durum 'n swak bakkwaliteit het, is die verbouing van durumkoring nie in die Republiek van Suid-Afrika aangemoedig nie. Op versoek van die R.S.A. se pastabedryf, wat jaarliks 10 000 t durumkoring benodig, het die Departement van Landbou en Visserye in oorleg met die Koringraad besluit om 'n gebied af te baken vir die verbouing van durumkoring, wat as klas D-koring deur die Koringraad aangekoop sal word. Proewe wat op talle plekke in die land uitgevoer is, het aangetoon dat die Groot-Visrivierbesproeiingsgebied geskik is vir durumverbouing. Sedert 1976 is hierdie gebied amptelik goedgekeur vir durumverbouing.

Uit die evaluasie van honderde kultivars en teellyne het dit geblyk dat die kortstrooiteellyne, D6647 en D6962 uit Noord Dakota, geskik is vir verbouing onder besproeiing in hierdie gebied, en hulle is onderskeidelik in 1977 en 1980 vrygestel as die kultivars Nordum en Fargo. Hierdie kultivars produseer 5,0 tot 6,5 t graan per hektaar indien hulle tussen middel Junie en begin Augustus gesaai word, 74 kg stikstof/ha bemesting ontvang, en vyf tot ses keer besproei word teen 75 mm per besproeiing. Ten einde 'n hoë persentasie harde, horingagtige en amberkleurige korrels te verkry, moet daar nie na die melkstadium besproei word nie. Die graan moet geoes word voor die begin van die somerreëns. Durumnavorsing in die R.S.A word gedoen deur die Departement Genetika, Universiteit van Stellenbosch, Departement van Landbou en die Koringraad.

 

Published

Tegniese mededeling no. 171