Last update: April 11, 2012 01:41:08 PM E-mail Print

 

Die Eierlêvermoë van Hoenders

A. M. Gericke

 

DIE mees opvallende verskynsel in verband met pluimveeproduksie gedurende die afgelope paar jaar is die toenemende belangstelling in valnes- en stamboekrekords. Voor 1850 is weinig aandag aan die lêhen as 'n produksie eenheid gegee; die teler het hom hoofsaaklik bepaal by die teel van veghane, en by die eienskappe van die verskillende rasse wat van belang was van 'n tentoonstellingsoogpunt. Haangevegte is egter in 1849 as 'n nasionale vermaaklikheid deur die Britse Regering verbied en as gevolg daarvan is 'n definitiewe begin gemaak met pluimveetentoonstellings en die ontwikkeling van nuwe rasse en soorte hoenders.

 

Vordering op gebied van Eierproduksie

Met die ontdekking van vitamiene het dit geblyk dat die eier baie voedsaam en derhalwe vir die mens van groot waarde is. Dit het die ontwikkeling van pluimveeboerdery oor die hele wêreld bevorder.

Pluimveeboerdery is vir baie jare in die Unie op klein skaal gedryf. Vandat die eerste eierlêwedstryd in 1911 in die westelike Kaapprovinsie gehou is, het die ontwikkeling van 'n eiernywerheid in Suid-Afrika begin. Later is eierlêwedstryde ook op Port Elizabeth, Potchefstroom en Cedara gehou. In 1926 is die grootste blok enkelhokhuise vir wedstryddoeleindes by die Landbouskool, Glen, O. V.S., teen 'n koste van £3,500 gebou.

In 1926 het die eerste wedstryd begin met 635 henne wat nege verskillende rasse verteenwoordig het. Die gemiddelde produksie per hen vir die ligte rasse was toe 192 eiers; dit het toegeneem tot 204 in 1927, en tot 211 in 1928. Dit is een van die treffendste voorbeelde van wat met oordeelkundige teelwerk verkry kan word.

Die eierlêwedstryde het later die weg gebaan tot die instelling van die Suid-Afrikaanse Telersregister wat tans so 'n belangrike organisasie in Suid.Afrika is. Om in hierdie register opgeneem te kan word, moet 'n hen 200 twee ons eiers op 'n offisiële eierlêwedstryd lê. Nadat sy die wedstryd deurgemaak het, kry sy 'n koperring as sy deur die inspekteur goedgekeur word, wat aantoon dat sy sonder enige rasdiskwalifikasies is. Jonghane van so 'n hen waarvan die vader 'n R. V .P.- (d.i. Rekord van Produksie) haan is, kan as R. V .P.- stoet- of tropjonghane geregistreer word, afhanklik van die meriete soos deur die inspekteur bepaal.

Ten einde eierproduksie onder teenswoordige omstandighede 'n winsgewende onderneming te maak, is dit noodsaaklik om die gemiddelde jaarlikse produksie per lêhen tot sodanige peil te verhoog as wat redelike winste sal verseker. Hierdie verhoogde eierproduksie is moontlik deur nie meer henne aan die sorg van een persoon toe te vertrou as wat hy behoorlik kan behartig.

'n Hoë gemiddelde eierproduksie is deels die resultaat van gunstige omgewingsinvloede, soos voer, behuising, versorging en bestuur. Maar voordat sulke invloede hul kan laat geld, moet daar by die henne 'n oorgeërfde vermoë vir eierproduksie wees.

Die ontwikkeling van enige geslag jonghenne is die uitkoms van 'n kombinasie van baie faktore. Hulle groei is gebaseer op veranderinge wat verantwoordelik is vir toename in grootte en differensiasie, wat aanleiding gee tot veranderinge in vorm.

Onder sekere omstandighede kan hierdie veranderinge gekontroleer word deur middel van voeding, bestuur en omgewing; met seleksie, egter, kan variasie in aansienlike mate gekontroleer word.

Die teel vir hoër eierproduksie bring 'n voortdurende seleksie van teelhoenders volgens rekords van produksie mee. Die meer vooruitstrewende teler soek nie meer die beste lêhenne net volgens uitwendige kenmerke uit nie, want dit het geblyk dat sulke kenmerke van min waarde is vir die ontwikkeling van henne met 'n hoë jaarlikse eieropbrings. Bepalings van verskillende morfologiese eienskappe wat dan met die jaarlikse eierproduksie gekorreleer word, het navorsers tot die gevolgtrekking gebring dat daar nie te veel klem op hierdie faktore gelê moet word wanneer hoenders uitgesoek word nie; met ander woorde, die uitsoekery is hoofsaaklik 'n kwessie van gissing.

Aangesien die jaarlikse produksie bestaan uit verskillende hoeveelhede eiers wat voortgebring word in die verskillende seisoene, word die jaar in drie tydperke verdeel, naamlik, winter, lente en somer-herfs. As die opbringste vergelyk word, blyk dit dat die somer-herfs produksie die beste maatstaf is by die uitkiesing van teelhenne.

 

 

Voorspelling van die Getal Eiers

Verskillende proewe is tans by die Grootfonteinse Landbouskool aan die gang om vas te stel in watter seisoen van die jaar die noukeurigste voorspelling gemaak kan word van die getal eiers wat 'n jonghen sal lê. Die voorspellingsmetode om die eierlêvermoë van 'n lêhen te bepaal behoort van groot hulp vir die pluimveeboer te wees wat nie graag definitiewe produksiesyfers vir doeleindes van stamboekteling wil hou nie. As valnes- of enkelhoktoetse slegs vir 'n kort tydjie hoef gedoen te word, sal dit baie tyd en werk bespaar, en tog voldoende wees om die swak lêers van die goeies te onderskei.

Die formule vir die voorspellingsmetode is:-

y =  (X – gemiddeld X) + Y

 

Waar Y = jaarlikse eierproduksie; r = koëffisiënt van korrelasie; (J =standaard afwyking van die gemiddelde produksie; en X = eierproduksie van elke seisoen, d.i. winter-, lente- of somer-herfs-produksie.

Uit 'n korrelasie van die winter eierproduksie met die van die hele jaar is onderstaande voorspellingsformule verkry.

Y = 1.2014X + 155.88.

Die voorspellingsformule wat verkry is van die korrelasie van die somer-herfs-eierproduksie met die van die hele jaar is:-

Y = 1.325X + 137.95.

Die jaarlikse produksie kan voorspel word deur 1.2014X met die winter-produksie te vermenigvuldig, en 155.88 daarby te tel. Op dieselfde manier kan 'n voorspelling van die jaarlikse produksie gemaak word deur 1.325 X met die somer-herfs-produksie te vermenigvuldig en 137.95 by te tel.

As lynteling toegepas word en die hoenders dwarsdeur die jaar dieselfde rantsoen kry, behoort hierdie metode om die jaarlikse produksie te voorspel van nut te wees.

Die resultate wat verkry is toon aan dat die jaarlikse produksie van 'n jonghen voorspel kan word met 'n noukeurigheid van 92 persent en dit alleen op die produksie-rekords van Mei, Junie, Julie en Augustus. As die produksie van Januarie, Februarie, Maart en April ook nog bekend is, kan die jaarlikse eieropbrings korrek tot 93 persent voorspel word.

Grootte en gewig by eierproduksie is in die erflikheidsleer bekend as veelvoudige of vermengingsfaktore; hierdie faktore is ewenwel nie onafskeidbaar nie, want oorerwing kan volgens die leer van Mendel geskied. Vermengingsfaktore wys nie 'n oorheersende of 'n terugwykende neiging nie, maar is tussenliggend en eenvormig. Hierdie vermengingsfaktore is ongetwyfeld die grootste hinderpale waarmee mens te doen kry as jy 'n studie maak van eierproduksie.

 

Jaarlikse Eierproduksie

Die jaarlikse eierproduksie is saamgestel uit produksie van verskillende tydperke; tydperke van produksie wat afwissel met tydperke van of verminderde produksie of glad geen produksie nie. Elke tydperk bestaan uit trosse; 'n tros maak 'n tydperk uit waarin die produksie taamlik standhou sonder 'n merkbare onderbreking. Elke tros bestaan uit trekke. 'n Trek stel die standhoudende produksie op agtereenvolgende dae voor.

 

 

Die jonghen (Tabel 2) het die hele jaar (365 dae) 180 eiers gelê. As sy nie gedurende die wintermaande so afgebreek het met lê nie moes sy meer as 200 eiers in die jaar gelê het. Hierdie onderbreking in produksie gedurende die wintermaande het moontlik ook vergesel gegaan van 'n tydperk waarin die hen verveer het. Dis nie raadsaam om van sulke henne te teel nie, omdat al die eiers gedurende die lentemaande gelê word wanneer die prys vir eiers laag is. Die distribusie van produksie gedurende die wintermaande kan derhalwe as die belangrikste faktor beskou word wat die winste op 'n pluimveeplaas affekteer.

Die tydperk van produksie is gewoonlik baie langer gedurende die lentemaande, want in daardie seisoen lê al die hoenders, afgesien daarvan of hulle hoe of lae produseerders is. Gedurende die lente is die trek ook langer as op enige ander tyd van die jaar.

Die grootste beperkende faktor wat hoë eierproduksie beïnvloed is die kenmerk wat die hen oorerf om 'n tyd lank in die winter te rus. Sommige jonghenne mag aanhoudend lê in die wintermaande, maar hou dan meteens op vir een of twee maande. Hierdie onderbrekings van produksie kan in twee groepe verdeel word, naamlik, kort onderbrekings waar 'n hen een dag oorslaan tussen trekke, en onderbrekings wat langer duur wanneer 'n hen vier dae of langer oorslaan.

 

Ouderdom waarop Jonghenne begin Lê

In ons werk op Grootfontein het ons gevind dat die jonghenne wat op die vroegste ouderdom begin lê die beste lêers gedurende die eerste jaar is. Onder vroegrypheid verstaan ons die getal dae wat verloop vandat die kuiken uit die dop kom totdat die eerste eier gelê word. Jonghenne wat dieselfde voer en behandeling gekry het, het op verskillende ouderdomme begin lê.

Leghorns het op die ouderdom van 171 dae begin lê, terwyl Australorps op die ouderdom van 206 dae eers begin lê het. Dis derhalwe duidelik dat dit onder gewone omstandighede 35 dae langer sal duur voordat Australorps begin lê as wat dit duur in die geval van Leghorns.

As jonghenne begin lê voordat hulle vyf maande oud is, sal hulle vir 'n taamlike lang tyd 'n neiging toon om klein eiers te lê. Pluimveeboere wat hulle spesiaal daarop toelê om bloedlyne op te bou, wat 250 tot 300 eiers lê, wy gewoonlik nie voldoende aandag aan eiergrootte nie, en in die reël word hierdie eienskap opgeoffer ten koste van getal. Dit hoef egter nie noodwendig die geval te wees nie.

 

Broeisheid

Broeisheid is 'n ander groot beperkende faktor wat die jaarlikse produksie beïnvloed. As 'n hen broeis word begin sy onmiddellik die dooierstof opneem. Broeisheid is alleen van belang as mens met dubbeldoel-hoenders te doen het. Leghorns word selde of nooit broeis.

In die studie met Australorps was die grootte van trekke in die geval van henne wat broeis word 4.75 eiers terwyl dit in die geval van nie-broeis henne 4.05 eiers was. Van hierdie resultate is dit duidelik dat die henne wat vroeg in die lente broeis word geneig sal wees om meer eiers gedurende die winter te lê as die henne wat glad nie broeis word nie.

Sommige Australorphenne in die afdeling word 2.41 maal per jaar broeis en hou dan elke keer vir 14.2 dae op met lê, of 'n maand vir die hele tydperk.

Al lê 'n hen wat broeis word in die winter goed, is sy tog nie in staat om vir die jaar 'n groot getal eiers te produseer as sy elke keer wanneer sy broeis word ophou met lê nie. Die meeste henne word gewoonlik gedurende Januarie, Februarie en Maart broeis. Ons beskou dit as die end van die lêjaar. Henne wat gedurende hierdie tydperk ophou met lê word genoem nie-aanhoudende lêers. Henne wat dwarsdeur die jaar in die afdeling gelê het, het vir 305 dae aangehou met lê sonder om 'n rus van meer as 15 dae op 'n keer te neem.

Teenswoordig word hoenders baie gebruik in pogings om sekere ingewikkelde probleme in verband met erflikheidsleer op te los. Die kruising van rasse en soorte word langsamerhand beter verstaan en erflikheidsnavorsers pak die verskillende probleme uit die oogpunt van wetenskaplike ondersoek aan, afgesien van die soort dier wat gebruik word.

Eens op 'n tyd is gemeen dat die oorerflikheid van eierproduksie 'n faktor is wat aan die geslag gekoppel is, d.i. dat henne alleen hoë eierproduksie-eienskappe op die haankuikens kon oordra, en hane alleen op hulle dogters. Dis bewys dat hierdie teorie onwaar is. Teenswoordig word die oorerflikheid van eierproduksie gebaseer op: (a) vroegrypheid; (b) hoeveel eiers die hen lê; (c) vermoë om tot laat in die jaar aan te hou met lê; (d) vermoë om dwarsdeur die winter te lê, en (e) die afwesigheid van broeisheid.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 9